Rentmeesters se toesig oor kerklike eiendom

Rentmeesters se toesig oor kerklike eiendom

Met die debat rondom wysigings aan die Suid-Afrikaanse Grondwet se bepaling van eiendomsreg, kom kerklike eiendom ook in gedrang. Gevolglik het ek so bietjie begin oplees oor hoe dit deur die geskiedenis hanteer is. Ek kom toe af op ʼn stelling dat wanneer kerke in die VSA in hofsake betrokke raak, dit meer kere oor eiendom as oor enige iets anders gaan.[1]

Ook in Suid-Afrika was daar al talle hofsake oor kerklike eiendom. Dink maar net aan die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA) se saak teen die destydse kerkvereniging onder die naam van die NH of G Kerk. Toe het die hof beslis dat die eiendomme bly behoort aan diegene wat voortgaan as deel van die NHKA, selfs al het die meerderheid van lidmate ten gunste van die kerkvereniging gestem. Dit het beteken dat selfs al bly daar net een lidmaat oor wat nie uit die kerkverband wil tree nie, dan is hy steeds deel van die NHKA en hy is die voortsetting van die plaaslike NHKA-gemeente, met die gevolg dat al die eiendomme onder sy toesig val.

Tans is die NHKA weer in ʼn hofsaak betrokke teen gemeentes wat uit die kerkverband getree het en later die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes gestig het. Alhoewel hierdie saak nie presies dieselfde omstandighede het nie en ook nog nie beslis is nie, is dit duidelik dat albei sake handel met eienaarskap van kerklike eiendom wanneer gemeentes uit die kerkverband tree.

Dan was daar natuurlik ook hofsake gewees waar lidmate ongelukkig met kerkrade se besluite oor die aankoop of vervreemding van kerklike eiendom was. Dikwels omdat daar ʼn bepaalde sentiment aan die betrokke eiendom gekoppel was of omdat daar gereken is dat die leraar of ander leidende figure hul posisie misbruik het. So het dit byvoorbeeld al gebeur dat ʼn leraar ʼn kwynende gemeente se kerkraad oortuig om die pastorie spotgoedkoop aan hom te verkoop, net vir die gemeente om later uit te vind dat hy dit vir 10 keer meer verkoop het. Dan het ons nog nie eers gepraat oor skeurings wat in gemeentes plaasgevind het oor bouprojekte of eiendomstransaksies nie.

Plaaslike kerke se akkoord met mekaar

Sedert ons gemeentes besluit het om die Afrikaanse Protestantse kerkverband met mekaar te vorm, is ons goed daarvan bewus dat eiendomme ʼn slaggat is waarin veral kerke baie maklik kan val. Ons besef en leer ook vanuit die geskiedenis dat die kerk nie gevrywaar is van bedrog, korrupsie, magsug, uitbuiting en allerlei sondes waar daar vir Mammon bo God gekies word nie. Derhalwe het ons met mekaar ooreengekom om ook ten opsigte van ons eiendomme verantwoordelike rentmeesters te wees en ons het gevolglik saam besluit om sekere sake kerkordelik vas te lê.

Die vertrekpunt word bepaal deur ons Bybelse kerkbegrip, waarvolgens die kerkverband nie kerk is nie. Al die gemeentes saam vorm nie die kerk nie. Elke plaaslike kerk is reeds volkome kerk en sulke plaaslike kerke tree vrywillig met mekaar in kerkverband en kom met mekaar ooreen om sekere sake oral op dieselfde manier te doen. Dit beteken elke plaaslike kerk se eiendom behoort aan homself en nie aan die kerkverband nie. Daarom is elke plaaslike kerk se kerkraad ʼn regspersoon.

Wanneer die kerkraad egter met gemeente-eiendom handel, het ons met mekaar ooreengekom dat daar strenger maatreëls in plek moet wees as by besluite oor ander sake. Een voorbeeld daarvan is dat ʼn blote meerderheidstem nie genoeg is om ’n besluit te neem nie, maar wel ʼn tweederde meerderheid van stemme. Wanneer daar sprake is van die vervreemding van eiendom moet die kerkraad verder ook eers die gemeente inlig en advies van die gemeente verkry, alvorens daar ʼn finale besluit daaroor geneem word.

Dit sou beteken dat indien die kerkraad dit oorweeg om byvoorbeeld die pastorie te verkoop, dan moet die gemeente uitgenooi word na ʼn kerkraadsvergadering en die kerkraad moet almal daaroor inlig en ook die gemeente se advies daaroor kry. Daarna neem die kerkraad die besluit. Gestel nou ʼn tweederde meerderheid van die kerkraad het wel die besluit geneem, maar iewers is een lidmaat ongelukkig met die besluit. Dan het daardie lidmaat 21 dae geleentheid om kennis te gee dat hy/sy wil appelleer teen die betrokke besluit. Indien daar egter geen kennis van appèl binne die 21 dae ontvang word nie, kan die kerkraad met die transaksie voortgaan.

