Omvattende seksualiteitsvoorligting – Waar staan ons?

Omvattende seksualiteitsvoorligting – Waar staan ons?

Deur Adv. Nadene Badenhorst, Freedom of Religion South Africa (FOR SA)

Omstredenheid duur voort rondom die Departement van Basiese Onderwys se voorgestelde Omvattende Seksualiteitsvoorligting (ook bekend as Comprehensive Sexuality Education of CSE), in alle openbare skole in Suid-Afrika.

Alhoewel seksualiteitsvoorligting reeds ’n geruime tyd deel is van die Lewensvaardighede- (laerskool) en Lewensoriëntering- (hoërskool) modules, is dit die Departement se voorgestelde Uitgeskrewe Lesplanne (ook bekend as Scripted Lesson Plans of SLPs) vir CSE wat die land aan die gons het. Die voorgestelde Lesplanne (bestaande uit Handleidings vir Onderwysers, en Werkboeke vir Leerders) het aan die lig gekom nadat die Departement dit – op versoek van ’n Lid van die Parlement – aan die Parlementêre Portefeulje Komitee vir Basiese Onderwys beskikbaar gestel, en Freedom of Religion of South Africa (FOR SA) dit daarna op hul webwerf bekendgemaak het.

Terwyl die Uitgeskrewe Lesplanne heelwat goeie inhoud bevat, is daar ook omstrede inhoud waarmee ouers en onderwysers ongemaklik is. So byvoorbeeld, maak die Uitgeskrewe Lesplanne vir Graad 7 die stelling dat masturbasie “normaal” is en jou “nie sal seermaak nie”. Alhoewel die Departement moontlik ’n argument kan uitmaak waarom 13-jarige leerders moet weet wat masturbasie is (m.a.w. om die feite mee te deel), is daar egter ’n sterk argument uit te maak dat die Departement nie verder behoort te gaan nie en aan leerders voor te sê watter seksuele gedrag “normaal” is of nie en op watter ouderdom (m.a.w. om ‘n waarde-oordeel te maak).

Dit is juis waarde-belaaide stellings soos hierdie wat aanleiding gegee het tot verskeie inisiatiewe, veral op voetsoolvlak, om ouers in te lig oor en hulle tot aksie op te roep teen CSE. ’n Voorbeeld is die #Leaveourkidsalone-veldtog wat einde verlede jaar op sosiale media begin is en reeds meer as 134,000 lede het. Hulle organiseer tans ’n nasionale protes-aksie teen CSE vir 13 Februarie (i.e. die dag waarop die Parlement open).

Die Uitgeskrewe Lesplanne word tans in 1,500 openbare skole in vyf provinsies (naamlik Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap) op die proef gestel, waarna die Departement hoop om dit in alle openbare skole in die land uit te rol. (Ten spyte van verskeie versoeke, het die Departement tot nou toe nog nie ’n lys beskikbaar gestel van die spesifieke skole wat tans deel van die loodsprojek vorm nie).

 

Vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers

Op uitnodiging van die Departement, het godsdienstige en tradisionele leiers op Donderdag, 23 Januarie 2020 met die Departement vergader om voortslepende vrae en bekommernisse aangaande CSE aan te spreek.

Die vergadering is ook bygewoon deur ’n groot aantal jongmense en verteenwoordigers van nie-winsgewende organisasies wat geen geheim van hul dawerende ondersteuning aan die Departement (en skerp kritiek op die geloofsgemeenskap) gemaak het nie. Dit, ten spyte daarvan dat die Departement se uitnodiging na die vergadering spesifiek aan godsdienstige en tradisionele leiers gerig was en dat verskeie van hulle deur die Departement weggewys was omdat hulle kwansuis nie geakkommodeer kon word nie.

Die vergadering het op ’n slegte noot begin met die Departement se Adjunk Direkteur-Generaal, dr. Granville Whittle, wie die godsdienstige leiers daarvan beskuldig het dat hulle vals nuus en homofobie versprei en nie die inhoud van die kurrikulum gelees het nie. Ongelukkig was dit gou duidelik dat die vergadering nie ’n platform sou wees vir konstruktiewe dialoog met die oog daarop om ’n “middelweg”, wat die Departement en die (menigte bekommerde lede van die) publiek en die godsdienstige gemeenskap tevrede sou stel, te vind nie.

By hierdie vergadering, het die Departement dit baie duidelik gemaak dat, sodra die proeftydperk voltooi is, Uitgeskrewe Lesplanne in alle openbare skole, vanaf Graad R tot Graad 12, geïmplementeer sal word. Volgens dr. Whittle sál die Uitgeskrewe Lesplanne verpligtend wees en is daar geen opsie vir ouers wat nie met die inhoud van die Lesplanne saamstem nie, om hul kinders van daardie lesse te onttrek nie. (Vir meer oor die Departement se vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers, kyk hier.)

 

Vergadering met skoolbeheerliggaam-verenigings en onderwysvakbonde

Die volgende dag, op Vrydag 24 Januarie 2020, het dieselfde Departement met skoolbeheerliggaamverenigings en onderwysvakbonde (insluitende FEDSAS, NAPTOSA, SAOU, ens.) vergader. Verskeie van dié verenigings en vakbonde het reeds hul verbasing en kommer uitgespreek dat die Departement nooit CSE met hulle bespreek het nie, ten spyte daarvan dat die Nasionale Raadplegende Forum (NRF), wat juis in plek gestel is as ’n forum waar hierdie tipe kwessies bespreek en insae verkry word, elke kwartaal vergader.

By die Vrydag-vergadering het die Departement weereens verduidelik dat die kurrikulum nie verander nie – m.a.w. die CAPS-kurrikulum, waarvan Lewensvaardighede en Lewensoriëntering verpligtende modules is, bly in plek vir alle openbare skole. In teenstelling met wat die Departement egter die vorige dag gesê het, het die hulle by hierdie vergadering gesê dat die Uitgeskrewe Lesplanne nie verpligtend sal wees nie en dat skole (en by implikasie, onderwysers) vry sal wees om self te kies watter bronne of materiaal hulle wil gebruik om seksualiteitsvoorligting aan te bied.

