Hoogmoed kom tot ’n val

Hoogmoed kom tot ’n val

Weë die gerustes in Sion, en die sorgelose op die berg van Samaría …Julle … wat sê: Het ons nie deur ons eie krag horings gekry nie? (Amos 6:1, 13).

Hoogmoedig en onbekommerd! Die leiers van Juda en Samaría het hulleself beskou as baie belangrik: die eerste onder die nasies. Ander het na hulle gekom om raad; die leiers het uitspattig geleef, hulle het vleis geëet uit die voerkraal, wyn gedrink uit die offerkomme uit die tempel en hulleself met salf gesalf het wat vir die tempeldiens bestem was. Net die beste vir hulle. Hulle was ook glad nie oor die verval van die volk bekommerd nie.

Die Here sien hulle egter as leeglêers wat net lawaai opskop. Hulle wou altyd op die voorpunt van alles wees. Nou moet hulle van God verneem: Nou sal julle op die voorpunt wees, maar van die ballinge wanneer hulle weggevoer word!

Hoogmoed is die oersonde van Satan teen God. Die mens het hom daarin gevolg: Volgens my wil en in my eie krag sal ek my eie lewe reël. Die volk se voorspoed het hulle prioriteite beïnvloed: Hulle het gedink hulle het God nie meer nodig nie.

Die Here wil ons waarsku: Moenie dink dat jy jou van God kan losmaak nie. Hy beheer en beskik oor alles en alles kom uit sy hand – redding en oordeel ook: Want kyk, Ek gaan teen julle … ’n volk opwek … en hulle sal julle verdruk … (v. 14).

Amos wil ons leer waar die gelowige se plek is: nederig, dankbaar en op ons knieë voor die troon van genade na die voorbeeld van die Here Jesus; altyd nederig, altyd in gebed tot sy Vader, diensbaar en gehoorsaam aan Hom tot die dood toe. Hoogmoediges verstrooi Hy, nederiges ontvang genade.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 1:39-80

Here, leer my om nederig en dankbaar en erkentlik voor U te wees. Amen.

Amos 6:1-14

Ges. 11:1

God se meetstok

… Ek gaan ’n skietlood aanlê in die midde van My volk Israel. Ek sal hom nie verder verbygaan nie (Amos 7:8).

God se geduld met sy volk het opgeraak en Hy het besluit tot hiertoe en nie verder nie. Die Here laat Amos sien wat Hy gaan doen: Hy gaan hongersnood stuur. Dan bid Amos en God kry berou. Hy wil met sy volk ’n regstryd voer deur vuur wat alles vernietig – en weer bid Amos en die Here kry berou. En toe die skietlood … ! Die Here se geduld is nou op! Nou gaan Hy hulle meet soos met ’n waterpas, want die volk bly ongehoorsaam. Bedrog, korrupsie sabbatsontheiliging en afgodediens vier hoogty; armes word steeds vertrap en die reg word verdraai. Vir hulle wat God opreg wil dien, is daar nie meer plek nie.

Dan volg hierdie verskriklike boodskap uit die mond van die Here: Die einde het vir my volk Israel gekom. Hulle sonde het gemaak dat hulle soos ’n mandjie somervrugte ryp geword het vir God se oordeel. Nou moet hulle die slae vat wat hulle verdien: En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees … (v. 9).

Hoe lank gaan God se geduld met ons hou? Ons hoor elke Sondag God se Woord, maar eredienste word leër; God se dag word meer en meer soos elke ander dag gebruik; korrupsie, bedrog, leuens en onsedelikheid is aan die orde van die dag. Is ons nie ook al ryp om gepluk te word nie?

Vir Israel was genadetyd verby. Vir ons is daar nog tyd om terug te keer: Kom na My toe, sê die Here Jesus, by My is vergiffenis en redding vir elke berouvolle hart. Hy gee die lewe vir elkeen wat Hom gehoorsaam.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 2

Here, kom word tog weer Koning in ons harte en Koning van ons volk. Amen.

Amos 7:1-9; 8:1-14

Ges. 69:1, 3

Wie nie wil hoor nie, moet voel

Wie nie wil hoor nie, moet voel

… maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!
(Amos 4:12).

Hoe groot is onse God in sy genade: Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die daeraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam (v. 13). Hy maak bemoeienis met elke mens – Hy, Immánuel, God met ons om ons te lei, te vertroos, te beskerm, te vermaan. As ons gesondig het en ons kom in berou na Hom toe, is Hy daar om te vergewe en ons terug te neem. Maar as ons nie wil hoor nie en ons eie kop wil volg, soos die Israeliete aan wie hier­die waarskuwing gerig word, sal ons die gevolge moet dra: die hei­lige toorn van God.

God het die volk gestraf deur hongersnood, droogte, plae, siektes en natuurrampe. Steeds kom hulle nie tot bekering nie. Nou het sy geduld met hulle opgeraak: Maak jou klaar om jou God te ontmoet!

Wie nie wil hoor nie, moet voel: Daar kom ’n dag wanneer die hemelpoorte gesluit gaan word. Dan gaan die ongehoorsames teen die deur hamer om in te gaan, maar al wat hulle gaan hoor, is: Gaan weg, Ek ken jou nie! Dit is die dag wanneer die trompette gaan blaas en Hy wat op die troon sit weer gaan terugkom. En dan sal die boeke oopgemaak word en sal elkeen rekenskap gee van sy lewe.

Hoor u en ek wanneer die Here met ons praat deur siekte, dood, droogte, rampe en ellende? Nou is nog genadetyd. Gebruik dit en luis­ter. Môre mag te laat wees.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 148-150

Maak tog my ore gevoelig vir u stem en laat my oë tog sien dat U my roep, Here. Amen.

Amos 4:1-13

Ges. 79:1, 3

Genadetyd is nog nie verby nie

Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! (Amos 5:4).

Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie, leer die Here Jesus in Johannes 14:6. Hoe min slaan ons ag hierop in ons daaglikse handel en wandel!

Israel moet nou die Here se boodskap uit die mond van Amos hoor: Julle is reeds dood! Wat ’n verskriklike boodskap juis wanneer die volk in Betel saamgetrek het vir ’n fees. Soos wanneer ons Sondagoggend in die kerk moet aanhoor: Ek haat julle eredienste, Ek wil van julle bydraes niks weet nie, hou tog net op sing – dit is net ’n geraas in my ore (vgl. v. 21-23)!

Die Here treur oor die dood van sy volk. Waarom? Omdat die Godsvolk korrup geword het: Die reg is verdraai, die volk verafsku diegene wat opreg lewe, sosiale onreg was aan die orde, afgode het God se plek ingeneem.

Maar te midde van die dreigende oordeel is daar tog nog genade uit die mond van God: Soek My! Wees aan My gehoorsaam! Julle moet die goeie liefhê en julle daaraan toewy; leef soos dit kinders van die lig betaam, dan sal julle lewe en nie in die oordeel van God kom nie: Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is … (v. 15).

Deur Jesus Christus se dood het daar vir gelowiges verlossing en vrede met die Vader gekom. Wie Hom gehoorsaam is en Hom liefhet en gelowig aan Hom vashou, sal die ewige dood nie sien nie, maar het reeds oorgegaan na die lewe. Hy sit aan die regterhand van die Vader waar Hy vir ons intree. En dan kom Hy weer … waarmee sal Hy ons dan besig vind?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 1:1-38

Here, leer my om U te gehoorsaam in alles en bo alles. Amen.

Amos 5:1-27

Ges.128:1, 5

Mense in glashuise …

Mense in glashuise …

Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos ’n wa kraak wat vol gerwe is (Amos 2:13).

Die volk wys vingers na die volke wat hulle omring: Moab, Ammon, Edom, Tirus, die Filistyne, Damaskus: Die oordeel van die Here gaan volgens Amos vreeslik wees oor hierdie volke wat nie wou luister nie! Dan word die kring nouer getrek: Juda gaan gestraf word; hulle het die wet van die Here verwerp en agter afgode aangeloop.

Dan bars die bom: Israel, Israel, jou wa gaan vasval soos ’n wa wat oorvol gelaai is! Jou oortredinge is soveel dat jou wa onder jou kraak! Hierdie volk wat hulle verlekker het in ander se ellende, staan self ver­oor­deeld. God se Woord mag nie meer suiwer verkondig word nie; daar was maatskaplike en sedelike verval; die regstelsel is só gebuig dat die hof vir die arme geen uitkoms was nie. Hierdie volk het vir die wêreld vertel dat hulle die volk van God is, maar hulle het soos heidene geleef.

Dit is baie belangrik om te onthou dat ’n boom geken word aan sy vrugte. Wie volgelinge van die Here Jesus Christus is en deur Hom gered is, moet ook leef soos gereddenes.

