Deur Adv. Nadene Badenhorst, Freedom of Religion South Africa (FOR SA)

Omstredenheid duur voort rondom die Departement van Basiese Onderwys se voorgestelde Omvattende Seksualiteitsvoorligting (ook bekend as Comprehensive Sexuality Education of CSE), in alle openbare skole in Suid-Afrika.

Alhoewel seksualiteitsvoorligting reeds ’n geruime tyd deel is van die Lewensvaardighede- (laerskool) en Lewensoriëntering- (hoërskool) modules, is dit die Departement se voorgestelde Uitgeskrewe Lesplanne (ook bekend as Scripted Lesson Plans of SLPs) vir CSE wat die land aan die gons het. Die voorgestelde Lesplanne (bestaande uit Handleidings vir Onderwysers, en Werkboeke vir Leerders) het aan die lig gekom nadat die Departement dit – op versoek van ’n Lid van die Parlement – aan die Parlementêre Portefeulje Komitee vir Basiese Onderwys beskikbaar gestel, en Freedom of Religion of South Africa (FOR SA) dit daarna op hul webwerf bekendgemaak het.

Terwyl die Uitgeskrewe Lesplanne heelwat goeie inhoud bevat, is daar ook omstrede inhoud waarmee ouers en onderwysers ongemaklik is. So byvoorbeeld, maak die Uitgeskrewe Lesplanne vir Graad 7 die stelling dat masturbasie “normaal” is en jou “nie sal seermaak nie”. Alhoewel die Departement moontlik ’n argument kan uitmaak waarom 13-jarige leerders moet weet wat masturbasie is (m.a.w. om die feite mee te deel), is daar egter ’n sterk argument uit te maak dat die Departement nie verder behoort te gaan nie en aan leerders voor te sê watter seksuele gedrag “normaal” is of nie en op watter ouderdom (m.a.w. om ‘n waarde-oordeel te maak).

Dit is juis waarde-belaaide stellings soos hierdie wat aanleiding gegee het tot verskeie inisiatiewe, veral op voetsoolvlak, om ouers in te lig oor en hulle tot aksie op te roep teen CSE. ’n Voorbeeld is die #Leaveourkidsalone-veldtog wat einde verlede jaar op sosiale media begin is en reeds meer as 134,000 lede het. Hulle organiseer tans ’n nasionale protes-aksie teen CSE vir 13 Februarie (i.e. die dag waarop die Parlement open).

Die Uitgeskrewe Lesplanne word tans in 1,500 openbare skole in vyf provinsies (naamlik Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap) op die proef gestel, waarna die Departement hoop om dit in alle openbare skole in die land uit te rol. (Ten spyte van verskeie versoeke, het die Departement tot nou toe nog nie ’n lys beskikbaar gestel van die spesifieke skole wat tans deel van die loodsprojek vorm nie).

 

Vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers

Op uitnodiging van die Departement, het godsdienstige en tradisionele leiers op Donderdag, 23 Januarie 2020 met die Departement vergader om voortslepende vrae en bekommernisse aangaande CSE aan te spreek.

Die vergadering is ook bygewoon deur ’n groot aantal jongmense en verteenwoordigers van nie-winsgewende organisasies wat geen geheim van hul dawerende ondersteuning aan die Departement (en skerp kritiek op die geloofsgemeenskap) gemaak het nie. Dit, ten spyte daarvan dat die Departement se uitnodiging na die vergadering spesifiek aan godsdienstige en tradisionele leiers gerig was en dat verskeie van hulle deur die Departement weggewys was omdat hulle kwansuis nie geakkommodeer kon word nie.

Die vergadering het op ’n slegte noot begin met die Departement se Adjunk Direkteur-Generaal, dr. Granville Whittle, wie die godsdienstige leiers daarvan beskuldig het dat hulle vals nuus en homofobie versprei en nie die inhoud van die kurrikulum gelees het nie. Ongelukkig was dit gou duidelik dat die vergadering nie ’n platform sou wees vir konstruktiewe dialoog met die oog daarop om ’n “middelweg”, wat die Departement en die (menigte bekommerde lede van die) publiek en die godsdienstige gemeenskap tevrede sou stel, te vind nie.

