Ék is ook reeds salig

Ék is ook reeds salig

Welgeluksalig is … (Ps. 1:1); [HK So. 7 V/A 20].

Op die juigkreet van Sondag 6 van die Kategismus dat Christus deur God as Middelaar aan ons geskenk is, volg die logiese vraag: Wie vind almal baat by sy Middelaarskap? Ons moet versigtig wees om nie hierop slegs ’n algemene, teologiese antwoord te gee nie. Die Kategismus raak in der waarheid baie persoonlik. “Word alle mense dan weer deur Christus salig?” dwing ons om ons eie posisie te oorweeg. Is ek inge­sluit? Dit is nie ’n vraag wat ek eers “eendag” sal moet antwoord nie, maar waaroor ek nou reeds sekerheid moet en kan hê. “Word alle mense … salig” wek die indruk dat saligheid eers iewers in die toekoms op ons wag. Dit is ’n verkeerde verstaan. Hoewel ons saligheid eers in die toekoms volkome sal wees, is gelowiges in beginsel reeds salig.

Is dit nie wat Psalm 1 leer nie? Welgeluksalig is … Die digter maak dit baie duidelik dat saligheid nie vir gelowiges eers in die toekoms gerea­li­seer word nie. Elkeen wat deur God uit die wildernis van sondesla­wer­ny verplant is op die oewers van die fontein van lewende water, Jesus Chris­tus, dra reeds vrug, sy blare verwelk nie en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit (v. 3). Vir elkeen wat glo (verplant is) en put uit die Bron van lewende water, is geluk ’n gegewe. Dit is nie iets wat eers eendag sal wees nie. Die geluk waarvan hier gepraat word, welgeluksaligheid, het dus minder te doen met die glimlag op jou gesig en meer te doen met die vrede in jou hart.

Mense wat reeds hierdie welgeluksaligheid in Christus besit, se le­wens getuig daarvan deurdat so iemand se behae in die wet van die Here is en hy/sy dit dag en nag oordink (v. 2).

Bykomende Skrifgedeelte: Filip. 4:4-9

Gebed: Here, die meetsnoere het inderdaad vir my in lieflike plekke geval! Amen.

Ps. 1:1-6

Ps. 1:1-4

Ingelyf deur die geloof … sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie … (Joh. 3:16); [HK So. 7 V/A 20].

As dit so is dat alle mense deur die eerste Adam verlore gaan, dan is dit seker net logies om te wonder of alle mense dan nie op die teen­oorgestelde wyse deur die tweede Adam (Christus) gered word nie? Die Here Jesus se uitspraak: Baie is geroep, maar min is uitverkies (Mt. 22:14), word in die Kategismus se antwoord ge-eggo. Slegs hulle wat deur ’n wa­re geloof in Christus ingelyf word en sy weldade aanneem, word gered.

Dit bevestig Christus ook in sy gesprek met Nikodémus. Niemand kan gered word indien so iemand nie eers wedergebore (van bo af gebore) is nie. Wie wedergebore is deur die Gees, ontvang geloof as gawe. Geloof kan beskryf word as dit wat my laat deel in Christus se weldade. Dit is soos ’n tandemsprong. Iemand wat nog nooit in sy lewe valskerm ge­spring het nie, word met ’n harnas vasgemaak aan ’n ervare val­skerm­springer. Ná die sprong kan die persoon verklaar: Ek het valskerm gespring, al was dit nie hyself wat gespring het nie. Geloof is die harnas wat ons aan Christus en sy weldade verbind. Daardeur word ons só een met Hom dat sy dade, gehoorsaamheid en oorwinning as ’t ware ons dade, gehoorsaamheid en oorwinning word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie (v. 18). Redding lê dus nie in die feit dat jy glo nie, maar eerder in wat jy glo.

Om deur die geloof deel te kry aan die liggaam van Christus, is nie net ’n geestelike saak nie. Dit word ook duidelik wanneer ek myself voeg by die sigbare uitdrukking van sy liggaam, naamlik die plaaslike kerk. Inlywing in Christus deur die geloof, beteken ook inlywing in die kerk van Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 15:1-27

Gebed: Ek dank U, Here, dat ek deur die geloof in u weldade kan deel! Amen.

