Om die huidige omstandighede as ʼn
histeriese paniekaanval te beskryf, suggereer dat daar ʼn oormatige reaksie op
die feite is, iets wat moontlik selfvernietigend kan wees. Hierdie meningstuk wys
op die feite wat tans tot ons beskikking is, sonder om die werklikheid te
reduseer. Dit blyk dat die groot geraas veroorsaak word deur kortsigtige
selfbewaring, tropdiere wat nie vir hulself dink nie en irrasionele vrees.
Daarteenoor het ons eerder selfopofferende reaksie nodig, waar naasteliefde jou
twee keer laat dink, terwyl jy op logiese wyse met die bewese feite omgaan.
Die werklikheid op grondvlak
Dit is gevaarlik om oor “feite” te praat,
want soos wat navorsers se kennis van die virus daagliks toeneem, is daar elke
dag ʼn nuwe stel feite wat verreken moet word. ’n Mens kan dus slegs besluite
neem op grond van die feite wat op daardie oomblik tot jou beskikking is. Dit
vra egter ook ʼn bereidheid om ons reaksie telkens te heroorweeg op grond van
die nuwe inligting.
Nuwe inligting soos die gemiddelde
ouderdom van persone wat gesterf het en ook hoeveel van hulle reeds aan ander
kwale gely het, moet in ag geneem word. Aanvanklike modelle oor die
verspreiding en impak van die virus moes intussen aangepas word. Viroloë pas
daagliks hul eie modelle aan. Dit wys dat ons rekenaarmodelle en oorhaastige
veralgemenings, wat gelei het tot talle regerings se inperkende besluite,
gegrond was op onvoldoende inligting en ontoereikende data.
Soos wat werklike syfers beskikbaar raak
en nie blote modelle nie, kan ons hierdie virus met vorige pandemies vergelyk.
Daarom is ons dankbaar dat dit lyk asof die virus minder aansteeklik is as
masels en waterpokkies en dat dit nie die sterftesyfer van iets soos Ebola het
nie. Al weet ons dat veral bejaardes en diegene met bestaande mediese toestande
deur die virus geraak word, moet ons daarteen waak om nie nou bejaardes en
siekes tot blote kolletjies op ’n grafiek te reduseer nie. Elkeen wat sterf, is
ʼn werklike verlies vir ʼn hartseer familie.
Een van die stemme wat pleit vir
redelikheid en werklike wetenskaplike navorsing, is die hoof van statistiek en
virologie by Stanford Universiteit, John Ioannidis. Hy wys daarop dat die
populêre statistiek wat deur die media gerapporteer word op grond van
“amptelike” syfers deur die owerhede, vanuit ʼn wetenskaplike oog nutteloos is,
aangesien dit nie ʼn weerspieëling van die werklikheid is nie. Die rede hiervoor
is omdat slegs diegene met erge simptome getoets word, omdat daar beperkte
vermoëns is om mense te toets.
Die feit is dat daar nog nie genoeg
inligting is om met sekerheid te kan sê hoe erg Covid-19 se sterftesyfer
werklik is nie. Daarom dat regerings op modelle staatgemaak het wat met verloop
van tyd ernstige gebreke vertoon het.
Wat egter bekommerenswaardig is, is die
feit dat die Suid-Afrikaanse regering onwillig is om die data wat hulle vir hul
modelle en besluite gebruik, met die publiek te deel. “It is covered under a
non-disclosure agreement with the department of health”, aldus Sinenhlanhla
Jimoh (NIOS woordvoerder).
’n Mens sou verwag dat president
Ramaphosa tydens sy aankondiging van die verdere twee weke van inperking die
inligting met die land sou deel. Veral omdat hy beweer het dat die gemiddelde
daaglikse styging van infeksies gedurende die twee weke voor die inperkings 42%
was, terwyl dit na die inperking slegs met 4% ’n dag gestyg het.
Het iemand ooit sy syfers gekontroleer?
Die feite is dat die persentasiegroei die twee weke voor die inperking 32% was.
Kom ons aanvaar dat dit ’n tikfout in sy toespraak was en dat hy nie, nes oor
plaasmoorde, blatant vir almal gelieg het nie. Tog behoort hierdie skerp afname
ons ernstige vrae oor die toetse en statistiek te laat vra. Het ons hier rede
om die president te loof vir sy “uitnemende leierskap” of is die aanspraak op
die aanvanklike sukses van die inperkings op skewe statistiek gegrond?
In werklikheid het ons ʼn groot probleem
met te min toetse wat gedoen word. Die gemiddelde toetse vir die eerste 42 dae
was maar 2155 per dag. Op 18 Maart berig News24 dat die rede hiervoor is omdat
Suid-Afrika nie genoeg toetsstelle het nie. Die grafieke bevestig dit. Tot op
27 Maart styg Suid-Afrika se grafiek in pas met die res van die wêreld, maar
daarna val ons van 243 nuwe gevalle per dag na net 17. Was die inperking so
vinnig suksesvol? Nee, die getal toetse per dag het afgeneem van oor die 8000
na net oor die 3000 tot op ʼn laagtepunt op 6 April toe net meer as ʼn 1000
toetse gedoen is.
Sedertdien word al meer mense per dag
getoets. Op 17 April het ons eers weer meer as 7000 toetse gedoen waarvan 251
positief was. Dit vergelyk met die 243 van vroeër. Sommige van die 7000 is
egter meer as een keer getoets. Jy kan dus nie die persentasie van positiewe
gevalle bereken op grond van die aantal toetse nie. Wat jy daarvoor nodig het,
is dat meer nuwe mense per dag getoets moet word.
Neem ons in ag dat meer as 80% van
hierdie toetse deur middelklas-mense met mediese fondse by privaat
laboratoriums gedoen is, word dit duidelik dat dit nie as ʼn verteenwoordigende
steekproef sal kwalifiseer nie en daarom kan daar ook nie ingrypende besluite aangaande
die staat van inperking op grond van hierdie syfers geneem word nie.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes beweer dat hulle modelle die
toestande in plakkerskampe en hoëdigtheidsgebiede in ag neem. Hul weier egter weereens
om hierdie modelle en data aan die publiek beskikbaar te stel. Indien dit later
blyk dat die ekonomie tot ʼn val gekom het vanweë oorskatte syfers en ʼn
histeriese paniekaanval, gaan al die werkloses na ʼn sondebok begin soek. Die
regering met sy geheimhouding het die klimaat vir ʼn revolusie bewerkstellig.
