
Om die huidige omstandighede as ʼn histeriese paniekaanval te beskryf, suggereer dat daar ʼn oormatige reaksie op die feite is, iets wat moontlik selfvernietigend kan wees. Hierdie meningstuk wys op die feite wat tans tot ons beskikking is, sonder om die werklikheid te reduseer. Dit blyk dat die groot geraas veroorsaak word deur kortsigtige selfbewaring, tropdiere wat nie vir hulself dink nie en irrasionele vrees. Daarteenoor het ons eerder selfopofferende reaksie nodig, waar naasteliefde jou twee keer laat dink, terwyl jy op logiese wyse met die bewese feite omgaan.
Die werklikheid op grondvlak
Dit is gevaarlik om oor “feite” te praat, want soos wat navorsers se kennis van die virus daagliks toeneem, is daar elke dag ʼn nuwe stel feite wat verreken moet word. ’n Mens kan dus slegs besluite neem op grond van die feite wat op daardie oomblik tot jou beskikking is. Dit vra egter ook ʼn bereidheid om ons reaksie telkens te heroorweeg op grond van die nuwe inligting.
Nuwe inligting soos die gemiddelde ouderdom van persone wat gesterf het en ook hoeveel van hulle reeds aan ander kwale gely het, moet in ag geneem word. Aanvanklike modelle oor die verspreiding en impak van die virus moes intussen aangepas word. Viroloë pas daagliks hul eie modelle aan. Dit wys dat ons rekenaarmodelle en oorhaastige veralgemenings, wat gelei het tot talle regerings se inperkende besluite, gegrond was op onvoldoende inligting en ontoereikende data.
Soos wat werklike syfers beskikbaar raak en nie blote modelle nie, kan ons hierdie virus met vorige pandemies vergelyk. Daarom is ons dankbaar dat dit lyk asof die virus minder aansteeklik is as masels en waterpokkies en dat dit nie die sterftesyfer van iets soos Ebola het nie. Al weet ons dat veral bejaardes en diegene met bestaande mediese toestande deur die virus geraak word, moet ons daarteen waak om nie nou bejaardes en siekes tot blote kolletjies op ’n grafiek te reduseer nie. Elkeen wat sterf, is ʼn werklike verlies vir ʼn hartseer familie.
Een van die stemme wat pleit vir redelikheid en werklike wetenskaplike navorsing, is die hoof van statistiek en virologie by Stanford Universiteit, John Ioannidis. Hy wys daarop dat die populêre statistiek wat deur die media gerapporteer word op grond van “amptelike” syfers deur die owerhede, vanuit ʼn wetenskaplike oog nutteloos is, aangesien dit nie ʼn weerspieëling van die werklikheid is nie. Die rede hiervoor is omdat slegs diegene met erge simptome getoets word, omdat daar beperkte vermoëns is om mense te toets.
Die feit is dat daar nog nie genoeg inligting is om met sekerheid te kan sê hoe erg Covid-19 se sterftesyfer werklik is nie. Daarom dat regerings op modelle staatgemaak het wat met verloop van tyd ernstige gebreke vertoon het.
Wat egter bekommerenswaardig is, is die feit dat die Suid-Afrikaanse regering onwillig is om die data wat hulle vir hul modelle en besluite gebruik, met die publiek te deel. “It is covered under a non-disclosure agreement with the department of health”, aldus Sinenhlanhla Jimoh (NIOS woordvoerder).
’n Mens sou verwag dat president Ramaphosa tydens sy aankondiging van die verdere twee weke van inperking die inligting met die land sou deel. Veral omdat hy beweer het dat die gemiddelde daaglikse styging van infeksies gedurende die twee weke voor die inperkings 42% was, terwyl dit na die inperking slegs met 4% ’n dag gestyg het.
Het iemand ooit sy syfers gekontroleer? Die feite is dat die persentasiegroei die twee weke voor die inperking 32% was. Kom ons aanvaar dat dit ’n tikfout in sy toespraak was en dat hy nie, nes oor plaasmoorde, blatant vir almal gelieg het nie. Tog behoort hierdie skerp afname ons ernstige vrae oor die toetse en statistiek te laat vra. Het ons hier rede om die president te loof vir sy “uitnemende leierskap” of is die aanspraak op die aanvanklike sukses van die inperkings op skewe statistiek gegrond?
In werklikheid het ons ʼn groot probleem met te min toetse wat gedoen word. Die gemiddelde toetse vir die eerste 42 dae was maar 2155 per dag. Op 18 Maart berig News24 dat die rede hiervoor is omdat Suid-Afrika nie genoeg toetsstelle het nie. Die grafieke bevestig dit. Tot op 27 Maart styg Suid-Afrika se grafiek in pas met die res van die wêreld, maar daarna val ons van 243 nuwe gevalle per dag na net 17. Was die inperking so vinnig suksesvol? Nee, die getal toetse per dag het afgeneem van oor die 8000 na net oor die 3000 tot op ʼn laagtepunt op 6 April toe net meer as ʼn 1000 toetse gedoen is.