Joh. 3:1-21

Ges. 137

Die rituele roep dit uit

Die rituele roep dit uit

Maar die binnegoed en pote moet hy met water was … (Lev. 1:9); [HK So. 5 V/A 19].

Dit is soms vir ons moeilik om te glo dat “goeie mense” nie gered kan word net omdat hulle nie in Jesus Christus glo nie. Hulle is dan sulke goeie huweliksmaats; gehoorsame burgers; goeie ouers; hulle sorg vir die armes en hulle sal nie ’n vlieg skade aandoen nie.

Levítikus 7 help om hierdie vraag te beantwoord. Die brandoffer was die algemeenste van die offers. Die offerdier moes manlik wees, dus die sterker en beter een uit jou kudde. Die belangrikste is egter dat dit sonder gebrek moes wees (v. 3). Die offeraar moes sy hande op die offerdier se kop plaas as ’n simboliese handeling waardeur hy erken het dat die offerdier hom voor God verteenwoordig.

Twee sake is egter opvallend. Ten spyte daarvan dat die heel beste ge­of­fer is, lees ons in vers 9 dat sekere dele eers gewas moes word voordat die offer gebring kon word. Die punt is duidelik – nie eens die beste wat die mens kan aanbied, is goed genoeg nie. Wat hierdie onvolkomenheid van die offer verder bevestig, is die herhalende karakter daarvan. Hierdie offer het, soos baie ander kultiese rituele, geroep om vervulling.

In Christus is al die Ou Testamentiese seremoniële wette vervul. Chris­tus was immers die volmaakte Offer – manlik en sonder gebrek. Aan Hom was niks onrein wat eers gereinig moes word voordat Hy ge­offer kon word nie. Sy offer was die volmaakte offer en hoef daarom nooit weer herhaal te word nie. Deur die geloof plaas ons as ’t ware ons hande op Hom en erken dat Hy ons voor God verteenwoordig. Sonder sy volmaakte offer sal ons onvolmaakte werke, hoe goed hulle ook al vir ons mag lyk, niks beteken nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 9:1-10:18

Gebed: Here Jesus, dankie dat U volmaak betaal het vir my onvol­maakt­heid. Amen.

Lev. 1:1-17

Ps. 66:1, 6

Deur die Eniggeborene vervul 

En daar was twee manne in gesprek met Hom … Moses en Elía … Dit is my geliefde Seun; luister na Hom (Lk. 9:30, 35); [HK So. 5 V/A 19].

In hierdie gedeelte van sy evangeliebeskrywing wil Lukas sy lesers oortuig dat die Here Jesus werklik die Christus (Messias) is. Eers toon Hy sy mag oor die natuur (Lk. 8:22-25); toe oor die Bose (Lk. 8:26-39); toe oor siekte en dood (Lk. 8:40-56); daarna vermeerder Hy die brode (Lk. 9:10-17) en word sy Messiasskap bevestig deur Petrus se belydenis: [U is] die Christus (Lk. 9:20). Die verheerliking op die berg is dus die kersie op die koek – die finale bevestiging deur God self.

Christus word verheerlik. Sy klere en sy aangesig verander en Hy is in gesprek met Moses en Elía. Die rede waarom spesifiek hierdie twee persone op die berg verskyn het, is belangrik. Dikwels wanneer die Here Jesus na die Ou Testament verwys, praat Hy van die “Wet en die Profete”. Moses verskyn as verteenwoordiger van die wetsgedeeltes van die Ou Testament terwyl Elía as verteenwoordiger van die profete verskyn. Hulle praat met Hom oor sy “uitgang” (v. 31) – dit is sy naderende dood. Wat Lukas dus hierdeur wil bevestig, is dat die Wet en die Profete, oftewel die Ou Testament, van die Here Jesus se Messiasskap getuig. Uiteindelik bevestig God dit self wanneer Hy Hom as sy Seun uitwys en opdrag gee dat daar na Hom geluister moet word (v. 35).

