Die afgelope paar weke word ons gebombardeer met klankgrepe, nuusflitse en menings aangaande die COVID-19-golf wat oor die aarde rol. Die geraas hiervan is erger as jou bure wat in die middel van die nag Bohemian Rhapsody probeer sing. Natuurlik was daar nie net geraas gewees nie, maar soos wat al hoe meer mense sonder oudisies in die koor begin sing het, het die simfonie in ʼn kakofonie ontaard. Die uitdaging kom nou om die suiwer en vals klanke van mekaar te skei.

Die voorkoms en verspreiding van COVID-19 is met reg ontstellend, veral vir bejaardes of mense met bestaande mediese toestande. Dit is egter die nuutheid van hierdie virus wat daartoe lei dat onsekerheid volop is en daarom die geraas van wanvoorstellings en fopnuus wat soos ʼn veldbrand versprei.

In plaas daarvan om woorde versigtig te kies, word dinge soos besmet en siek, dodelik en aansteeklik skielik sinonieme. Jy hoor selfs van Korona-verwante sterftes, asof daar nie ʼn verskil is aan iemand wat met ʼn siekte doodgaan en iemand wat van ʼn siekte sterf nie. Skielik kry almal daagliks ʼn dosis histerie met elke berig of klankgreep in. Die gevolg is dus nie verbasend nie – ʼn beklemming om die hart en gevestigde lewenspatrone wat oornag verander word uit vrees vir wat voorlê.

Net so ontstellend is die reaksie wat jy kry wanneer jy probeer om die ware en valse klanke van mekaar te skei, want hoe durf jy die algemeen-aanvaarde narratief bevraagteken? In Suid-Afrika kan jy selfs tronk toe gestuur word daarvoor. Jy durf nie kritiek lewer op enige aksies nie. Selfs al vra jy net vrae, kan jy verwag om beskuldig te word van harteloosheid, liefdeloosheid, nalatigheid. Skielik kry jy dieselfde etiket as diegene wat Nazi-vergrype ontken. Deur selfs te praat van ʼn grendelstatus, is nie polities-korrek nie! Dalk is dit hierdie reaksies wat my die afgelope tyd die meeste ontstel het. Ek leer immers my kinders om alles te bevraagteken en te toets. Dalk is dit tyd dat ons dit self begin doen.

Die soewereiniteit van God

Wanneer ons dus vrae het oor die huidige situasie en die hantering daarvan, dan moet ons uit die staanspoor daarteen waak om nie ligtelik om te gaan met mense se werklike vrees of enige verliese wat hulle mag ervaar nie. Dit is duidelik dat ons met twee virusse te doen het, naamlik ʼn Korona-virus en ʼn paniek-virus.

As gelowiges moet ons besin oor wat ons in die Skrif oor siektes en paniek leer. Ons moet ook die huidige reaksie op die virus ernstig opweeg, sonder om die werklikheid te reduseer. Ons moet op grond van die feite vra (en op nugtere wyse bepaal) watter optrede die verspreiding van die virus in Suid-Afrika kan temper, watter uitkoms daar vir diegene wat reeds siek is, die armes en die werkloses is. Wat is die politieke en sosiale gevolge waaraan ons tans blootgestel word? Baie van die geraas word deur sekulêre mense veroorsaak wat daarop aandring dat epidemies en die menslike reaksie daarop bloot in biologiese en sosiologiese terme gesien moet word, daarom word die hand van God in hierdie sake afgelag.

Binne die Christelike-lewens-en-wêreldbeskouing is alle dinge onder die heerskappy van die soewereine God en sy voorsienigheid. Hy is aktief betrokke by die wêreldgeskiedenis deur sy verbondsbeloftes van seën en vervloeking tot uitvoer te bring. Die vraag is dus: Waar pas hierdie virus en paniek binne God se verbondseëning en –oordele? Dit is ook waarom hierdie krisis ʼn leerskool vir sowel God se kinders as vir ongelowiges is.

Hierdie virus kan allermins beskou word as God wat sy seën oor die nasies uitstort. Tog kan God steeds sy volk ten midde van dit alles seën en sal Hy ook hierdie virus gebruik om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hy liefhet.

Die oordele van God

Die Bybel loop oor van God se waarskuwings oor siektes en peste wat wag vir diegene wat in ongehoorsaamheid en opstandigheid teenoor Hom bly volhard (Ex. 7-11; Deut. 28: 21,22,27; 2 Kron. 7:13; Eség. 14:21; Amos 4:10; Rom. 1:27; Openb. 16:9; 18:8, ens.). God waarsku sy volk, net soos die ander nasies, dat Hy peste, plae en allerlei ellende op hulle sal laat reën indien hulle in ongehoorsaamheid die rug op Hom draai (bv. Deut. 28). Christene is nie immuun teen God se tugtiging nie (vgl. 1 Petr. 4:17).