Dié posisie is in lyn met artikel 6A van die Skolewet, wat die Minister van Basiese Onderwys die mag gee om die minimum uitkomste te bepaal, soos uiteengesit in die Nasionale Kurrikulumverklaring, maar nie die mag om die bronne wat skole of onderwysers moet gebruik om hierdie minimum uitkomste te bereik, te bepaal nie. Dit strook ook met die Departement se eie beleidsdokumente, insluitende die Witskrif op Onderwys en Opleiding, wat bevestig dat ouers die primêre opvoeders van hul kinders is met die reg om gekonsulteer te word en om hul kinders volgens hul waardes en volgens wat hulle (as ouers) glo in die beste belang van hul kinders is, te laat onderrig.

Die Departement se posisie, soos uiteengesit by die Vrydag-vergadering, bevestig en konsolideer die posisie waarvoor FOR SA van meet af aan gepropageer het – dat die regte van ouers en onderwysers (soos respektiewelik uitgeoefen deur skoolbeheerliggame en onderwysvakbonde) gerespekteer en beskerm moet word en dat die status quo gehandhaaf moet word. Wat egter steeds onbeantwoord bly, is of ouers wat nietemin gewetensbesware het of nie gemaklik is om hulle kinders aan (sekere komponente) van CSE bloot te stel nie, die reg sal hê om hul kinders van daardie klasse te onttrek.

 

Geleentheid vir kommentaar op die Uitgeskrewe Lesplanne

Tydens die Vrydag-vergadering met skoolbeheerliggaamverenigings en onderwysvakbonde het die Departement ingestem om die Uitgeskrewe Lesplanne (beskikbaar hier op die Departement se webwerf) vir kommentaar oop te stel tot Vrydag, 28 Februarie 2020. Kommentaar kan gestuur word aan dr Whittle by whittle.g@dbe.gov.za en buys.q@dbe.gov.za.

FOR SA moedig inderdaad ouers, onderwysers en ander belanghebbendes aan om die geleentheid aan te gryp om kommentaar op die Lesplanne te lewer, spesifiek ook om seker te maak dat hul regte beskerm bly – (as ouers) om nié hul kinders aan waarde-belaaide inhoud waarmee hulle nie saamstem nie of mee ongemaklik is, bloot te stel nie en (in die geval van onderwysers) om sodanige materiaal aan te bied nie. Terwyl sommige ouers en onderwysers geen probleem met die leermateriaal mag hê nie, bly die beginsel dat die Staat ouerlike keuse – veral met betrekking tot sensitiewe, waarde-belaaide kwessies soos seksualiteitsvoorligting – moet respekteer en akkommodeer.

Voor wie sal ons die knie buig?

Voor wie sal ons die knie buig?

Dit klink dalk na ’n voor-die-hand-liggende vraag vir Christene, maar wanneer ons na die praktyk in Suid-Afrika kyk, getuig die werklikheid teen ons. In staatkundige terme is Suid-Afrika ’n regstaat. Dit beteken dat ons land, ook die regering van ons land, deur die oppergesag van die reg regeer word. In die lig hiervan, klou baie mense sedert 1994 vas aan die halmpie dat “die grondwet en die reg ons sal beskerm” teen uitbuiting en ’n misdadige owerheid. Die vraag is egter of ons dit nie maar net in naam is nie? In ’n onlangse artikel in Beeld worstel Anton van Niekerk juis met hierdie vraag as hy vra: SA ’n regstaat of ’n oerwoud? 

Hoewel die ANC-regering met die mond ’n regstaat bely, getuig hulle dade eerder van ’n totalitêre benadering waarvolgens die owerheid geen beperkinge vir sy mag erken nie en daarna strewe om elke aspek van publieke en private lewe te reguleer. Die jongste geluide oor onteiening sonder vergoeding waarvolgens die ANC wil hê dat die minister en nie die howe nie, die finale sê oor onteiening sonder vergoeding moet hê, is maar een van die bewyse hiervan. In dié verband kan ons ook na vele hofuitsprake verwys wat teen die staat gemaak is, maar wat blatant of met minagting deur die regering geïgnoreer of verontagsaam word. 

Die hele debakel rondom die ANC se onlangse verjaardagvieringe in Kimberley toe hulle wou hê dat die drankwinkels 24-uur oop moes wees, bevestig die waarneming dat die basiese vertrekpunt by die ANC-regering is: Ons is bo die wet verhewe. Dan praat ons nie eens van die staat se onuitblusbare honger om alles en almal te reguleer nie: Godsdiens moet gereguleer word, die onderwys moet gereguleer word, alle gesondheidsorg moet onder die staat se beheer kom en so kan ons aangaan. 

Die basiese voorveronderstelling van hierdie benadering is dat die hoogste gesag in die regering gesetel is. Nie eens die reg kan meer gesag as die staat hê nie, want die staat word beskou as die messias van die massas. In hom is nie net die hoogste gesag gesetel nie, maar die staat word ook beskou as die morele termostaat wat alle wysheid in pag het en die morele hoëgrond beklee. Na aanleiding van hierdie totalitêre benadering, matig die staat homself die reg aan om privaat eienaars se mineraleregte, waterregte of eiendomsregte wederregtelik weg te neem, want hulle beskou hulself as beskermheer wat die beste geposisioneer is om alle mense se “belange” op die hart te dra. Hulle duld nie teenkanting oor beleidskwessies soos byvoorbeeld die nuwe kurrikulum vir lewensoriëntering nie, want wie weet dan nou beter as die staat? In die lig hiervan kan ons verstaan dat dit nie so eenvoudig is om ons hoop op iets soos die grondwet te stel nie, want uiteindelik gaan dit, soos prof. Koos Malan al dikwels aangetoon het, nie noodwendig oor wat in die grondwet geskryf staan nie, maar oor die een wat die grondwet interpreteer. 

Tog is dit verstommend hoe Suid-Afrikaners maar net hierdie benadering van die ANC-regering gelate aanvaar. Ons glo steeds die staat weet die beste en sal die beste oplossings vir ons probleme hê. Ons dink ons moet die regering se planne maar net gelate aanvaar en hulle opdragte slaafs uitvoer. Dit is verstommend hoedat selfs ’n kind soms kan sien dat sekere planne en beleide van die regering uit die staanspoor vir mislukking bestem is, maar in plaas daarvan om aktief daarteen op te staan, sal ons eerder help om daardie swak planne te verfyn sodat dit darem net bietjie meer verteerbaar is. 