By hierdie vergadering, het die Departement dit baie duidelik gemaak dat, sodra die proeftydperk voltooi is, Uitgeskrewe Lesplanne in alle openbare skole, vanaf Graad R tot Graad 12, geïmplementeer sal word. Volgens dr. Whittle sál die Uitgeskrewe Lesplanne verpligtend wees en is daar geen opsie vir ouers wat nie met die inhoud van die Lesplanne saamstem nie, om hul kinders van daardie lesse te onttrek nie. (Vir meer oor die Departement se vergadering met godsdienstige en tradisionele leiers, kyk hier.)

 

Vergadering met skoolbeheerliggaam-verenigings en onderwysvakbonde

Die volgende dag, op Vrydag 24 Januarie 2020, het dieselfde Departement met skoolbeheerliggaamverenigings en onderwysvakbonde (insluitende FEDSAS, NAPTOSA, SAOU, ens.) vergader. Verskeie van dié verenigings en vakbonde het reeds hul verbasing en kommer uitgespreek dat die Departement nooit CSE met hulle bespreek het nie, ten spyte daarvan dat die Nasionale Raadplegende Forum (NRF), wat juis in plek gestel is as ’n forum waar hierdie tipe kwessies bespreek en insae verkry word, elke kwartaal vergader.

By die Vrydag-vergadering het die Departement weereens verduidelik dat die kurrikulum nie verander nie – m.a.w. die CAPS-kurrikulum, waarvan Lewensvaardighede en Lewensoriëntering verpligtende modules is, bly in plek vir alle openbare skole. In teenstelling met wat die Departement egter die vorige dag gesê het, het die hulle by hierdie vergadering gesê dat die Uitgeskrewe Lesplanne nie verpligtend sal wees nie en dat skole (en by implikasie, onderwysers) vry sal wees om self te kies watter bronne of materiaal hulle wil gebruik om seksualiteitsvoorligting aan te bied.

Dié posisie is in lyn met artikel 6A van die Skolewet, wat die Minister van Basiese Onderwys die mag gee om die minimum uitkomste te bepaal, soos uiteengesit in die Nasionale Kurrikulumverklaring, maar nie die mag om die bronne wat skole of onderwysers moet gebruik om hierdie minimum uitkomste te bereik, te bepaal nie. Dit strook ook met die Departement se eie beleidsdokumente, insluitende die Witskrif op Onderwys en Opleiding, wat bevestig dat ouers die primêre opvoeders van hul kinders is met die reg om gekonsulteer te word en om hul kinders volgens hul waardes en volgens wat hulle (as ouers) glo in die beste belang van hul kinders is, te laat onderrig.

Die Departement se posisie, soos uiteengesit by die Vrydag-vergadering, bevestig en konsolideer die posisie waarvoor FOR SA van meet af aan gepropageer het – dat die regte van ouers en onderwysers (soos respektiewelik uitgeoefen deur skoolbeheerliggame en onderwysvakbonde) gerespekteer en beskerm moet word en dat die status quo gehandhaaf moet word. Wat egter steeds onbeantwoord bly, is of ouers wat nietemin gewetensbesware het of nie gemaklik is om hulle kinders aan (sekere komponente) van CSE bloot te stel nie, die reg sal hê om hul kinders van daardie klasse te onttrek.

 

Geleentheid vir kommentaar op die Uitgeskrewe Lesplanne

Tydens die Vrydag-vergadering met skoolbeheerliggaamverenigings en onderwysvakbonde het die Departement ingestem om die Uitgeskrewe Lesplanne (beskikbaar hier op die Departement se webwerf) vir kommentaar oop te stel tot Vrydag, 28 Februarie 2020. Kommentaar kan gestuur word aan dr Whittle by whittle.g@dbe.gov.za en buys.q@dbe.gov.za.

FOR SA moedig inderdaad ouers, onderwysers en ander belanghebbendes aan om die geleentheid aan te gryp om kommentaar op die Lesplanne te lewer, spesifiek ook om seker te maak dat hul regte beskerm bly – (as ouers) om nié hul kinders aan waarde-belaaide inhoud waarmee hulle nie saamstem nie of mee ongemaklik is, bloot te stel nie en (in die geval van onderwysers) om sodanige materiaal aan te bied nie. Terwyl sommige ouers en onderwysers geen probleem met die leermateriaal mag hê nie, bly die beginsel dat die Staat ouerlike keuse – veral met betrekking tot sensitiewe, waarde-belaaide kwessies soos seksualiteitsvoorligting – moet respekteer en akkommodeer.

 44 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial