Hoogmoed kom tot ’n val
Weë die gerustes in Sion, en die sorgelose op die berg van Samaría …Julle … wat sê: Het ons nie deur ons eie krag horings gekry nie? (Amos 6:1, 13).
Hoogmoedig en onbekommerd! Die leiers van Juda en Samaría het hulleself beskou as baie belangrik: die eerste onder die nasies. Ander het na hulle gekom om raad; die leiers het uitspattig geleef, hulle het vleis geëet uit die voerkraal, wyn gedrink uit die offerkomme uit die tempel en hulleself met salf gesalf het wat vir die tempeldiens bestem was. Net die beste vir hulle. Hulle was ook glad nie oor die verval van die volk bekommerd nie.
Die Here sien hulle egter as leeglêers wat net lawaai opskop. Hulle wou altyd op die voorpunt van alles wees. Nou moet hulle van God verneem: Nou sal julle op die voorpunt wees, maar van die ballinge wanneer hulle weggevoer word!
Hoogmoed is die oersonde van Satan teen God. Die mens het hom daarin gevolg: Volgens my wil en in my eie krag sal ek my eie lewe reël. Die volk se voorspoed het hulle prioriteite beïnvloed: Hulle het gedink hulle het God nie meer nodig nie.
Die Here wil ons waarsku: Moenie dink dat jy jou van God kan losmaak nie. Hy beheer en beskik oor alles en alles kom uit sy hand – redding en oordeel ook: Want kyk, Ek gaan teen julle … ’n volk opwek … en hulle sal julle verdruk … (v. 14).
Amos wil ons leer waar die gelowige se plek is: nederig, dankbaar en op ons knieë voor die troon van genade na die voorbeeld van die Here Jesus; altyd nederig, altyd in gebed tot sy Vader, diensbaar en gehoorsaam aan Hom tot die dood toe. Hoogmoediges verstrooi Hy, nederiges ontvang genade.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 1:39-80
Here, leer my om nederig en dankbaar en erkentlik voor U te wees. Amen.
Amos 6:1-14
Ges. 11:1
God se meetstok
… Ek gaan ’n skietlood aanlê in die midde van My volk Israel. Ek sal hom nie verder verbygaan nie (Amos 7:8).
God se geduld met sy volk het opgeraak en Hy het besluit tot hiertoe en nie verder nie. Die Here laat Amos sien wat Hy gaan doen: Hy gaan hongersnood stuur. Dan bid Amos en God kry berou. Hy wil met sy volk ’n regstryd voer deur vuur wat alles vernietig – en weer bid Amos en die Here kry berou. En toe die skietlood … ! Die Here se geduld is nou op! Nou gaan Hy hulle meet soos met ’n waterpas, want die volk bly ongehoorsaam. Bedrog, korrupsie sabbatsontheiliging en afgodediens vier hoogty; armes word steeds vertrap en die reg word verdraai. Vir hulle wat God opreg wil dien, is daar nie meer plek nie.
Dan volg hierdie verskriklike boodskap uit die mond van die Here: Die einde het vir my volk Israel gekom. Hulle sonde het gemaak dat hulle soos ’n mandjie somervrugte ryp geword het vir God se oordeel. Nou moet hulle die slae vat wat hulle verdien: En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees … (v. 9).
Hoe lank gaan God se geduld met ons hou? Ons hoor elke Sondag God se Woord, maar eredienste word leër; God se dag word meer en meer soos elke ander dag gebruik; korrupsie, bedrog, leuens en onsedelikheid is aan die orde van die dag. Is ons nie ook al ryp om gepluk te word nie?
Vir Israel was genadetyd verby. Vir ons is daar nog tyd om terug te keer: Kom na My toe, sê die Here Jesus, by My is vergiffenis en redding vir elke berouvolle hart. Hy gee die lewe vir elkeen wat Hom gehoorsaam.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 2
Here, kom word tog weer Koning in ons harte en Koning van ons volk. Amen.
Amos 7:1-9; 8:1-14
Ges. 69:1, 3