… en Abraham het … die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer (Gén. 3:15); [HK So. 5 V/A 19].
Wat moes nie alles deur Abraham se kop gemaal het toe hy hierdie opdrag van God gekry het nie? Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet … en offer hom (v. 2). Sy hele toekoms was op die spel, want in die antieke tyd was jou kinders jou sekuriteit.
Hier was natuurlik selfs meer op die spel as net Abraham se toekoms. Die belofte van Génesis 12:3, naamlik dat die geslagte van die aarde in Abraham se nageslag geseën sou word, het gevaar geloop om nie vervul te word nie. Ten diepste was ons verlossing op die spel, want uiteindelik sou die Verlosser uit Abraham se nageslag gebore word tot seën vir die nasies. Abraham vertrou God egter om sy beloftes gestand te doen as hy vir Isak antwoord: God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun (v. 8). Dit het God gedoen. Toe Abraham sy hand lig om Isak dood te maak, keer God hom en wys vir hom die ram wat in Isak se plek geoffer moes word.
Ons sondes plaas ons elkeen se toekoms op die spel, want daar is niemand wat nie verdien om op die altaar van God se oordeel geslag te word nie. Tog bly God getrou en voorsien Hy dié Offerlam wat in staat is om ons van die altaar van God se oordeel te bevry. In ons plek word Hy geoffer op die altaar van Gólgota. Hy, die Seun van God, sy enigste wat Hy liefhet, gee sy lewe sodat ons geseënd kan wees. Die Kategismus is dus reg, ook die aartsvaders se lewens getuig van die evangelie.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:15-34
Gebed: U is getrou aan u beloftes, o God, daarom het U ook ’n Middelaar vir mý gestuur. Amen.
Gén. 22:1-24
Ges. 181:1-4
Die profete getuig … die straf wat vir ons vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 53:5); [HK So. 5 V/A 19].
Jesaja rig hierdie deel van sy profesie aan die volk wat in ballingskap verkeer. Hoewel die volk die ballingskap as straf vir hulle ongehoorsaamheid en afvalligheid van die Here beleef, maak die Here dit in hierdie gedeelte baie duidelik dat geen betaling/boetedoening wat die mens kan aanbied, ooit genoeg kan wees om sy oordeel vry te spring nie. Daarom getuig Jesaja hier van die goeie nuus dat God self Iemand sal stuur om sy volk se oortredinge op Hom te neem.
Jesaja noem Hom die Kneg van die Here. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom (5:5-6). Te midde van hulle swaarkry en lyding, bring Jesaja ’n boodskap van hoop en bevryding. Hy getuig van die Messias wat as Middelaar in die plek van sy volk sou staan en die straf vir hulle oortredinge sou dra. Deur hierdie Kneg sal baie regverdig gemaak word en Hy sal hulle skuld dra (5:11).
Dra jy swaar aan jou sondelas? Probeer jy op allerhande maniere self die skuld op jou eie sondes betaal? Dit sal nooit genoeg wees nie, want ons skuld word daagliks meer. Hoor egter die boodskap van die profete: Daar is Iemand wat namens jou die skuld betaal het – Jesus Christus. Sy las is lig en sy juk is sag. Wie se juk is op jou skouers?
Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 8:26-40
Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U ook die straf vir my sondes gedra het. Amen.
Jes. 52:13-53:12
Ps. 2:4-6