Wat agter die vlag sit

Wat agter die vlag sit

Die onlangse uitspraak van die gelykheidshof om die vertoon van die “Ou Suid-Afrikaanse vlag” in sekere kontekste as haatspraak te beskou, het groot opskudding veroorsaak. Sommige mense is bly daaroor, sommige is kwaad, ander gee nie om nie. Daar is egter ook baie mense wat nie regtig weet hoe hulle daaroor voel nie; mense wat al vir so lank vertel word dat Apartheid sonde was en enige assosiasie daarmee sal beteken dat, in die woorde van Panyaza Lesufi: “die geskiedenis jou sal beoordeel” as jy vashou aan name of simbole uit die apartheidsera.

Tog is die Afrikaner en die Afrikanerkultuur en identiteit verbind aan hierdie vlag. Al sou daar Afrikaners wees wat hulself nie aan die vlag wil verbind nie, sal hul in elk geval deur ander mense daaraan verbind word, al is dit net ter wille van ’n politieke agenda. Meer nog, die geskiedenis sal jou daaraan verbind. Die feit is dat, hoewel die saak nou beredeneer word op regsgronde en ongetwyfeld ook op politiese gronde, die vlag ’n kulturele simbool is en by implikasie ’n simbool van die geloof wat daardie kultuur gevorm het.

Kultuuridentiteit

Om met ’n vlag te identifiseer, beteken nie dat jy ten gunste is of jou goedkeuring verleen aan alles wat “onder die vlag” gebeur het nie. Vir baie Afrikaners was die vestiging van die Unie van Suid Afrika in 1910 nie die ideaal nie. Die volk wou homself regeer en die Unievlag (later ook Republiekvlag), wat ná ’n lang stryd en baie kompromieë eers op 31 Mei 1928 vir die eerste keer in gebruik geneem is, het steeds die Union Jack ingesluit. Hieroor was talle volksgenote nie gelukkig nie en was daar selfs in 1971 nog ernstige pogings om die vlag te vervang.

Die aanvaarding van die kompromisvoorstel van die Unievlag het beteken dat die volk onder ’n vlag geleef het wat die geskiedenis erken het, al is dele daarvan ’n bitter pil om te sluk weens die wandade en onreg wat onder Britse bewind gepleeg is. Dit is egter nie met die vlag self, en beslis nie met die politiek daaragter, wat mense assosieer wanneer hulle hierdie vlag swaai nie. Andrew Breitbart, die konserwatiewe Amerikaanse skrywer, uitgewer en mediaman, het graag gesê dat politiek stroomaf van kultuur is. Die vlag as politieke simbool vloei voort uit ’n kultuuridentiteit.

Waarmee mense assosieer, is die kultuur van effektiwiteit, van vooruitgang en die etiek van die regering waaronder ons land onder hierdie vlag gefloreer het. Mense swaai nie die vlag met trots omdat dit hulle aan Vlakplaas of die inligtingskandaal herinner nie, maar omdat hulle trots is op die kultuur wat onder die vlag geleef het en die waardes waarmee dit gepaard gegaan het, al is daar nie altyd daaraan voldoen nie. Om hoë standaarde te stel en te misluk om te alle tye daarby te bly, is anders as om standaarde te stel waaraan slegs jou opponente gehou word! ’n Mens staan trots op aandag onder ’n vlag vir die beste van wat dit simboliseer, nie vir die mislukkings daaronder nie.

Godsdienstige identiteit

Die Afrikaner se identifisering met die vlag hou egter meer in as dat dit deel vorm van ’n volk se kultuuridentiteit. Soos politiek stroomaf is van kultuur, is kultuur stroomaf van godsdiens. Die kultuuridentiteit wat hierdie vlag verteenwoordig, is gevorm deur ’n Godsdiensidentiteit. Iets daarvan is te sien in Hertzog se voorstel om die oranje, blanje en blou van die Prinsevlag (ook Van Riebeeckvlag) as basis te gebruik. Dit was die vlag wat deur die protestantse prins, Willem van Oranje, in sy stryd teen die Rooms Katolieke Kerk in Nederland gebruik is.

Die ou landsvlag se erkenning van die suksesse, maar ook die bittere elemente van ’n volk se geskiedenis in die miniatuurvlae daarop, staan afgeteken op ’n prominente simbool van die protestantse geloof. Dieselfde geloof is onder die vaandel van die Prinsevlag deur Jan van Riebeeck aan die Suidpunt van Afrika kom vestig, terwyl die Rooms Katolieke Da Gama en Diaz by die Kaap verbygevaar het. Die identiteit wat aan hierdie vlag verbind is, is Godgegewe. Om die vlag te kriminaliseer, is om die kulturele- en godsdienstige identiteit van die Afrikaner af te breek en tot sonde te verklaar. Hoe lank voordat die Afrikaanse taal, blank wees, of net die blote verwysing na jouself as Afrikaner, ook met onderdrukking gelykgestel en as “simbole” daarvan beskou word? Of is dit dalk reeds die geval?

Is haatspraak regtig waaroor dit gaan?

Om te beweer dat dit haatspraak is om die Oranje Blanje Blou te vertoon, is om duistere motiewe toe te skryf aan ’n volk wat sy Godgegewe identiteit wil behou. Die hofaansoek van die Nelson Mandela Stigting (NMS), is gebring in reaksie op die vertoon van die ou landsvlag tydens die Swart Maandag protesoptog teen plaasmoorde. In daardie konteks sou die vlag as ’n simbool van wet en orde meer sin maak as propaganda vir die onderdrukking van anderskleuriges. Dit laat ’n mens wonder of die verbanning van die vlag werklik oor haatspraak gaan.

