Toe het Ek vir hulle soos ’n leeu geword, soos ’n luiperd … soos ’n beer … soos … die wilde diere van die veld … (Hos. 13:7, 8).

Om slegs te bely dat jy ’n Christen is, beteken niks. Dit gaan oor ’n onwrikbare, roekelose geloof in die Here Jesus Christus en dade van dankbaarheid wat voortspruit uit jou geloof en liefde vir jou Verlosser.

Baie wil God aan die wêreld voorhou as net die God van liefde wat nooit die sonde sal straf nie en nooit iemand na die ewige dood sal stuur nie. God is egter ook die God van geregtigheid wat die sonde haat en geen sonde ongestraf laat nie. Hy eis van gelowiges onverdeelde trou en gehoorsaamheid aan sy Woord.

Dit het Israel besef, en tog moes hulle hierdie boodskap uit die mond van die profeet Hoséa verneem: Vir hierdie volk is die byl reeds aan die wortel – die doodsvonnis is gevel: Geen redding uit die mag van die dood nie.

En ons? Die betekenis van die Here Jesus se waarskuwing is baie duidelik: Wie sy Woord ongehoorsaam is en Hom nie glo wat Hom gestuur het nie, het nie die ewige lewe nie en word veroordeel tot die ewige dood (vgl. Joh. 5:24).

Maar daar is nog genade vir berouvolle sondaars. Jesus Christus het die mag van die dood verbreek en uit genade aan gelowiges die ewige lewe kom gee. Daarom kan ons saam met Paulus juig: Dood, waar is jou angel, doderyk, waar is jou oorwinning? Die dood is verslind in die oorwinning van die Here Jesus Christus (vgl. 1 Kor. 15:54, 55).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 137-138

Here, leer my dat U die enigste God is en leer my om U te dien met my hele hart, siel en verstand. Amen.

Hos. 13:1-15

Ges. 276:1-3

Wie sy sonde bely, sal genade vind … by U vind die wees ontferming (Hos. 14:4).

God belowe vergifnis aan Israel – nie omdat hulle ewe skielik sondeloos geword het nie. God se genade is net onverstaanbaar: Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend (v. 5). In die vorige hoofstuk het ons gelees hoedat Israel sy eie doodsvonnis geteken het. Nou kom God se opdrag: Bekeer jou, bely jou sonde, noem elkeen voor God by die naam. God leer self sy volk wat om te doen om weer sy guns te verwerf. Dit is asof Hy in vers 10 vir Israel sê: Luister na wat Ek vir jou sê!

Hierdie hoofstuk weerklink in 1 Johannes 1:9: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die geregtigheid van God!

Ons het ’n Verlosser broodnodig. Ek kan myself nie red van die ewige verderf nie. In die volheid van die tyd het God reeds voorsiening gemaak: Die Here Jesus Christus, gebore uit ’n vrou, onder die wet, om ons van die vloek van die wet los te koop.

Hy roep elke sondaar: Kom na My toe, draai om van jou sondepad, bely jou sonde elkeen by die naam, vra om deur Jesus Christus se bloed gereinig te word, neem Hom aan as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker – en smaak sy vergiffenis.

Dan gebeur die wonder: Elkeen wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God genoem te word. Nie meer weeskind nie – nou kind van God deur sy genade in Jesus Christus. By Hom alleen vind die sondaar genade.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 139

Here, ek wil my sonde bely, wees my genadig en vergewe asseblief my oortredinge. Amen.

Hos.14:1-10

Ges. 140:1-4