Die wa se wiele hoef nie vas te val nie! Die antwoord lê in terugkeer na Jesus Christus toe. Hy het die oordeel van God namens ons kom dra – Hy was in ons plek van God verlate. Ons wa se wiele sal nie verder vasval as ons weer ons leiding by die Here Jesus gaan soek nie. Hy alleen kan hierdie wa deur die drif trek.

In terugkeer en rus lê ons redding (Jes. 30:15). Die Here Jesus nooi: Kom na My toe! (Mt. 11:28).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 145

Here, was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde want ek het teen U oortree. Amen.

Amos 2:1-16

Ps. 130:1, 2

Julle is my vriende … 

Daarom, so sê die Here Here: ’n Vyand! …

(Amos 3:11).

Hoe verskriklik is dit wanneer hierdie boodskap tot die Godsvolk kom: Julle het God tot Vyand gemaak. Wat ’n ontnugtering vir die volk wat onder die waan verkeer dat hulle God aan hulle kant het; dit gaan so goed op geestelike gebied, hulle bring meer offers as wat van hulle verwag word. Op militêre gebied het hulle niks te vrees nie. God wat sy volk uit Egipte gebring het, vir wie Hy uitverkies het uit al die volke, stuur Hy hierdie boodskap: Ek gaan nie meer vir julle ’n beskerming wees nie; Ek gaan julle rykdom en alles wat julle het, vernietig! Daar sal niks van julle oorbly nie!

Waarom dan hierdie verskriklike oordeel van God oor sy volk? Omdat hulle nie wou luister nie: Hulle het mekaar vertrap, daar was dronkpartytjies in die kerk, die volk het hulle God en sy gebod vergeet. En nou het die oorsaak ’n gevolg: Die Here gaan sy volk straf!

Die Here Jesus leer sy dissipels in Johannes 15:14: Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Van elke gelowige word verwag om aan God se Woord gehoorsaam te wees.

Hoeveel van die vrug van die Gees is daar in my lewe (Gal. 5:22); hoe beheer ek my tong (Jak. 3); is die gesindheid van Christus in my lewe (Filip. 2:5); kan ek vergeef (Mt. 6:14); is ek ten volle gehoorsaam aan die Here Jesus of wil ek Hom dien op my manier? Dan gaan ons net soos hierdie volk ’n vyand van God maak.

Genadiglik het die Here Jesus sy lewe vir sy vriende kom gee! Met sy bloed het Hy ons losgekoop. Is Hy vir u ’n Verlosser en Vriend?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 146-147

Here, maak my u vriend en leer my om alles te doen wat U vra. Amen.

Amos 3:1-15

Ps. 25:2

Die dag wanneer God self die sekel inlê

Die dag wanneer God self die sekel inlê

Want kyk, in dié dae … sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek om daar met hulle ’n strafgerig te hou … (Joël 3:1, 2).

Die dal van Jósafat – die dal van beslissing! God seën sy volk en oordeel diegene wat sy volk te na gekom het. Die Here roep sy volk op tot ’n heilige oorlog: Elkeen moet daar wees, nl. die helde, die krygsmanne, selfs die swakste onder hulle. Hulle moet van hulle pikke swaarde maak en van hulle snoeiskêre moet hulle spiese maak: … laat die swakke sê: Ek is ’n held! (v. 10).

Hy roep nie net sy volk nie, maar alle nasies na hierdie plek. Ironies – nie om oorlog te maak nie, maar dat Hy saam met sy volk die nasies sal oordeel om hulle te straf. Die tyd is ryp: Hulle boosheid is groot! Die dag van beslissing is naby!

In die verre toekoms klink reeds die woorde van Openbaring 14:14, 15: … kyk … een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit … en in sy hand ’n skerp sekel. Die uur het gekom om te maai omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En die leërs van die hemel het Hom gevolg … (Openb. 19:14); … hulle sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank (Openb. 20:6).

Vir die ongelowiges wag die ewige oordeel, maar vir die gelowiges seën. ’n Ewige skuilplek en toevlug in die hemel waar God by hulle sal woon as hulle God – hulle wat onskuldig verklaar is en in sy bloed gewas is.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 143

Here, dankie vir u seën. Ek is dit nie werd dat U my só liefhet nie. Dankie dat U my plek in die hemel gaan voorberei het om vir altyd by U te wees. Amen.

Joël 3:1-21

Ges. 388:1-3

Haal eers die balk uit jou eie oog

… Die Here brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor (Amos 1:2).