Die uitspraak van die adjunk-regterpresident, Phinias Mojapelo, dat die vlag verder gaan as haatspraak en op teistering neerkom, laat ’n mens nog verder wonder. Wat is dit aan hierdie vlag wat teisterend is? Is dit nie dalk juis die vergelyking tussen die nasionale identiteit onder die nuwe vlag en dit wat onder die ou vlag geheers het nie? Is dit nie dalk die skerp kontras wat die vlag in die kollektiewe geheue van elke persoon wat oud genoeg is om onder die ou en nuwe vlae te geleef het, voortbring nie?

Die kommentaar van die NMS ná die uitspraak spreek boekdele. “… jy kan nie wegskram van die geskiedenis nie, maar daarna kyk en dit noem wat dit is …”. Tog is “daarna kyk” presies wat die teenstanders van die vlag nie wil doen nie. Gaan die verbanning van die ou landsvlag werklik oor haatspraak, of wil hulle nie kyk na die geskiedenis en dit noem wat dit was nie?

Per slot van rekening kan jy ’n vlag verban, maar die identiteit en geskiedenis van ’n volk is meer as ’n vlag en dít kan jy nie uitwis nie!

Hoe verklaar jy dit?

Hoe verklaar jy dit?

Ds. Danie Malan reageer op evolusionistiese aanvalle deur Jurie van den Heever op RSG se program Hoe verklaar jy dit.

Goeiedag Haidee

Eerstens my waardering vir jou aanbieding op Sondae van die program: “Hoe verklaar jy dit?”

Ek is ‘n afgetrede leraar wat myself as ‘n DOMERITUS beskou omdat ek nog steeds die voorreg het om elke Sondag iewers op ‘n kansel die Woord van God te verkondig.

Dit is weliswaar ‘n feit soos ‘n koei dat ons nie altyd met almal wat oor die etergolwe gehoor word, sal saamstem nie.

Van diegene met wie ek radikaal verskil a.g.v. hul aweregse sienings, is die aanbieder van “Uit ’n ander hoek” Jean Oosthuizen en die paleontoloog dr. Jurie van den Heever.

Hulle het al dikwels aanvallende en neerhalende uitsprake oor die Bybel, die kerk (in die algemeen) en erkende behoudende teoloë gemaak. 

Dit laat eenvoudig ‘n mens se hare rys!

Boonop het dr. Jurie ook al daaroor gespog dat hy t.s.v. sy (“afwykende”) sienings nog nie deur die NG Kerk op Stellenbosch voor stok gekry of onder sensuur geplaas is nie.

Dit verstom my ook!

Nietemin, die afgelope Sondag 16 Junie 2019 is Jurie by wyse van verandering deur dr. Henk Geertsema “gerepudieer” oor sy stelling dat die sg. fundamentele kreasioniste “verkeerd”  is.  Dr. Geertsema het vir Jurie tereggewys deur daarop te wys dat diesulkes slegs ‘n ander siening huldig. Oor hierdie duidelike “regstellende aksie” wil ek graag vir dr. Geertsema my persoonlike dank betuig en sal ek dit waardeer indien jy dit ook so aan hom sal oordra en/of aan my sy kontakbesonderhede kan verskaf?

Jurie vd Heever is baie lief daarvoor om ongure en ongevraagde etikette om diegene wat van hom verskil, se nekke te hang! Soos nou onlangs toe hy sommige geestelike leiers en predikante daarvan beskuldig het dat hulle meen dat hulle die enigste is wat korrek is! Maar, o wee, hoe ironies, toe trap hy mos self in daardie einste slaggat met sy liefdelose opmerking dat die kreasioniste “VERKEERD” is – dus by implikasie dat SLEGS die evolusioniste KORREK is met hulle teoretiese bepaling van (eintlik bespiegeling oor) die ouderdom van die aarde!

Om te bly redekawel en/of te stry oor die ouderdom van die aarde is m.i. ‘n futiele nuttelose oefening!

Trouens, niemand van ons ondermaanse wesens en/of aardbewoners met ons beperkte insig en vermoë was mos daar toe die sg. oerknal plaasgevind het nie!? 

Buitendien moes – in doodgewone eenvoudige verstaanbare Afrikaans – Iemand mos by wyse van spreke die vuurhoutjie getrek of die vonk verskaf het vir die sg. oerknal!  

As uitgesproke Christusvolgeling glo en bely ek (en ook die meerderheid van my gereformeerd-protestantse kollegas) dat die Bybel (met en t.s.v. al die honderde vertalings en sg.”foute” wat begaan is met die oorskryf  daarvan) God se Woord in mensetaal is en NIE mense se gedagtes, woorde of sieninge oor God nie.

Weliswaar is en wil die Bybel nie ’n eksakte, wetenskaplike handboek wees nie (daarom word waarnemings- en ervaringstaal gebruik, soos bv. dat die son opkom of dan weer stilstaan) en … moet ons dit ook nie as ’n geskiedenisboek beskou wat alles sedert die skepping en grondlegging haarfyn beskryf nie. Dit is ’n boek waarin HEILSHISTORIESE lyne getrek word.

Aan die ander kant is en moet ons die Bybel ook lees as God se “handboek” met duidelike riglyne VIR ALLE natuur- en geesteswetenskappe en wetenskapsbeoefeninge en vir die interpretering van en vir die morele, sosiale lewe en lewensgeskiedenis van mense en volkere.

