Ope brief aan die Staatspresident
soos uitgereik deur die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Geagte Meneer die Staatspresident,

U sterk evangeliese agtergrond en gereelde optrede by Christelike kerke, het daartoe gelei dat u as staatspresident, Christene by meer as een geleentheid in die openbaar opgeroep het om as morele kompas vir die land te dien en die kerk versoek het om vir u en die regering te bid. As lidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk doen ons dit gereeld – nie omdat u dit versoek het nie, maar omdat God, die Here, in sy Woord die opdrag daar­toe gegee het. Alle gesag behoort aan Hom: Hý sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:21). Aan regeerders verleen Hy die gesag om as ’t ware namens Hom só te regeer dat mense … ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:2). Daarom bid gelowiges vir gesagsdraers dat hulle God se opdrag getrou, tot sy eer en tot heil van hulle onderdane mag uitvoer. Ook u gesag as staats- en regeringshoof is verleende gesag – dit is aan u verleen deur die ewige Koning, Jesus Christus. Daarom is u aan Hom verantwoordelik vir die manier waarop u die gesag wat Hy u gegee het, uitoefen.

Die Here roep mense op om sy getuies te wees. Die getuies se woorde is ontleende woorde en hulle getuienis slegs getuienis van wat hulle gehoor het. Hulle mag nooit anders sê nie as: “So spreek die Here.” As getuies van die Here is hulle dus ook aan God verantwoordelik vir die manier waarop hulle sy raad en wil aan u betuig. In die nederige gesindheid van ’n kneg in diens van die Here, word hierdie skrywe aan u gerig in ’n beskeie poging om iets te laat hoor van die kommer in die hart dat die eer van God en die heil van die mense oor wie u regeer, deur u regering aangetas word.

As daar vir u regering gebid word, kan dit nie anders nie as volgens die inhoud en voorbeeld wat die Here Jesus self aan ons geleer het in die volmaakte gebed, die Onse Vader. Wanneer daar gebid word, ook wanneer u vra dat daar vir u en u regering gebid moet word, dan moet daar met ootmoed en erns tot God genader word. Iemand wat bid wat hy nie bedoel nie, laster teen die Here. Dit sou vir hom beter wees as hy sou swyg.

Die eerste drie bedes van die Onse Vader is die onontbeerlike fondament vir ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waarheid.

Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied … (Mt. 6:9-10), is die smeekbede dat daar, uit respek en eerbied vir God, erns ge­maak sal word met sy Naam; sy gesag en sy wil.

Die drie bedes eggo die eerste vier gebooie van die Here, wat ons daartoe dring om geen ander gode te hê of te aan­bid nie; met eerbied en erns voor God te lewe en Hom nie anders te dien as wat Hy beveel nie.

Dit bly vir ons onbegryplik dat ’n staat waarvan meer as sewentig persent van die inwoners te kenne gee dat hulle in Christus Jesus glo, bereid is om dié drie bedes gering te skat deur met ’n neutrale grondwet tevrede te wees. U regering is egter nie bloot neutraal nie. U handhaaf nie slegs die beginsel van godsdiensvryheid nie. Inteendeel, as regering bevorder en propageer u in die openbaar godsdiensgelykheid. By regeringsgeleenthede nooi u regering alle gelowe om saam te bid en godsdienstige rituele uit te voer. So maak u regering ’n bespotting van die gebed en van God se wet. U spot met God – en geen erger ydel gebruik van sy Naam is denkbaar nie.

Daarmee kom die grondliggende en ware swakheid van u regering en sy optredes aan die lig. U moet onthou: U en die regering is nie eerstens aan ’n party, ’n parlement of aan kiesers verantwoording verskuldig nie. U is heel eerste aan God verantwoordbaar. As daar nie eerbied en ontsag vir Hom as die enigste, ware, lewende God is nie, sal daar ook nie respek vir sy gesag of wil wees nie. Hy waarsku dat Hy elkeen wat ligtelik met Hom omgaan en sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf sal laat bly nie (Ex. 20:7).

Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, het aan koning Frans van Frankryk geskrywe: “Die koning wat in sy ryk nie só regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof.” Kom die plundering van die land onder die regerings van die afgelope 25 jaar nie neer op die berowing van God se eer nie en is dit nie ’n sprekende bewys van die waarheid van Calvyn se woorde nie?

Die Here Jesus leer ons verder bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe (Mt. 6:11).

Dit is ’n bede om ’n lewe waarin daar vir elkeen ruimte tot bestaan en roepingsvervulling is. In die wet van die Here gee Hy self vir ons die gebooie wat dit moontlik maak om so ’n lewensruimte te handhaaf. In die gehoorsaamheid aan God se wet, word daar vir elkeen ’n plek gegee waar hy sy roeping kan nakom; homself en dié wat aan sy sorg toevertrou is kan beskerm en versorg; die eiendom wat hy uit die hand van God ontvang in vrede kan benut; sy eer en goeie naam kan behou. Waar daar só gelewe word, is daar ruimte vir deernis met mekaar en erkenning dat ons almal uit God se hand en in sy genade leef; sodat die reg op barmhartige wyse gehandhaaf kan word.

