Christus: enigste en lewende Redder

Christus: enigste en lewende Redder

En die saligheid is in niemand anders … (Hand. 4:13); [HK So. 11 V/A 29].

’n Klompie jare gelede was daar ’n debat in Pretoria tussen die Moslems, die Boeddhiste en Christene. ’n Moslem-aanhanger vertel hoe Islam sy lewe verander het en daar is ’n doodse stilte in die saal! Daar­na kom ’n Indiër-advokaat aan die woord en vlymskerp prys hy die Boed­dhistiese leerstellings. Ná sy betoog kon jy die spreekwoordelike speld hoor val. Wat gaan húlle spreker sê, wonder die angstige Christene?

As ’n uitstaande akademikus met ’n groot liefde vir Christus, kom wy­le prof. Von Selms aan die woord. Hy wys daarop dat die ander wêreldgodsdienste telkens met die afsterwe van sy stigter ontstaan het.

Toe Boeddha van sy volgelinge afskeid neem, sê hy: Meditasie! Mense, wanneer ek nie meer daar is nie, onthou: mediteer! Dít is die sleutel tot ’n geestelike lewe. Toe Mohammed sy volgelinge groet, sê hy vir hulle: Môre is ek nie meer daar nie. Dan moet julle die Koran lees en dóén wat daar staan. Maar toe Jesus Christus van sy dissipels afskeid neem (ná sy opstanding), het Hy gesê: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mt. 28:20).

Die Christelike godsdiens is uniek omdat die Stigter, Christus, nie net gesterf het nie, maar ook uit die dood opgestaan het. Net Hý kon dit doen. Daarom is Christus die enigste, lewende en ware Saligmaker of Redder. So getuig Petrus … vervul met die Heilige Hees (Hand. 4:8) van Jesus Christus: En die saligheid is in niemand anders nie … (v. 12).

So verseker die Heidelbergse Kategismus Antwoord 29 ons dat daar … by niemand anders enige saligheid te soek of te vinde is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14:1-6

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U die enigste ware Redder is.

Amen.

Hand. 4:8-12

Ges. 75:1

God se wonderlike skepping

Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande (Ps. 19:2); [HK So. 9 V/A 26].

’n Heidense koning het Christene met wetgewing verbied om won­derwerke te doen om die beoefening van alle godsdiens in sy ko­ninkryk te verban. So wou hy aantoon dat hý die groot koning is en nie die God van die Bybel nie. Oral in sy koninkryk is die wet op geboue, bome en kennisgewingborde aangebring.

Ten spyte hiervan, het die son die volgende oggend weer opgekom, die wind het soos altyd gewaai en reënwolke het saamgepak. Hierdie wonderwerke het nie vir ’n enkele sekonde opgehou nie, want die God van die Bybel is die Almagtige en sy werke kan nie gekeer word nie.

Ek hoor donderweer en dit sê God se Naam is Ontsagwekkend.

Ek hoor die sagte reën, alles groei en God se Naam is Versorger/On­der­houer.

Ek sien die sterre en ek dink aan die byna onmeetlike afstande na die naaste ster en sy Naam is Oneindig.

Psalm 19 vertel hoe God Homself in sy skepping openbaar (v. 1-7). Die hele natuur getuig hoe God die magtige Skepper en Regeerder van alles is. Die son gee warmte en blydskap (v. 6, 7), maar hy is nie ’n god nie. Psalm 19 sê in die natuur kan jy God leer ken, maar dit is onvoldoende, want jy kan ’n kunswerk bestudeer en nog nie die kunstenaar ken nie.

In vers 8-15 lees ons dat die Here in die Woord Homself bekend maak. Ten laaste sou die Woord vlees/mens word in Christus (Joh. 1:14) om God waarlik te ken. Die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 verduidelik aan ons dat God die almagtige Skepper die Vader van Jesus Christus is.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 1:18-22

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ons deur U die God wat die Skepper van die wonderlike skepping is, kan ken.

Amen.