Hoe dikwels wys u en ek nie vingers na ander en dink nooit daaraan dat ons net so skuldig staan nie? Dikwels sê ons: “God slaap nie, dié wat nie wil hoor nie, moet voel”. En ons? Ons sien onsself as sonder sonde en dink: “Ek is ’n gelowige, ek gaan kerk toe, ek gee meer as wat van my verwag word, ek lees my Bybel, ek bid. My pad is geplavei hemel toe”.

Dit was die probleem met Israel. God het Amos na die Tien­stam­me­ryk gestuur om sy oordeel aan te kondig. Wanneer die straf van God eers oor die vyande van die volk aangekondig word, leef die volk houtgerus voort. Hulle reken die toorn van God sal hulle nie tref nie, want hulle is dan sy uitverkore Verbondsvolk wat Hy uit Egipte uitgelei het. Hulle het gedink hulle is God se witbroodjies. Hulle wou nie leer uit die straf oor “ander sondaars” nie.

Romeine 2:11 leer: … daar is geen aanneming van die persoon by God nie. Romeine 3:10 waarsku: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Ook 1 Johannes1:8 wil ons tot orde roep: As ons sê dat ons geen son­de het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. Almal het gesondig en dit ontbreek hul­le aan God se geregtigheid. Om hierdie rede mag ons nooit onsself bo ander ag nie.

Daar is egter genade vir elke berouvolle: Wie sy sonde bely, sal vind dat Hy getrou en regverdig is om ons ons sonde te vergewe en van alle ongeregtigheid te reinig (vgl. 1 Joh. 1:9).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 144

Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in my ’n vaste gees. Amen.

Amos 1:1- 2:4

Ps. 25:3

God beskik oor voor- en teenspoed

God beskik oor voor- en teenspoed

Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind … het die voetganger verslind … het die kaalvreter verslind (Joël 1:4).

Hoe hanteer ’n mens krississe in die lewe? Wanneer ek my werk verloor, of langs die siekbed of graf van my kind moet staan, word ek dalk opstandig en vra hoe God so iets kan toelaat of wat het ek gedoen om dit te verdien?

Dit was die situasie in Juda waaroor die profeet Joël skryf. ’n Ver­nie­tigende sprinkaanplaag het deur Juda getrek. Dit het alles beïnvloed: mense se persoonlike lewe, die tempeldiens, die boerdery en landbou. Die volk het probeer om hierdie ellende in terme van hulle godsdiens te verklaar, nl. dat dit wys na die oordeel van God aan die einde van die tyd en dat dit verskriklik sal wees – dit sal gelowige en ongelowige raak: … Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die Here julle God, en roep tot die Here (v. 14).

Hierdie gedeelte wil ons leer dat niks met ons sal gebeur as dit nie God se wil is nie. Niks gebeur ooit buite sy wil nie. Ons leer ook dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet. Hy laat reën oor goeies en slegtes, daarom kan ons nie altyd sê dat teenspoed die gevolg is van sonde in my lewe nie. Jakobus 1:2 e.v. leer dat die beproewinge ons nader aan God kan bring – of dat dit ons in ongeloof kan wegdryf van Hom af. Wat het dit met u gedoen?

Die Here wil dat wat ook al met ons gebeur, ons sal roep tot ver­ootmoediging, berou, skuldbelydenis en ons daaraan sal herinner dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 140-141

Here, leer my dat niks met my sal gebeur wat nie u wil vir my is nie en dat U in alles vir my sorg. Amen.

Joël 1:1-20

Ges: 251:1

Ramp tot redding. 

Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg …

(Joël 2:1).

Deur die profeet waarsku die Here sy volk: Kom terug na My toe (v. 1:13-15)! Die oordeel van God gaan verskriklik wees; ’n ramp gaan sy volk tref soos die verskrikking van ’n sprinkaanplaag – niks gaan oorbly nie! ’n Plek wat eers soos die paradys gelyk het, lyk nou soos ’n woestyn. En hierdie dag van die Here is nie meer ver nie.

Daar is egter redding vir die wat gehoor gee: … bekeer julle tot My met julle hele hart, met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie … (2:12-13). Soos hierdie volk troos ons onsself dat die Here tevrede is met hoe ons leef: Ons het mos belydenis van geloof afgelê, ons is mos so een maal per maand in die kerk; ek gee mos ’n bydaetjie indien die diaken my besoek; tussen my besige program probeer ek darem nog ’n tydjie vir God inruim.