Sedertdien word al meer mense per dag getoets. Op 17 April het ons eers weer meer as 7000 toetse gedoen waarvan 251 positief was. Dit vergelyk met die 243 van vroeër. Sommige van die 7000 is egter meer as een keer getoets. Jy kan dus nie die persentasie van positiewe gevalle bereken op grond van die aantal toetse nie. Wat jy daarvoor nodig het, is dat meer nuwe mense per dag getoets moet word.
Neem ons in ag dat meer as 80% van
hierdie toetse deur middelklas-mense met mediese fondse by privaat
laboratoriums gedoen is, word dit duidelik dat dit nie as ʼn verteenwoordigende
steekproef sal kwalifiseer nie en daarom kan daar ook nie ingrypende besluite aangaande
die staat van inperking op grond van hierdie syfers geneem word nie.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes beweer dat hulle modelle die
toestande in plakkerskampe en hoëdigtheidsgebiede in ag neem. Hul weier egter weereens
om hierdie modelle en data aan die publiek beskikbaar te stel. Indien dit later
blyk dat die ekonomie tot ʼn val gekom het vanweë oorskatte syfers en ʼn
histeriese paniekaanval, gaan al die werkloses na ʼn sondebok begin soek. Die
regering met sy geheimhouding het die klimaat vir ʼn revolusie bewerkstellig.
Is die reaksie gevaarliker as die virus?
Lewer die staat van inperking werklik beter uitkomste? Die Suid-Afrikaanse regering koester sy noue band met kommunistiese China en volg hulle nie net na met die beperkte bekendmaking van inligting nie, maar ook in die toepassing van dieselfde outoritêre inperkingsmaatreëls. Dit terwyl daar geen sekerheid is dat dit beter uitkomste lewer as byvoorbeeld die van Swede wat nie ʼn staat van inperking aangekondig het nie.
Met die meeste Suid-Afrikaners wat hulself as Christene identifiseer, behoort dinge soos isolasie, kwarantyn en inperkings nie te lei tot gewetensbesware omdat dit in stryd met Bybelse beginsels is nie. Dit is eerder opmerklik hoe daar in ʼn sekulêre samelewing gegryp word na Bybelse oplossings vir die probleem. Kwarantyn en afsondering as oplossings dateer vanuit baie eeue voor ons moderne kennis van mikrobiologie en virologie (vergelyk Levítikus 13-15). Daar is egter geen manier waarop die grootskaalse kwarantyn van ʼn hele bevolking, wat sonder enige simptome is, vanuit die Bybel geregverdig kan word nie.
Sosialiste en Marxiste het deur die geskiedenis bewys dat hulle nie ʼn geleentheid laat verbygaan om die vuur aan te blaas en ʼn krisis uit te buit nie. Daarom dat die ANC die talle “noodregulasies” gebruik om sy ideologie van transformatisme te bevorder. Net so is daar ook diegene soos die voormalige Britse Eerste Minister, Gordon Brown, wat streef na ʼn “tydelike” wêreldregering om die krisis die hoof te bied.
Die argument word ook gevoer dat jy nie menselewens en die ekonomie teen mekaar kan afspeel nie. Dit word egter al hoe duideliker dat die lewensverlies as gevolg van werkloosheid en armoede, danksy die toegepaste inperkings, groter gaan wees as wat die virus tot gevolg sou hê.
Dit wil dus lyk asof die opskorting van alle normale aktiwiteite ʼn onnodige oorreaksie op grond van verkeerde aannames was, sonder om die gevolge van die reaksie te verreken.
Die gevaar van reduksie
Die gevaar van reduksie is deel van die probleem agter die owerheid se reaksie. Hulle het op die virus gereageer as iets wat gemeet moet word aan die aantal mense wat daaraan kan sterf. Hierdie redusering van die mens se welsyn skep egter ʼn groter gesondheids- en welsynramp.
Mense is meer as biochemiese organismes. Ons lewens bestaan uit deelname aan talle aktiwiteite wat alles saam ons gesondheid en welsyn beïnvloed. Die aangeblaasde paniek dryf meer mense tot selfmoord.
Die skade aan hulle gesondheid deur werksverlies, angs, vrees, sosiale afsondering, verlies aan spaargeld, gebrekkige mediese dienste en ontwrigte gemeenskappe kan uiters vernietigend wees. Kwesbare bejaardes wat reeds in ouetehuise van die buitewêreld geïsoleer is, word beroof van broodnodige sosiale kontak, ontspanning en stokperdjies omdat hulle nie uit hul kamers mag kom nie. Ten spyte van die vrees dat ons mediese infrastruktuur nie die krisis kan hanteer nie, kan hierdie werklike gevolge nie ontduik word nie.
In hierdie tyd wat die swaard van die dood ywerig in die lug geswaai word, het gelowiges die geleentheid om waagmoedige en getroue getuies te wees van die lewe, hoop en vryheid wat net die evangelie van Jesus Christus bring. Ons het die roeping om mense te wys op die Woord van God deur stemme van waarheid, redelikheid en kalmte te wees. “Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7).