Ps. 19:1-15

Ps. 8:1, 3

Geloofshelde” is geloofsbedelaars

Geloofshelde” is geloofsbedelaars

En dadelik roep die vader … Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! (Mk. 9:24); [HK So. 9 V/A 26].

Volgens HAT is ’n held iemand wat groot dapperheid aan die dag lê en deur ’n grootse daad onthou word byvoorbeeld Wolraad Wol­te­ma­de wat op 1 Junie 1773 herhaaldelik die Kaapse stormsee te perd aan­durf, 14 skipbreukelinge red en self verdrink.

“Ons is bedelaars … 16 Februarie, anno 1546” skryf Martin Luther ’n paar dae voor sy dood. Daarmee wou hy sê: Daar is nie iets soos ge­loofs­helde nie, net geloofsbedelaars. Al is jou geloof belangrik soos He­breërs 11:6 verklaar: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, is Bybelse geloof nooit ’n ónafhanklikheidsverklaring nie, maar ’n áfhanklikheidsbelydenis soos die vader in Markus 9.

Die Here Jesus daag hom uit om te glo: … as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo (Mk. 9:23), antwoord: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp … (v. 24). Dit beteken: “Ek vertrou Here, maar as ek nie altyd vertrou soos ek moet nie, help my asseblief”. Calvyn merk op: “Hy betuig dat hy glo, maar erken ook dat hy maar ongelowig is”. M.H. Bolkenstein sê: “Met sy geloof en sy ongeloof werp hy hom op Jesus en so word hy gehelp”.

Dit beteken dat my geloof in sigself geen krag het nie, daarom moet ’n mens nie eers in jou eie geloof glo nie, want daar sit dalk ’n stuk ongeloof in. Al wat God van ons vra, is om op te hou om geloofshelde te probeer wees en besef ons is maar net geloofsbedelaars wat bakhand staan.

Die Heidelbergse Kategismus lui: “… dat die ewige Vader … ter wille van sy Seun … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg” (Antw. 26).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 6:1-11

Gebed: Dankie, Here, dat U ook my ongeloof te hulp kom.

Amen.

Mk. 9:17-24

Ges. 82:1, 2

Die Here sal voorsien!

Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees … om hulle siel te red … en hulle in die lewe te hou in hongersnood
(Ps. 33:18, 19); [HK So. 9 V/A 26].

In die finale aanslag op die Franse stad Rochelle, het die Hugenote ’n laaste poging aangewend om hulle teen die Roomse gevaar te verweer. Hongersnood in die Hugenotestad was skrikwekkend en later was die sterftesyfer tot 400 per dag. Toe haar bure begin honger ly, het weduwee Prosni na hulle omgesien. ’n Sekere familielid het haar verkwalik en gevra wat sy sal doen as haar geringe voorraad sou opraak. Prosni het geantwoord: Die Here sal voorsien en die woorde van Psalm 33:18, 19 bygevoeg.

Later het madam Prosni en haar 4 kinders ook begin honger ly en haar tot genoemde familielid gewend. Van haar het sy geen hulp gekry nie, net verwyte. Totaal verslae het sy huiswaarts gekeer om geduldig haar dood af te wag. Wat was haar verbasing groot toe sy tuiskom en by die kinders verneem dat daar ruim voorsiening uit ’n onbekende oord gekom het. Daarmee kon hulle aan die lewe bly.

Psalm 33 is ’n blye belydenis van volle vertroue in God. Die gedig bestaan uit 22 verse, presies net soveel letters as waaruit die Hebreeuse alfabet bestaan. ’n Mens sou kan sê dat die digter daarmee die A tot Z van vertroue op God in ’n digterlike vorm wou saamvat. Die dryfkrag agter God se magtige dade in sy skepping (v. 6-9) en in die geskiedenis van volke (v. 10-17) is sy troue liefde. Daarom hoef ons nooit aan God te twyfel nie. Dit het ’n gelowige weduwee met verwondering ontdek.

Daarom help die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons: “… dat God wat in Christus my Vader is … my … sal versorg en ook al die kwaad … vir my tot heil sal beskik”.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 6:25-34

Gebed: Dankie, Here, dat U in alle omstandighede voorsien.

