Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind … het die voetganger verslind … het die kaalvreter verslind (Joël 1:4).
Hoe hanteer ’n mens krississe in die lewe? Wanneer ek my werk verloor, of langs die siekbed of graf van my kind moet staan, word ek dalk opstandig en vra hoe God so iets kan toelaat of wat het ek gedoen om dit te verdien?
Dit was die situasie in Juda waaroor die profeet Joël skryf. ’n Vernietigende sprinkaanplaag het deur Juda getrek. Dit het alles beïnvloed: mense se persoonlike lewe, die tempeldiens, die boerdery en landbou. Die volk het probeer om hierdie ellende in terme van hulle godsdiens te verklaar, nl. dat dit wys na die oordeel van God aan die einde van die tyd en dat dit verskriklik sal wees – dit sal gelowige en ongelowige raak: … Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die Here julle God, en roep tot die Here (v. 14).
Hierdie gedeelte wil ons leer dat niks met ons sal gebeur as dit nie God se wil is nie. Niks gebeur ooit buite sy wil nie. Ons leer ook dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet. Hy laat reën oor goeies en slegtes, daarom kan ons nie altyd sê dat teenspoed die gevolg is van sonde in my lewe nie. Jakobus 1:2 e.v. leer dat die beproewinge ons nader aan God kan bring – of dat dit ons in ongeloof kan wegdryf van Hom af. Wat het dit met u gedoen?
Die Here wil dat wat ook al met ons gebeur, ons sal roep tot verootmoediging, berou, skuldbelydenis en ons daaraan sal herinner dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 140-141
Here, leer my dat niks met my sal gebeur wat nie u wil vir my is nie en dat U in alles vir my sorg. Amen.
Joël 1:1-20
Ges: 251:1
Ramp tot redding.
Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg …
(Joël 2:1).
Deur die profeet waarsku die Here sy volk: Kom terug na My toe (v. 1:13-15)! Die oordeel van God gaan verskriklik wees; ’n ramp gaan sy volk tref soos die verskrikking van ’n sprinkaanplaag – niks gaan oorbly nie! ’n Plek wat eers soos die paradys gelyk het, lyk nou soos ’n woestyn. En hierdie dag van die Here is nie meer ver nie.
Daar is egter redding vir die wat gehoor gee: … bekeer julle tot My met julle hele hart, met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie … (2:12-13). Soos hierdie volk troos ons onsself dat die Here tevrede is met hoe ons leef: Ons het mos belydenis van geloof afgelê, ons is mos so een maal per maand in die kerk; ek gee mos ’n bydaetjie indien die diaken my besoek; tussen my besige program probeer ek darem nog ’n tydjie vir God inruim.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en verstand – met alles en in alles! Die offers wat God vra, is ’n gebroke gees en verslae hart – dit sal Hy nie verag nie (Ps. 51:19). Hy stel belang in gehoorsaamheid – nie offerandes nie (1 Sam. 15:22). Dan sal die Here luister en die ramp in redding verander.
God self gee die grootste uitkoms voordat hierdie vreeslike dag aanbreek: Hy het sy eniggebore Seun gestuur as Redder vir hierdie verloregaande wêreld. Die Here Jesus belowe die Heilige Gees om gelowiges te leer en te herinner aan alles wat Hy gesê het. Ons moet Hom gehoorsaam anders gaan die grootste ramp ooit ons tref: God se ewige oordeel!
Hoor u die basuin blaas?
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 142
Here, leer my om te luister wanneer u Woord waarsku. Dankie dat U die berouvolle hart genadig is. Amen.
Joël 2:1-32
Ges. 43:1, 4