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en verstand – met alles en in alles! Die offers wat God vra, is ’n gebroke gees en verslae hart – dit sal Hy nie verag nie (Ps. 51:19). Hy stel belang in gehoorsaamheid – nie offerandes nie (1 Sam. 15:22). Dan sal die Here luister en die ramp in redding verander.

God self gee die grootste uitkoms voordat hierdie vreeslike dag aan­breek: Hy het sy eniggebore Seun gestuur as Redder vir hier­die verloregaande wêreld. Die Here Jesus belowe die Heilige Gees om ge­lo­wiges te leer en te herinner aan alles wat Hy gesê het. Ons moet Hom gehoorsaam anders gaan die grootste ramp ooit ons tref: God se ewige oordeel!

Hoor u die basuin blaas?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 142

Here, leer my om te luister wanneer u Woord waarsku. Dankie dat U die berouvolle hart genadig is. Amen.

Joël 2:1-32

Ges. 43:1, 4

Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende god!

Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende god!

Toe het Ek vir hulle soos ’n leeu geword, soos ’n luiperd … soos ’n beer … soos … die wilde diere van die veld … (Hos. 13:7, 8).

Om slegs te bely dat jy ’n Christen is, beteken niks. Dit gaan oor ’n onwrikbare, roekelose geloof in die Here Jesus Christus en dade van dankbaarheid wat voortspruit uit jou geloof en liefde vir jou Verlosser.

Baie wil God aan die wêreld voorhou as net die God van liefde wat nooit die sonde sal straf nie en nooit iemand na die ewige dood sal stuur nie. God is egter ook die God van geregtigheid wat die sonde haat en geen sonde ongestraf laat nie. Hy eis van gelowiges onverdeelde trou en gehoorsaamheid aan sy Woord.

Dit het Israel besef, en tog moes hulle hierdie boodskap uit die mond van die profeet Hoséa verneem: Vir hierdie volk is die byl reeds aan die wortel – die doodsvonnis is gevel: Geen redding uit die mag van die dood nie.

En ons? Die betekenis van die Here Jesus se waarskuwing is baie duidelik: Wie sy Woord ongehoorsaam is en Hom nie glo wat Hom gestuur het nie, het nie die ewige lewe nie en word veroordeel tot die ewige dood (vgl. Joh. 5:24).

Maar daar is nog genade vir berouvolle sondaars. Jesus Christus het die mag van die dood verbreek en uit genade aan gelowiges die ewige lewe kom gee. Daarom kan ons saam met Paulus juig: Dood, waar is jou angel, doderyk, waar is jou oorwinning? Die dood is verslind in die oorwinning van die Here Jesus Christus (vgl. 1 Kor. 15:54, 55).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 137-138

Here, leer my dat U die enigste God is en leer my om U te dien met my hele hart, siel en verstand. Amen.

Hos. 13:1-15

Ges. 276:1-3

Wie sy sonde bely, sal genade vind … by U vind die wees ontferming (Hos. 14:4).

God belowe vergifnis aan Israel – nie omdat hulle ewe skielik sondeloos geword het nie. God se genade is net onverstaanbaar: Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend (v. 5). In die vorige hoofstuk het ons gelees hoedat Israel sy eie doodsvonnis geteken het. Nou kom God se opdrag: Bekeer jou, bely jou sonde, noem elkeen voor God by die naam. God leer self sy volk wat om te doen om weer sy guns te verwerf. Dit is asof Hy in vers 10 vir Israel sê: Luister na wat Ek vir jou sê!

Hierdie hoofstuk weerklink in 1 Johannes 1:9: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die geregtigheid van God!

Ons het ’n Verlosser broodnodig. Ek kan myself nie red van die ewige verderf nie. In die volheid van die tyd het God reeds voorsiening gemaak: Die Here Jesus Christus, gebore uit ’n vrou, onder die wet, om ons van die vloek van die wet los te koop.

Hy roep elke sondaar: Kom na My toe, draai om van jou sondepad, bely jou sonde elkeen by die naam, vra om deur Jesus Christus se bloed gereinig te word, neem Hom aan as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker – en smaak sy vergiffenis.

Dan gebeur die wonder: Elkeen wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God genoem te word. Nie meer weeskind nie – nou kind van God deur sy genade in Jesus Christus. By Hom alleen vind die sondaar genade.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 139

Here, ek wil my sonde bely, wees my genadig en vergewe asseblief my oortredinge. Amen.

Hos.14:1-10

Ges. 140:1-4