Die rede hiervoor is dat ons as Christene hier in Suid-Afrika nie altyd besef hoe dualisties ons lewens is nie. Ons bely in beginsel dat God oor ons lewens regeer en dat alle mag aan Hom behoort, maar in die praktyk leef ons in twee koninkryke. Ja, God regeer, maar Hy regeer op Sondae of in my privaatlewe. In die week regeer die staat of die ANC-regering. Kerk en staat word in baie van ons se koppe só geskei dat ons soms voel die kerk of Christene in die algemeen, mag nie eens op sake van die dag of die politiek kommentaar lewer nie. Die kerk moet hom by politiek uithou en Christene moet hulself slegs met geestelike dinge besig hou. Hierdie siening getuig nie net van dualisme nie, maar is wesenlik Gnosties. 

So ’n benadering is egter strydig met wat die Woord ons leer. Ons Here Jesus het juis mens geword en in ons wêreld ingekom omdat God daardeur wou aantoon dat die werklikheid van ons alledaagse bestaan en die uitdagings waarmee ons daagliks gekonfronteer word, vir Hom belangrik is. Hy regeer nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde. Daarom verklaar Christus kort voor sy hemelvaart dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort (Mt. 28:18). Hy regeer en is in beheer. Sy Woord en sy wil is die morele kompas waaraan selfs die staat homself moet onderwerp, want, sê die Here Jesus aan Pilatus tydens sy verhoor: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie (Joh. 19:11). 

Dit is tyd dat gelowiges hierdie belydenis van ons uitleef. Nie net op Sondae nie, maar ook in die week, sodat God sy regmatige eer kan kry. Daarom behoort ons nie die regering klakkeloos na te praat nie. Ons behoort ons sê te sê, aangesien ook die staat aan God verantwoordbaar is. Die kerk is geroep om sy profetiese stem te laat hoor – ook oor sake van die dag, aangesien God oor elke duimbreedte en elke aspek van ons lewens regeer. 

Deuteronómium 6 bevestig dit wanneer God ons die opdrag gee dat sy wet eerstens in ons harte moet wees. Dit beteken dat Hy in ons persoonlike lewens regeer. Tweedens moet sy wet as ’n teken op jou hand gebind wees. Dit beteken dat Hy in ons professionele lewens regeer. Derdens moet dit ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. Dit beteken dat God, deur sy Woord, ook ons denke en dus die filosofiese onderbou van ’n samelewing beheers. Uiteindelik moet dit ook op die deurposte van ons huise en op ons poorte geskryf wees. Dit beteken dat God se heerskappy uitgestrek is oor en tot uiting moet kom in elke samelewingsverband waarin Christene hul bevind. Laat ons dus elkeen onsself afvra: Voor wie buig ons werklik?

Geloftedag: moet ek of wil ek?

Geloftedag: moet ek of wil ek?

Is dit regtig nodig om Geloftedag te herdenk? Is dit regtig nodig om in die warm son na dieselfde geskiedenis te gaan luister wat ons verlede jaar en die jaar voor dit gehoor het? Buitendien is ’n mens hierdie tyd van die jaar so moeg, dat jy nie nog krag daarvoor  het nie. Kan ek nie maar net rustig by die huis bly of by vriende gaan kuier nie? Om Geloftedag by my vakansieplanne te probeer inwerk, is net een te veel. Miskien volgende jaar …

As ’n mens sulke vrae vra is daar dadelik ʼn paar ou ooms met vuur in die oë wat sal opspring en sê: “Natuurlik moet jy!” Gewoonlik volg daar dan ’n hele relaas oor hoe afvallig vandag se jongmense is en dat ons afvalligheid die rede is waarom dinge in ons land gaan soos wat dit gaan. In alle eerlikheid is dit waarskynlik die rede hoekom baie jongmense nie wil gaan nie: “Geloftedag is vir oumense wat aan ou goed dink – ek het niks daar verloor nie.” Tussen BBBEE, die droogte, politiek, skuld en die familie se probleme het ek regtig nie nodig om die heeltyd te hoor dat ek my ‘sokkies moet optrek nie!’”

As dit die kort en die lank van Geloftedag is, dan het jy miskien ʼn punt beet. Ons staar uitdagings in die gesig wat vorige geslagte nie geken het nie. Ons moet egter versigtig wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Is dit regtig al wat Geloftedag is?

Ek is oortuig dat die antwoord ’n definitiewe “nee” is. Geloftedag is nie net ʼn dag vir oumense nie! Ja, geskiedenis is ’n baie belangrike deel van dié dag, maar die bedoeling was nooit dat ons bloot ander mense se seer moet onthou of dat ons ander mense se oorwinnings moet vier nie. Beide die seer en die oorwinning onderstreep op ’n sekere manier die eintlike boodskap van Geloftedag.

Op Geloftedag dink ons daaraan dat God in die verlede vir sy kinders goed was. Op Geloftedag dink ons daaraan dat God dit wat vir gelowiges onmoontlik was, laat gebeur het. Ons kyk dus beslis terug, maar dit mag nie daar eindig nie! Ek is daarvan oortuig dat wanneer ’n mens hierdie dag as ’n dankdag vier (soos wat die veronderstelling was toe die Gelofte afgelê is), daar ’n duidelik toekoms-dimensie is. Gaan lees weer die Gelofte. Dit dink op ’n baie spesifieke manier oor die toekoms.

Gelowige Voortrekkers het aan God belowe dat hulle die roem en die eer van die oorwinning aan Hom sal gee en dat hulle dié dag sal gebruik om hulle kinders te leer dat Hy vir hulle goed was. Die Gelofte voorveronderstel dat ons in die toekoms kinders sal hê aan wie ons dit kan vertel. Die Gelofte voorveronderstel dat ons God in die toekoms op só ’n manier sal ken, dat ons ons kinders van sy groot genade kan en wil vertel!

Amper twee eeue later kan ons bevestig dat die voorveronderstellings in die Gelofte oor God se goedheid, nie verkeerd was nie. Kinders is ’n geskenk van God af. Om ’n verhouding met Hom te hê, is ook ’n geskenk. God is nog steeds goed vir ons. Meer nog; die Gelofte los ons ook met ’n spesifieke beeld van die toekoms waarin God se voortdurende goedheid sigbaar bly. Daarom kan ek met sekerheid sê dat Geloftedag oor “aanhou onthou” gaan! Soos die liedjie sê: “Ons moet vergeet om te vergeet en onthou om te onthou!”

