… die lig skyn in die duisternis … (Joh. 1:5).
Al is hierdie eerste hoofstuk ryk aan betekenis kan slegs een aspek hier belig word. Johannes begin sy beskrywing van die evangelie deur na Christus te verwys as die Woord van God. Hy beklemtoon Christus se ewige, Goddelike natuur asook sy betrokkenheid by die skepping. Wat egter veral opval, is die parallelle wat Johannes trek tussen die werk van Christus by die eerste skepping en sy betrokkenheid by God se herskeppingswerk.
Tydens die skepping lees ons dat God die aarde geskep het en dat dit woes en leeg was. Daarna het Hy gesê: Laat daar lig wees. Net soos die lig tydens die eerste skepping orde in die chaos gebring en lewe op aarde moontlik gemaak het, word Christus na die aarde gestuur as die Lig van die wêreld. Hy is gestuur om die duisternis wat in die mensdom se harte weens hul sondes leef, te kom vernietig. In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie (v. 4-5). Met hierdie woorde kondig Johannes reeds Christus se oorwinning oor die Bose aan. Hy het gekom as die waaragtige Lig sodat elkeen wat in Hom glo, mag het om ’n kind van God genoem te word.
Wie deur die geloof aan die Here Jesus verbind is; wie se lewe deur sy lig verhelder is, se lewe het dieselfde effek. Daarom moedig Hy ons aan om ons lig só voor die mense te laat skyn, dat mense ons goeie werke (God se herskepping) in ons lewens kan sien en ons hemelse Vader kan verheerlik (vgl. Mt. 5:16). Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig (Efés. 5:8).
Bykomende Skrifgedeelte: Sef. 3
Here, laat Ú lig deur my skyn. Amen.
Joh. 1:1-52
Ges. 275:1
Hoe lyk jou prioriteite?
Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? (Hag. 1:4).
Wanneer ’n mens aan die einde van die jaar kom, besin jy dikwels oor die jaar wat verby is. Hierdie besinning laat ons ook vooruitkyk na die nuwe jaar wat kom. In ’n nuwe jaar het ’n mens weer die geleentheid om oor te begin, dinge wat agterweë gebly het, reg te stel en ons prioriteite in orde te kry.
Haggai bring ’n boodskap van God aan die Joodse ballinge wat ná jare se ballingskap nou reeds bykans twintig jaar terug in hulle eie land is. Dit was nie ’n maklike twintig jaar nie. Hulle het ook baie voornemens gehad en planne gemaak vir die herstel van hulle land. Hulle het uitgesien na baie (v. 9), maar min van hierdie planne het uitgewerk. Oeste het misluk en droogtes het hulle geteister. Haggai verduidelik waarom: Ter wille van my huis wat in puin lê (v. 9). Die volk se prioriteite was verkeerd. In plaas daarvan om soos verlostes op te tree en hulle aanbidding van God hul hoogste prioriteit te maak, was hulle eie gerief, geluk en voorspoed die belangrikste. Hulle het in betimmerde huise gewoon (d.i. luukse huise – lees 1 Kon. 7:7), terwyl die huis van God in puin gelê het.
Iemand wat uit slawerny verlos is, se prioriteite behoort altyd met God se prioriteite vir sy lewe ooreen te stem. Hoe kan ons dan God se seën verwag indien ons nie ons prioriteite doelbewus in ooreenstemming met syne bring nie? Wanneer dit gebeur, sal dit sigbaar word in ons toewyding, ons gehoorsaamheid, die manier waarop ons praat, die gedagtes wat ons koester en selfs in die planne wat ons maak en besluite wat ons neem. Hoe lyk jou prioriteite?
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 2
Here, laat Ú lig deur my skyn. Amen.
Hag. 1:1-15
Ges. 99:1-2