Sondige kreatiwiteit

Alhoewel ons op hierdie manier verantwoordelike rentmeesters probeer wees, toon die geskiedenis dat slinkse bedrieërs baie kreatief te werk gaan en steeds mense om die bos lei met duistere en selfsugtige motiewe. So kan dit byvoorbeeld gebeur dat ʼn individu of groepie individue soos ʼn wafferse mafia begin optree en met verloop van tyd verdryf hulle al die lidmate uit die gemeente totdat net hulle oorbly. Nadat al die vereistes nagekom is, besluit hulle dan met ʼn tweederde meerderheid om die kerklike eiendomme spotgoedkoop te verkoop aan ʼn instansie waarby hulle belang het en waaruit hulle in die toekoms groot wins gaan maak.

Of dit kan selfs gebeur dat een of ander sektariese idee binne ʼn gemeente begin posvat en uiteindelik word die meerderheid van die gemeente daardeur op sleeptou geneem. Geleidelik sal die aanhitsers dan die lidmate begin voorberei om hulle bande met die kerkverband te verbreek. Skielik moet ander kategesemateriaal gebruik word. Die kerkverband se tydskrifte en publikasies word vervang met ander leesstof. Kritiek word voortdurend uitgespreek oor alles wat in die kerkverband “verkeerd” sou wees. Die aard van die erediens word verander. Alles in ʼn poging om die lidmate van die res van die kerke in die kerkverband te vervreem. Terselfdertyd begin hulle ook om tegnies korrek al die eiendomme te vervreem aan byvoorbeeld ʼn trust wat kamtig sou onderneem dat hulle die eiendomme steeds teen ʼn relatiewe lae fooi kan bly gebruik. Wanneer hulle dan eendag besluit om wel hul bande met die kerkverband te breek en die lidmate is nie eenparig daaroor nie, sit die lidmate wat wil voortgaan as die plaaslike kerk binne die huidige kerkverband sonder enige eiendomme.

Rekenskap voor die troon van God

Blykbaar gaan diegene wat sulke dinge doen onverpoos met hulle planne voort asof hulle die Here ook kan flous. Ons troos is egter dat die Here elkeen tot verantwoording sal roep. Uiteindelik is ons almal stof en niks behoort aan ons nie. Alles behoort aan die Here. Ons is bloot sy rentmeesters. Hy sal rekenskap eis van ʼn owerheid wat sy mag misbruik om eiendom “wettig” te steel. Net so sal Hy ook rekenskap eis oor jou sonde wat jy in die duisternis bedink het, of jou blatante misleiding en selfverryking, of die misbruik van ander se vertroue in jou.

Ons lees mos in Lukas 16:15: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ʼn gruwel voor God.

Mag ons eerder ook op grond van die manier waarop ons rentmeesters is oor die kerklike eiendomme wat aan ons geskenk is, die woorde van Matthéüs 25:23 hoor: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.


Wie of wat hang óns aan die kruis op?

Wie of wat hang óns aan die kruis op?

Die afgelope twee weke was daar groot ontsteltenis oor ’n foto van die sg. “McJesus-kunswerk”. Die Finse kunsternaar, Jani Leinonen, se kunswerk waarin die McDonalds-figuur, Ronald McDonald, as Jesus aan die kruis uitgebeeld word, was deel van ’n uitstalling wat in die Haifa kunsmuseum in Israel gehuisves is. Die uitstalling getiteld “Sacred Goods”, het ten doel gehad om geloof en godsdiens binne ’n verbruikerskultuur uit te beeld.

Die verspreiding van die foto op sosiale media het duisende Christene warm onder die kraag gehad en tot betogings voor die museum gelei. Daar is aangedring op die verwydering van die kunswerk weens die aanstootlike en beledigende aard daarvan. Die museum se oplossing vir die probleem was egter nie om die kunswerk te verwyder nie, maar eerder om ’n bordjie by die ingang tot die uitstalling aan te bring waarop besoekers gewaarsku word dat van die uitstallings moontlik aanstoot kan gee.

Dié kunswerk het in Suid-Afrika ook opslae gemaak toe ’n foto daarvan wyd op sosiale platforms versprei is met die versoek om die kitskosreus, McDonald’s, te boikot. Intussen het Mcdonald’s Suid-Afrika hulle egter van die kunswerk gedistansieer.

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat, ongeag die beweerde bedoeling van die kunswerk, dit van swak smaak getuig en uiters onsensitief teenoor Christene is. Christene is met reg ontsteld. Selfs erger as die feit dat die beeld ’n bespotting van Christelike simbole en historiese gebeure soos die kruisiging van Christus maak, stroop dit Jesus Christus van sy unieke karakter as enigste Verlosser van die wêreld deur Hom te verlaag tot die vlak van en gelyk te stel aan ’n afgod soos “verbruikersmentaliteit”. Hy sal nooit maar net nog ’n verlossingsfiguur tussen ander verlossingsfigure wees nie, aangesien die saligheid in niemand anders is nie en daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie (vgl. Hand. 4:12).