Om te onthou wie God is en wat Hy doen, is baie belangrik. So belangrik dat Petrus dit as rede vir sy tweede brief aanvoer.

Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek … (2 Petr. 1: 12-13).

Dit is ook die rede waarom Psalm 105 geskryf is. ’n Lang Psalm met 45 verse waarin Israel aan hulle geskiedenis herinner word. Hoekom? Sodat Israel kon onthou wat God alles vir hulle gedoen het.

Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders (Ps. 105:1-2).

Vervolgens moet ons seker ook vra: Hoekom moet ’n mens soveel moeite doen om hierdie dinge te onthou? Dit is seker nie moeilik om die antwoord te raai nie. Dit is redelik voor-die-hand-liggend: Omdat ons vergeet, veral wanneer die hede ons bo ons vermoë uitdaag en die toekoms donker lyk. Ons vergeet waar die mense voor ons troos gekry het toe hulle hartseer was, of krag gekry het toe hulle bang was; waar hulle hulp gekry het toe hulle magteloos was. Ons vergeet hoe God in hulle lewens gewerk het.

Ons vergeet ook dat God belowe het dat Hy my en jou nooit alleen sal los nie.

Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie (Jos. 1:5 en Hebr. 13:5).

Ons vergeet dat God ons in Psalm 50: 15 leer:

… roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Dit is waaroor Geloftedag se ‘onthou’ gaan. God wil hê dat ons moet onthou dat Hy vir ons omgee soos wat Hy vir ons voorouers omgegee het. In die Gelofte het ons aan Hom belowe dat ons sal bly onthou. As ’n mens mooi daaroor dink, is dit waaroor Kersfees ook gaan: God het mens geword om ons te red. Hy is God met ons (Immánuel). Hy het juis gekom om op ’n baie tasbare manier sy hand na ons toe uit te steek en te sê:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig (Mt. 11:28-30).  

Dit is hoekom ek Geloftedag wil vier: Ek wil onthou! Ek wil onthou dat die Here my voorouers se Beskermer was. Ek wil onthou dat die Here my Beskermer is. Ek wil onthou dat die Here my kinders se Beskermer is. Ek wil hê dat my kinders dit ook moet onthou.

Grantleigh-kunswerke: Reaksie

Grantleigh-kunswerke: Reaksie

** Vir konteks kyk “Grantleigh-kunswerke: Agtergrond”

Aangesien die Woord van God ʼn skerp, tweesnydende swaard is, gaan ons reaksie op hierdie gebeure na twee kante toe sny. Eerstens na die kant van die skool en die kunstenaar, maar dan ook na die kant van almal wat op ʼn sondige wyse hierop reageer het.

Dit is hartverskeurend om te moet sien en lees hoe ʼn talentvolle jongman met besonderse kunsvaardigheid op hierdie manier uitdrukking gegee het van sy ontnugtering met godsdienstigheid en sy reis na ateïsme. Dit is uiters hartseer dat hy sy Godgegewe gawe gebruik het om kunswerke te maak wat aanstoot gegee en mense gewalg het.

Kyk ’n mens egter verby die aanvanklike skok en walging, na sy verduideliking by elke kunswerk, is jy ook gewalg deur die valse godsdiens wat in die naam van Christenskap bedryf word en wat hom tot hierdie daad gebring het. Hy het homself binne ʼn kultuur bevind wat hom ontnugter het, omdat dit wat verkondig word nie gedoen word nie.

Hy was voorts in ʼn vooraanstaande privaatskool wat roem op hulle Christelike etos en hulle het selfs die leuse “Aan God die eer”. Op hulle webblad verskyn die gebed:

Make this school, Lord As a field that You have blessed, That whatever is good, pure and Lovely may here forever flourish. Honour its name amongst its Pupils, teachers and parents and Use it always as an instrument Of Your glory. Amen

Dit wil egter lyk asof die skool en die gemeenskap waarbinne hy hom bevind het, hom gefaal het. Natuurlik is daar baie agtergrond wat nie in die openbaar bekend is nie. Ons weet nie van die gesprekke wat moontlik tussen leerling en onderwysers gevoer is nie. Wat wel vanuit die leerling se verklarings blyk, is dat hy die skool beskou as deel van die kapitalistiese sisteem van georganiseerde godsdiens waaruit hy besig is om los te kom. Blykbaar is sy ervaring dat die skool ʼn Christelike etos verkondig, maar nie uitleef nie.

Dit is interessant om te sien hoedat dit ook die aanklag teen die skool is vanuit die sosiale oproer wat ontstaan het. Talle mense het die skool verwyt omdat hulle reken die uitstalling van die kunswerke druis in teen die skool se Christelike etos wat voorgehou word.

’n Mens het dus simpatie met die skool wat hom in ʼn knyptang bevind. Omdat ons nie inligting het oor die skool se gesprekke wat met die betrokke leerling gevoer en moeite wat gedurende sy hele skoolloopbaan met hom gemaak is nie, wil ons nie die skool veroordeel nie, maar eerder aanmoedig om met nuwe ywer aan die volgende dinge aandag te skenk.

Almal wat by die opvoeding van kinders betrokke is (ouers, skole en onderwysers), sal hul opnuut moet verbind tot die kweek van wysheid en deug by die leerlinge wat aan hulle toevertrou is. Om dit vanuit ʼn Christelike etos te doen beteken om die kinders tot ʼn besef te bring dat die Godgeskape wêreld, sin maak en dat hierdie sin ontdek kan word. ʼn Kind se opvoeding is hierdie ontdekkingsreis waar daar gesoek word na skoonheid, goedheid en waarheid. Dit sal bepaald die inhoud van en ook die manier waarop ons onderrig gee en assessering doen, beïnvloed. Dit sal die besluite wat ons neem beïnvloed. Dit bepaal selfs die woorde wat ons gebruik om ons visie mee uit te druk en oor te dra.

As Christene kyk ons met ander oë na kinders. Ons glo nie dat kinders bloot ʼn toevallige spul protoplasma is wat op pad is om kompos te word as deel van die lewensiklus nie. Ons glo elke kind is na die beeld van God geskape. ʼn Beeld wat deur die sondeval verduister is, maar wat deur Christus alleen herstel word. Daarom leer ons kinders anders as deur die tegnieke en maniere waarop ons wilde diere mak maak. Hulle is meer as blote chemiese reaksies op elektriese impulse. Hulle is persoonlike wesens, wat deur gesonde verhoudings ontwikkel moet word tot die volle potensiaal wat God aan hulle geskenk het.

Om kinders binne ʼn Christelike etos groot te maak, beteken ons leer hulle ander dinge as wat ʼn sekulêre skool sou bied, want ons koester vir ons kinders hoër ideale as wat die sekulêre wêreld hulle kan bied. Dit beteken ons neem ander bestuursbesluite, want ons het ʼn ernstige bewussyn van ons roeping. Ons assesseer op ʼn ander manier, want ons handhaaf hoër standaarde as blote tegniese vaardigheid. Ons tree op so ʼn manier in gesprek met die wêreld en gebeure rondom ons, dat dit duidelik word dat ons nie sal buig voor die tydsgees nie.

Ons leer ons kinders kuns omdat dit sielsverrykend. In verwondering kan hulle ontdek hoe die kreatiewe Skeppergod ook aan ons die vermoë skenk om kreatief en skeppend te wees. Ons wil hulle laat nadink oor en leer om waardering te hê vir skoonheid in woorde, musiek, beeldhou, skilderye, argitektuur, ensovoorts. In die woorde van Filippense 4:8: … alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Ons dink aan die klassieke woorde van John Milton meer as ʼn eeu gelede:

The end of learning is to repair the ruins of our first parents by regaining to know God aright, and out of that knowledge to love him, to imitate him, to be like him, as we may the nearest by possessing our souls of true virtue, which being united to the heavenly grace of faith makes up the highest perfection.[1]

Die grootste uitdaging is beslis nie om aan ons kinders artistieke tegnieke te leer nie, maar om hulle te leer om met wysheid en deugdelikheid aan God diensbaar te wees. Wysheid, deugdelikheid, waarheid en skoonheid is dinge wat deur die karakter van God gedefinieer word en nie deur die mens se eie idees daaroor nie.

Opvoeding is óf mensgerig óf dit is God-gerig. Ons moet daarna streef om ons kinders te leer hoe om met Godvresende waardes te lewe, want op hierdie manier sal hulle juis die ware beeld van God in ʼn gebroke wêreld vertoon en nie die valse beeld waarmee hierdie jong kunstenaar gekonfronteer is nie.

Ons moet besef dat wat betref ʼn sekulêre opvoeding met ʼn Christelike sousie, is die kool beslis nie die sous werd nie. Die probleem lê nie by lae standaarde, swak onderwysers, beperkte fondse en al die ander verskonings en beskuldigings wat daar is nie. ʼn Groot deel van die probleem is wanneer opvoeding losgemaak word van God se verlossingswerk. Hier is die hartseer verhaal van ’n jongman wat deur ʼn weergawe van kerkwees ontnugter is. Ongelukkig lyk dit asof hy nie geleer het om nie te veralgemeen nie, want nou word godsdienstige vergrype verteenwoordigend van alle geloof, terwyl ateïsme en ʼn sekulêre lewe as utopia voorgehou word.

Ja, dinge wat hom tot hierdie punt gebring het, moet ook Christene walg. Christene moet opstaan en standpunt inneem teen diegene wat op ander se goedgelowigheid teer om hulself te verryk. Ons moet net so heftig reageer teen elke kerkmens wat met sy lewe ʼn bespotting van ons Here Jesus Christus maak. Ons moet standpunt inneem teen elke kerkvergadering wat die Woord van God opsy skuif om sekere mense ter wille te wees. As kerkmense leef asof God dood is, moet hulle nie verbaas wees wanneer hulle skynheilige maskers afgeruk word nie.

Teen hierdie en nog baie vergrype moet Christene heftig standpunt inneem. Die manier waarop ons dit doen moet egter steeds Godverheerlikend wees. Hierdie jongman lewer kritiek op valse godsdienstigheid vanuit sy nuut-ontdekte ateïsme. Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as hy sy besonderse kunsvaardigheid vanuit die ware geloof en tot eer van die Here gebruik het om op dieselfde dinge kritiek te gee nie! Sulke kunstenaars sal ʼn nuwe Renaissance en Reformasie stimuleer.

Dit is heeltemal anders as die kunswerke wat hierdie jongman gemaak het. Hy redeneer vanuit die vertrekpunt dat God nie bestaan nie. Juis daarom dat sy kunswerke so afstootlik en godslasterlik is. Hy is verder ontsteld oor die publiek se reaksie teen die kunswerke en verkwalik almal dat hulle nie sy bedoeling en die rasionaal van elke stuk in ag geneem het nie. Wat hy nie besef nie, is dat hy presies dieselfde doen met die Christelike kerk en geloof! Hy verwerp God, die Christendom en sommer alle gelowe op grond van sy ervaring van sekere negatiewe uitdrukkings daarvan, sonder om die Outeur en Skepper van die grootste kunswerke ooit, se bedoeling en geopenbaarde rasionaal in ag te neem. Hy is ontsteld omdat sy bedoeling met sy kunswerke verdraai word deur mense wat sê dit is satanies, maar dit is presies wat hy met die God en die Christendom gedoen het in sy kunswerke. Hy het heel afskuwelik uitgebeeld hoe demonies hy dink dit is!

Hy meen dat hy uiteindelik deur sy tuiskoms by sekulêre ateïsme en sosialisme, bevry is van georganiseerde godsdiens as kapitalistiese sisteem. Hy sal egter spoedig ontdek dat hierdie afgode en beelde waaroor hy nou so opgewonde is, hom uiteindelik onbevredig gaan laat. As hy hulle eerlik gaan kritiseer sal hy ontdek dat dit juis mense van hierdie oortuigings is wat vir die grootste booshede van die afgelope eeu verantwoordelik was en wat miljoene mense vermoor en nog soveel meer se lewens en drome vernietig het. Al wat gebeur het is dat hy een uitbuitende stelsel vir ʼn ander verruil het en in die proses het hy die enigste Een by wie hy waarlik kan rus vind, buite rekening gelaat. Hy gryp idees aan wat in die tyd en tot in ewigheid onhoudbaar is.