Is die reaksie gevaarliker as die virus?
Lewer die staat van inperking werklik
beter uitkomste? Die Suid-Afrikaanse regering koester sy noue band met kommunistiese
China en volg hulle nie net na met die beperkte bekendmaking van inligting nie,
maar ook in die toepassing van dieselfde outoritêre inperkingsmaatreëls. Dit
terwyl daar geen sekerheid is dat dit beter uitkomste lewer as byvoorbeeld die
van Swede wat nie ʼn staat van inperking aangekondig het nie.
Met die meeste Suid-Afrikaners wat
hulself as Christene identifiseer, behoort dinge soos isolasie, kwarantyn en
inperkings nie te lei tot gewetensbesware omdat dit in stryd met Bybelse
beginsels is nie. Dit is eerder opmerklik hoe daar in ʼn sekulêre samelewing
gegryp word na Bybelse oplossings vir die probleem. Kwarantyn en afsondering as
oplossings dateer vanuit baie eeue voor ons moderne kennis van mikrobiologie en
virologie (vergelyk Levítikus 13-15). Daar is egter geen manier waarop die
grootskaalse kwarantyn van ʼn hele bevolking, wat sonder enige simptome is,
vanuit die Bybel geregverdig kan word nie.
Sosialiste en Marxiste het deur die
geskiedenis bewys dat hulle nie ʼn geleentheid laat verbygaan om die vuur aan te
blaas en ʼn krisis uit te buit nie. Daarom dat die ANC die talle
“noodregulasies” gebruik om sy ideologie van transformatisme te bevorder. Net
so is daar ook diegene soos die voormalige Britse Eerste Minister, Gordon
Brown, wat streef na ʼn “tydelike” wêreldregering om die krisis die hoof te
bied.
Die argument word ook gevoer dat jy nie
menselewens en die ekonomie teen mekaar kan afspeel nie. Dit word egter al hoe
duideliker dat die lewensverlies as gevolg van werkloosheid en armoede, danksy
die toegepaste inperkings, groter gaan wees as wat die virus tot gevolg sou hê.
Dit wil dus lyk asof die opskorting van
alle normale aktiwiteite ʼn onnodige oorreaksie op grond van verkeerde aannames was,
sonder om die gevolge van die reaksie te verreken.
Die gevaar van reduksie
Die gevaar van reduksie is deel van die
probleem agter die owerheid se reaksie. Hulle het op die virus gereageer as
iets wat gemeet moet word aan die aantal mense wat daaraan kan sterf. Hierdie
redusering van die mens se welsyn skep egter ʼn groter gesondheids- en
welsynramp.
Mense is meer as biochemiese organismes.
Ons lewens bestaan uit deelname aan talle aktiwiteite wat alles saam ons
gesondheid en welsyn beïnvloed. Die aangeblaasde paniek dryf meer mense tot
selfmoord.
Die skade aan hulle gesondheid deur
werksverlies, angs, vrees, sosiale afsondering, verlies aan spaargeld,
gebrekkige mediese dienste en ontwrigte gemeenskappe kan uiters vernietigend
wees. Kwesbare bejaardes wat reeds in ouetehuise van die buitewêreld geïsoleer
is, word beroof van broodnodige sosiale kontak, ontspanning en stokperdjies
omdat hulle nie uit hul kamers mag kom nie. Ten spyte van die vrees dat ons
mediese infrastruktuur nie die krisis kan hanteer nie, kan hierdie werklike
gevolge nie ontduik word nie.
In hierdie tyd wat die swaard van die
dood ywerig in die lug geswaai word, het gelowiges die geleentheid om
waagmoedige en getroue getuies te wees van die lewe, hoop en vryheid wat net
die evangelie van Jesus Christus bring. Ons het die roeping om mense te wys op
die Woord van God deur stemme van waarheid, redelikheid en kalmte te wees.
“Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en
liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7).
Amptelike skrywe van die AP Kerk aan die president insake die huidige inperkingmaatreëls.
Geagte mnr. President, Kabinetsministers, premiers, burgemeesters en
gemeenskapsleiers van Suid-Afrika.
Ons rig hierdie skrywe aan u namens ’n kerkverband wat 30 000 Christene verteenwoordig, maar ook, so glo ons, namens ’n groot groep ander kerke in ons land.
Gedurende hierdie krisistyd van die Covid-19 pandemie, het ons vir elkeen van u gebid en ons doen dit steeds. Ons bid dat die Here aan u wysheid sal gee in al u besluite – besluite wat daagliks geëvalueer en gerevalueer word namate nuwe inligting oor die virus en die reaksie daarop beskikbaar word. Dit is juis hierdie inkomende inligting wat dit al meer en meer duidelik maak dat die aanvanklike inligting wat die ramptoestand gemotiveer het, onvolledig was.
Ons waardeer die president se stelling in die persverklaring van 20 April 2020 in
verband met die uitdagings wat hy moes hanteer in die besluit om ’n nasionale
inperking in te stel en dat hy verkies het om eerder na die kant van versigtigheid oor
te hel. Omdat ons doel steeds is om dit te doen wat die beste vir die openbare
belang van die burgers is, is nuwe besluite en ’n koerswysiging nou noodsaaklik –
hoe gouer, hoe beter. Die blote opgradering van maatskaplike voorsiening om
huishoudings wat in armoede leef, te ondersteun, sal ongelukkig nie naastenby
voldoende wees nie.