In hierdie gebeure sien ons dus dit waarvan die Kategismus in Vraag en Antwoord 19 praat: “… die heilige Evangelie wat God self eers in die paradys geopenbaar het en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld het, (is) eindelik deur sy eniggebore Seun vervul …

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 24:13-35

Gebed: Vader, dankie dat u Woord my oortuig: u Seun, Jesus, ís die Christus! Amen.

Lk. 9:28-36

Ges. 89:1, 2

Die aartsvaders getuig

Die aartsvaders getuig

… en Abraham het … die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer (Gén. 3:15); [HK So. 5 V/A 19].

Wat moes nie alles deur Abraham se kop gemaal het toe hy hierdie opdrag van God gekry het nie? Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet … en offer hom (v. 2). Sy hele toekoms was op die spel, want in die antieke tyd was jou kinders jou sekuriteit.

Hier was natuurlik selfs meer op die spel as net Abraham se toekoms. Die belofte van Génesis 12:3, naamlik dat die geslagte van die aarde in Abraham se nageslag geseën sou word, het gevaar geloop om nie vervul te word nie. Ten diepste was ons verlossing op die spel, want uiteindelik sou die Verlosser uit Abraham se nageslag gebore word tot seën vir die nasies. Abraham vertrou God egter om sy beloftes gestand te doen as hy vir Isak antwoord: God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun (v. 8). Dit het God gedoen. Toe Abraham sy hand lig om Isak dood te maak, keer God hom en wys vir hom die ram wat in Isak se plek geoffer moes word.

Ons sondes plaas ons elkeen se toekoms op die spel, want daar is niemand wat nie verdien om op die altaar van God se oordeel geslag te word nie. Tog bly God getrou en voorsien Hy dié Offerlam wat in staat is om ons van die altaar van God se oordeel te bevry. In ons plek word Hy geoffer op die altaar van Gólgota. Hy, die Seun van God, sy enigste wat Hy liefhet, gee sy lewe sodat ons geseënd kan wees. Die Kategismus is dus reg, ook die aartsvaders se lewens getuig van die evangelie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:15-34

Gebed: U is getrou aan u beloftes, o God, daarom het U ook ’n Middelaar vir mý gestuur. Amen.

Gén. 22:1-24

Ges. 181:1-4

Die profete getuig … die straf wat vir ons vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 53:5); [HK So. 5 V/A 19].

Jesaja rig hierdie deel van sy profesie aan die volk wat in ballingskap verkeer. Hoewel die volk die ballingskap as straf vir hulle ongehoorsaam­heid en afvalligheid van die Here beleef, maak die Here dit in hier­die gedeelte baie duidelik dat geen betaling/boetedoening wat die mens kan aanbied, ooit genoeg kan wees om sy oordeel vry te spring nie. Daar­om getuig Jesaja hier van die goeie nuus dat God self Iemand sal stuur om sy volk se oortredinge op Hom te neem.

Jesaja noem Hom die Kneg van die Here. Hy is ter wille van ons oor­tre­dinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom (5:5-6). Te midde van hulle swaarkry en lyding, bring Jesaja ’n boodskap van hoop en bevryding. Hy getuig van die Messias wat as Middelaar in die plek van sy volk sou staan en die straf vir hulle oortredinge sou dra. Deur hierdie Kneg sal baie regverdig gemaak word en Hy sal hulle skuld dra (5:11).

Dra jy swaar aan jou sondelas? Probeer jy op allerhande maniere self die skuld op jou eie sondes betaal? Dit sal nooit genoeg wees nie, want ons skuld word daagliks meer. Hoor egter die boodskap van die profete: Daar is Iemand wat namens jou die skuld betaal het – Jesus Christus. Sy las is lig en sy juk is sag. Wie se juk is op jou skouers?

Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 8:26-40

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U ook die straf vir my sondes gedra het. Amen.

Jes. 52:13-53:12

Ps. 2:4-6

Die beeld herstel

Die beeld herstel

en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efés. 4:24); [HK So. 5 V/A 18].