Amen.

Ps. 33:1-22

Ges. 296:1, 2

Ek glo

Ek glo

Ek glo …

die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof … (Hebr. 12:2); [HK So. 9 V/A 26].

Die biskop van Kartago het in die derde eeu ná Christus ’n brief aan sy vriend Donatus geskryf: “Dit is ‘n slegte wêreld, Donatus, ’n ongelooflik slegte wêreld, maar te midde daarvan het ek ’n volk gevind wat ’n groot geheim ontdek het. Hulle het vreugde gevind wat duisend maal beter is as enige plesier van ons sondige lewe. Hulle word verag en vervolg, maar hulle gee nie om nie. Hulle is meesters van hulle siele. Hulle het die wêreld oorwin. Hierdie mense, Donatus, is Christene … en ek is een van hulle”.

Net so bemoedig die Hebreërskrywer die vroeë Christene om te volhard, terwyl hulle vervolging verduur en selfs hul besittings verloor (Hebr. 10:34). Hierdie geheim waarvan die biskop (leraar) en die Hebreër-do­mi­nee praat, is om die geloofsoog op Christus te vestig. Soos ’n “geloofs­at­leet”, maar die oog nie op ’n sigbare wenpaal nie, maar op Jesus Christus.

Nou kan die vraag ontstaan: Wie is Jesus Christus?

Dan kom die Kategismus en verduidelik dat Jesus die Seun van “God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde” is (HK So. 9 Antw. 26). Die ander “geloofsatlete/helde” waarna die dominee in Hebreërs 11 verwys, soos Abraham, Josef, Moses en talle ander Ou Testamentiese gelowiges, het in hierdie God geglo en kon volhard. Dié God is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Hy het alles wat daar is, geskep … uit niks.

As jy in dié God glo, die drie-enige God, nl. Vader, Seun en Heilige Gees, word jy ’n Christen genoem. Kan jy ook sê: “Ek glo in Hom” en “… ek is een van hulle”?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 1:1-6

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek in swaar tye my geloofsoog op U kan vestig.

Amen.

Hebr. 12:1-3

Ges. 82:1

God is die Vader van Christus

Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … want Hy het gespreek en dit was … (Ps. 33:6, 9); [HK So. 9 V/A 26].

Psalm 33 is ’n “Loflied op die almag en genade van God”, soos die Bybelvertalers in die opskrif aandui. Die digter wys daarop dat die Here se almag besonder na vore kom in die skepping. Dink vir ’n oomblik:

  • Lig trek teen die ongelooflike spoed van 297 600 km per sekonde. As ’n koeël teen dié spoed sou beweeg, sal dit sewe keer reg om die aarde trek en jou tref voor jy op die grond val.
  • Jy sou die maan bereik binne een en halwe sekonde.
  • As jy teen dié spoed ons sterrestelsel (Melkweg) wil deurkruis, sal dit 120 000 jaar neem.

Dan beskryf die Psalmdigter dit so: Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … (v. 6) en in vers 9: Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan. Dit is presies wat ons lees op die eerste bladsye van die Bybel: En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gén. 1:3). So het God telkens (net) gesê, en dan het dit gebeur.

In die Nuwe Testament word God se misterievolle skeppingswerk verder ontvou en met Christus verbind. In Johannes 1:1 staan: In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God … Alle dinge het deur Hom ontstaan … Nog duideliker word dit in vers 14 verklaar: Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.

Daarom help die Kategismus ons reg: God die almagtige Skepper is nie die god van die Moslems of die Hindoes nie, maar die Vader van Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-14

Gebed: Dankie, Here, dat u Vader ook my Vader is.

Amen.

Ps. 33:1-9

Ps. 33:1, 5

Heiligmaker

Heiligmaker

… maar dat Christus met alle vrymoedigheid … groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is (Filip.1:20); [HK So. 1 V/A 1].