As ons met die huidige toestand van totale inperking volhard, sal dinge volgens ons oortuiging waarskynlik baie versleg. Ons beleef nou die situasie waar dit al duideliker word dat die instel van verdere voorsorg (inperking) nadeliger gevolge sal hê as die siekte self. Die inligting oor die pandemie regverdig nie dat miljoene mense hulle werk verloor en besighede en veral kerke vir ’n onbepaalde tydperk gesluit word nie. Die president het talle nieregeringsorganisasies, godsdienstige groepe en gewone burgers wat geld gee en hulp aanbied om honger en behoeftiges te help, bedank, maar u inperkingsmaatreëls maak dit onmoontlik vir ons om hiermee voort te gaan. Hiermee verwys ons na baie boere en familiebesighede wat nie vir hulp uit die solidariteitsfonds kwalifiseer nie, selfs al dra hulle daartoe by. Dit is nou tyd om vir besigheid oop te maak, werk toe te gaan en veral om onbeskaamd terug te keer tot die openbare aanbidding van die drie-enige God deur die gemeenskap van die heiliges, alhoewel sommige voorkomende maatreëls steeds nodig mag wees.
Hoewel Covid-19 onder ons bestaan en meer as 3300 burgers al die siekte
opgedoen het, kan ons die baie groter skade wat aan ons samelewing aangerig
word deurdat inkomste vir die onderhouding van gesinne afgesny word, nie langer
ignoreer nie. In ons kerke kom min gevalle van die Koronavirus, hospitalisasie of
sterftes voor. Daarteenoor het ons talle mense wie se vermoë om hulle gesinne te
onderhou, grootliks skade ly weens die verlies aan inkomste en skade aan hulle
besighede. Vir ons sal die inperkingsmaatreëls die huidige stand van sake baie
vererger. Sonder om die feite waarmee u rekening moet hou, buite rekening te laat,
moedig ons u aan om baie mooi na te dink oor die geweldige skade wat deur die
volharding met ’n geslote ekonomie aangerig word. In ons gemeentes het ons reeds
die verlies aan lewensonderhoud, besighede wat hul deure moes sluit en die isolasie
van ons lidmate ervaar en dit is ’n geweldige verlies vir die welwese en welsyn van
die hele samelewing. Die skade sal net vererger as ons op die huidige koers van
imperking volhard en die ekonomie, ons huise en kerke gesluit hou. Vergun ons om
sonder skroom daarop te wys dat as daar ooit ’n noodsaaklike diens was, is dit die
openbare aanbidding deur die gemeenskap van die heiliges van die lewende God.
Hy is die belangrikste aspek in elke oorweging. Dit is nie vir ons nodig om u daaraan
te herinner dat gevaarlike (en waarskynlik onbeheerbare) sosiale onrus die
noodwendige gevolg van die huidige koers sal wees nie. Die plundering van
informele handelaars en drankwinkels is net die begin.
Ons is ook erg bedroef deur die blatante rassisme deur sommige
regeringsdepartemente wat verligting en hulp in die pandemie betref. Ons is voorts
baie verontrus oor die stygende gety van misdaad gedurende die inperking. Ons
beskou dit ook as ons roeping om daarop te wys dat daar baie meer onrus en
rampspoedige gevolge kan voorkom omdat gemeenskapsveiligheidsgroepe nie
toegelaat word om op te tree nie.
As kerke is ons baie besorg oor die lewens en gesondheid van ons lidmate asook ander in die gemeenskappe wat ons bedien. Veral omdat talle in ons kerke bejaardes of hoë-risiko gevalle vir Corvid-19 is. Hul gesondheid is egter nie die verantwoordelikheid van die staat alleen nie. Daardie persone en hul gesinne, predikante, leiers en dokters is die beste geposisioneer om vir hulself te besluit oor hoe hulle gedurende die verspreiding van die siekte moet leef. As hierdie ’n groot plaag, ’n direkte gesondheids- en lewensbedreiging vir al ons lidmate was, soos baie van ons aanvanklik gedink het dit was, sou ons met graagte gewillig wees om ons neer te lê by billike maatreëls om die verspreiding te voorkom – soos ons die afgelope maand gedoen het. Dit is egter nou duidelik dat die krisis nie op die vlak is soos dit aanvanklik beskou was nie. Al meer van ons kerke dui daagliks aan dat hulle nie bereid is om voort te gaan om die uiterste inperkingsmaatreëls na te kom nie. Ons begeerte is om gehoorsaam te wees aan die burgerlike owerheid. Ons moet egter ook doen wat God van ons verwag en wat die beste is vir ons mense en gemeenskappe en soos ons gewete ons voorskryf.
Ons erken dat die grondwetlike regte van vryheid van beweging, spraak, godsdiens
en assosiasie beperk mag word kragtens Afdeling 36 van die grondwet, maar sulke
“beperkings moet redelik en regverdigbaar wees in ’n oop en demokratiese
samelewing wat gebaseer is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”. As ons die
aard van hierdie regte in aanmerking neem; die belangrikheid van die beperkinge,
die aard en omvang daarvan, asook die verhouding tussen die beperkings en hul
doel en minder beperkende maniere om die doel te bereik, blyk dit dat ons as
kerkleiers nou die morele verpligting het om ons aanvanklike steun vir die huidige
inperkingsmaatreëls in die lig van die jongste feite oor die pandemie te heroorweeg.
Meer nog, ons het nie net hierdie regte omdat die grondwet dit vergun nie, maar
omdat dit van God self af kom. Ons glo dat die tyd ryp is vir ons leiers om af te sien
van die ekstreme inperkingsmaatreëls.
Tot dusver was die reaksie in die kerk een van verootmoediging en sondebelydenis
– die sondes van die kerk en die sonde van ons burgers en regering. Met hierdie
brief nooi ons die regering om hulle asseblief by ons in verootmoediging voor die
Here Jesus Christus aan te sluit. Ons pleit om die genade en barmhartigheid van
God, sodat Hy aan ons verlossing en wysheid vir die toekoms sal gee. Die dood is ’n
vyand, die laaste vyand wat deur die heerskappy van Christus vernietig is. Ons bely
dit met ons hele hart en hoewel ons die dood verag, vrees ons nie die dood nie, want
vir ons is die lewe Christus en die sterwe wins. Mag God opregte berou in ons
bewerk en wanneer ons ons sondes erken en bely, glo ons dat Hy ons genadig sal
wees en ons land sal herstel.
English translation: Formal statement to the president regarding the current lockdown regulations.
Dear Mr. President, Cabinet Ministers, Premiers,
Mayors, and Community Leaders of South Africa,
We are writing to you on behalf of a church
denomination representing 30 000 Christians and also, so we believe, on
behalf of a host of other churches in our country as well.
During this time of crisis of the Covid-19 pandemic we
have been praying for each of you and continue to do so. We pray that the Lord
may grant you wisdom in all of your decisions – decisions that must be
evaluated and re-evaluated every day as new information about the virus informs
our reactions to it. It is exactly this unfolding information that makes it
more and more apparent that the initial information that motivated the state of
disaster was incomplete.
We appreciate the president’s statement in the press
release of 20 April 2020 regarding the challenges he faced in the decision to
impose a nationwide lockdown and that he chose to err on the side of caution.
Because our goal is still to do what is best for the public good of the
citizens, new decisions and a change of course must now be made, sooner rather
than later. To scale up welfare provision to aid households living below the
poverty line, will unfortunately not even closely be enough.
If we continue on the current course of action of
extreme lockdown, things may get much worse, as we fear they most certainly
will. We are now in a situation where it becomes clearer and clearer that any
further imposed cure (lockdown) will prove to be worse than the disease. The
data on the pandemic do not justify putting millions of people out of work and
locking down businesses and even more important, churches, for the indefinite
future. The president thanked the many NGO’s, religious groups and ordinary
citizens who are donating money and volunteering to help feed the hungry and
destitute, but your lockdown regulations makes it impossible for us to continue
with this. In this we are referring to a lot of our farmers and family
businesses that does not qualify for help from the solidarity fund, even while
contributing to it. It is now time to open up for business, return to work and
especially to unashamedly return to the public and corporate worship of the
Triune God, even though some precautionary measures might still be necessary.
While Covid-19 is among us and 3300 citizens have
contracted the disease, we cannot further ignore the much larger damage to our
society that is done by cutting off the means of supporting the lives of
families. In our churches, we have few Coronavirus cases, hospitalizations or
deaths. However, we have many people whose ability to support their families
has been greatly damaged through the loss of wages and damage to their
businesses. For us, the lockdown regulations will worsen this state of affairs
quite seriously. Without ignoring the facts that you have to deal with, we
encourage you to more carefully consider the immense damage that will be caused
by continuing this current path of a closed economy. In our congregations we
already have experienced the loss of livelihoods, closed businesses, and the
isolation of our congregants, and it is a tremendous loss to the health and
well-being of our whole society. This damage will only worsen the longer we
stay on the current course of lockdown and keeping the economy and houses of
worship closed. And allow us to be so bold as to point out that if there was
ever a necessary service, it is the public and corporate worship of the living
God. He is by far the most important in any consideration. We also do not need
to remind you that the dangerous (and probably uncontrollable) social unrest
will also be the likely result of staying on this course. The looting of spaza
shops and liquor stores are only the beginning.
We are also deeply saddened by the blatant racism from
some government departments regarding relief and aid in response to the
pandemic. We are also very concerned about the rising tide of crime during the
lockdown. We also consider it our calling to point out that there will be much
more unrest and disastrous consequences because neighbourhood watch groups are
not allowed to operate.
As churches we have a great concern for the lives and
health of our members as well as those in the communities that we serve. Especially
because many in our churches are elderly or are in a high-risk category for
Covid-19. The fact is that the responsibility for their health is not the
government’s alone. Those individuals and their families, pastors, leaders and
physicians, are the ones to make the best decisions about how they should live
during the spread of this disease. If this were a great plague, a direct threat
to the health and lives of all of our congregants, as many of us initially
thought it was, we would be glad to continue to comply with reasonable measures
to mitigate the spread – as we have done for the past month. However, it is now
clear that this crisis is not on the level it was viewed at first. Every day
more of our churches indicate that they are not prepared to continue to comply
with the extreme lockdown regulations. Our desire is to be obedient to the
civil magistrate. However, we must also do what we believe God expects of us,
and what is best for our people and our communities, and what our consciences
dictate.
We acknowledge that the constitutional rights of
freedom regarding movement, speech, religion and association may be limited in
accordance with Section 36 of the constitution, but such “limitations must be
reasonable and justifiable in an open and democratic society based on human
dignity, equality and freedom.” If we take into account the nature of
these rights; the importance of the limitation, as well as the nature and
extent of the limitation, the relation between the limitation and its purpose,
and less restrictive means to achieve the purpose, it would seem that as church
leaders we now have the moral obligation to re-evaluate our initial support for
the current lockdown regulations in light of the latest facts about the
pandemic.
Moreover, we have these rights not because the
constitution grants them, but they are extended to us from God Himself. We
believe the time is now at hand for our leaders to stand down from the extreme
lockdown regulations.
Until today the response in the churches has been to
humble ourselves, confess our sins – the sins of the church and the sins of our
citizens and government. With this letter we invite the government to please
join us in humbling ourselves before the Lord Jesus Christ. We call upon the
grace and mercy of God to give us relief and to give us wisdom for the future.
Death is an enemy, the last enemy that will be destroyed by the rule of Jesus
Christ. We confirm this with all of our hearts and while we despise death, we
do not fear death, because for us, to live is Christ and to die is gain. May
God grant us repentance, and as we confess and repent of our many sins, we
trust that He will be gracious to us and heal our land.
In the service of the eternal King, Jesus Christ,
Rev. JL Schütte – Director of Church Administration
Die afgelope paar weke word ons gebombardeer met klankgrepe, nuusflitse en menings aangaande die COVID-19-golf wat oor die aarde rol. Die geraas hiervan is erger as jou bure wat in die middel van die nag Bohemian Rhapsody probeer sing. Natuurlik was daar nie net geraas gewees nie, maar soos wat al hoe meer mense sonder oudisies in die koor begin sing het, het die simfonie in ʼn kakofonie ontaard. Die uitdaging kom nou om die suiwer en vals klanke van mekaar te skei.