Hy besef nie dat om te reken dat God, en daarom ook die Satan, nie bestaan nie, is maar net een van die maniere waarop Satan sy slawe laat dink dat hulle vry is. Sy nuutgevonde “vryheid” is soos om te dink dat jou troetel-luislang jou uit liefde ʼn stywe drukkie gee, terwyl hy eintlik besig is om die lug uit jou longe te druk met die oog op middagete.

Dit is dus juis wanneer ons rekening hou met die rasionaal agter die kunswerke en die vooronderstellings waarmee gewerk word, wat ons nie anders kan as om hierdie kunswerke as gruwelike godslastering te sien nie. Ja, die leerling het ʼn werklike probleem van valse kerke en het die wolwe wat die kudde verskeur, korrek geïdentifiseer, maar hy gooi op godslasterlike wyse die baba met die badwater uit.

Dit is voorwaar hartseer dat al die Christene om hom, hom nie daarvan kon oortuig dat daar ʼn ander alternatief is nie. Dit waarna hy as kunstenaar smag, is na Jesus Christus, die Herskepper van alle dinge. Die Een wat dit wat gebroke is kom heel maak. Die Een wat met al die boosheid sal afreken – die boosheid van ongelowiges, asook die boosheid van elkeen wat sy kerk vir persoonlike gewin misbruik. Hy is die Een wat ware rus en vryheid bring, want Hy verlos my nie net van die boosheid daarbuite nie, maar ook van die boosheid in myself.

[1] John Milton, “On Education” in The Harvard Classics, vol. 3 (New York, Collier and Sons: 1910), 286.

Grantleigh-kunswerke: Agtergrond

Grantleigh-kunswerke: Agtergrond

** Kyk ook “Grantleigh-kunswerke: Reaksie”

Christene het met afgryse kennisgeneem van die godslasterlike kunswerke wat die afgelope tyd in die nuus was. Om ʼn grondige reaksie daarop te lewer gaan ons twee artikels hieraan afstaan. In die eerste gaan ons die feite van die gebeure stel en in die tweede ons reaksie.

Die feite van die gebeure by Grantleigh Schools

Gedurende die week van 21 Oktober 2019 reageer talle Christene heftig en met ontsteltenis op ʼn opspraakwekkende video wat op sosiale media versprei is van ʼn kunsuitstalling by die Grantleigh privaatskool buite Richardsbaai, wat deel is van die Curro-groep. Soos gewoonlik het talle kuberkrygers die sleutelbord opgeneem om die vurige pyle van die Bose af te weer. Die gevaar is egter dat ’n mens oorhaastig kan reageer sonder om die werklike kwessie aan te spreek. In ʼn tyd waar die Here en sy kerk onverpoos aangeval word, kan Christene dit nie bekostig om op fopnuus te reageer of om op strooipoppe te skiet nie. Ons reaksie moet op die feite gegrond wees, anders maak ons onsself skuldig aan die oortreding van die negende gebod. Ook in hierdie geval moet ons die waarheid in liefde bly verkondig. Die Here leer ons mos in sy Woord om nie te vinnig te praat nie, maar eerder ywerig te wees om te luister (Jakobus 1:19-20).

Die Onafhanklike Eksamenraad

Ten einde agter die kap van die byl te kom, sodat ons eerlike en sinvolle kommentaar kan lewer, is navrae aan die skool sowel as die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) gerig. Dit was veral omdat daar op sosiale media bewerings was dat “die voorgeskrewe opdragte vir 2019 se matrieks, kunswerke moes wees wat God met die duisternis vergelyk. Daar is ook beweer dat leerlinge gedwing was om dit te doen of andersins nul % te kry. Verder is beweer dat Musiekleerlinge blykbaar op donker alternatiewe musiek moes fokus, terwyl dramastudente liggaamlike kontak oor die kleurgrens in hulle voorgeskrewe drama moes hê of hulle druip eenvoudig.”

Op hierdie en nog ander bewerings het die IEB ʼn deeglike en spoedige antwoord gelewer en al die bewerings nie net ontken nie, maar ook met bewyse weerlê. Die eksamenvereistes en ook die assesseringsriglyne is onder meer aan ons gestuur. Vanuit die stawende dokumente het dit duidelik geword dat die IEB nie van leerlinge verwag het om hul eie waardes en oortuigings met hierdie opdrag prys te gee nie. Dit was eerder ʼn geleentheid vir skole en die betrokke onderwysers om leerlinge te begelei tot die uitdrukking van hulle eie oortuigings. Leerlinge het 4-6 weke gehad om aan die kunswerke te spandeer, terwyl hulle sekere voorbereidings en konseptualisering by die huis kon doen, mag die kunswerke nie die skoolterrein verlaat tot na die IEB-eksaminator dit beoordeel het nie.

Die leerling

ʼn Verklaring deur die betrokke leerling het ook aangetoon dat hy juis uitdrukking gegee het aan sy eie oortuigings sowel as kommentaar op en ʼn uitdrukking van die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se goedgelowigheid deur godsdienstige wolwe.

Hy het eerstens met sketse gefokus op wat hy noem “Georganiseerde godsdiens as kapitalistiese sisteem”. Elke kunswerk is van ʼn beskrywing voorsien, waarin die betekenis van die betrokke stuk verduidelik is. Die leerling probeer uitbeeld hoe kontemporêre godsdiens nie meer Jesus verkondig nie, maar eerder Jesus vervang het met ʼn verbruikerskultuur. As verteenwoordiger van die verbruikerskultuur is die figuur van Ronald McDonald van die wêreldbekende McDonald`s maatskappy gebruik. Dit is nie gedoen om ʼn bespotting van Jesus Christus te maak nie, maar om aan te toon hoe kontemporêre godsdienstiges van Jesus ʼn bespotting maak.

Die leerling het klassieke kunswerke van onder andere Michelangelo, Rafael en Da Vinci as vertrekpunt geneem om die verskil tussen die vroeëre uitdrukkings van die Christelike geloof en die hedendaagse godsdienstigheid van televisie-predikers en rigtings soos Scientologie, aan te dui. Die reeks word afgesluit met ʼn verwerking van Michelangelo se “Laaste Oordeel” en gee ʼn uitbeelding van wat die vrugte sou wees van die gekommersialiseerde godsdienste se werk indien hulle “verlosser” (Ronald McDonald) in die plek van Jesus by die wederkoms sou terugkeer. Die leerling wys hoedat hierdie verdraaide godsdienstigheid die wêreld uiteindelik sal verwoes en glad nie opbouend is nie. Al wie daaruit voordeel getrek het, is die gierige varke wat hulself ten koste van alles en almal verryk het.

Die leerling het naas hierdie sketse in ʼn tweede medium, die van beeldhou, verder gegaan om nie net kommentaar te lewer op gekommersialiseerde godsdienstigheid nie, maar het met ʼn stel van 5 borsbeelde, sy persoonlike worsteling met godsdiens probeer uitbeeld om aan te toon hoedat hy vanuit ʼn Christelike omgewing uiteindelik ʼn ateïs geword het.

Hy was self die model vir die beelde om daarmee sy persoonlike oortuigings en ervarings uit te beeld. Hy het die beelde vervorm met kankeragtige vergroeisels en bokhorings wat geleidelik minder word, soos wat hy al hoe meer vanuit sy negatiewe godsdienstige omgewing en ervarings losgekom het. Elke beeld is beplak met uitgeskeurde Bybelse teksgedeeltes, wat ook proporsioneel minder word soos wat die persoon al hoe minder met negatiewe godsdienstige mense en hul oortuigings assosieer.

Bykomend tot die verduideliking wat by elke kunswerk uitgestal was, was die volgende waarskuwende kennisgewing: “This exhibition contains potentially offensive content that is, in all cases, to be reserved for a mature and sophisticated audience. This exhibition is especially not for children. Photographs and touching artworks is strictly prohibited.”

In ʼn slotopmerking verwys die leerling na sensuur en vervolging waarvan hy die slagoffer was tydens die vervaardiging en oprigting van sy kunswerke. Alhoewel dit nie pertinent gesê word nie, wil dit lyk asof hy verwys na die skool se reaksie en die manier waarop hulle die kuns uiteindelik nie in die openbaar nie, maar in afsondering uitgestal het.

Die skool en Curro-groep

Die skool is daarvan beskuldig dat hulle kinders aan satanisme en demoniese magte blootgestel het en die idee is op sosiale media geskep dat die skool al die kinders aan hierdie skokkende uitstalling blootgestel het. Weereens moet die feite korrek gestel word, alvorens daar sinvolle reaksie hieroor kan wees.

Die kunswerke was sedert 14 Oktober op uitstalling gewees om op 18 Oktober beoordeel te word vir die toekenning van die punte deur die IEB-eksaminator. Die uitstalruimte was afgeskort en ʼn gordyn het as deur gedien. By die deur was die bogenoemde waarskuwing ook aangebring. Die laerskoolkinders is toegang tot die uitstalling verbied en so ook die neem van enige foto’s of videos. Die uitstalling is op Maandag 21 Oktober verwyder na afloop van die matrieks se toekenningsgeleentheid. Die video deur die ontstelde ouer is juis tydens hierdie geleentheid gemaak. Dinsdagaand het die skool ʼn vergadering met die ouers gehad na aanleiding van die ongelukkigheid wat deur en oor die kunswerke en video ontstaan het.

Begeleiding en berading is met skoliere gedoen nadat dit aan die lig gekom het dat 95% van die laerskoolkinders, alhoewel nie een van hulle die uitstalling gesien het nie, die video gesien het nadat hulle ouers dit aan hulle gewys het! ’n Mens wonder of ʼn video van ʼn verkragting by ʼn skool ook so wyd versprei sou word?

Ons het ook verneem hoe die skool oorval is met Christene wat teen die uitstalling beswaar gemaak het se reaksie. Ongelukkig moes die skoolsekretaresse ook deurloop onder beledigings en skeldname wat hulle toegesnou is.

Ons het verder kennis geneem van ʼn onvoorwaardelike verskoning wat deur die Curro-groep per omsendbrief aan ouers gestuur is waarin hulle uitvoerende hoof, mnr. Andries Greyling sê: “Curro bied ʼn onvoorwaardelike verskoning aan al die lede van die gemeenskap wat deur die betrokke kunswerke geraak en beledig is.”

Hiermee reken ons dat ons getrou aan die negende gebod die betrokke partye se kant(e) van die saak eerlik en regverdig gestel het. Ons wil graag ons waardering uitspreek aan die persone wat, te midde van baie druk, op ons navrae reageer het. Ons bid dat die Here elkeen die wysheid sal gee wat nodig is in die hantering van hierdie saak. Daarom neem ons die vrymoedigheid om vervolgens hierop te reageer.

Alle volke klap julle hande

Alle volke klap julle hande

Dordt (1618/19): Eenheid te midde van verskeidenheid

Die monotone deuntjie van ’n nie-rassige Suid-Afrika, is lankal nie meer bo-aan die treffersparade nie. Om die waarheid te sê, het hierdie eksperiment klaaglik misluk al weier liberaliste om dit te erken. Tog begin al hoe meer mense om deur die leë beloftes en niksseggende woorde te sien. Een daarvan is die slagspreuk van Suid-Afrika: !ke e: /xarra //ke (Khoisan vir: Diverse mense verenig) wat in die huidige Suid-Afrikaanse klimaat lankal reeds ’n “hol simbaal” geword het. Aangevuur deur politici wat hul volgelinge aanmoedig om hul woede ook teen “wit uitlanders” te mik en die marginalisering van die Afrikaner deur sy simbole as haatspraak te brandmerk, voer rassespanning en polarisasie tans die botoon in Suid-Afrika. Die “diverse mense” van ons land was nog nooit so verdeeld soos nou nie.

Die liberale en humanistiese oproepe tot “versoening en nasionale kohesie” was inderdaad, soos talle gewaarsku het, doodgebore. In navolging van hierdie retoriek, sing baie mense in Suid-Afrika, selfs gelowiges en kerke, sedert die 1980’s nog dieselfde afgesaagde deuntjie waarin ’n horisontale versoening en eenheid bepleit word. Dit het tyd geword vir ’n nuwe lied, ’n simfonie, waar ons aan die hand van die Skrif by die kerklike tradisie kers opsteek om ’n Godverheerlikende oplossing vir die kompleksiteite in ons samelewing te bied.