Prof. B Gemser het hier rondom 1952 ’n baie interessante vergely­king getref deur die Kategismus met ons bekende woord “eggo” te ver­ge­lyk. Eggo, soos ons almal weet, beteken klank en veral weerklank. Dit is ’n heel natuurlike veskynsel waar die klank spontaan vanuit die dieptes van die put of die kloof na ons teruggekaats word.

So weerklink die Woord van God in die woorde van die Kategismus en moet die woorde van die Kategismus weer spontaan die weerklank van God se Woord in ons lewe oordra. Net soos daardie eggo vanuit die onbekende dieptes hoorbaar word, so moet die wil van God uit die onbekende dieptes van ons harte duidelik spreek tot elkeen wat binne hoorafstand is.

Daardie eggo wat ons na buite gee, moet ook ’n getroue weergawe van die oorspronklike Woord wat in ons harte leef, wees. Dit beteken nie net dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort nie, maar ook dat ek na liggaam en siel sal eggo wat Hy in my werk omdat ek nie anders kan as om te doen wat Hy van my verlang nie.

Dit geld nie net wanneer dit goed gaan met my en dit maklik is om die Here se spieëlbeeld of eggo te wees nie, maar (veral) ook wanneer dit swaar gaan en dit moeilik is om die beeld van God suiwer oor te dra, d.w.s. ’n eggo te wees van Hom wat my lewe beheer. Die klanke hiervan moet tot in die verste uithoeke van die skepping gehoor word tot uitbreiding van sy koninkryk!

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 14: 1-12

Gebed: Heilige Here, help my om valse klanke in die krag van die Gees af te sny en om die eggo van die evangelie duidelik hoorbaar te maak. Amen.

Filip. 1:3-26

Ges. 127:1, 5

Die getuies

Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik 
(Mt. 5:16); [HK So. 1 V/A 1].

Die Kategimus is nie uit die lug gegryp omdat predikante en teoloë op ’n dag besluit het dat daar nou so ’n geskrif moet wees nie. Die opstellers van hierdie belydenisskrif het teen die agtergrond van baie vervolging, dikwels tot die dood toe, en baie dwaalleringe, die Kategismus die lig laat sien.

In hierdie belydenisskrif getuig die opstellers van ’n magtige Verlosser, ’n getroue Bewaarder, ’n vaste Versekeraar en ’n Bewerker van geloof wat met die volmag van God onder ons verskyn het. Hierdeur getuig hulle aan ons hoe hulle sy eiendom geword het, hoe hulle dit bly, hoe hulle dit weet en hoe hulle dit beleef. Uit hulle lewenservaring getuig hulle aan ons dat ons met sekerheid aan die wete kan vashou dat dieselfde God vandag nog onder ons woonagtig en deel van die gelowige se lewe is.

Ons beleef ook elke dag soveel genade uit die hand van die Here, ons Verlosser en Voorsiener. Ons het elke dag net soveel geleentheid om as getuies vir Hom op te tree as destyds, maar ons laat soveel geleenthede by ons verbygaan waarin ons sy Naam kon grootgemaak het; waarin ons vir ander tot troos en versekering kon gedien het dat Jesus Christus werklik leef en dat Hy daadwerklik deel vorm van ons gebroke en misvormde bestaan wat gedurig dreig om ons te verswelg in negatiwiteit en pessimisme.

Laat u lig vandag skyn in ’n donker wêreld en wees vir iemand, deur die genade van ons Saligmaker, ’n kragpunt sodat hy of sy by die Bron van alle krag kan herlaai.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 25:31-46

Gebed: Here, laat my lewe deur die werk van u Woord en Heilige Gees om altyd en oral ’n aangename geur en positiewe getuienis wees.

Amen.

Mt. 5:14-16

Ps. 147:1, 4

Skepper en Onderhouer

Skepper en Onderhouer

… Laat Ons mense maak na ons beeld … (Gén. 1:26); [HK So. 7 V/A 24].

In Vraag en Antwoord 23 van die Kategismus word ’n samevatting gegee van die kernwaarhede van wat vir ’n Christen nodig is om te glo (vgl. V/A 22). Die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis) lê die kern van die saligmakende geloof uit aan die hand van die Drie-eenheid.

Wat opvallend is van die Kategismus se driedeling van die Twaalf Artikels is die gebruik van die persoonlike voornaamwoord ons. In die eerste instansie ons Skepper. Die Christelike geloof is nie maar net ’n onpersoonlike en leerstellige saak nie. Anders sou die Kategismus gepraat het van God die Vader en die skepping. Nee, Génesis 1 herinner ons daaraan dat God óns Skepper is. Hy hanteer ons nie as lewelose voor­werpe in sy skepping nie. Ons is nie net ’n nommer in ’n mas­sa­pro­duk­sielyn nie. Deur sy liefdevolle hand het God ons na sý beeld ge­skep as die kroon en rentmeesters van sy skepping (v. 28-29). Deur sy skep­ping openbaar Hy Hom ook as die Onderhouer (v. 12) wat só skep dat volhoubaarheid moontlik is.

Ek en jy is nie ’n toevalligheid op hierdie aarde nie. God ken ons by die naam, want Hy is ons Formeerder. Met sy liefdevolle Vaderhande het Hy ons elkeen gevorm en daarom sorg Hy vir ons beter as die lelies van die veld. Reeds voor die grondlegging van die wêreld was ons skepping en verlossing deel van sy raadsplan (vgl. Efés. 1:3-6). Daarom is God nie net ons Skepper nie, maar ook ons Herskepper deur die verlossingswerk van sy Seun, Jesus Christus. As Onderhouer het Hy dus nie net ons daaglikse brood in gedagte nie, maar skenk Hy ook die Brood van die ewige lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:1-7

Gebed: Vader, dankie vir die vertroosting dat U nie net Skepper is nie, maar ook Herskepper. Amen.

Gén. 1:1-2:3

Ges. 82:1

Spesifieke adres

… dit is die wil van die Vader … dat al wat Hy my gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie … (Joh. 6:39); [HK So. 7 V/A 24].

Christus se verlossing word dikwels as ’n baie algemene verlossing voorgestel. So asof Hy maar in die algemeen vir die sondes van die wêreld gesterf het en nie vir spesifieke mense se sondes nie. Wie dan hierdie verlossing aanvaar, sal gered word. Hoewel so ’n siening, menslik gesproke, redding meer toeganklik maak, haal dit tog die persoonlike aard daarvan uit: Christus het gesterf, ja, maar nie spesifiek vir mý nie. Hy het lief, ja, maar net so in die algemeen. Sy liefde is nie toegespits op mý en mý redding nie.

In sy gesprek met die skare weerlê die Here Jesus hierdie standpunt. Hy stel Homself bekend as die Brood van die lewe. Uit die hemel is Hy tot versadiging van ’n sielshonger wêreld gegee (v. 33). Wanneer Hy egter van die “wêreld” praat, bedoel Hy dit nie in algemene, onpersoonlike terme nie. Hy het spesifieke mense in gedagte, want sy verlossing is berekend en daarom persoonlik. Sy taak is om nie een van die wat die Vader aan Hom gegee het, verlore te laat gaan nie. So persoonlik is dit, dat elke verloste se naam reeds voor die grondlegging van die wêreld in die boek van die lewe opgeskryf is.

Is dit nie wonderlik om saam met die Kategismus te kan getuig dat die inhoud van my geloof oor God die Seun en mý (ons) verlossing han­del nie? In hierdie grootste skepping het God in sy ontsaglike liefde aan mý gedink! Sy redding is gerig tot ’n spesifieke adres. Wie in Jesus Christus glo as sy/haar Verlosser en Saligmaker, kan seker wees dat God se redding sy bedoelde adres gevind het!

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:3-6

Gebed: Vader, wat is die mens dat U aan hom dink? Amen.

Joh. 6:22-40

Ges. 82:2

Kennis én vertroue

Kennis én vertroue

… Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig (Mk. 10:47); [HK So. 7 V/A 21].

In Lukas se beskrywing van hierdie gebeure (Lk. 18:35-43) lees ons dat die blinde man by die skare wou weet wie by hom verbygegaan het. Hulle antwoord aan hom: Jesus van Násaret. Vir die skare was Hy maar net ’n gewone man, iemand soos hulle uit ’n dorpie uit die omgewing. Miskien het Bartiméüs al gehoor van die Here Jesus se reputasie as Iemand wat siekes genees, maar wanneer hy na Jesus uitroep, is dit duidelik dat Hy vir Bartiméüs meer as net ’n Wonderwerker was.

Hy spreek die Here Jesus aan as die Seun van Dawid. Dit was nie net ’n manier om sy herkoms aan te dui nie. Dit was ’n Messiaanse titel op grond van die belofte wat God destyds aan Dawid gemaak het (vgl. 2 Sam. 7:12-16). Bartiméüs weet dat sy gebrek ’n gevolg van die sondeval is. Die enigste persoon wat die effek daarvan kan omkeer, is die Messias van God. Die Here Jesus ontken nie hierdie titel nie, want Hy is die Messias. Op sy versoek, genees Hy vir Bartiméüs met die woorde: … jou geloof het jou gered.

Hierdie gedeelte beantwoord vraag 21 van die Kategismus: Wat is ’n ware geloof? In die eerste plek het Bartiméüs ’n gewisse kennis gehad dat Jesus die Christus, die Messias van God was. Deur te vra: Wees my barmhartig, eien hy Christus se verlossingswerk vir homself toe. Hy stel sy vertroue daarin dat Christus ook in sy lewe die effek van die sondeval kan omkeer. ’n Reddende geloof het niks te doen met die kwaliteit of kwantiteit van jou geloof nie, maar wel met die feit dat jy die gewisse kennis van Jesus Christus se verlossingswerk vir jouself toe-eien.

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29

Gebed: Help my, Here, om nie op my geloof te vertrou nie, maar om deur my geloof op U te vertrou! Amen.

Mk. 10:46-52

Ges. 71:1, 3

Alles … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Mt. 28:19); [HK So. 7 V/A 22].

Vraag 22 van die Kategismus, “Wat dan is vir ’n Christen nodig om te glo?”, kan maklik verkeerdelik vertolk word as: “Wat is die minste wat ek moet glo om nog steeds gered te word?” Dalk is dit ook jou benade­ring tot geloof: Wat is die minimum geloofsaktiwiteit en maksimum wêreldgesindheid waarmee ek kan wegkom en steeds gered word? Die subteks is duidelik: Ek wil wel meedoen solank dit my net nie te veel kos nie.

Uit die antwoord op Vraag 22 blyk dit duidelik dat dit nie die bedoe­ling van die vraag is nie. “Alles wat ons in die evangelie beloof word” – niks min­der en niks meer nie. Nie alles wat in ’n dogmatiekhandboek of ’n fi­na­lejaar verbondsonderrighandboek opgeteken is nie, maar alles wat die evangelie behels. Met hierdie opdrag stuur die Here Jesus ook sy kerk na die wêreld: Maak dissipels en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Hy beliggaam die evangelie en sy woorde is die evangelie. Elkeen wat in Hom glo en sy woorde vir waar en seker hou, sal gered word. Tydens sy bediening het Christus dit baie duidelik gemaak dat die hele Skrif evangelie is aangesien dit van Hom en sy verlossingswerk getuig (vgl. Lk. 24:27). Wat Hy geleer en gedoen het, is die vervulling van die Skrifte.

Terwyl Vraag 21 van die Kategismus op die kern van die evangelie fokus, naamlik dat daar ook “vir my vergewing van sondes is”, bevestig Vraag 22 dat dit nie al is waarmee gelowiges tevrede mag wees nie. Al is die hart die belangrikste orgaan in die liggaam, beteken dit nie die ander organe is onbelangrik vir die behoorlike funksionering van die liggaam nie. Alles moet “onderhou” word, dus as waar en seker aanvaar word.

Bykomende Skrifgedeelte: 2 Tim. 3:10-17

Gebed: Here, leer my om alles te onderhou wat U ons geleer het. Amen.

Mt. 28:16-20

Ges. 187:1-3