Wanneer ’n mens die antwoord op vraag 18 van die Kategismus lees, is dit nie moeilik om die trekke van die beeld van God daarin raak te sien nie – kennis (wysheid), geregtigheid en heiligheid. Hierdie dinge het tydens die sondeval verlore geraak. God se oplossing hiervoor was om sy Seun te stuur. Hy maak ons wys tot saligheid; Hy leer ons om te doen wat reg is en weer te wees wat God bedoel het ons moet wees. Dit is wat verlossing behels: Christus ons wysheid, geregtigheid en heiligheid (1 Kor. 1:30).

Aangesien ons Christus dan só leer ken, naamlik as die Een wat ons van die oue mens bevry, moedig die Here ons aan om onsself met die nuwe mens te beklee. Gelowiges behoort die ou, sondige mens uit te trek en Christus soos ’n nuwe kledingstuk aan te trek. Ons is immers nuwe men­se wat na God (se beeld) geskape is in ware geregtigheid en heilig­heid (v. 24). Ons is weliswaar nog nie volmaak nie, maar in begin­sel is ons reeds nuut. Die fondamente is as ’t ware oorgelê sodat die huis daarop gebou kan word. Op die pad van heiligmaking behoort hierdie beeld van God al duideliker in ons lewens sigbaar te word.

Op baie konkrete wyse spel Paulus die kenmerke uit van iemand wat deur Christus na die beeld van God herskep is (v. 25-32). So iemand lê die leuen af en spreek die waarheid; sondig nie in sy toorn nie; gee aan die duiwel geen plek nie; werk eerder as om te steel; se woorde dien tot stigting van ander; is nie bitter of haatdraend nie, maar vriendelik en vol ontferming.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 1:17-31

Gebed: Help my, Here, om u beeld hoe langer hoe meer te vertoon. Amen.

Efés. 4:17-32

Ges. 78:1-3

Proto euangelion (oer-evangelie) … Hy sal jou die kop vermorsel … (Gén. 3:15); [HK So. 5 V/A 19].

Hoe weet jy dit? Watter bewyse het jy? Hierdie en soortgelyke vrae word dikwels na gelowiges geslinger wanneer hulle die evangelie van Jesus Christus as Middelaar en Verlosser verkondig. Só lui Vraag 19 van die Kategismus ook. Die antwoord: Dit is hoe God dit self op verskeie plekke, deur baie persone en op verskillende maniere in sy Woord aan ons bekendgemaak het.

Génesis 3, in die besonder vers 15, word wyd beskou as die plek in die Bybel waar die eerste klanke van God se verlossingsimfonie gehoor kan word. Daarom sê die Kategismus dat God reeds in die paradys die evangelie geopenbaar het. Die derde hoofstuk in die Bybel vertel die geskiedenis wat aanleiding gegee het tot die mens se sonde en ellende. Dit vertel van hoogmoed en die begeerte om soos God te wees. Dit vertel van opstand, ongehoorsaamheid en rebellie. Dit vertel ook van die gevolge: Naaktheid; skaamte; die mens wat vir God wegkruip omdat hy voor Hom ontbloot is. Dit vertel van oneffektiewe vyeblaarpogings om hierdie skaamte te bedek en uiteindelik spreek dit ook van God se geregtigheid en oordeel.

Dit is egter nie ’n stuk geskiedenis wat jou wanhopig laat nie. In­teen­deel, gelowiges vind uit Génesis 3 meer rede om bemoedig te word as om terneergedruk te wees. Eerstens beloof God ’n Verlosser uit die saad van die vrou wat die kop van Satan sou vermorsel (v. 15). Tweedens trek Hy self vir die mens rokke van vel aan (v. 21). Dit was die eerste offer – ’n plaas­vervanger (dier) moes sterf, dat die mens met sy vel beklee kon word. Uit­eindelik sou dié Plaasvervanger sterf, sodat ons met Hom beklee kan word. Hoor u die harmonieë?

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 4:1-19

Gebed: Here, dankie vir u Woord wat van begin tot einde van die blye boodskap getuig. Amen.

Gén. 3:1-24

Ges. 81:1, 2

Sy geregtigheid, my geregtigheid

Sy geregtigheid, my geregtigheid

… sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor. 5:21); [HK So. 5 V/A 18].