Ten spyte van ’n mens se weersin in die kunswerk, kan jy nie help om te wonder of ons nie maar dieselfde doen nie? Het Leinonen nie in ’n sekere sin baie goed daarin geslaag om baie van ons se geestelike ingesteldheid uit te beeld nie? As flukse kuberkrygers kon ons nie wag om hierdie foto en ons ontsteltenis daaroor met ander te deel en hulle tot aksie op te roep nie. Die vraag is egter of ons bereid is om konsekwent te wees? Word ons net so warm onder die kraag en kook ons bloed teen dieselfde temperatuur wanneer óns of óns samelewing iets of iemand anders in die plek van Jesus aan die kruis vasspyker? Is die oorverdowende stilte hieroor nie dalk ’n bewys van ons eie skynheiligheid nie?

Die motief agter Leinonen se kunswerk druk beslis op ’n gevoelige senuwee. In die moderne samelewing waarin ’n verbruikerskultuur hoogty vier, speel baie Christene se Christenskap tweede viool. Ons waardes en beginsels word bepaal deur ons begeerte om altyd meer en beter te hê. Daarom oortuig ons onsself dat dit “nodig” is om ons besighede ook op Sondae oop te maak, anders gaan ons te veel verloor. Luister jy na die treurmares van die inwoners van Suid-Afrika dan het selfs die rykes áltyd te min! Soms is ons selfs bereid om valse getuienis af te lê en onskuldige mense se lewens te vernietig net omdat die belofte van “meer” soos ’n geelwortel voor ons neuse geswaai word.

Party van ons se afgode is darem bietjie meer “eerbaar”, of so reken ons. Dit is egter ’n hartseer dag wanneer ons ons hoogste waarde in ons lewensmaats of ons kinders se liefde en aanvaarding vind. Wanneer my man of my vrou of my gesin die belangrikste rede vir my bestaan is, of die grootste impak op my optrede het of as ek selfs bereid is om sekere Christelike waardes, soos byvoorbeeld huisgodsdiens, prys te gee ter wille daarvan om niemand in my huis te verontrief nie, is dit ’n kwade dag. Die Here Jesus het ons juis hierteen gewaarsku toe Hy gesê het: Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo my liefhet, is My nie waardig nie (Mt. 10:37).

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van eiesinnigheid – ’n afgod wat die mens en sy eie begeertes in die middelpunt plaas. Ook genoem liberalisme. Dit is wanneer hierdie afgod aan die kruis vasgespyker word, dat ’n stad soos New York die vreugdevure aansteek en verskeie landmerke in pienk laat verlig ter viering van die goedkeuring van ’n nuwe wet wat aborsie tot met geboorte goedkeur. Die voordeel van hierdie afgod is dat dit jou toelaat om trots te wees op jou Afrikanerskap sonder om skuldig te voel oor iets soos jou seksuele losbandigheid. Dit laat jou besef dat Samuel se waarskuwing aan koning Saul dat eiesinnigheid afgodery is (1 Sam. 15:23), nog nooit aktualiteit verloor het nie.

In Suid-Afrika roep ons mekaar gereeld op om na God terug te keer, maar is ons regtig bereid om meer te doen as om maar net vir Hom ’n ereplekkie tussen ons ander gode te gee? Die Here onse God is ’n jaloerse God wat onverdeelde trou eis. Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE (Deut. 6:4). Nie net is Hy die enigste ware God nie, maar Hy is ook uniek. Sy uniekheid is ten diepste te vinde in die feit dat Hy sy geliefde Seun gestuur het om ons uit die slawerny van ons afgode te bevry. Ons mag dalk vir Ronald McDonald of enige van ons geliefde afgode aan die kruis vasspyker, maar uiteindelik is daar net Een wat namens ons kan sterf en uit die dood opstaan: Jesus Christus. Hý is ons hoogste vreugde en die diepste sin vir ons bestaan sodat ons geen ander gode voor God se aangesig wíl dien nie. Op grond van hierdie uniekheid roep Moses ons in Deuteronómium 6:5 op: Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

Geloftedag: ‘n Eksklusiewe geleentheid?

Geloftedag: ‘n Eksklusiewe geleentheid?

16 Desember 1838. Die slag van Bloedrivier. Geloftedag. Afrikaner-volksfees. Perdekommando’s, tradisionele drag, skyngevegte, goeie Boere-vermaak en ‘n opruiende toespraak of twee. Dit is waarskynlik hoe die gemiddelde Afrikaner oor Geloftedag dink. Dit is óns dag, waarop óns volk die Here dank vir die wonder van óns voorgeslagte, die Voortrekkers, se oorwinning oor die magtige Zoeloe Impi van Dingaan op die walle van die Ncomerivier. Vir ons is dit bykans ondenkbaar om te dink dat enige iemand anders as Afrikaners die dag om dieselfde rede as ons sal wil vier. Tog gee ons nie om wanneer Duitsers of Engelse of Franse of selfs Portugese wat met die Afrikanervolk geassimileer het en met sy geskiedenis assosieer, die dag saam met ons vier nie.