Die voorkoms en verspreiding van COVID-19 is met reg ontstellend, veral vir bejaardes of mense met bestaande mediese toestande. Dit is egter die nuutheid van hierdie virus wat daartoe lei dat onsekerheid volop is en daarom die geraas van wanvoorstellings en fopnuus wat soos ʼn veldbrand versprei.
In plaas daarvan om woorde versigtig te kies, word dinge soos besmet en siek, dodelik en aansteeklik skielik sinonieme. Jy hoor selfs van Korona-verwante sterftes, asof daar nie ʼn verskil is aan iemand wat met ʼn siekte doodgaan en iemand wat van ʼn siekte sterf nie. Skielik kry almal daagliks ʼn dosis histerie met elke berig of klankgreep in. Die gevolg is dus nie verbasend nie – ʼn beklemming om die hart en gevestigde lewenspatrone wat oornag verander word uit vrees vir wat voorlê.
Net so ontstellend is die reaksie wat jy kry wanneer jy probeer om die ware en valse klanke van mekaar te skei, want hoe durf jy die algemeen-aanvaarde narratief bevraagteken? In Suid-Afrika kan jy selfs tronk toe gestuur word daarvoor. Jy durf nie kritiek lewer op enige aksies nie. Selfs al vra jy net vrae, kan jy verwag om beskuldig te word van harteloosheid, liefdeloosheid, nalatigheid. Skielik kry jy dieselfde etiket as diegene wat Nazi-vergrype ontken. Deur selfs te praat van ʼn grendelstatus, is nie polities-korrek nie! Dalk is dit hierdie reaksies wat my die afgelope tyd die meeste ontstel het. Ek leer immers my kinders om alles te bevraagteken en te toets. Dalk is dit tyd dat ons dit self begin doen.
Die soewereiniteit van God
Wanneer ons dus vrae het oor die huidige situasie en die hantering daarvan, dan moet ons uit die staanspoor daarteen waak om nie ligtelik om te gaan met mense se werklike vrees of enige verliese wat hulle mag ervaar nie. Dit is duidelik dat ons met twee virusse te doen het, naamlik ʼn Korona-virus en ʼn paniek-virus.
As gelowiges moet ons besin oor wat ons in die Skrif oor siektes en paniek leer. Ons moet ook die huidige reaksie op die virus ernstig opweeg, sonder om die werklikheid te reduseer. Ons moet op grond van die feite vra (en op nugtere wyse bepaal) watter optrede die verspreiding van die virus in Suid-Afrika kan temper, watter uitkoms daar vir diegene wat reeds siek is, die armes en die werkloses is. Wat is die politieke en sosiale gevolge waaraan ons tans blootgestel word? Baie van die geraas word deur sekulêre mense veroorsaak wat daarop aandring dat epidemies en die menslike reaksie daarop bloot in biologiese en sosiologiese terme gesien moet word, daarom word die hand van God in hierdie sake afgelag.
Binne die Christelike-lewens-en-wêreldbeskouing is alle dinge onder die heerskappy van die soewereine God en sy voorsienigheid. Hy is aktief betrokke by die wêreldgeskiedenis deur sy verbondsbeloftes van seën en vervloeking tot uitvoer te bring. Die vraag is dus: Waar pas hierdie virus en paniek binne God se verbondseëning en –oordele? Dit is ook waarom hierdie krisis ʼn leerskool vir sowel God se kinders as vir ongelowiges is.
Hierdie virus kan allermins beskou word as God wat sy seën oor die nasies uitstort. Tog kan God steeds sy volk ten midde van dit alles seën en sal Hy ook hierdie virus gebruik om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hy liefhet.
Die oordele van God
Die Bybel loop oor van God se waarskuwings oor siektes en peste wat wag vir diegene wat in ongehoorsaamheid en opstandigheid teenoor Hom bly volhard (Ex. 7-11; Deut. 28: 21,22,27; 2 Kron. 7:13; Eség. 14:21; Amos 4:10; Rom. 1:27; Openb. 16:9; 18:8, ens.). God waarsku sy volk, net soos die ander nasies, dat Hy peste, plae en allerlei ellende op hulle sal laat reën indien hulle in ongehoorsaamheid die rug op Hom draai (bv. Deut. 28). Christene is nie immuun teen God se tugtiging nie (vgl. 1 Petr. 4:17).
Peste en plae is nie die enigste vorme van oordeel wat ons in die Bybel kry nie. Danksy die werklikheid van sonde en boosheid, lees ons gereeld van paniek, verwarring en raserny as reaksie op God se werke in hierdie wêreld.
Prediker beskryf die menslike toestand so treffend: … die hart van die mensekinders (is) vol boosheid, en dat die dwaasheid van hulle hart gedurende hulle lewe (is) (Pred. 9:3). Hierdie wesenlike boosheid beteken dat die mens se reaksie op God se oordeelswerke nie een van bekering en geloof is nie, maar eerder vrees, paniek en verwarring.
Toe die Egiptenare ná al die plae die Israeliete in die woestyn agtervolg het, het God hulle in verwarring gebring (Ex. 14:24). Per geleentheid tydens die regering van koning Jósafat het God hulle vyande so in verwarring gebring, dat hulle mekaar begin doodmaak het (2 Kron. 20:22; vgl. ook 1 Sam. 14).
Ook die Israeliete word gewaarsku teen verwarring en kranksinnigheid en blindheid as deel van God se oordeel indien hulle ongehoorsaam sou wees (Deut. 28:28). Jesaja 22:5 en Sagaría 14:13 waarsku dat God se oordeel met rumoer, vertrapping en verwarring gepaard sal gaan.
Kortom, die Here openbaar Homself nie as ʼn sagte hanslammetjie as dit by die mens se boosheid en sonde teen sy Skepper kom nie. Ons sien dwarsdeur die Bybel ʼn verband tussen boosheid en ongehoorsaamheid; asook peste, plae, verwarring en paniek. Die voortspruitende chaos is dikwels ʼn duideliker uitdrukking van God se oordeel as die aanvanklike plaag.
Wanneer die dood soos ʼn swaard oor ongelowiges se koppe hang, dryf dit hulle tot onnosel en irrasionele besluite, terwyl hulle skynheiligheid ook ontmasker word. ʼn Paar maande terug nog het al wat liberalis is, beswaar gemaak teen landsgrense as iets wat basies die enigste boosheid in die wêreld is. Nou kan hulle die grense nie vinnig genoeg sluit nie. ʼn Staat wat alles wil beheer, sentraliseer en voorskryf, het skielik privaatondernemings nodig om mediese toerusting te vervaardig, terwyl die tekstielbedryf wat maskers aan nooddienswerkers kan voorsien, gesluit moet word! ʼn Kultuur wat ongebore kinders by die duisende vermoor en genadedood in die naam van menswaardigheid regverdig, is skielik besorg oor blootstelling aan ʼn moontlike moordenaar van miskien 1% van diegene wat besmet word.
Die Bybel verwys dikwels na mense as skape. Op die oomblik sien ons die aktualiteit van daardie beeld, want soveel tropdiere wat nie vir hulself kan dink nie, maar wat agter elke vals storie op sosiale media, of dit wat regerings aan hulle opdis, aanloop, het ons lanklaas gesien. Vir ʼn geslag wat daarop roem dat hulle wetenskaplik is en alles op feite en bewyse gegrond wil hê, is daar darem baie spekulasie en apokaliptiese nuusberigte wat vir lusern opgevreet word. Massa-histerie, paniekaankope, afleggings, tuimelende markte en die drakoniese inperking van mense se vryhede, word aangevuur deur ʼn mediakultuur wat streef na sensasionele opskrifte. Daar is egter ook ʼn inherente bewussyn dat die wêreld soos ons dit ken, iewers tot ʼn einde gaan kom. Die mense se vrees is dat daardie dag aangebreek het.
Rampe, epidemies en paniek herinner ons telkens dat die geskiedenis ʼn getuie is van God se volgehoue oproep tot bekering wat gerig is tot sy volk en die nasies. Die boodskap bly steeds dat almal wat nie tot bekering kom nie, net so sal omkom (Lk. 13:1-5). Vir gelowiges is hierdie ʼn geleentheid om te getuig van die waarheid, skoonheid en helende krag van die evangelie.
Om die huidige omstandighede as ʼn histeriese paniekaanval te beskryf, suggereer dat daar ʼn oormatige reaksie op die feite is, iets wat moontlik selfvernietigend kan wees. Ek beoog om in ʼn volgende meningstuk te wys op die feite wat tans tot ons beskikking is, want wanneer Queen sing en wanneer my bure sing, is dit net nie dieselfde nie.
Op 25 en 26 Februarie het die veelbesproke “Moreleta-beraad” by die NG Kerk Moreletapark plaasgevind. Tussen 400 en 500 beswaarde lidmate en leiers uit die NG Kerk en breër kerklike gemeenskap het byeengekom om die “pad vorentoe” te bespreek. Hoewel die byeenkoms gevolg het op die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2019-besluit oor selfdgeslagverhoudings, gaan dit oor meer. Die beraad kan inderdaad as die skeurpunt beskou word van twee paaie ten opsigte van Skrifbeskouing wat te ver van mekaar af beweeg het. Die beraad het by meer as een geleentheid erken dat daar nie middelgrond is om mekaar te vind nie en dat versoening nie meer moontlik is nie.
In aanloop tot die beraad is daar heelwat moeite deur liberaal-gesindes binne die NG Kerk gedoen om die beraad binne ’n bepaalde negatiewe lig te stel. In Kerkbode is briewe geplaas wat pleit dat die eenheid ten alle koste behou moet word en wat vra of die kerk ooit bekommerd is oor die wat loop omdat die kerk nie “beweeg” nie. Op die vooraand van die beraad word ’n koerantuitknipsel uit die Kerkbode van Desember 1986 uit die argiewe opgediep waarin berig word oor ’n dreigende kerkskeuring wat uiteindelik tot die stigting van die AP Kerk gelei het. Hierdeur is beraadgangers onmiddellik in bepaalde kategorieë geplaas: eenheidsbrekers, verstoktes en skeurmakers.
Wie egter die beraad bygewoon het, sou hierdie soort etikette vreemd gevind het. Hier was ’n groep gelowiges byeen wat nederig-eerlik na oplossings gesoek het vir die “vasgelooptheid” wat hulle in hul eie kerk beleef. Hoewel die Algemene Sinode by monde van sy algemene sekretaris, dr. Gustav Claassen, die beswaardes gekapittel het omdat hulle kwansuis nie eens die opsie “om te praat” oorweeg het nie, is die vraag tereg gevra: Hoeveel keer moet ons dan nóg praat as ons nie gehoor word nie? Onder beraadgangers was daar die belewenis dat daar van die ander kant af slegs ’n bereidheid is om te luister wanneer daar “gesê word wat ons wil hoor”.
Verskeie opsies is tydens die beraad oorweeg. Uiteindelik is daar saamgestem dat ’n multidimensionele benadering die mees sinvolle en verantwoordelike weg vorentoe is. Gemeentes is aangemoedig om te doleer en leergeskille met die Algemene Sinode te verklaar. As verdere stap is streeksinodes aangemoedig om dit te oorweeg om hul bande met die Algemene Sinode op grond van artikel 37 van die NG Kerk se kerkorde te verbreek en om ook nuwe netwerke met enersdenkende en behoudende kerke te vorm.
By meer as een geleentheid is die byeenkoms as ’n soort hervormingsgeleentheid beskryf. Daar is saamgestem dat daar grondig herbesin sal moet word oor Skrifgesag en Skrifverstaan, aangesien dit ten grondslag van die probleem lê. Daar is bely dat strukturele eenheid ’n afgod binne die NG Kerk geword het en dat daar nuut oor eenheid gedink moet word. Die begeerte na ’n ware, geestelike eenheid gegrond op Skrif en belydenis, is uitgespreek, terwyl die vier pilare van die reformasie, naamlik Soli Christi, Sola Gratia, Sola Fide en Sola Scriptura, herbevestig is.