Peste en plae is nie die enigste vorme van oordeel wat ons in die Bybel kry nie. Danksy die werklikheid van sonde en boosheid, lees ons gereeld van paniek, verwarring en raserny as reaksie op God se werke in hierdie wêreld.

Prediker beskryf die menslike toestand so treffend: … die hart van die mensekinders (is) vol boosheid, en dat die dwaasheid van hulle hart gedurende hulle lewe (is) (Pred. 9:3). Hierdie wesenlike boosheid beteken dat die mens se reaksie op God se oordeelswerke nie een van bekering en geloof is nie, maar eerder vrees, paniek en verwarring.

Toe die Egiptenare ná al die plae die Israeliete in die woestyn agtervolg het, het God hulle in verwarring gebring (Ex. 14:24). Per geleentheid tydens die regering van koning Jósafat het God hulle vyande so in verwarring gebring, dat hulle mekaar begin doodmaak het (2 Kron. 20:22; vgl. ook 1 Sam. 14).

Ook die Israeliete word gewaarsku teen verwarring en kranksinnigheid en blindheid as deel van God se oordeel indien hulle ongehoorsaam sou wees (Deut. 28:28). Jesaja 22:5 en Sagaría 14:13 waarsku dat God se oordeel met rumoer, vertrapping en verwarring gepaard sal gaan.

Kortom, die Here openbaar Homself nie as  ʼn sagte hanslammetjie as dit by die mens se boosheid en sonde teen sy Skepper kom nie. Ons sien dwarsdeur die Bybel ʼn verband tussen boosheid en ongehoorsaamheid; asook peste, plae, verwarring en paniek. Die voortspruitende chaos is dikwels ʼn duideliker uitdrukking van God se oordeel as die aanvanklike plaag.

Wanneer die dood soos ʼn swaard oor ongelowiges se koppe hang, dryf dit hulle tot onnosel en irrasionele besluite, terwyl hulle skynheiligheid ook ontmasker word. ʼn Paar maande terug nog het al wat liberalis is, beswaar gemaak teen landsgrense as iets wat basies die enigste boosheid in die wêreld is. Nou kan hulle die grense nie vinnig genoeg sluit nie. ʼn Staat wat alles wil beheer, sentraliseer en voorskryf, het skielik privaatondernemings nodig om mediese toerusting te vervaardig, terwyl die tekstielbedryf wat maskers aan nooddienswerkers kan voorsien, gesluit moet word! ʼn Kultuur wat ongebore kinders by die duisende vermoor en genadedood in die naam van menswaardigheid regverdig, is skielik besorg oor blootstelling aan ʼn moontlike moordenaar van miskien 1% van diegene wat besmet word.

Die Bybel verwys dikwels na mense as skape. Op die oomblik sien ons die aktualiteit van daardie beeld, want soveel tropdiere wat nie vir hulself kan dink nie, maar wat agter elke vals storie op sosiale media, of dit wat regerings aan hulle opdis, aanloop, het ons lanklaas gesien. Vir ʼn geslag wat daarop roem dat hulle wetenskaplik is en alles op feite en bewyse gegrond wil hê, is daar darem baie spekulasie en apokaliptiese nuusberigte wat vir lusern opgevreet word. Massa-histerie, paniekaankope, afleggings, tuimelende markte en die drakoniese inperking van mense se vryhede, word aangevuur deur ʼn mediakultuur wat streef na sensasionele opskrifte. Daar is egter ook ʼn inherente bewussyn dat die wêreld soos ons dit ken, iewers tot ʼn einde gaan kom. Die mense se vrees is dat daardie dag aangebreek het.

Rampe, epidemies en paniek herinner ons telkens dat die geskiedenis ʼn getuie is van God se volgehoue oproep tot bekering wat gerig is tot sy volk en die nasies. Die boodskap bly steeds dat almal wat nie tot bekering kom nie, net so sal omkom (Lk. 13:1-5). Vir gelowiges is hierdie ʼn geleentheid om te getuig van die waarheid, skoonheid en helende krag van die evangelie.

Om die huidige omstandighede as ʼn histeriese paniekaanval te beskryf, suggereer dat daar ʼn oormatige reaksie op die feite is, iets wat moontlik selfvernietigend kan wees. Ek beoog om in ʼn volgende meningstuk te wys op die feite wat tans tot ons beskikking is, want wanneer Queen sing en wanneer my bure sing, is dit net nie dieselfde nie.