Die sg. post-moderne mens vir wie daar geen onwankelbare vasstaande waarhede meer is nie (omdat die Bybel o.m. nie as die enigste onfeilbare gesags- en openbaringsbron van die driemaal heilige Drie-enige God erken word nie) wend nou weer allerlei nuwe pogings aan om die Bybel (soos ’n Rudolph Bultmann e.a.) te ontmitologiseer en in terme van metafore te “verklaar”!

Oor al hierdie dinge kan ’n mens maar net verwonderd en verdwaas getuig: “Al die kundigheid en gewaande wysheid van die nietige skepsel het hom tot raserny gedryf!”

Ik hebt (voorlopig altans) gezegd!

Vriendelike groete

DJ Malan

Niks oor ons sonder ons nie

Niks oor ons sonder ons nie

Die begrip nihil de nobis, sine nobis kan direk vertaal word as “niks oor ons, sonder ons nie”, of in Engels: “nothing about us, without us”. Dit is die kernbegrip van die openbare deelname-doktrine in staatsreg, maar ook ’n logiese implikasie van natuurlike vryheid en demokrasie. Dit is selfverduidelikend: Sonder die konsultasie, substantiewe deelname en toestemming van ’n persoon of ’n groep, mag niks gedoen word wat daardie persoon of groep se belange of regte ondermyn nie.

Die Grondwet van Suid-Afrika erken en verskans openbare deelname in die formulering en aanvaarding van beleide, regulasies en wette. Artikel 195(1)(e) van die Grondwet sê dat “die publiek moet aangemoedig word om aan beleidsvorming deel te neem” en artikel 195(1)(g) bepaal dat “deursigtigheid moet bevorder word deur die publiek met tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien”. Volgens die Hoogste Hof van Appèl in die saak van e.tv vs. Minister van Kommunikasie in 2016, bepaal die legaliteitsbeginsel in artikel 1(c) van die Grondwet, wat voorsiening maak vir die heerskappy van die Grondwet en die oppergesag van die reg, ook openbare deelname. Artikels 57(1)(b), 59, 70(1)(b) en 72 verplig óók beide kamers van die parlement om openbare betrokkenheid in die wetgewende proses aan te moedig.

Openbare deelname moet ook in goeder trou plaasvind, wat beteken dat die regering sulke deelname nie slegs as ’n formaliteit mag beskou nie. Die deelname van die publiek en belanghebbendes moet dus in ’n materiële lig gesien word. Die Appèlhof het dus in die saak van Kommissaris vir Binnelandse Inkomste vs. Golden Dumps in 1993 gesê dat statutêre bepalings nie as oortollig beskou kan word nie. Met ander woorde die bepalings in die Grondwet wat vir openbare deelname voorsiening maak, maak vir égte deelname voorsiening; nie vir die invul van regmerkies nie.

In die praktyk toon die regering min respek vir openbare deelname en gevolglik vir konstitusionalisme.

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het besluit dat hy nie die regte van godsdienstige gemeenskappe gaan bevorder of beskerm nie, maar inteendeel inbreuk daarop gaan maak. Volgens die kommissie moet die parlement wetgewing aanneem wat kerke en ander godsdienstige instellings reguleer, oënskynlik om te verseker dat vals pastore nie hul gemeentes vir kommersiële wins kan uitbuit nie.

Die sogenoemde “beraad” wat in Februarie vanjaar plaasgevind het om die perspektiewe van godsdienstige leiers te kry, was ’n bespotting van openbare deelname. Eerstens is nie alle belanghebbendes – veral diegene wat regulering teenstaan –na die beraad genooi nie. Tweedens het die Kommissie rééds sy voorgestelde intervensies opgestel, wat dit duidelik gemaak het dat regulering per se ‘n fait accompli was. Die voorsitter van die beraad het gedreig dat indien daar nie op ’n regulerende regime teen die einde van die beraad ooreengestem word nie, die kommissie eensydig sal optree en sy eie regime aan die parlement voorstel. Dit is nie verbasend dat die deelnemers hierdie prosedurele en grondwetlike bespotting afgekeur het nie. Die deelnemers het dus sonder dat die regering hul hande vashou, voortgegaan om ’n oplossing op hulle eie te probeer vind.

By die kommissie se raadgewende konferensie ’n paar dae daarna het die burokrate gemeen dat dit vir hulle so goed was asof die beraad nooit gebeur het nie, want die kommissie het dit nie self bestuur nie. Die arrogansie moet duidelik blyk: Sonder die leidende hand van die staat, mag niks regmatig in die samelewing gebeur nie. 

Kerke en ander godsdienstige instellings is egter nie slegs forums waar Suid-Afrikaners bymekaarkom vir aanbidding nie. Kerke is gemeenskapsinstellings wat ’n belangrike konstitusionele rol in die samelewing speel. In vroeër jare het kerke ’n baie groter rol rakende maatskaplike dienste, onderwys en arbitrasie van dispute in die gemeenskap gespeel en was die middelpunt van menslike omgang. Met die verstaatliking van die samelewing het die regering – ongelukkig – meer en meer van dié funksies oorgeneem. Dit het die indruk geskep dat die staat gesag oor die kerk het.

Die skeiding tussen kerk en staat beteken egter nié dat die kerk uit staatlike aangeleenthede moet bly terwyl die staat steeds in kerklike sake mag inmeng nie. Inteendeel, kerke verteenwoordig, soos prof. Koos Malan met gesag argumenteer, ’n wig en teenwig teenoor die mag van die staat.

Die reg tot godsdienstige vryheid is in absolute terme in artikel 15(1) van die Grondwet geformuleer. Anders as ander regte soos dié van vryheid van uitdrukking en eiendomsreg, wat wel interne beperkings bevat, is vryheid van godsdiens onbeperk, tensy die staat sy inmenging in terme van artikel 36 kan regverdig.