Eksklusief of inklusief?
Die oomblik wanneer die woord “inklusief” in dieselfde asem as iets soos Geloftedag gebruik word, rys die nekhare. In Suid-Afrika het die woord “inklusief” ’n kodewoord geword om dinge te relativeer en van hul unieke karaktereienskappe te stroop. Sedert 1994 staan Geloftedag as Versoeningsdag bekend. Die naamsverandering het juis gespruit uit die oproep tot groter inklusiwiteit. Hierdie vervreemding van die “eie” in die naam van inklusiwiteit, steek baie Afrikaners dwars in die krop sodat hulle hul aptyt vir die term “inklusiwiteit” heeltemal verloor.

Wanneer ons egter oor die aard van Geloftedag dink, is dit ’n vraag of ’n meer inklusiewe benadering nie tog geregverdig is nie. Verder is dit ook nodig dat ons soms ’n tree of wat terug gee sodat ons ons eie gebruike en gewoontes behoorlik onder die loep kan neem. Openbaar ons eksklusiewe denke oor die dag nie dalk ’n verkeerde beklemtoning ten opsigte van die belangrikheid van die dag nie? Wanneer jy die dag as volksfees eerder as ’n geloofsfees beskou, maak ’n eksklusiewe karakter vir die dag sin. Tog is die 1838 Gelofte ingebed in en het dit gegroei vanuit ’n vaste vertroue in God en ’n intieme verhouding tussen Hom en sy kinders.

Die aard van die Gelofte
Wanneer die Gelofte bestudeer word, is die geestelike aard daarvan onmiskenbaar. Enige buitestander wat die inhoud daarvan sonder enige agtergrondinligting bestudeer, sal tot die gevolgtrekking kom dat die Gelofte onmiskenbaar Christelik van aard is. Gelowiges bely hulle afhanklikheid van die Verbondsgod en onderneem om die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Primêr was hierdie nie ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe of tussen blank en nie-blank nie. Dit was ’n stryd tussen lig en duisternis; tussen die Christendom en die heidendom. Tydens hierdie stryd het God nie ’n volk bewaar nie, maar sy volk. Hy het nie die Voortrekkers beskerm omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was. Die oorwinning by Bloedrivier was ’n Godswonder en as sodanig ’n uitvloeisel en bevestiging van die oorwinning op Gólgota. Die rimpeleffek van hierdie oorwinning het nie net ’n beslissende invloed op die geskiedenis van die Afrikaner gehad nie, maar ook op die van ander volke in Suid-Afrika.

Die gevolg van die wonder
In sy genade het God die eens magtige Zoeloeryk wat in sy trotsheid homself die reg toegeëien het om oor die lotgevalle van ander volke in Suid-Afrika te besluit, vernietig. Met die oorwinning by Bloedrivier is die skrikbewind van die Zoeloeryk, wat veral tydens die Mefecane hoogty gevoer het, beëindig. Tot ’n groot mate is die binneland van Suid-Afrika gestabiliseer. Sodoende het God nie net ruimte geskep vir die Voortrekkers om te floreer nie, maar ook vir die ander volke van Suid-Afrika. Dr. Pieter Möller is dus reg wanneer hy in Die Boodskapper van Desember/Januarie 2018 tot die gevolgtrekking kom dat ander volke in Suid-Afrika hul vooruitgang tot ’n groot mate aan die slag van Bloedrivier te danke het.

Een van die merkwaardigste gevolge van die slag word egter deur dr. Peter Hammond beskryf. Hy noem dat daar voor die slag van Bloedrivier, ten spyte van bykans agtien jaar se sendingarbeid onder die Zoeloes, geen bekerings gedokumenteer was nie. Na die slag het die damwal egter gebreek sodat duisende Zoeloes tot bekering gekom en die Christelike geloof aangeneem het. Opnuut word die waarheid van die Dordtse Leerreëls (3&4:11) bevestig, naamlik dat God in sy genade en almag in staat is om die hardste hart te vermurwe en dit wat onbesnede is, te besny. Christen-Zoeloes het dus net soveel rede om die roem en die eer vir daardie oorwinning aan God te gee as wat Christen-Afrikaners het – al was hulle aan die verloorkant.

Die oorwinning by Bloedrivier het die deur vir die verspreiding van die evangelie en die vestiging van ’n Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika geopen. Die onderneming in die Gelofte om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, het meer behels as die oprig van die Geloftekerk by Pietermaritzburg. Ten diepste was dit ’n onderneming om God se huis, sy kerk, in die binneland van Afrika te vestig. Hiervan getuig die sendingstasie wat by Dingaanstat opgerig sou word.