Paulus is besig om die kern van sy boodskap aan die Korinthiërs weer te gee: versoening met God. Hy verduidelik hoe hy in diens staan van die boodskap van ’n herstelde verhouding met God (v. 11-15) en dan gee hy ook die kern daarvan weer (v. 16-19). Die ini­sia­tief vir hier­die her­stelde verhouding het van God uitgegaan wat ons met Homself ver­soen het (v. 18). Hoe het Hy dit gedoen? Deur sy Seun, Jesus Chris­tus. Die Kategismus sê dat Hy deur God aan ons geskenk is tot regverdig­heid (V/A 18).

Die noodsaaklikheid om met God versoen te word impliseer dat daar iewers ’n breuk in die mens se verhouding met God gekom het. Tydens die sondeval het hierdie verhouding van vriendskap na vyandskap ver­ander. Hierdie sondigheid het na alle mense deurgedring (Rom. 5:12) sodat elke mens volgens God se reg die doodstraf vir hulle sonde verdien (Rom. 6:23). Om hierdie rede was dit nodig dat Christus moes sterf – sodat daar aan God se geregtigheid voldoen kan word. Daarom sê Paulus dat ons deur Christus weer met God versoen kan word.

Daar is geen ander manier waardeur aan God se geregtigheid voldoen kan word anders as dat “een vir almal” sterf nie. Sy betaling vir ons sondes, sy geregtigheid, is voldoende om weer die verhouding tussen ons en God te herstel. Die nagmaalsformulier verduidelik pragtig hoe Christus se geregtigheid ons toegereken word: “Hierdeur (die nagmaal) waarborg Hy sy soenverdienste vir ons só volledig asof ons sélf voor God gestaan het, sélf die straf vir die sonde gedra het, sélf daarvoor gesterf en opgestaan het en self ons geregtigheid voor God verwerf het.”

Bykomende Skrifgedeelte: Filip. 3:7-16

Gebed: Vader, dankie dat U na my kyk deur u Seun, Jesus Christus. Amen.

2 Kor. 5:11-21

Ges. 29:1-3

Heiligheid: gawe en eis … Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees (Joh. 17:19); [HK So. 5 V/A 18].

Heiligheid. Dit is darem seker die een aspek van ons geestelike lewe waar ons self ’n bydrae kan lewer, nie waar nie? Ons kan onsself nie regverdig maak voor God nie, maar ons kan tog seker ons lewens heilig en inrig volgens sy gebod – so reken ons. Selfs dít is egter vir die mens onmoontlik, want ons heiligste optrede is steeds deurspek met onreinheid (Jes. 64:6). Daarom gee God sy Seun om ook ons heiligmaking te wees (V/A 18).

In sy hoëpriesterlike gebed bid Christus vir sy kerk. Hy weet dat God vol­kome heiligheid van sy kinders eis (Lev. 11:44), maar Hy ken ook die be­perkinge van ons sondige natuur. Daarom bid Hy dat die Vader sy kinders vir Hom in hierdie wêreld sal afsonder (heilig) sodat hulle tot sy eer kan leef deur in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie. Heilig hulle in u waarheid, vra Hy. Die rede waarom Christus dit kan vra, is omdat Hy Homself vir ons geheilig het. Hy het Homself afgesonder vir ons verlossing sodat ons deur sy bloed geheilig kon word. Heiligheid is eerstens ’n gawe, ’n nuwe status wat aan ons toegeken word en wat aan ons nuwe kwaliteite gee. Op grond van hierdie nuwe status kan God nou ook heiligheid van ons eis.

Toewyding en gehoorsaamheid is die gevolg van Christus se heiligmakende werk. Christus woon in ons (v. 23) en sy heiligheid word nou in ons werke sigbaar. Sonder My kan julle niks doen nie (Joh. 15:5). Wie dus bely dat Christus in Hom woon, se lewe behoort te getuig van dieselfde heiligheid as die van Jesus Christus. Gelowiges behoort dus (nederig) gemaklik daarmee te wees om “heiliges” genoem te word.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 15:1-27

Gebed: O God, help my om daagliks te groei in heiligheid. Amen.

Joh. 17:1-25

Ges. 62:1-4

Onse Here Jesus Christus

Onse Here Jesus Christus

Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie (Joh. 14:6); [HK So. 5 V/A 18].