Wat die kerk betref, moet ons dit uitbasuin dat Bybelse eenheid en Belhar-eenheid nie dieselfde ding is nie, sonder om by die ander kant van die afgrond af te tuimel deur eenheid in die kerk bloot tot ’n geestelike, onsigbare eenheid (Gnostisisme) te verskraal.

In sy hoëpriesterlike gebed stel die Here Jesus die Drie-eenheid as vertrekpunt vir ons denke oor eenheid: Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het (Joh. 17:20-21). Binne die Drie-eenheid is die Persone van die Drie-eenheid duidelik onderskeibaar. Terselfdertyd is daar egter ook ’n duidelike en wesenlike eenheid tussen die drie Persone, sodat ons na God as ’n enkelvoudige Wese kan verwys. Dit is dus nie die een of die ander nie, maar beide hierdie aspekte wat bely word (vgl. Geloofsbelydenis van Athanasius) en dus in die kerk na vore moet kom. Binne die kerk van die Here is daar dus tegelykertyd andersheid en eendersheid. Om die een ten koste van die ander te beklemtoon, sou ontrou aan die Woord en in stryd met ons gereformeerde tradisie wees.

Wanneer ons vanjaar die 400-jarige herdenking van die Sinode van Dordrecht (1618/19) vier, is dit opmerklik hoedat eenheid te midde van verskeidenheid tydens hierdie sinode voorop gestaan het. Voor hierdie sinode, het die kerke in die Nederlande eenheid beleef op grond van hul gemeenskaplike belydenis van die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis. Toe die opkoms van die Arminianisme sekere grondwaarhede van die evangelie (soos die soewereiniteit en vrymag van Christus in die verlossing van die mens), verdraai het, is die eenheid binne die kerk versteur en bedreig.

Anders as baie hedendaagse kerke wat sigbare kerkeenheid tot ’n afgodsposisie verhef terwyl daar nie belydeniseenheid binne die kerk is nie, het ons gereformeerde vaders besef dat ware eenheid nie in strukture nie, maar in die gemeenskaplike belydenis van die waarheid te vinde is. Net soos wat daar nie verskillende “waarhede” in die Persone van die Drie-eenheid te vinde is nie, kan daar ook nie verskillende waarhede in die kerk wees nie. Met die oog hierop is ’n internasionale sinode byeengeroep met uitnodigings aan gereformeerdes regoor Europa. Die vergadering het gekonstitueer met afgevaardigdes vanuit Nederland, Brittanje, Palts, Hesse, Genève, Bremen, Nassau, Wetteravia en die vier gereformeerde republieke van Switserland. Hoewel die Franse kerke ook afgevaardigdes aangewys het, is hulle weens ’n handelsdispuut deur die Franse koning verhoed om die vergadering by te woon.

In sy artikel getiteld Unity in Diversity: The Ecumenical Spirit of the Great Synod, wys Russell Dykstra daarop dat die begeerte tot belydenis-eenheid binne die gereformeerde kerke, nie iets nuut was nie. Die Sinode van Emden het dit al in 1571 in artikel 2 van hul kerkorde verwoord:

Om die eensgesindheid in leer tussen die Nederlandse kerk te bewys, het die broeders dit goedgedink om die geloofsbelydenisse van die Nederlandse kerke te onderskryf en om dieselfde te doen met die belydenisse van die Franse kerke ten einde die band en eenheid met dieselfde Franse kerke te betuig. Dit word gedoen met die vertroue dat die dienaars in dieselfde Franse kerke ook die geloofsbelydenisse van die Nederlandse kerke sal onderskryf as ’n getuienis van onderlinge eendragtigheid.

Tydens Dordt is hierdie doel verwesenlik met die opstel en ondertekening van die Dordtse Leerreëls. Teen 1620 het die Franse nasionale sinode van gereformeerde kerke, as teken van hul eensgesindheid, ook die Dordtse Leerreëls onderteken. Hierdie eenheid in belydenis het nie noodwendig eenvormigheid beteken nie. Die onderskeie kerke het hul eiesoortige karakters behou, terwyl daar terselfdertyd eenheid was op grond van hulle eensgesindheid met betrekking tot die belydenis.

Die Dordtse Kerkorde het ook die denke oor eenheid en verskeidenheid prakties verwoord. Die ruimte wat in artikels 50-52 van die Dordtse Kerkorde gelaat is vir partikuliere sinodes vir die Waalse en Nederlandse kerke, onderstreep die feit dat eenheid en eensgesindheid nie die ruimte vir verskeidenheid tot niet maak nie. Eenheid word bewerk deur ’n gemeenskaplike belydenis wat ook die orde in die kerk raak en nie noodwendig deur gedwonge of kunsmatige organisatoriese eenheid in die naam van politieke korrektheid nie.

Hierdie beginsel is egter nie net vir die kerk normatief nie, maar beslis ook rigtinggewend ten opsigte van ’n pluralistiese samelewing soos die van Suid-Afrika, aangesien dit rekening hou met God se openbaring in die Skrif en die geskape werklikheid. Om anderkant die horison te sien, is dit nodig dat ons op die skouers van die reuse in ons tradisie staan wanneer ons eietyds oor eenheid en verskeidenheid wil nadink. Met hierdie Bybelse uitgangspunt word die waarde van gemeenskapsvorming en selfregering erken, terwyl daar terselfdertyd gedeelde belange is (soos bv. veiligheid, regstelsel, infrastruktuur, die ekonomie, ens.) wat tot almal se voordeel bestuur behoort te word.

Ware ekumenisiteit sentreer rondom die waarheid van die Skrif en word sigbaar in die gemeenskaplike belydenis. Dit is die Geesvervulde gevolg wanneer gelowiges deur die band van die vrede saamgesnoer word (vgl. Efés. 4:3). Wanneer hierdie eensgesindheid te midde van verskeidenheid, ook deursuur na die samelewing, ontstaan ’n organiese samebinding wat baie sterker is as ’n kunsmatige/gedwonge integrasie. Dit is hierdie uitdrukking van eenheid te midde van erkende verskeidenheid wat ons vrymoedigheid sal gee om ook oor staatkundige sake van gemeenskaplike belang saam te stem, want elkeen kan binne sy eie taal en kultuur en volk die woorde van Gesang 338 uit volle bors sing:

Alle volke, klap jul hande – juig tot eer van God.

Verhef jul stem en roem sy Naam in elke stad op aarde!