Kersfees en Geloftefees
Dit is duidelik dat Geloftedag en die gevolge van die oorwinning, ten diepste elke gelowige in Suid-Afrika raak, ongeag sy nasionaliteit. Eersdaags herdenk ons weer die geboorte van ons Here Jesus. Hoewel Hy as “Koning van die Jode” gebore is, word sy geboorte nie eksklusief deur die Joodse volk gevier nie. Die gevolg van sy verlossingswerk op aarde was so ingrypend, dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie hierdie wonderlike gebeure op ’n unieke wyse herdenk. Die rede? Want uiteindelik was Hy nie net “Koning van die Jode” nie, maar die Verlosser van die wêreld.

Op dieselfde wyse kan oor Geloftedag gedink word. Die wonder het op ’n spesifieke tydstip onder ’n spesifieke deel van God se kinders plaasgevind, maar die invloed daarvan was universeel.

Inklusiewe fees, maar met ’n eksklusiewe karakter
Wanneer Geloftedag dus primêr as ’n geloofsfees beskou word, behoort dit inklusief te wees. Christene wat glo in die oorwinning van die Lig oor die duisternis, behoort die dag te vier as ’n inheemse bevestiging van die Gólgota-gebeure, ongeag hul etnisiteit. Die oorwinning by Bloedrivier was nie net ’n bewys van God se beskerming van sy kinders onder die Voortrekkers nie, maar dit was ook ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis en geestelike toekoms van ander volke in Suid-Afrika.

Met “inklusief” word dus bedoel dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie in Suid-Afrika saam met Christen-Afrikaners aan God die eer vir hierdie oorwinning moet gee. Dit impliseer nie noodwendig gesamentlike feesvieringe nie. Net soos wat God se kerk ’n unieke karakter onder verskillende bevolkingsgroepe aanneem, net so sal die feesvieringe ook ’n unieke of meer eksklusiewe karakter onder Christene uit verskillende bevolkingsgroepe toon. Hoewel die feesvieringe ’n eksklusiewe karakter mag vertoon, behoort die getuienis universeel te wees: Dat die roem en die oorwinning aan Hom gegee word!

By die Bloedrivierterrein is daar deesdae ’n brug tussen die plek waar die Trekkerlaer was en die plek waar die Zoeloemagte saamgetrek was. Die doel hiervan is om “versoening” tussen Afrikaners en Zoeloes te bevorder. Dit is egter ’n arbitrêre en humanistiese poging en daarom nie baie suksesvol nie. Wanneer Christus en die bevryding wat Hy vir beide groepe op daardie dag bewerk het, erken word, sal ons besef dat Hy die enigste brug van versoening kan wees.

Hoe verklaar jy hierdie blatante vooroordeel?

Hoe verklaar jy hierdie blatante vooroordeel?

“Beste Chris [Swanepoel]

Ek beskou die inhoud van Jurie van den Heever se antwoord op Sondag 28 Oktober se uitsending van Hoe verklaar jy dit? oor die korrektheid en geloofwaardigheid van die Bybel, as haatspraak teen die Bybel en die Christelike geloof. Hy verwys neerhalend na die Bybel en tas my geloofswaarhede en beskouings aan. Hy kruip weg agter teoloë wat hy “ware teoloë” noem asof dit hulle standpunte is wat hy aanhaal. Dit was egter nie hulle wat die standpunt op die lug gestel het nie, maar Jurie. Ek kla dan ook vir jou aan Chris, wat telkens hierdie vrae en sake na Jurie verwys, selfs nadat menige luisteraars hulle ontevredenheid uitgespreek het.

Ek het deur die verloop van etlike jare al by twee vorige geleenthede aan jou geskryf, sonder sukses en sonder reaksie. Ek voel egter genoodsaak om maar weer te skryf, al is ek seker dat daar weereens geen reaksie gaan wees nie. Soos jy sekerlik vermoed, gaan dit weereens oor die uitlatings van Jurie van den Heever oor die Bybel en die Christelike geloof.

Ek sal sekerlik ook gekategoriseer word as een van die “verkramptes”, “konserwatiewes”, “oningeligtes” en volgens Jurie, beslis nie een van die “ware teoloë” nie. Hier is my kommentaar:

  1. Dit is ondenkbaar dat iemand wat nie in die Bybel glo nie, gevra word om kommentaar op die Bybel te lewer.
  2. As julle die kwessie van godsdiens wil vermy, sê dan net so en dat kommentaar op die Bybel, Bybelvrae en Bybelse kwessies nie meer bespreek gaan word nie.
  3. Dit is maklik vir Jurie om na sekere hofuitsprake en ander gebeure te verwys, waar Kreasioniste as onnosel en oningelig uitgewys word en die ander party nie die geleentheid het om die ander kant van die saak toe te lig nie.
  4. Dit is baie maklik om die argument te wen wanneer jy alleen die spreekbuis gebruik en niemand geleentheid het om jou argument te kritiseer nie.
  5. Ek het al ‘n vorige keer gevra en ek vra weer: Wat is Jurie se siening van die Koran? Ek stel dit dus as ’n vraag deur jou aan Jurie! Hy is altyd baie geneë om sy standpunt oor die Bybel en Christene hard en duidelik te stel. Volgens hom is die Bybel mos ’n literêre werk, waaraan die waarheid nie getoets kan word nie. Ek wil graag weet wat sy standpunt oor die Koran en die Moslemgeloof is!
  6. Ek gun vir Jurie vryheid van geloof of dan seker ongeloof, ek gun hom vryheid van keuse oor wat hy as waarheid beskou en ek gun hom vryheid van spraak oor sy eie standpunte, maar ek gun hom nie vryheid van spraak of oordeel oor die Bybel of my geloof nie. Hy kon die vraag bloot antwoord deur te sê dat hy nie in die Bybel glo nie en dan sy standpunt stel en verduidelik hoe hy by die ouderdom van die aarde uitkom. Ek het dan die keuse of ek met hom saamstem en of ek na hom wil luister of nie.

Ek het al vroeër aan jou geskryf dat ek al vir die afgelope vier en twintig jaar getrou elke Sondag na die program luister. Voor jou was daar ander aanbieders. Ek gaan nou die vryheid van my mening gebruik en vir jou sê dat hulle beter sprekers en kenners op die program gehad het. Hulle het kenners van verskillende gebiede gehad om vrae op hul eie gebied te antwoord. Hulle het nie nodig gehad om iemand anders te gaan vra en dan hulle interpretasie van die persoon se antwoord, op die program kom gee nie. Elke keer wanneer daar in die klompie jare ’n nuwe programleier gekom het, het ek met hartseer “afskeid” van die aanbieder geneem. Ek sien egter met opgewondenheid uit dat iemand jou moet opvolg, met die hoop dat sy of hy weer kenners van verskillende vakgebiede na die program sal nooi, en dat ons nie amper elke Sondag deur Jurie verveel hoef te word nie.”

Danilo Stoltz

My gewete is gebind deur die Bybel en ons belydenisskrifte

My gewete is gebind deur die Bybel en ons belydenisskrifte

(Met vergunning van dr. Chris van Wyk, plaas ons sy antwoord op ds. Nelis Janse van Rensburg se artikel waarin hy sy persoonlike standpunt oor die gay-kwessie binne die NG Kerk weergegee het.)

Broer Nelis Janse van Rensburg, ek waardeer die eerlikheid waarmee jy as voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk, jou standpunt oor selfdegeslagverhoudings bekendmaak. Dit open die weg vir ’n openhartige gesprek oor die redes en implikasies van die Algemene Sinode 2016 se besluit.

Ek wil jou herinner daaraan dat die Algemene Sinode 2016 sy besluite geneem het op grond van ’n stortvloed getuienisse uit die kerk. Daar was meer as ’n 100 gravamina van gewone lidmate en leraars, gemeentes, ringe en sinodes, altesaam meer as 800 bladsye. Meer gravamina as ooit tevore. Dit getuig van ’n baie betrokke en meelewende kerk.

Die Algemene Sinode 2016 het op grond van hulle langdurige besinning oor die Skrif en die belydenisskrifte daarom: “herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie.” Dit is ’n gewigtige en leidinggewende besluit. Begrond op die Bybel en die belydenisskrifte.

Jou eie standpunt wyk egter daarvan af. En ek hoor nie dat jy dit begrond in die Skrif en die belydenisskrifte nie. Jy begrond dit in jou eie aanname oor God en wat sy wil vir seksualiteit is. Ek sal graag daaroor ’n paar dinge wil sê ter wille van gesprek.

1. Anders as wat jy beweer, is seksuele oriëntasie nie iets waarmee ’n mens gebore word nie. So lees ek in wetenskaplike artikels. Dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense. Dit word met puberteit al hoe duideliker. Jou fisiese, emosionele, seksuele en romantiese aangetrokkenheid speel alles ’n rol.

Seksuele oriëntasie kan daarom moeilik sonder meer as ’n gawe van God beskryf word, soos jy dit doen. Dit staan nie só in die Bybel nie. Dit is dus nie deel van God se openbaring aan ons nie.

Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges. ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n “goeie gawe van God” moet beskryf. Iets wat moeilik in ’n geloofsgemeenskap gedoen kan word.

2. Om verder uit te brei daarop. Seksuele oriëntasie word glad nie in die Bybel beskryf nie. Net geslagtelike identiteit en seksuele gedrag. God het die mens gemaak as twee geslagte, manlik en vroulik (Gen 1:27). Dit is die Bybelse mens- en wêreldbeeld. Die twee geslagte word egter nie as ’n seksuele oriëntasie beskryf nie, slegs as ’n seksuele identiteit. Seksuele identiteit is ’n gawe van God, nie seksuele oriëntasie nie. Wie daarmee verskil, verander of verwerp die Bybelse mens- en wêreldbeeld.