Om dit te kan doen, moet die staat wys dat sy beperking op dié vryheid redelik en regverdigbaar is binne die konteks van ’n oop en demokratiese samelewing wat onder meer op vryheid gebaseer is. Die aard van die reg tot godsdienstige vryheid, die belangrikheid en aard van die beperking, die rasionaliteit van die beperking (d.w.s. of die beperking wel sy doel kan bereik), en die proporsionaliteit van die beperking (d.w.s. of daar ’n minder inmengende wyse is om die beperking se doel te bereik) moet alles in ag geneem word. 

Myns insiens sal die staat nie sy inmenging in godsdienstige vryheid kan in terme van artikel 36 kan regverdig nie, mits ’n sterk argument deur die godsdienstige sektor voor die Grondwetlike Hof geplaas kan word. So ’n argument sal moet wys dat die skeiding tussen kerk en staat ’n fundamentele beginsel van ’n vrye samelewing vorm en dat indien die staat in kerklike sake inmeng, die menswaardigheid van kerkgangers geskend sal wees.

Die argument sal ook moet wys dat die staat se rede vir inmenging neerhalend is met betrekking tot die vermoë van volwasse kerkgangers om vir hulself te besluit of hulle spesifieke kerke wil ondersteun. In ’n vrye samelewing het volwassenes wel die vryheid om gras te eet, met Doom gespuit te word en te glo dat ’n pastoor mense uit die dood kan opwek. Wat die keuse van ’n kerk betref, is daar in Suid-Afrika ’n groot verskeidenheid uiteenlopende keuses. Kerkgangers kan dan besluit waarheen húlle wil gaan. Niemand dwing hulle nie en die regering moet homself ophou met daardie gevalle waar geweld en feitlike (nie-normatiewe) bedrog wel gepleeg word.

Die bedrogspul wat homself tydens die openbare deelname proses van die Kommissie afgespeel het, sal ook voor die hof geplaas moet word. Die regering het duidelik met voorafbepaalde gevolgtrekkings die proses begin. Op geen stadium is daar gevra óf daar wel regulering van godsdiens moet wees nie – slegs hóé die regulering moet geskied. Die regering tree dus sonder ’n mandaat op. Dit is in stryd met die oppergesag van die reg, die beginsels van demokrasie en die onderliggende aard van konstitusionalisme.

Die staat se drang na mag is besig om alle gemeenskappe en individue in Suid-Afrika se vryheid en menswaardigheid te skend. Besighede is veral nou die teiken van tiranniese staatsbeleid, en alle Suid-Afrikaners gaan slagoffers van onteiening sonder vergoeding wees indien dit ’n grondwetlike realiteit word. Die staat se sosialistiese ideologie, Transformatisme, is van so ’n aard dat niks buite die konteks van die staat en sy doelwitte mag geskied nie. Transformatisme is ’n totale ontkenning van vryheid en ’n verwerping van die Grondwet.

Kerke het egter ’n voordeel: As daar één ding is wat vir mense byna onaantasbaar is sover dit die regering betref, is dit hul godsdiens en hul kerk. Kerke kan dus die aanslag weerstaan, mits hulle bewus is van die aanslag en sy aard en mits Christelike kerke, ander godsdienstige gemeenskappe en die burgerlike samelewing saamstaan. Hou op mooi praatjies maak met die regering, want enige kompromie sal uiteindelik in die regering se guns tel. Sê duidelik “nee” by elke geleentheid, sonder verskoning of spyt.

Openbare deelname moet ernstig beskou word. Suid-Afrikaanse geskiedenis wys vir ons dat diegene wat geweier het om deel te neem aan die groot politieke en maatskaplike debatte van die era, oorwin en vergeet is. Moet egter nie alle fokus op die regering en sy prosesse plaas nie: Bou intussen aan ’n staatsbestande gemeenskap in die godsdienstige sektor van die samelewing. Maak seker dat die kerk op geen manier afhanklik van die staat se guns of vrygewigheid is nie. Ontwikkel die instelling sodat dit tirannie kan weerstaan, want wanneer dit nodig word, sal almal in die samelewing na die kerk toe kyk vir leierskap.


1Martin van Staden is Regsnavorser by die Vryemarkstigting en studeer tans aan ’n meestersgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Hy is outeur van The Constitution and the Rule of Law (2019).

Dit gaan oor meer as grond

Dit gaan oor meer as grond

Die Vryheidsfront Plus se verkiesingsplakkaat met die slagspreuk “Slaan terug”, het daarin geslaag om iets van die innerlike verset en protes wat tans in baie Afrikaners en Suid-Afrikaners se harte leef, te verwoord. Mense kon daarmee assosieer, want hulle is in opstand. Oral in die land word daar op verskeie maniere teen ’n verskeidenheid dinge protes aangeteken.

Tydens die sogenaamde “swart Maandag” protesoptrede van 2017 gee derduisende Suid-Afrikaners hulle ongelukkigheid met plaasmoorde weer. In Oktober verlede jaar reël Solidariteit ’n optog na SASOL se hoofkantoor in Sandton om hulle ongelukkigheid met SASOL se aandeleskema waarin slegs swart werknemers bevoordeel word, uit te druk. ’n Ander deel van die Suid-Afrikaanse bevolking kies om hulle verset en protes op ’n meer gewelddadige wyse uit te druk. Daar gaan amper nie ’n dag verby waar daar nie iewers bande gebrand, klippe gegooi en infrastruktuur beskadig word in ’n poging om die regering se aandag op mense se ongelukkigheid te fokus nie.