Ds. Willem Badenhorst het beraadgangers aangemoedig om, diep bewus van hul eie gebrokenheid, tog in gehoorsaamheid aan God die waagmoed aan die dag te lê om die toekoms in die geloof tegemoet te gaan. Dit is ’n oproep tot hervorming en tot hernude gehoorsaamheid aan die Woord van God. Dit is ’n oproep wat wys dat die uitdaging vir beswaarde lidmate binne die NG Kerk, baie groter is as om bloot die regte “opsie” as reaksie te kies.
Die groot vraag is dus: Hoe ver is die beswaardes bereid om te hervorm? Hoe konsekwent is hulle bereid om te wees? Die gevaar is dat die hervorming kan lyk soos die van koning Joas oor wie geskryf word: En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE … net die hoogtes is nie afgeskaf nie (2 Kon. 12:2-3). Beswaardes is ideaal geposisioneer om nie net die heilige boomstamme af te kap nie, maar om ook die spreekwoordelike hoogtes te verwyder.
’n Skrifbeskouing wat verskil van dié wat tans deur die Algemene Sinode van die NG Kerk gehandhaaf word, het op baie meer betrekking as net die kwessie van selfdegeslagverhoudings. Daarom is dit nie net nodig om ’n bepaalde standpunt oor Skrifbeskouing in te neem nie, maar sal daar ook grondig besin moet word oor die implikasies van so ’n Skrifbeskouing vir ander aspekte van die teologie en kerkregering. Dit bepaal uiteindelik ook die aard van die “nuwe netwerke” wat gevorm sal word en die wyse waarop daar oor kerkgrense heen na eenheid gesoek sal word.
Hier sal fyngetrap moet word om nie in dieselfde slaggate te beland wat tot die huidige krisis gelei het nie. Hier sal fyn geluister moet word na die Skrif om seker te maak daar word nie net geluister na daardie dinge wat die ander oor streel nie. Paulus se raad aan Timótheüs was dalk nog nooit so aktueel nie: Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim. 3:14-15). Wat uiteindelik sal gebeur, sal net die toekoms kan leer.
Bid vir jou familie en vriende in die NG Kerk wat hul te midde van hierdie stryd om die waarheid bevind.
Ope brief aan die Staatspresident soos uitgereik deur die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk
Geagte Meneer die Staatspresident,
U sterk evangeliese agtergrond en gereelde optrede by Christelike kerke, het daartoe gelei dat u as staatspresident, Christene by meer as een geleentheid in die openbaar opgeroep het om as morele kompas vir die land te dien en die kerk versoek het om vir u en die regering te bid. As lidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk doen ons dit gereeld – nie omdat u dit versoek het nie, maar omdat God, die Here, in sy Woord die opdrag daartoe gegee het. Alle gesag behoort aan Hom: Hý sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:21). Aan regeerders verleen Hy die gesag om as ’t ware namens Hom só te regeer dat mense … ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:2). Daarom bid gelowiges vir gesagsdraers dat hulle God se opdrag getrou, tot sy eer en tot heil van hulle onderdane mag uitvoer. Ook u gesag as staats- en regeringshoof is verleende gesag – dit is aan u verleen deur die ewige Koning, Jesus Christus. Daarom is u aan Hom verantwoordelik vir die manier waarop u die gesag wat Hy u gegee het, uitoefen.
Die Here roep mense op om sy getuies te wees. Die getuies se woorde is ontleende woorde en hulle getuienis slegs getuienis van wat hulle gehoor het. Hulle mag nooit anders sê nie as: “So spreek die Here.” As getuies van die Here is hulle dus ook aan God verantwoordelik vir die manier waarop hulle sy raad en wil aan u betuig. In die nederige gesindheid van ’n kneg in diens van die Here, word hierdie skrywe aan u gerig in ’n beskeie poging om iets te laat hoor van die kommer in die hart dat die eer van God en die heil van die mense oor wie u regeer, deur u regering aangetas word.
As daar vir u regering gebid word, kan dit nie anders nie as volgens die inhoud en voorbeeld wat die Here Jesus self aan ons geleer het in die volmaakte gebed, die Onse Vader. Wanneer daar gebid word, ook wanneer u vra dat daar vir u en u regering gebid moet word, dan moet daar met ootmoed en erns tot God genader word. Iemand wat bid wat hy nie bedoel nie, laster teen die Here. Dit sou vir hom beter wees as hy sou swyg.
Die eerste drie bedes van die Onse Vader is die onontbeerlike fondament vir ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waarheid.
Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied … (Mt. 6:9-10), is die smeekbede dat daar, uit respek en eerbied vir God, erns gemaak sal word met sy Naam; sy gesag en sy wil.
Die drie bedes eggo die eerste vier gebooie van die Here, wat ons daartoe dring om geen ander gode te hê of te aanbid nie; met eerbied en erns voor God te lewe en Hom nie anders te dien as wat Hy beveel nie.
Dit bly vir ons onbegryplik dat ’n staat waarvan meer as sewentig persent van die inwoners te kenne gee dat hulle in Christus Jesus glo, bereid is om dié drie bedes gering te skat deur met ’n neutrale grondwet tevrede te wees. U regering is egter nie bloot neutraal nie. U handhaaf nie slegs die beginsel van godsdiensvryheid nie. Inteendeel, as regering bevorder en propageer u in die openbaar godsdiensgelykheid. By regeringsgeleenthede nooi u regering alle gelowe om saam te bid en godsdienstige rituele uit te voer. So maak u regering ’n bespotting van die gebed en van God se wet. U spot met God – en geen erger ydel gebruik van sy Naam is denkbaar nie.
Daarmee kom die grondliggende en ware swakheid van u regering en sy optredes aan die lig. U moet onthou: U en die regering is nie eerstens aan ’n party, ’n parlement of aan kiesers verantwoording verskuldig nie. U is heel eerste aan God verantwoordbaar. As daar nie eerbied en ontsag vir Hom as die enigste, ware, lewende God is nie, sal daar ook nie respek vir sy gesag of wil wees nie. Hy waarsku dat Hy elkeen wat ligtelik met Hom omgaan en sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf sal laat bly nie (Ex. 20:7).
Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, het aan koning Frans van Frankryk geskrywe: “Die koning wat in sy ryk nie só regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof.” Kom die plundering van die land onder die regerings van die afgelope 25 jaar nie neer op die berowing van God se eer nie en is dit nie ’n sprekende bewys van die waarheid van Calvyn se woorde nie?
Die Here Jesus leer ons verder bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe (Mt. 6:11).
Dit is ’n bede om ’n lewe waarin daar vir elkeen ruimte tot bestaan en roepingsvervulling is. In die wet van die Here gee Hy self vir ons die gebooie wat dit moontlik maak om so ’n lewensruimte te handhaaf. In die gehoorsaamheid aan God se wet, word daar vir elkeen ’n plek gegee waar hy sy roeping kan nakom; homself en dié wat aan sy sorg toevertrou is kan beskerm en versorg; die eiendom wat hy uit die hand van God ontvang in vrede kan benut; sy eer en goeie naam kan behou. Waar daar só gelewe word, is daar ruimte vir deernis met mekaar en erkenning dat ons almal uit God se hand en in sy genade leef; sodat die reg op barmhartige wyse gehandhaaf kan word.
Die gehoorsaamheid begin by die respek wat ons het vir God en vir die mense met wie ons saam lewe. Dit word uitgedruk in gehoorsaamheid aan die gesag van hulle wat God oor ons gestel het. Daaruit volg respek vir die reëls waarvolgens en die grense waarbinne ons met mekaar saam lewe. Sonder respek vir mekaar en vir wet en orde, is geen ruimte moontlik vir ’n samelewing waar ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waardigheid gelewe kan word nie. Sonder daardie respek is daar geen deernis en omgee vir mekaar se swakheid en nood nie en word die reg ’n klug om eiebelang te beskerm.
Laat ons nie doekies omdraai nie, Meneer die President. Die misdaadgolf in hierdie land is nie die gevolg van broodsgebrek en ekonomiese nood nie. Dit is die gevolg van ’n diepliggende gebrek aan respek vir God, vir sy Woord, vir wet en orde en vir die mense met wie saam geleef moet word. Met diep kommer moet gestel word dat u regering aktief tot die gebrek aan respek bydra. U regering ondermyn ouerlike gesag en daardeur respek vir alle gesag, met wetgewing wat lyfstraf as wyse waarop ouerlike tug en opvoeding tuisgebring mag word, kriminaliseer. U regering laat toe dat duisende ongebore kinders elke jaar deur aborsie vermoor word, maar iemand wat moord pleeg, mag nie die doodstraf kry nie. So ondermyn u regering die waarde en waardigheid van lewe en spoor doodslag aan deur nie diegene wat dood en geweld aanblaas, te straf nie. U inkonsekwentheid ten opsigte van haatspraak, u onwilligheid om plaasmoorde, soos bendegeweld, as prioriteitsmisdade te hanteer tesame met ’n korrupte polisiemag, hits die disrespek aan.
U regering vernietig respek vir die heiligheid en die waarde van die huwelik as hoeksteen van ’n gesonde gemeenskapslewe deur selfdegeslag-huwelike te wettig, pornografie toe te laat en seksuele uitspattigheid deur middel van die nuwe voorgestelde leerplan vir lewensoriëntering (sg. “CSE”) te legitimeer en te bevorder. Korrupsie, wat steeds onder u regering voortwoed, ken geen respek vir eiendom, geld of goed nie. Onder u regering word erfgrond soos ’n Nabotswingerd beskou – as die koning dit wil gryp, doen hy dit. U regering ondermyn respek vir die waarheid deur die valse beskuldigings waarmee die witmense in die land gedemoniseer word. U eie verwronge weergawe van die gebeure by Bloedrivier getuig daarvan. Daarby ondermyn u regering die respek vir die reg deur dikwels met vooroordeel te handel en te vonnis.
Calvyn skryf aan koning Frans: “Voorts bedrieg ’n koning homself wanneer hy langdurige voorspoed vir ’n ryk verwag wat nie deur die septer van God, dit is deur sy heilige Woord, geregeer word nie.” Hoe verwag u dat daar onder u regering voorspoed in die land kan wees sonder gehoorsaamheid aan God se gesag en wil?
Gebrek aan respek vir God, vir ander en vir wet en orde, vernietig selfrespek. Dit laat selfsug en soeke na eiebelang in mense botvier as die enigste manier waarop hulle sin aan hulle bestaan gee. Die Here leer ons om te bid dat ons bestaan nie daardeur vernietig sal word nie:
… en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (Mt. 6:13). Die laaste van die Tien Gebooie dring ons om ons eie begeertes ondergeskik aan God se wil en beskikking te stel.
Die grondslag van u regering berus egter op die uitgangspunt van die regte van mense en nie op die reg van God nie. In homself dra die veel geroemde grondwet die kiem van ondergang. Dit spreek immers van die heel vroegste verleiding: Dat ’n mens nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie, maar self jou eie godjie kan word. In hierdie valsheid word ’n land prysgegee aan die Bose; word ’n staat die gestalte van die antichris.
Meneer die President, dit is met groot kommer in die hart en diepe besorgdheid oor die mense in die land waarmee aan u geskryf word. Wie van die pad van God afwyk, loop onvermydelik die pad van God se oordeel. Dit is op dié pad waarop u regering ons lei. Daarom doen ons op u en u regering ’n dringende beroep:
Moenie net vra dat vir u gebid word nie, maar wys deur u dade dat u God en sy wil, waarvoor u vra daar gebid moet word, erken en dien.
Ter wille van al die mense van die land, bid ons vir die regering en vir u as staatspresident. Ons bid dat u as kneg(te) van God sý eer sal dien; met respek sal optree teenoor elkeen oor wie God u aangestel het deur respek te toon vir God se wet en orde; die werke van die Bose sal teengaan deur in onderworpenheid aan God te regeer. Ons bid dat u só sal regeer dat u ons nie langer op die pad van oordeel sal lei nie. As dit nie gebeur nie, bid ons dat God self vir ons ’n regering sal gee wat met Hom en met sy Woord erns sal maak, sodat ons ’n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid kan lei.