Christus: enigste en lewende Redder
En die saligheid is in niemand anders … (Hand. 4:13); [HK So. 11 V/A 29].
’n Klompie jare gelede was daar ’n debat in Pretoria tussen die Moslems, die Boeddhiste en Christene. ’n Moslem-aanhanger vertel hoe Islam sy lewe verander het en daar is ’n doodse stilte in die saal! Daarna kom ’n Indiër-advokaat aan die woord en vlymskerp prys hy die Boeddhistiese leerstellings. Ná sy betoog kon jy die spreekwoordelike speld hoor val. Wat gaan húlle spreker sê, wonder die angstige Christene?
As ’n uitstaande akademikus met ’n groot liefde vir Christus, kom wyle prof. Von Selms aan die woord. Hy wys daarop dat die ander wêreldgodsdienste telkens met die afsterwe van sy stigter ontstaan het.
Toe Boeddha van sy volgelinge afskeid neem, sê hy: Meditasie! Mense, wanneer ek nie meer daar is nie, onthou: mediteer! Dít is die sleutel tot ’n geestelike lewe. Toe Mohammed sy volgelinge groet, sê hy vir hulle: Môre is ek nie meer daar nie. Dan moet julle die Koran lees en dóén wat daar staan. Maar toe Jesus Christus van sy dissipels afskeid neem (ná sy opstanding), het Hy gesê: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mt. 28:20).
Die Christelike godsdiens is uniek omdat die Stigter, Christus, nie net gesterf het nie, maar ook uit die dood opgestaan het. Net Hý kon dit doen. Daarom is Christus die enigste, lewende en ware Saligmaker of Redder. So getuig Petrus … vervul met die Heilige Hees (Hand. 4:8) van Jesus Christus: En die saligheid is in niemand anders nie … (v. 12).
So verseker die Heidelbergse Kategismus Antwoord 29 ons dat daar … by niemand anders enige saligheid te soek of te vinde is nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14:1-6
Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U die enigste ware Redder is.
Amen.
Hand. 4:8-12
Ges. 75:1
God se wonderlike skepping
Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande (Ps. 19:2); [HK So. 9 V/A 26].
’n Heidense koning het Christene met wetgewing verbied om wonderwerke te doen om die beoefening van alle godsdiens in sy koninkryk te verban. So wou hy aantoon dat hý die groot koning is en nie die God van die Bybel nie. Oral in sy koninkryk is die wet op geboue, bome en kennisgewingborde aangebring.
Ten spyte hiervan, het die son die volgende oggend weer opgekom, die wind het soos altyd gewaai en reënwolke het saamgepak. Hierdie wonderwerke het nie vir ’n enkele sekonde opgehou nie, want die God van die Bybel is die Almagtige en sy werke kan nie gekeer word nie.
Ek hoor donderweer en dit sê God se Naam is Ontsagwekkend.
Ek hoor die sagte reën, alles groei en God se Naam is Versorger/Onderhouer.
Ek sien die sterre en ek dink aan die byna onmeetlike afstande na die naaste ster en sy Naam is Oneindig.
Psalm 19 vertel hoe God Homself in sy skepping openbaar (v. 1-7). Die hele natuur getuig hoe God die magtige Skepper en Regeerder van alles is. Die son gee warmte en blydskap (v. 6, 7), maar hy is nie ’n god nie. Psalm 19 sê in die natuur kan jy God leer ken, maar dit is onvoldoende, want jy kan ’n kunswerk bestudeer en nog nie die kunstenaar ken nie.
In vers 8-15 lees ons dat die Here in die Woord Homself bekend maak. Ten laaste sou die Woord vlees/mens word in Christus (Joh. 1:14) om God waarlik te ken. Die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 verduidelik aan ons dat God die almagtige Skepper die Vader van Jesus Christus is.
Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 1:18-22
Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ons deur U die God wat die Skepper van die wonderlike skepping is, kan ken.
Amen.
Ps. 19:1-15
Ps. 8:1, 3