Buiten vir dit wat reeds genoem is, sluit die sake waaroor mense in verset is en waaroor hulle protesteer, dinge in soos grond – die onteiening daarvan, maar ook die behoefte daarna (of selfs opeising daarvan). Mense is ongelukkig oor swak dienslewering, leë beloftes wat na bykans dertig jaar nog steeds nie nagekom is nie en werkloosheid. Daar is groot ongelukkigheid oor die stand van die ekonomie – dinge soos hoë brandstof- en kospryse bring mense in opstand. Mense is keelvol vir korrupsie, plaasmoorde en ander vorme van misdaad en wetteloosheid. Sekere groepe, soos die San-volk, protesteer omdat hulle voel hul word nie as die regmatige eerste inwoners van Suid-Afrika erken nie, terwyl Afrikaners in opstand kom omdat hulle kultuur en veral iets soos moedertaalonderrig en Afrikaanse skole en universiteite toenemend in die spervuur is.

Tog is dit interessant om tussen al hierdie dinge waaroor daar, dikwels met reg, in opstand gekom word, na ’n gemene deler te soek. Wat uitstaan tussen al die sake waaroor mense protesteer, is dat dit hoofsaaklik beperk is tot daardie dinge wat ons aardse sekuriteit bedreig. Dit wat ons welvaart, gerief, leefstyl of selfs net ons vermoë om te oorleef in gedrang bring, is die dinge waarteen ons in opstand kom. Dit is dinge waarvoor mense selfs bereid is om die wapen op te neem en oorlog te maak. Natuurlik is dit nie verkeerd om teen hierdie soorte onreg in opstand te kom en daarteen te protesteer nie. Die Skrif eis immers dat ons teen alle vorme van onreg en goddeloosheid in opstand sal kom, veral waar die Goddelike lewensbeginsel in gedrang kom. Wat ons egter moet besef is dat gelowiges se stryd oor baie meer gaan as net grond of daardie dinge wat tot ons aardse sekuriteit bydra. Ten diepste gaan dit oor grondgebied – die grondgebied van die hart. As ons dit nie besef nie, gaan ons uiteindelik baie meer as net ons grond, ons werke, of instellings verloor.

Dit is ’n stryd wat reeds in die tuin van Eden begin het en wat uiteindelik deur die moederbelofte van Génesis 3:15 tot met die wederkoms in die vooruitsig gestel word: Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Paulus sluit hierby aan wanneer Hy in Efésiërs 6:12 skryf: Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Van hierdie stryd was die kerk nog altyd deeglik bewus. Dit was ’n stryd wat die apostels en baie van ons geestelike voorvaders aan hulle lyf gevoel het. Verset in die naam van hierdie stryd, was ook nog nooit vir die kerk vreemd nie en word veral in Petrus en Johannes se getuienis teenoor die Joodse raad verwoord: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand. 5:29).

Die Reformasie kan sekerlik as een van die hoogtepunte in hierdie stryd beskryf word. Met sy 95 stellings teken Martin Luther protes aan teen sekere dwaalleringe in die Roomse Kerk. Dit was ’n stryd om die hart van die evangelie met die siele van sondaars op die spel. Hoewel hierdie protes hoofsaaklik ideologies was, het dit by tye selfs tot die opneem van die swaard gelei sodat ons Nederlandse voorvaders bereid was om vir meer as 80 jaar vir godsdiensvryheid te veg (1566-1648).

Weens ons gereformeerd-protestantse wortels, staan die Afrikanervolk stewig geanker binne hierdie tradisie van protes en verset. Ons ontstaansgeskiedenis, wat onder meer die koms van die Franse Hugenote insluit wie se verset teen Roomse-Katolieke oorheersing tot hul vervolging en diaspora gelei het, is sprekend van die bloed wat deur ons are vloei.

In die voetspore van ons voorgangers, word ons opnuut opgeroep om nie die eintlike stryd uit die oog te verloor nie. As gelowiges is ons geroep tot verset – verset teen Satan en die sonde; verset teen die verwatering van die Skrif en valse interpretasies daarvan; verset teen die uitdaging van God se gesag; verset teen die liberalisme wat hande vat met humanisme ten einde ’n Skrifvreemde, dog polities-korrekte evangelie op te dis. Kortom, ons is geroep om nie net óns stukkie grond te beskerm nie, maar om die koninklike grondgebied wat aan ons sorg toevertrou is, te beskerm. As Paulus ons oproep om vas te staan (Efés. 6:14), dan is dit ’n oproep om nie ’n duimbreedte van hierdie grondgebied prys te gee nie.

As ons onomwonde verklaar dat ons hiervoor staan, behoort dit ook duidelik te word in die dinge waarteen ons ons verset en waarteen ons protes aanteken. Dit help nie ons stook mekaar deur die dag op met oorlogspraatjies oor grondonteiening, maar saans skuif ons ewe gerieflik langs vroulief in om ons gunsteling program op KykNET, Boer soek ’n (vr)ou, te kyk nie. Dit help nie ons baklei vir moedertaalonderrig, maar ons gee nie om as ons kinders reeds van so vroeg as graad 4 al aan onderwerpe soos masturbasie, pornografie en Christus-onterende waardes blootgestel word nie (solank dit darem net in Afrikaans is, of hoe?).

Wie die gesag van die Skrif handhaaf en die strydbyl vir die eer van God en die grondgebied van sy koninkryk opneem, soek nie verskonings vir die hoë egskeidingsyfer in Suid-Afrika nie. Hy ondersteun nie vrye keuse wat moord deur middel van aborsie wettig nie. Hy stry nie teen korrupsie omdat dit hom van dienslewering beroof nie, maar omdat God diefstal en selfverheffing haat. Hy is nie tevrede met ’n Christus-besprinkelde onderwysstelsel nie, maar baklei vir ’n Christus-deurdrenkte een. Hy teken protes aan teen die regulering van godsdiens en verhef sy stem teen die sosiale euwels in sy gemeenskap.

Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle “moeilik” is. As dit dan van ons waar is, laat ons ten minste moeilik wees oor die dinge wat saak maak. Wanneer ons uit die staanspoor vir die behoud van die geestelike grondgebied stry, sal ons stryd teen grondonteiening, plaasmoorde, geweld, korrupsie, werkloosheid, die verlies aan moedertaalonderrig, ensovoorts, ook meer geloofwaardig wees. Wie hom vir hierdie stryd beywer en homself met oorgawe in hierdie stryd werp, kan op grond van Christus se oorwinning saam met Paulus getuig: In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie (2 Kor. 4:8).

’n Hartseer dag in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis

’n Hartseer dag in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis

Op 8 Maart 2019 is die sinodale besluite wat die NG Kerk in 2016 oor selfdegeslagverhoudings en -huwelike geneem het, deur die Hooggeregshof ter syde gestel.

Die Hooggeregshof in Pretoria is deur ʼn groep van vier lidmate genader om die besluit van 2016 onwettig en ongeldig te verklaar. In hul beantwoordende verklaring het die NG Kerk toegegee dat die besluite deur die appèlliggaam van die Algemene Taakspan Regte (ATR), rakende die aanvaarding van appèlle teen die vorige besluit van 2015, onwettig en ongeldig was. Hiermee het die NG Kerk erken dat hy sy eie huishoudelike reëls oortree het.

Tot voor hierdie uitspraak het die howe hul egter deurgaans daarvan weerhou om by kerke se leerstellige verskille betrokke te raak. So het die Konstitusionele Hof byvoorbeeld beslis dat mense die reg en ook grondwetlike beskerming geniet om geloofsoortuigings te handhaaf wat selfs “bisar, onlogies en irrasioneel” is. Wat met hierdie hofsaak ter sprake gekom het, was die vraag of die weiering om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en te aanvaar, een van hierdie geloofsoortuigings is wat grondwetlike beskerming geniet. Twee regte binne die Suid-Afrikaanse Grondwet blyk in konflik met mekaar te wees, naamlik die reg op godsdiensvryheid en die reg dat niemand op grond van jou seksuele oriëntasie teen jou mag diskrimineer nie.

Wat interessant is van die uitspraak, is dat die Hof in sy uitspraak gesteun het op die omstrede verslag van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) rakende die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se geloof, waarin daar vir die regulering van alle godsdienste deur middel van wetgewing gepleit word. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie verslag se aanbevelings deur die parlementêre portefeuljekomitee verwerp is. Hierdie verwerpte aanbeveling van die KGT-kommissie word dus nou vir die regters deel van die basis op grond waarvan hulle reken die hof wel oor die kerklike aangeleentheid mag beslis.

Tot op hede is kerke deur die hof as vrywillige organisasies beskou. Tot nou het dit beteken jy sluit vrywillig by ʼn kerk van jou keuse aan en daardeur aanvaar jy die oortuigings van die betrokke kerk en lê jy jouself by die interne prosedures en besluite neer. Die hof was nog altyd huiwerig om by enige leerstellige twiste betrokke te raak en het dit vermy om uitspraak te lewer oor die inhoud of die waarheid van geloofsoortuigings. Die hof het aanvaar dat individue wat by ʼn kerk aansluit, bereid moet wees om die regverdige beslissings binne die betrokke kerk se strukture te aanvaar. Wanneer die saak dan wel voor ʼn hof kom, is die vraag of daar enige onreg gepleeg is. Die hof is dan in daardie gevalle gevra om te bepaal of die betrokke kerk in stryd met sy eie Kerkorde en besluite opgetree het.

Teen hierdie agtergrond kom die uitspraak van 8 Maart 2019 waarin die Hooggeregshof van Pretoria besluit om wel by die inhoud van ʼn kerklike twispunt betrokke te raak, omdat:

  • die Hof oordeel dat besluite oor seksuele oriëntasie buite die raamwerk van godsdiensvryheid val, maar deur die Grondwet gereël word;
  • daar getoets moet word of die NG Kerk met sy 2016-besluite voldoen aan hulle wetlike, etiese en gemeenskapsverantwoordelikheid;
  • geen argumente deur die NG Kerk daarvoor gepleit het dat die saak op ʼn ander forum hanteer kan word nie, veral aangesien twee sinodes ná vele bespreking en debat nie tot ʼn konsensus-besluit kon kom nie.

Die belangrikste rede waarom die hof egter besluit het om wel by die substantiewe kwessie van onregverdige diskriminasie betrokke te raak, is omdat die aansoekers en ook die NG Kerk die hof daartoe versoek het! Deur gehoor te gee aan die versoek, wyk die hof af van die gebruik hier ter lande en ook internasionaal.

Hoewel die wet vir iets soos geregverdigde diskriminasie voorsiening maak, het die hof in sy uitspraak telkens daarop gewys dat die NG Kerk nêrens in hulle stukke probeer het om enige feite hieroor aan te bied nie. Hiervolgens moes die NG Kerk aantoon hoe geloofsgemeenskappe se besluite oor seksuele oriëntasie in terme van Artikel 36 van die Grondwet gesien kan word as ʼn beperking van die betrokke gelykheidsregte. Die NG Kerk het dit egter ook nie beredeneer nie.

Op grond van die feite (of die doelbewuste uitlating daarvan) aanvaar die hof dat die diskriminasie nie geregverdig kan word nie. Diskriminasie kan ook geregverdig word deur aan te toon dat die mikpunt en doel daarvan ʼn waardige en belangrike doel in die gemeenskap het. Ook hierdie punt is nie deur die NG Kerk beredeneer nie.

Vanweë die gebrek aan argumente en feite bevind die hof toe dat die 2016-besluit nie net onregverdige diskriminasie is nie, maar ook sekere lidmate se menswaardigheid aangetas het, aangesien persone in verhoudings met iemand van dieselfde geslag nie leraars in die kerk mag wees nie en ook nie toegang het tot kerklike seremonies nie.

Die hof het verder ʼn leemte in die NG Kerk se sinodebesluit gesien in die feit dat dit uiteindelik gegaan het oor die uitsluiting van persone wat nie heteroseksueel is nie uit leierskapposisies en kerklike huweliksbevestiging, terwyl hulle nie uit die kerkgemeenskap uitgesluit word nie. Die hof is van oordeel dat jy nie iemand vanuit die LGBTIQA+ -gemeenskap mag toelaat om lidmaat van die kerk te wees, maar daarna uit sekere posisies en seremonies uitsluit nie.

Waar plaas dit gelowiges en ander kerke in Suid-Afrika?

Hoewel hierdie uitspraak spesifiek op die NG Kerk gemik is, het dit ook implikasies vir ander kerke. ʼn Presedent is nou geskep is waarop daar in toekomstige hofsake geleun sal word. Dit is egter tans nog nie duidelik of die hof se uitsprake oor die grondwetlike aangeleentheid deel van amptelike uitspraak is en of dit bloot ʼn opinie binne die uitspraak is nie. Hieroor het die Alliance Defending the Autonomy of Churches in South Africa (ADACSA) uitsluitsel by die hof gevra.

Juis danksy die beginsel dat ʼn soortgelyke saak binne ʼn ander konteks nie noodwendig dieselfde beoordeel kan word nie, sal enige toekomstige sake moet fokus op al die gebreke wat in die NG Kerk se verdediging aangetoon is.

Dit is egter kommerwekkend dat die hof sy uitspraak nie net tot die prosedurele foute beperk het nie, maar ook oor die grondwetlike aspekte sekere bevindings gemaak het. Sodoende het die bedreiging van godsdiensvryheid ʼn groter werklikheid geword.

Die uitspraak behoort ook ʼn wekroep vir kerke te wees, wat getrou aan die Bybel wil bly, om erns met kerklike tug te maak en konsekwent te wees. Kerklike tug kan nie beperk word tot sekere persone en sekere oortredings nie. Jy kan nie eers tug wil toepas wanneer iemand as ampsdraer verkies word nie. Daar moet met dieselfde erns teen alle sondes opgetree word.

Vir kerke wat die oortuiging handhaaf dat die Bybel nie vrouens as ampsdraers toelaat nie, het hierdie uitspraak natuurlik ook die gevaar dat daardie standpunt op presies dieselfde gronde betwis kan word.

Hoewel daar baie vrae gevra kan word oor die redes waarom die NG Kerk nie hierdie saak beter verdedig het nie, is die water onderdeur die brug. 8 Maart 2019 gaan in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis heel moontlik ʼn datum word naas Ordonnansie 7 van 1843, die Loedolff-saak van 1862 en ander. 8 Maart 2019 gaan onthou word as die saak waarin die NG Kerk nie eers probeer het om redes aan te voer hoekom Bybelse gehoorsaamheid geregverdigde diskriminasie kan wees nie.

Die saak in die hof het dalk oor homoseksualisme gegaan, maar die stryd binne die NG Kerk bly ʼn stryd om Skrifgesag.

Christene se liefde

Christene se liefde

Ek dink dat mens met hierdie opskrif by die kern kom van die debatte wat gedurende Maart 2019 in kerklike kringe en ook die media gevoer is.

Eers was daar die hofuitspraak van 8 Maart rakende die NG Kerk se 2016-sinodebesluite betreffende homoseksualisme wat tersyde gestel is en die NG Kerk wat later besluit het om nie daarteen te appelleer nie, toe is dit die terroriste-aanval op 15 Maart deur Brenton Tarrant op twee moskees in Nieu-Seeland. Dit is opgevolg deur ’n artikel in Kerkbode oor ʼn “kerswaak” wat op 17 Maart in Kaapstad gehou is waar Christene in solidariteit met hulle “Moslembroers en –susters” byeengekom het om in stilte vir die slagoffers te bid. ʼn Plaaslike leraar van die Groote Kerk in Kaapstad (NG Kerk) het hulle besluit soos volg gemotiveer: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Hierdie uitlatings van Moslems as Christene se broers en susters en ook as kinders van God, het tot ʼn debat gelei wat selfs die voorbladnuus vir die Sondagkoerant Rapport van 24 Maart was. Danksy moedswillige joernaliste wat sensasie soek deur “bid vir” en “bid saam” doelbewus om te ruil, en ook mense wat net die opskrif lees en dan kommentaar lewer sonder om die artikel self te lees, is die bekende kenwysies van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid saam met beskuldigings van haat, selfregverdiging en hoogmoed baie vinnig gefluit.

Dit wil vir my lyk asof die oorgrote meerderheid van mense wat die sleutelbord opgeneem het, ongeag die kant van die stryd waaraan hul hulself bevind, dit vanuit ʼn passievolle oortuiging van liefde vir hulle medemens gedoen het. Hoe hierdie liefde lyk en wat dit behels, is egter die punt waar die paaie uitmekaar loop. Die gevaar van verskillende definisies van liefde is juis dat liefde dan herdefinieer word en so kry ons dan die gevolglike herdefiniëring van wat ʼn Christen of die Kerk nou werklik is. Die oomblik wat ek my persoonlike voorkeur, die tydsgees, my kultuur of die oorgelewerde tradisie die maatstaf maak waaraan ek iemand se begrip van liefde gaan toets, is ek in die modderige slik van subjektivisme. Al manier hoe mense mekaar hieroor gaan vind, is wanneer hulle saam onder die gesag van die Woord van God as absolute norm buig. Die vraag is tog: Hoe lyk die kinders van God se liefde vir Moslems, terroriste en homoseksuele? Genadiglik laat God nie sy kinders hieroor in die duister nie.

Daar is geen regverdiging vir die gruweldaad in Christchurch nie. Dit herinner ons aan die inherente boosheid van die mens. Hier is iemand wat homself beskryf as ʼn “Eco-fascist” wat ter wille van omgewingsbewaring stry teen oorbevolking, terwyl hy reken die nasie met die politieke en sosiale waardes naaste aan sy eie, is die kommunistiese Volksrepubliek van China. Al die reaksie op hierdie massamoordenaar is ook verstaanbare uitdrukkings van mense se skok, afgryse, verdwaasdheid, ontnugtering of vrees. As Christene voel ons aan dat ons reaksie anders moet wees. As mense wat danksy Christus se versoeningswerk aan die kruis toegang tot die troon van God gekry het, is ons toevlug dus eerstens tot Hom. Almal wat op enige manier deur hierdie bose tragedie geraak is, is mense wat deur God na sy beeld geskape is. Die oorsaak van hierdie tragedie is ten diepste omdat die mens as skepsel in opstand gekom het teen sy Skepper. Om enige van sy skepsels te vermoor, is om jou aan die Skepper te vergryp.

Om jou tot die troon van die almagtige Skeppergod te wend, is egter baie meer as ʼn mistiese byeenkoms wat mense wil laat goed voel, omdat hulle ook nou ʼn standpunt ingeneem het teen iets wat hulle met weersin vervul. Dit is méér as solidariteit met die slagoffers. Dit is juis ons solidariteit met die moordenaar wat ons na ons knieë behoort te dryf.

As God Hom oor ʼn sondaar soos ek en moordenaars soos Dawid en Saulus kon ontferm, wie is ek om te dink dat sy genade nie ook hierdie terroris tot inkeer kan bring nie? Dit het immers met die Amerikaanse reeksmoordenaar Ted Bundy gebeur! Dit is wat met elke gelowige gebeur het toe Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).

Ons moet daarteen waak om nie soos Jona van ouds te wees wat vir die Here kwaad was toe Hy nie die stad Nineve ná hulle berou verwoes het nie. Daarom bid ons vir Brenton Tarrant en sy verlossing, want as hy nie tot inkeer kom nie, gaan hy voor die regterstoel van God staan. Wanneer God sy heilige woede en oordeel oor hierdie sonde uitspreek, dan gaan dit al die openbare reaksie by verre oortref. Een ding is verseker en dit is dat God hierdie boosheid nie oorsien en ongestraf sal laat bly nie. Óf Brenton Tarrant gaan tot in ewigheid in die hel self daarvoor betaal, óf dit was deel van Jesus Christus se helse smarte aan die kruis. Christene mag ook oor hierdie bose daad kwaad word, maar as wedergeborenes lyk ons kwaad anders. Ons lees mos in Efesiërs 4 Word toornig en moenie sondig nie (26); Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ʼn woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor (29); Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid (31) God is ʼn regverdige Regter en ons hoef nie ʼn massa-optog of –betoging te hou om reaksie van Hom te kry nie. Nederig bewus van ons eie sondigheid, bid ons dat hierdie terroris tot bekering kan kom en dat God regverdig sal oordeel.

Ons bid verder vir diegene wie se geliefdes vermoor is, sonder dat hulle Jesus Christus as Verlosser ken, want ons weet die enigste ware troos is by Hom wat die dood oorwin het. Daarom bid ons dat die Here hierdie gruweldaad sal gebruik om geleentheid te bied vir gesprekke waarin daar van die ware evangelie van Jesus Christus getuig kan word, sodat mense Hom waarlik sal leer ken soos wat Hy Homself aan ons bekendgemaak het. Ons staan nie koud teenoor al die boosheid en onreg in hierdie wêreld nie, maar kan met hoop op Christus lewe omdat Hy met al die onreg sal afreken.

Ons bid vir die krag om die vermaning van 1 Petrus 2:12 in hierdie tye ter harte te neem: hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou het, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Hierdie selfde liefde wat ons openbaar teenoor ʼn terroris soos Brenton Tarrant en teenoor die ongelowige familielede van sy slagoffers, is ook die liefde wat gelowiges teenoor homoseksuele mense en hulle geliefdes behoort te betoon. God en sy genade is groot genoeg om hulle van die gruwels van hulle sondes te bevry, net soos wat ons daarvan bevry is. Daarom moet ons elkeen met respek hanteer, terwyl ons vanuit ʼn daadwerklike besorgdheid oor hul ewige saligheid teenoor hulle getuig van die verlossingswerk van Jesus Christus. Ek het niks om op te roem nie, maar omdat ek die Here se genade vir sondaars leer ken het, wil ek ander ook daarin laat deel. As ek dit nie doen nie sal dit die grootste liefdeloosheid wees. Ware liefde en omgee lê nie in hoeveel kerse jy brand of hoeveel reënboog-strikkies jy dra of hoeveel trane jy saam gestort het nie. Dit lê alleenlik in die evangelie van Jesus Christus.