Want kyk, in dié dae … sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek om daar met hulle ’n strafgerig te hou … (Joël 3:1, 2).
Die dal van Jósafat – die dal van beslissing! God seën sy volk en oordeel diegene wat sy volk te na gekom het. Die Here roep sy volk op tot ’n heilige oorlog: Elkeen moet daar wees, nl. die helde, die krygsmanne, selfs die swakste onder hulle. Hulle moet van hulle pikke swaarde maak en van hulle snoeiskêre moet hulle spiese maak: … laat die swakke sê: Ek is ’n held! (v. 10).
Hy roep nie net sy volk nie, maar alle nasies na hierdie plek. Ironies – nie om oorlog te maak nie, maar dat Hy saam met sy volk die nasies sal oordeel om hulle te straf. Die tyd is ryp: Hulle boosheid is groot! Die dag van beslissing is naby!
In die verre toekoms klink reeds die woorde van Openbaring 14:14, 15: … kyk … een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit … en in sy hand ’n skerp sekel. Die uur het gekom om te maai omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En die leërs van die hemel het Hom gevolg … (Openb. 19:14); … hulle sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank (Openb. 20:6).
Vir die ongelowiges wag die ewige oordeel, maar vir die gelowiges seën. ’n Ewige skuilplek en toevlug in die hemel waar God by hulle sal woon as hulle God – hulle wat onskuldig verklaar is en in sy bloed gewas is.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 143
Here, dankie vir u seën. Ek is dit nie werd dat U my só liefhet nie. Dankie dat U my plek in die hemel gaan voorberei het om vir altyd by U te wees. Amen.
Joël 3:1-21
Ges. 388:1-3
Haal eers die balk uit jou eie oog
… Die Here brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor (Amos 1:2).
Hoe dikwels wys u en ek nie vingers na ander en dink nooit daaraan dat ons net so skuldig staan nie? Dikwels sê ons: “God slaap nie, dié wat nie wil hoor nie, moet voel”. En ons? Ons sien onsself as sonder sonde en dink: “Ek is ’n gelowige, ek gaan kerk toe, ek gee meer as wat van my verwag word, ek lees my Bybel, ek bid. My pad is geplavei hemel toe”.
Dit was die probleem met Israel. God het Amos na die Tienstammeryk gestuur om sy oordeel aan te kondig. Wanneer die straf van God eers oor die vyande van die volk aangekondig word, leef die volk houtgerus voort. Hulle reken die toorn van God sal hulle nie tref nie, want hulle is dan sy uitverkore Verbondsvolk wat Hy uit Egipte uitgelei het. Hulle het gedink hulle is God se witbroodjies. Hulle wou nie leer uit die straf oor “ander sondaars” nie.
Romeine 2:11 leer: … daar is geen aanneming van die persoon by God nie. Romeine 3:10 waarsku: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Ook 1 Johannes1:8 wil ons tot orde roep: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan God se geregtigheid. Om hierdie rede mag ons nooit onsself bo ander ag nie.
Daar is egter genade vir elke berouvolle: Wie sy sonde bely, sal vind dat Hy getrou en regverdig is om ons ons sonde te vergewe en van alle ongeregtigheid te reinig (vgl. 1 Joh. 1:9).
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 144
Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in my ’n vaste gees. Amen.
Amos 1:1- 2:4
Ps. 25:3