Die Bybel is ook eksplisiet daaroor dat hierdie seksuele identiteit net in ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou uitgeleef mag word. Alle seksuele aktiwiteit buite die ruimte van die huwelik word veroordeel, soos dit uitvoerig in die wet (Gén. 9; 19; Lev. 18-20; Deut. 19-26), die geskrifte (Rigt. 19), die profete (Mal. 2), sowel as die evangelies en die res van die Nuwe Testament uitgespel word. Dit gaan dus oor seksuele identiteit en gedrag, nie oor seksuele oriëntasie nie.

Jesus beskryf die gedagtes wat onder meer tot owerspel, egbreuk, prostitusie, en losbandigheid lei as boos (Mk. 7:20-23). Hy bevestig die huwelik as die ruimte waar jou seksuele identiteit eksklusief en getrou uitgeleef moet word (Mt. 19). Mense wat nie hulself in ’n twee-geslagtelike huwelik kan uitleef nie, word aangemoedig om selibaat te lewe. Dit sluit almal in, ongeag hoe ons vandag oor seksuele oriëntasie dink.

Ook Paulus is helder daaroor in sy briewe (Gal. 5; Rom. 1; 1 Kor. 5-7; Efés. 5; 1 Tim. 1) soos ook Lukas (Hand. 15), Judas (7) en Johannes (Openb. 2:18-29). Alle seksuele aktiwiteit buite die huwelik word as porneia – losbandigheid of onsedelikheid, waarmee enige seks buite die huwelik bedoel word (Louw-Nida) – beskryf. Daarmee word bloedskande, owerspel, prostitusie en selfdegeslagverhoudings onder meer afgewys.

3. Die hele Christelike tradisie het daarom onveranderd hierdie Bybelse wêreldbeeld vir twintig eeue aanvaar, want die openbaring van die Bybel was die uitgangspunt vir leer en lewe. Dit lees ons in die Didache, Augustinus, Aquinas, Luther, Calvyn, Ursinus en al die gereformeerde belydenisskrifte. Die huwelik is God se gawe aan ons. Selfdegeslagverhoudings is konsekwent afgewys. Sonder uitsondering. Selfdegeslag seksuele verhoudings word beskryf as ‘n “verwarring van die geslagte” en ‘n “misbruik van geslagtelikheid” (Ursinus in sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus 108).

Die besluit van die Algemene Sinode 2016 is hierop begrond. As iemand dit wil verander, sal hy of sy die kerk moet oortuig dat die Skrif en die belydenisskrifte anders oor selfdegeslagverhoudings praat.

Ek wil ook verklaar (soos jy): Aan hierdie boodskap – omdat dit in ooreenstemming is met die Skrif en die belydenis – is my gewete gebonde. Daar is geen kompromie vir my moontlik met ’n diversiteit van standpunte oor geslagtelikheid en seksuele verhoudings nie. Wie daarmee verskil, verlaat die getuienis van die Skrif en die belydenisskrifte, na my oordeel. Selfs as dit ’n Algemene Sinode van die NG Kerk is, soos in 2015 gebeur het.

Uiteindelik bring jou standpunt die Skrif en die belydenisskrifte in gedrang. Dit is die enigste maatstaf wat ons ooit kan aanlê in die kerk. Indien jy ons anders wil oortuig, is die onus op jou om dit uit die Skrif en die belydenis te doen.

Ek staan daarom by die duidelike boodskap van die Skrif en ons belydenisskrifte wat die huwelik tussen ’n man en ’n vrou as ’n Goddelike gawe en instelling aanprys en selfdegeslagverhoudings onomwonde afwys. Ek kan nie anders nie.

Die kerk: Hospice of rehabilitasiesentrum?

Die kerk: Hospice of rehabilitasiesentrum?

Ds. Nelis Janse van Rensburg se skrywe in Kerkbode op 17 September getiteld Die kerk se gesprek oor seksualiteit, het nuwe petrol op die vuur van die kerklike debat oor selfdegeslagverhoudigs gegooi. Die sogenaamde neutrale middelgrond waarop “gematigde” gelowiges kan wegkruip, raak al hoe kleiner aangesien hierdie saak die wese van die evangelie raak. Die skeidslyne raak al duideliker: Aan die een kant kry jy die Chris van Wyks en aan die ander kant kry jy die Nelis Janse van Rensburgs en die meer as 54 teoloë wat hulle by hom skaar. Die een kant kies vir ’n Skrifbeskouing in lyn met die kerklike en reformatoriese tradisie terwyl die ander kant kies vir ’n Skrifverstaan “van onder” waardeur die waarhede van die Skrif nie in stryd met die werklikhede van die tyd kan wees nie.

Ds. Janse van Rensburg is dus reg as hy sê: “Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande.” Hierdie verdeeldheid is egter nie net beperk tot die gemeentegrense van die NG Kerk nie. Dit is inderdaad ’n saak wat die kerk in die breë raak omdat dit uiteindelik oor die hart van die evangelie gaan. Die vraagstuk oor selfdegeslagverhoudings is, wat die kern betref, ’n vraagstuk wat gelowiges en uiteindelik die kerk se verlossingsleer (soteriologie) gaan ontbloot. Dit daag gelowiges uit om opnuut vir hulself die saak uit te maak of hulle hartgrondig saam met gelowiges oor alle eeue heen kan bely dat Christus opgestaan het uit die dode en die sonde oorwin het.

Die gevolg van hierdie twee verskillende hermeneutiese vertrekpunte is uiteindelik twee verskillende kerk- en evangeliebeskouings. Bevind jy jouself aan die kant van die Janse van Rensburgs en die 54 teoloë met hulle “teologie van diversiteit”, beteken dit dat jy die kerk as ’n soort hospice beskou. Ons almal ken ’n hospice. Almal is hier welkom, ongeag wat jou terminale toestand veroorsaak het. Dit is die plek waarheen jy gaan om te sterf. Daar word jy so gemaklik as moontlik gemaak totdat die dood uiteindelik intree. Die evangelie en die “christus” wat hier aangebied word, is soos ’n goeie verpleegster. Dit is nie in staat om jou terminale toestand om te keer nie, maar dit gee ten minste goeie doodsbegeleiding. Dit lawe, maar dit kan nie genees nie. Dit verkondig ’n kragtelose evangelie en uiteindelik ’n dooie “christus”.

Wanneer ’n mens hierdie kerk- (ekklesiologie) en evangeliebeskouing raaksien, verstaan jy ook sekere uitsprake van ds. Janse van Rensburg beter. Hy pleit byvoorbeeld daarvoor dat ’n balans gevind moet word in die kerk deur beide aan Christus en die Skrif vas te hou en terselfdertyd diensbaar te wees aan die gemarginaliseerdes in die samelewing. Die vraag is of gelowiges wat aan Christus en die Skrif getrou is, nie vanselfsprekend ook diensbaar aan die gemarginaliseerdes in die samelewing is nie? Waarom die dualisme so asof die een die ander nie noodwendig insluit nie en ons bloot maar ’n “balans” moet vind?

“Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie”, gaan ds. Janse van Rensburg voort. Sonde is uiteindelik nie opstand teen God en sy gebod nie, maar word gedefinieer as: “wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas.”

Al hierdie uitsprake getuig van ’n hospice-benadering tot ekklesiologie en soteriologie. Wanneer die evangelie bloot goed genoeg is om sondaars in hul sondige (sterwende) toestand te versorg, word dit van sy uniekheid ontneem. Só ’n evangelie en só ’n “christus” is nie in staat om die onmoontlike moontlik te maak nie. Daarom roep dit ons op om eerder ’n balans te vind tussen “vashou aan Christus en die Skrif” en “diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes” deur die aanvaarding van hul sondige gedrag, aangesien die Christus van die Skrif klaarblyklik nie in staat is om die “gemarginaliseerdes” deel te maak van die “skare oorwinnaars” nie.

Met so ’n hospice-benadering kan dit nie anders as dat daar gepleit word vir die versoening van gay mense met hulle seksuele oriëntasie nie. Die beste wat ons kan doen, is om maar vrede te maak met die feit en dit selfs te vier dat ons terminaal siek is. Wanneer ons die Christus van die Skrif ontmagtig, vervlak ons selfs ons sondebegrip tot humanisme wat meer bekommerd is oor mense se menswaardigheid as die eer van God.

Bevind jy jouself egter hermeneuties aan die kant van die Van Wyks, kan jou kerk- en evangeliebeskouing eerder vergelyk word met die van ’n rehabilitasiesentrum. Ook hier is almal welkom, maar die verwagting is dat jy, soos in die kreupel man in die evangelie, uiteindelik jou bed sal optel en loop omdat jy genees is. Dit is ’n plek van hoop waar die verwagting om anders daar uit te gaan as wat jy daar ingekom het, nie teleurstel nie. Hier is Christus nie net ’n verpleegster nie, maar is Hy die Geneesheer. Hy is die Een wat uit die dood opgestaan en die sonde oorwin het sodat elkeen wat in Hom glo, in sy oorwinning kan deel.

Met só ’n ekklesiologiese en soteriologiese vertrekpunt hoef daar nie ’n balans gevind te word tussen Christus en die Skrif en diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes nie. Die gemarginaliseerdes hoef nie gemarginaliseerd te bly nie. Hulle kan deel word van die skare verlostes wie se ongeregtighede almal met die bloed van die Christus van die Skrif bedek is. Met só ’n beskouing is dit nie nodig om gays aan te moedig om met hulle seksuele oriëntasie versoen te raak nie, want nou is versoening met God moontlik. Dit is nie nodig om jou sondebegrip tot die vlak van humanisme te vervlak nie, want oorwinning oor sonde is nie meer afhanklik van my liefdesdade nie, maar van Christus se liefdesdaad van gehoorsaamheid tot die dood.

Gelowiges sal vir hulself die saak moet uitmaak: Hospice of rehabilitasiesentrum? Die een se verwagting is kortstondig en wanhopig, die ander se verwagting is ewig, kragtig en hoopvol. Vir die een is die klip nog voor die graf, vir die ander is die klip weggerol en die graf leeg!