… wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel … (Mig. 6:8).

Ek is vrygemaak, daarom hoef ek nie die wet van God na te kom nie. Hoe dikwels hoor ons nie stellings soos hierdie nie? Die Heidel­berg­se Kategismus Vraag en Antwoord 64 worstel met dieselfde vraag: Maak dié leer dat ons uit genade en nie op grond van ons werke nie, gered word, nie van gelowiges sorgelose mense wat nie omgee hoe hulle leef nie? Dit is juis oor hierdie soort sorgeloosheid dat God met sy volk ’n regsgeding hou (v. 2).

Ten spyte daarvan dat God sy volk uit die slawehuis van Egipte losgekoop en by verskeie geleenthede uit die hand van hul vyande gered het (v. 4-5), was daar groot afvalligheid onder die volk. Hulle lewens het nie getuig van ’n lewende verhouding (verbondsgehoorsaamheid) met God nie. Die volk het verdrae met heidense volke gesluit, die ry­kes en vernames het die armes uitgebuit en sleg behandel, daar was on­eer­likheid, leuens en onreg (v. 10-16). God waarsku sy volk dat so ’n lewenswandel vir hulle katastrofiese gevolge sal inhou. Hy herinner hulle daaraan dat die Assiriese bedreiging voor die deur lê.

God beklemtoon dit dat genade geen vrypas vir sonde is nie. Om bevry te wees uit slawerny, beteken nie bandeloosheid nie. Dit behoort juis die motivering te bied tot dankbare gehoorsaamheid. Wanneer Jesus Christus jou bevry uit die houvas van die sonde en die dood, verander die Gees jou sodat daar by jou ’n opregte begeerte is om reg te doen, liefde te betrag en ootmoedig met God te wandel. Johannes sê immers: Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar (1 Joh. 2:3).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 15

Here, laat my hoe langer hoe meer u beeld gelyk word! Amen.

Mig. 6:1-16

Ges. 141

God praat deur sy Woord … Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister (Lk. 16:29).

“Die Here het vir my gesê”, is ’n uitdrukking wat deesdae jou hare laat regop staan. “Waar het jy sy stem gehoor?”, wil ’n mens by­na onwillekeurig vra. Soveel mense maak deesdae daarop aanspraak dat hulle die stem van die Here gehoor het deur drome, visioene, ge­beur­tenisse, afgestorwenes se verskyning of selfs ’n direkte influistering. Hoewel God in die Bybelse tyd, toe die kanon nog nie voltooi was nie, dikwels en op verskillende maniere gespreek het, is dit ’n vraag of Hy dit steeds só doen.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus smeek die ryk man by Abraham om tog vir Lasarus terug te stuur na sy familie en hulle te waarsku oor die oordeel wat op ongelowiges wag. Hy is oortuig daarvan dat hulle tot bekering sal kom as iemand uit die dood hulle waarsku. Abraham stel dit egter duidelik dat niks of niemand meer oortui­gings­krag het as die Woord van God self nie. “Moses en die Profete” was ’n vaste uitdrukking waarmee na die Ou Testament verwys is. Wat Abra­ham dus sê, is dat hulle die Ou Testament het en as hulle dit nie glo nie, sal nie eens iemand uit die dood hulle anders kan oortuig nie.

Hebreërs 1:1 stel dit duidelik dat God nie meer op allerhande ander maniere met ons praat nie. Hy praat met ons deur sy Woord wat getuig van Jesus Christus en sy verlossingswerk. Hierdie Woord is lewend en kragtig sodat dit in staat is om selfs die hardste hart te vermurwe en die sterkste wil te buig. Anders as ander aansprake van Goddelike openbaring, is die Bybel die enigste bron waarin God se Woord on­teen­seglik geverifieer kan word.

Bykomende Skrifgedeelte: Mig. 7

Here, maak u Woord ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad! Amen.

Lk. 16:1-31

Ps. 119:1, 39