Die gehoorsaamheid begin by die respek wat ons het vir God en vir die mense met wie ons saam lewe. Dit word uitgedruk in gehoorsaamheid aan die gesag van hulle wat God oor ons gestel het. Daaruit volg respek vir die reëls waarvolgens en die grense waarbinne ons met mekaar saam lewe. Sonder respek vir mekaar en vir wet en orde, is geen ruimte moontlik vir ’n samelewing waar ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waardigheid gelewe kan word nie. Sonder daardie respek is daar geen deernis en omgee vir mekaar se swakheid en nood nie en word die reg ’n klug om eiebelang te beskerm.

Laat ons nie doekies omdraai nie, Meneer die President. Die misdaadgolf in hierdie land is nie die gevolg van broodsgebrek en ekonomiese nood nie. Dit is die gevolg van ’n diepliggende gebrek aan respek vir God, vir sy Woord, vir wet en orde en vir die mense met wie saam geleef moet word. Met diep kommer moet gestel word dat u regering aktief tot die gebrek aan respek bydra. U regering ondermyn ouerlike gesag en daardeur respek vir alle gesag, met wetgewing wat lyfstraf as wyse waarop ouerlike tug en opvoeding tuisgebring mag word, kriminaliseer. U regering laat toe dat duisende ongebore kinders elke jaar deur aborsie vermoor word, maar iemand wat moord pleeg, mag nie die doodstraf kry nie. So ondermyn u regering die waarde en waardigheid van lewe en spoor doodslag aan deur nie diegene wat dood en geweld aanblaas, te straf nie. U inkonsekwentheid ten opsigte van haatspraak, u onwilligheid om plaasmoorde, soos bendegeweld, as prioriteitsmisdade te hanteer tesame met ’n korrupte polisiemag, hits die disrespek aan.

U regering vernietig respek vir die heiligheid en die waarde van die huwelik as hoeksteen van ’n gesonde gemeenskapslewe deur selfdegeslag-huwelike te wettig, pornografie toe te laat en seksuele uitspattigheid deur middel van die nuwe voorgestelde leerplan vir lewens­oriëntering (sg. “CSE”) te legitimeer en te bevorder. Korrupsie, wat steeds onder u regering voortwoed, ken geen respek vir eiendom, geld of goed nie. Onder u regering word erfgrond soos ’n Nabotswingerd beskou – as die koning dit wil gryp, doen hy dit. U regering ondermyn respek vir die waarheid deur die valse beskuldigings waarmee die witmense in die land gedemoniseer word. U eie verwronge weergawe van die gebeure by Bloedrivier getuig daarvan. Daarby ondermyn u regering die respek vir die reg deur dikwels met vooroordeel te handel en te vonnis.

Calvyn skryf aan koning Frans: “Voorts bedrieg ’n ko­ning homself wanneer hy langdurige voorspoed vir ’n ryk verwag wat nie deur die septer van God, dit is deur sy heilige Woord, geregeer word nie.” Hoe verwag u dat daar onder u regering voorspoed in die land kan wees sonder gehoorsaamheid aan God se gesag en wil?

Gebrek aan respek vir God, vir ander en vir wet en orde, vernietig selfrespek. Dit laat selfsug en soeke na eiebelang in mense botvier as die enigste manier waarop hulle sin aan hulle bestaan gee. Die Here leer ons om te bid dat ons bestaan nie daardeur vernietig sal word nie:

… en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (Mt. 6:13). Die laaste van die Tien Gebooie dring ons om ons eie begeertes ondergeskik aan God se wil en beskikking te stel.

Die grondslag van u regering berus egter op die uitgangspunt van die regte van mense en nie op die reg van God nie. In homself dra die veel geroemde grondwet die kiem van ondergang. Dit spreek immers van die heel vroegste verleiding: Dat ’n mens nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie, maar self jou eie godjie kan word. In hierdie valsheid word ’n land prysgegee aan die Bose; word ’n staat die gestalte van die antichris.

Meneer die President, dit is met groot kommer in die hart en diepe besorgdheid oor die mense in die land waarmee aan u geskryf word. Wie van die pad van God afwyk, loop onvermydelik die pad van God se oordeel. Dit is op dié pad waarop u regering ons lei. Daarom doen ons op u en u regering ’n dringende beroep:

Moenie net vra dat vir u gebid word nie, maar wys deur u dade dat u God en sy wil, waarvoor u vra daar gebid moet word, erken en dien.

Ter wille van al die mense van die land, bid ons vir die regering en vir u as staatspresident. Ons bid dat u as kneg(te) van God sý eer sal dien; met respek sal optree teenoor elkeen oor wie God u aangestel het deur respek te toon vir God se wet en orde; die werke van die Bose sal teengaan deur in onderworpenheid aan God te regeer. Ons bid dat u só sal regeer dat u ons nie langer op die pad van oordeel sal lei nie. As dit nie gebeur nie, bid ons dat God self vir ons ’n regering sal gee wat met Hom en met sy Woord erns sal maak, sodat ons ’n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid kan lei.

 52 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial