Welgeluksalig is … (Ps. 1:1); [HK So. 7 V/A 20].

Op die juigkreet van Sondag 6 van die Kategismus dat Christus deur God as Middelaar aan ons geskenk is, volg die logiese vraag: Wie vind almal baat by sy Middelaarskap? Ons moet versigtig wees om nie hierop slegs ’n algemene, teologiese antwoord te gee nie. Die Kategismus raak in der waarheid baie persoonlik. “Word alle mense dan weer deur Christus salig?” dwing ons om ons eie posisie te oorweeg. Is ek inge­sluit? Dit is nie ’n vraag wat ek eers “eendag” sal moet antwoord nie, maar waaroor ek nou reeds sekerheid moet en kan hê. “Word alle mense … salig” wek die indruk dat saligheid eers iewers in die toekoms op ons wag. Dit is ’n verkeerde verstaan. Hoewel ons saligheid eers in die toekoms volkome sal wees, is gelowiges in beginsel reeds salig.

Is dit nie wat Psalm 1 leer nie? Welgeluksalig is … Die digter maak dit baie duidelik dat saligheid nie vir gelowiges eers in die toekoms gerea­li­seer word nie. Elkeen wat deur God uit die wildernis van sondesla­wer­ny verplant is op die oewers van die fontein van lewende water, Jesus Chris­tus, dra reeds vrug, sy blare verwelk nie en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit (v. 3). Vir elkeen wat glo (verplant is) en put uit die Bron van lewende water, is geluk ’n gegewe. Dit is nie iets wat eers eendag sal wees nie. Die geluk waarvan hier gepraat word, welgeluksaligheid, het dus minder te doen met die glimlag op jou gesig en meer te doen met die vrede in jou hart.

Mense wat reeds hierdie welgeluksaligheid in Christus besit, se le­wens getuig daarvan deurdat so iemand se behae in die wet van die Here is en hy/sy dit dag en nag oordink (v. 2).

Bykomende Skrifgedeelte: Filip. 4:4-9

Gebed: Here, die meetsnoere het inderdaad vir my in lieflike plekke geval! Amen.

Ps. 1:1-6

Ps. 1:1-4

Ingelyf deur die geloof … sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie … (Joh. 3:16); [HK So. 7 V/A 20].

As dit so is dat alle mense deur die eerste Adam verlore gaan, dan is dit seker net logies om te wonder of alle mense dan nie op die teen­oorgestelde wyse deur die tweede Adam (Christus) gered word nie? Die Here Jesus se uitspraak: Baie is geroep, maar min is uitverkies (Mt. 22:14), word in die Kategismus se antwoord ge-eggo. Slegs hulle wat deur ’n wa­re geloof in Christus ingelyf word en sy weldade aanneem, word gered.

Dit bevestig Christus ook in sy gesprek met Nikodémus. Niemand kan gered word indien so iemand nie eers wedergebore (van bo af gebore) is nie. Wie wedergebore is deur die Gees, ontvang geloof as gawe. Geloof kan beskryf word as dit wat my laat deel in Christus se weldade. Dit is soos ’n tandemsprong. Iemand wat nog nooit in sy lewe valskerm ge­spring het nie, word met ’n harnas vasgemaak aan ’n ervare val­skerm­springer. Ná die sprong kan die persoon verklaar: Ek het valskerm gespring, al was dit nie hyself wat gespring het nie. Geloof is die harnas wat ons aan Christus en sy weldade verbind. Daardeur word ons só een met Hom dat sy dade, gehoorsaamheid en oorwinning as ’t ware ons dade, gehoorsaamheid en oorwinning word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie (v. 18). Redding lê dus nie in die feit dat jy glo nie, maar eerder in wat jy glo.

Om deur die geloof deel te kry aan die liggaam van Christus, is nie net ’n geestelike saak nie. Dit word ook duidelik wanneer ek myself voeg by die sigbare uitdrukking van sy liggaam, naamlik die plaaslike kerk. Inlywing in Christus deur die geloof, beteken ook inlywing in die kerk van Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 15:1-27

Gebed: Ek dank U, Here, dat ek deur die geloof in u weldade kan deel! Amen.

Joh. 3:1-21

Ges. 137

 36 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial