Ek glo …

die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof … (Hebr. 12:2); [HK So. 9 V/A 26].

Die biskop van Kartago het in die derde eeu ná Christus ’n brief aan sy vriend Donatus geskryf: “Dit is ‘n slegte wêreld, Donatus, ’n ongelooflik slegte wêreld, maar te midde daarvan het ek ’n volk gevind wat ’n groot geheim ontdek het. Hulle het vreugde gevind wat duisend maal beter is as enige plesier van ons sondige lewe. Hulle word verag en vervolg, maar hulle gee nie om nie. Hulle is meesters van hulle siele. Hulle het die wêreld oorwin. Hierdie mense, Donatus, is Christene … en ek is een van hulle”.

Net so bemoedig die Hebreërskrywer die vroeë Christene om te volhard, terwyl hulle vervolging verduur en selfs hul besittings verloor (Hebr. 10:34). Hierdie geheim waarvan die biskop (leraar) en die Hebreër-do­mi­nee praat, is om die geloofsoog op Christus te vestig. Soos ’n “geloofs­at­leet”, maar die oog nie op ’n sigbare wenpaal nie, maar op Jesus Christus.

Nou kan die vraag ontstaan: Wie is Jesus Christus?

Dan kom die Kategismus en verduidelik dat Jesus die Seun van “God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde” is (HK So. 9 Antw. 26). Die ander “geloofsatlete/helde” waarna die dominee in Hebreërs 11 verwys, soos Abraham, Josef, Moses en talle ander Ou Testamentiese gelowiges, het in hierdie God geglo en kon volhard. Dié God is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Hy het alles wat daar is, geskep … uit niks.

As jy in dié God glo, die drie-enige God, nl. Vader, Seun en Heilige Gees, word jy ’n Christen genoem. Kan jy ook sê: “Ek glo in Hom” en “… ek is een van hulle”?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 1:1-6

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek in swaar tye my geloofsoog op U kan vestig.

Amen.

Hebr. 12:1-3

Ges. 82:1

God is die Vader van Christus

Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … want Hy het gespreek en dit was … (Ps. 33:6, 9); [HK So. 9 V/A 26].

Psalm 33 is ’n “Loflied op die almag en genade van God”, soos die Bybelvertalers in die opskrif aandui. Die digter wys daarop dat die Here se almag besonder na vore kom in die skepping. Dink vir ’n oomblik:

  • Lig trek teen die ongelooflike spoed van 297 600 km per sekonde. As ’n koeël teen dié spoed sou beweeg, sal dit sewe keer reg om die aarde trek en jou tref voor jy op die grond val.
  • Jy sou die maan bereik binne een en halwe sekonde.
  • As jy teen dié spoed ons sterrestelsel (Melkweg) wil deurkruis, sal dit 120 000 jaar neem.

Dan beskryf die Psalmdigter dit so: Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … (v. 6) en in vers 9: Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan. Dit is presies wat ons lees op die eerste bladsye van die Bybel: En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gén. 1:3). So het God telkens (net) gesê, en dan het dit gebeur.

In die Nuwe Testament word God se misterievolle skeppingswerk verder ontvou en met Christus verbind. In Johannes 1:1 staan: In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God … Alle dinge het deur Hom ontstaan … Nog duideliker word dit in vers 14 verklaar: Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.

Daarom help die Kategismus ons reg: God die almagtige Skepper is nie die god van die Moslems of die Hindoes nie, maar die Vader van Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-14

Gebed: Dankie, Here, dat u Vader ook my Vader is.

Amen.

Ps. 33:1-9

Ps. 33:1, 5