… Ek sal vir hom wees … ’n vurige muur rondom … (Sag. 2:5).

Die volk het pas uit ballingskap teruggekeer en is besig om die stad Je­ru­salem te herbou. Hulle is egter blootgestel aan die vyande rondom hulle. Te midde hiervan bring Sagaría egter troos. In die eerste twee gesigte maak God dit duidelik dat Hy met elke vyand van sy volk sal afreken. In hierdie derde naggesig bevestig Hy dat Hy aan sy kinders beskerming sal verleen.

Wanneer die jongman gekeer word om die mates van Jerusalem te neem, word dit duidelik dat God meer in gedagte het as die fisiese, meetbare, stad Jerusalem van ouds. Die Jerusalem wat Hy in gedagte het, is onmeetbaar en gevul met ’n menigte mense en nasies (v. 4, 11). Jerusalem is hier ’n metafoor vir God se uitverkore kinders. God beloof dat Hyself die mure van hierdie stad sal vorm om sy oogappel teen hul vyande te beskerm. Hy sal in hulle midde wees en sal sorg dat die stad gevul is met heerlikheid. Hierdie profesie kyk vooruit na die koms van Christus, die Immánuel, wat God se kinders met sy lewe beskerm. Selfs in Openbaring 21 kry ons weerklanke van hierdie profesie wanneer Johannes die nuwe Jerusalem sien neerdaal – toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is met die tabernakel van God by die mense.

Soms voel ’n mens soos ’n stad sonder mure: uitgelewer en blootgestel. Ons kan egter getroos wees dat God sy kinders omring en hulle só goed beskerm dat niemand hulle uit sy hand kan ruk of van sy liefde kan skei nie. Deur sy Gees is Hy by ons teenwoordig en gee Hy aan ons heerlikheid wat ons vir God aanvaarbaar maak, want ons is sy Jerusalem, sy woonplek, sy oogappel.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 5

Dankie, Vader, dat U rondom my is soos die berge rondom Jerusalem. Amen.

Sag. 2:1-13

Ps. 125:1-3

’n Waardige hoëpriester … Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom! (Sag. 3.8).

Een van die belangrikste take van die hoëpriester was om versoening vir die volk se sondes te doen. Hy was egter self ’n sondaar en moes homself gedurig reinig voordat hy die offerdiens kon waarneem. Aan hierdie onwaardigheid word Josua, die hoëpriester, in hierdie gedeelte herinner wanneer Satan hom voor die Engel van die Here aankla. Om sy onwaardigheid te illustreer, lees ons dat sy klere vuil was (v. 3). Soos Josua, staan elke mens ook vuil en onwaardig voor God terwyl ons deur Satan aangekla word.

In antwoord op die aanklag van Satan gee die Engel van die Here opdrag dat Josua met nuwe, skoon klere beklee sal word. God voorsien sodat Josua se onreinheid verwyder kan word en hy in die weë van die Here kan wandel (v. 7). In vers 8 word Josua en sy vriende (die priesters) “wondertekens” genoem. Josua as hoëpriester en dit wat met hom gebeur het, was simbolies van iets wat nog moes kom. Uiteindelik het God sy Kneg, die Spruit, laat kom. Hy moes Jesus (Grieks vir Josua) genoem word. As ons ewige Hoëpriester het Hy met sy lewe vir al ons onreinheid betaal sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Op een dag het Hy die sondes van God se volk verwyder sodat alle offers daarna oorbodig sou wees (v. 9).

Wie deur hierdie volmaakte Hoëpriester gereinig is, vrees nie die aanklagte en aanslae van Satan en sy bose magte nie. By Bloedrivier kon die Voortrekkers juis tot God hul toevlug neem omdat hulle vrymoedigheid gehad het op grond van hulle verlossing. Soos Josua het hulle onder die beskerming van God gestaan; deur die Heilige Gees beklee met die saligmakende geloof.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 6

Here, herinner ons gedurig deur u Gees daaraan dat ons skoongewas is. Amen.

Sag. 3:1-10

Ges. 86:1, 2, 7