… maar dat Christus met alle vrymoedigheid … groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is (Filip.1:20); [HK So. 1 V/A 1].
Prof. B Gemser het hier rondom 1952 ’n baie interessante vergelyking getref deur die Kategismus met ons bekende woord “eggo” te vergelyk. Eggo, soos ons almal weet, beteken klank en veral weerklank. Dit is ’n heel natuurlike veskynsel waar die klank spontaan vanuit die dieptes van die put of die kloof na ons teruggekaats word.
So weerklink die Woord van God in die woorde van die Kategismus en moet die woorde van die Kategismus weer spontaan die weerklank van God se Woord in ons lewe oordra. Net soos daardie eggo vanuit die onbekende dieptes hoorbaar word, so moet die wil van God uit die onbekende dieptes van ons harte duidelik spreek tot elkeen wat binne hoorafstand is.
Daardie eggo wat ons na buite gee, moet ook ’n getroue weergawe van die oorspronklike Woord wat in ons harte leef, wees. Dit beteken nie net dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort nie, maar ook dat ek na liggaam en siel sal eggo wat Hy in my werk omdat ek nie anders kan as om te doen wat Hy van my verlang nie.
Dit geld nie net wanneer dit goed gaan met my en dit maklik is om die Here se spieëlbeeld of eggo te wees nie, maar (veral) ook wanneer dit swaar gaan en dit moeilik is om die beeld van God suiwer oor te dra, d.w.s. ’n eggo te wees van Hom wat my lewe beheer. Die klanke hiervan moet tot in die verste uithoeke van die skepping gehoor word tot uitbreiding van sy koninkryk!
Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 14: 1-12
Gebed: Heilige Here, help my om valse klanke in die krag van die Gees af te sny en om die eggo van die evangelie duidelik hoorbaar te maak. Amen.
Filip. 1:3-26
Ges. 127:1, 5
Die getuies
Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik
(Mt. 5:16); [HK So. 1 V/A 1].
Die Kategimus is nie uit die lug gegryp omdat predikante en teoloë op ’n dag besluit het dat daar nou so ’n geskrif moet wees nie. Die opstellers van hierdie belydenisskrif het teen die agtergrond van baie vervolging, dikwels tot die dood toe, en baie dwaalleringe, die Kategismus die lig laat sien.
In hierdie belydenisskrif getuig die opstellers van ’n magtige Verlosser, ’n getroue Bewaarder, ’n vaste Versekeraar en ’n Bewerker van geloof wat met die volmag van God onder ons verskyn het. Hierdeur getuig hulle aan ons hoe hulle sy eiendom geword het, hoe hulle dit bly, hoe hulle dit weet en hoe hulle dit beleef. Uit hulle lewenservaring getuig hulle aan ons dat ons met sekerheid aan die wete kan vashou dat dieselfde God vandag nog onder ons woonagtig en deel van die gelowige se lewe is.
Ons beleef ook elke dag soveel genade uit die hand van die Here, ons Verlosser en Voorsiener. Ons het elke dag net soveel geleentheid om as getuies vir Hom op te tree as destyds, maar ons laat soveel geleenthede by ons verbygaan waarin ons sy Naam kon grootgemaak het; waarin ons vir ander tot troos en versekering kon gedien het dat Jesus Christus werklik leef en dat Hy daadwerklik deel vorm van ons gebroke en misvormde bestaan wat gedurig dreig om ons te verswelg in negatiwiteit en pessimisme.
Laat u lig vandag skyn in ’n donker wêreld en wees vir iemand, deur die genade van ons Saligmaker, ’n kragpunt sodat hy of sy by die Bron van alle krag kan herlaai.
Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 25:31-46
Gebed: Here, laat my lewe deur die werk van u Woord en Heilige Gees om altyd en oral ’n aangename geur en positiewe getuienis wees.
Amen.
Mt. 5:14-16
Ps. 147:1, 4