In die lig van die hoë eise wat aan die middelaar gestel word, vra die opsteller van die Kategismus amper paniekerig: “Maar wie is hierdie middelaar wat tegelyk waaragtige God en ’n waaragtige regverdige mens is?” Dit klink amper soos Thomas se: … hoe kan ons die weg ken? (v. 5)

Die Kategismus antwoord: “Onse Here Jesus Christus …” Hierdie antwoord weerspieël iets van die Here Jesus se woorde aan sy dissipels in Johannes 14:6. Hierdie vers is een van die klassieke verse in die Bybel wat Christus se middelaarskap bevestig. Om by die Vader te kom; m.a.w. om uit jou sonde en ellende verlos te word, is slegs moontlik in en deur Jesus Christus. Daar is geen ander “weg” teen die berg op nie; daar is geen ander waarheid wat parallel met hierdie waarheid loop nie; daar is niemand anders wat lewe kan bewerk buiten Jesus Christus nie. Net Hý het in die wêreld gekom om sondaars te red (1 Tim. 1:15).

Wat opvallend is van die taal van die Kategismus, is dat dit nou baie meer innig is. Die Middelaar is geïdentifiseer, maar die taal waarmee die Kategismus Hom bekendstel, is persoonlik: Onse Here Jesus Christus. Hieruit is dit duidelik dat jy nie neutraal teenoor Hom kan staan nie. Daar gaan óf ’n persoonlike verbintenis tussen jou en Christus wees, óf daar gaan nie een wees nie. Daarom beklemtoon Christus ook dat ver­los­sing net “deur Hom” is. Om uiteindelik deur Christus na die Vader te gaan, vra dat ek nie net my sonde en ellende sal erken nie, maar dat ek Christus in die geloof as mý (onse) Here Jesus Christus, sal toe-eien.

Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 4:1-31

Gebed: Dankie, Vader, dat U sorg vir verlossing en ’n Verlosser. Amen.

Joh. 14:1-31

Ges. 43:1, 3

Christus ons wysheid

Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die Here (Spr. 8:35); [HK So. 5 V/A 18]. 

Die tema van die boek Spreuke is wysheid. Hierdie wysheid is na­tuur­lik nie ’n sinoniem vir intellektuele vermoëns of selfs lewens­er­va­ring nie. Op meer as een plek word dit gedefinieer as “die vrees van die Here” (Spr. 9:10). Dit beteken om eerbied en ontsag vir Hom te hê. Ons sou dus ook kon sê dat Bybelse wysheid die vermoë is om God reg te dien.

In Spreuke 8 word wysheid ook as ’n persoon voorgestel. Wysheid is dus nie net iets nie, dit is ook Iemand en daardie Iemand bestaan van ewigheid af (v. 23-26) en was selfs by die skepping teenwoordig en be­trokke (v. 27-30). Sy verlustiging was met die mensekinders (v. 31). Saamgelees met Génesis 1:26 wat leer dat God die mens na sy beeld geskep het, beteken dit dat die mens dus geskep is met hierdie wysheid. Die sondeval het egter hierdie wysheid in dwaasheid verander.

As gevangene van sy eie dwase optrede is die mens nie in staat om uit homself meer die Here te vrees nie. Hy het Iemand nodig om sy wys­heid te wees. Daarom skenk God sy Seun om ons wysheid te wees (V/A 18). Hy verlos ons nie net van ons dwaasheid nie; Hy open nie net ons oë om God weer reg te ken nie; Hy staan so volledig in ons plek dat sy “vrees vir die Here” ons toegereken word. Deur die inwoning van sy Gees verlustig Hy Hom met die mensekinders. Wie Hom vind, vind die lewe en verkry ’n welbehae van die Here.

Sonder hierdie Wysheid is jy ’n dwaas. Maak dus seker jou geloof is gebou op hierdie ewige Wysheid en nie op mensgemaakte versinsels nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-14

Gebed: In die geloof, Here Jesus, gryp ek U aan as my wysheid. Amen.

Spr. 8:22-36

Ps. 51:1, 3