… Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig (Mk. 10:47); [HK So. 7 V/A 21].
In Lukas se beskrywing van hierdie gebeure (Lk. 18:35-43) lees ons dat die blinde man by die skare wou weet wie by hom verbygegaan het. Hulle antwoord aan hom: Jesus van Násaret. Vir die skare was Hy maar net ’n gewone man, iemand soos hulle uit ’n dorpie uit die omgewing. Miskien het Bartiméüs al gehoor van die Here Jesus se reputasie as Iemand wat siekes genees, maar wanneer hy na Jesus uitroep, is dit duidelik dat Hy vir Bartiméüs meer as net ’n Wonderwerker was.
Hy spreek die Here Jesus aan as die Seun van Dawid. Dit was nie net ’n manier om sy herkoms aan te dui nie. Dit was ’n Messiaanse titel op grond van die belofte wat God destyds aan Dawid gemaak het (vgl. 2 Sam. 7:12-16). Bartiméüs weet dat sy gebrek ’n gevolg van die sondeval is. Die enigste persoon wat die effek daarvan kan omkeer, is die Messias van God. Die Here Jesus ontken nie hierdie titel nie, want Hy is die Messias. Op sy versoek, genees Hy vir Bartiméüs met die woorde: … jou geloof het jou gered.
Hierdie gedeelte beantwoord vraag 21 van die Kategismus: Wat is ’n ware geloof? In die eerste plek het Bartiméüs ’n gewisse kennis gehad dat Jesus die Christus, die Messias van God was. Deur te vra: Wees my barmhartig, eien hy Christus se verlossingswerk vir homself toe. Hy stel sy vertroue daarin dat Christus ook in sy lewe die effek van die sondeval kan omkeer. ’n Reddende geloof het niks te doen met die kwaliteit of kwantiteit van jou geloof nie, maar wel met die feit dat jy die gewisse kennis van Jesus Christus se verlossingswerk vir jouself toe-eien.
Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29
Gebed: Help my, Here, om nie op my geloof te vertrou nie, maar om deur my geloof op U te vertrou! Amen.
Mk. 10:46-52
Ges. 71:1, 3
Alles … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Mt. 28:19); [HK So. 7 V/A 22].
Vraag 22 van die Kategismus, “Wat dan is vir ’n Christen nodig om te glo?”, kan maklik verkeerdelik vertolk word as: “Wat is die minste wat ek moet glo om nog steeds gered te word?” Dalk is dit ook jou benadering tot geloof: Wat is die minimum geloofsaktiwiteit en maksimum wêreldgesindheid waarmee ek kan wegkom en steeds gered word? Die subteks is duidelik: Ek wil wel meedoen solank dit my net nie te veel kos nie.
Uit die antwoord op Vraag 22 blyk dit duidelik dat dit nie die bedoeling van die vraag is nie. “Alles wat ons in die evangelie beloof word” – niks minder en niks meer nie. Nie alles wat in ’n dogmatiekhandboek of ’n finalejaar verbondsonderrighandboek opgeteken is nie, maar alles wat die evangelie behels. Met hierdie opdrag stuur die Here Jesus ook sy kerk na die wêreld: Maak dissipels en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Hy beliggaam die evangelie en sy woorde is die evangelie. Elkeen wat in Hom glo en sy woorde vir waar en seker hou, sal gered word. Tydens sy bediening het Christus dit baie duidelik gemaak dat die hele Skrif evangelie is aangesien dit van Hom en sy verlossingswerk getuig (vgl. Lk. 24:27). Wat Hy geleer en gedoen het, is die vervulling van die Skrifte.
Terwyl Vraag 21 van die Kategismus op die kern van die evangelie fokus, naamlik dat daar ook “vir my vergewing van sondes is”, bevestig Vraag 22 dat dit nie al is waarmee gelowiges tevrede mag wees nie. Al is die hart die belangrikste orgaan in die liggaam, beteken dit nie die ander organe is onbelangrik vir die behoorlike funksionering van die liggaam nie. Alles moet “onderhou” word, dus as waar en seker aanvaar word.
Bykomende Skrifgedeelte: 2 Tim. 3:10-17
Gebed: Here, leer my om alles te onderhou wat U ons geleer het. Amen.
Mt. 28:16-20
Ges. 187:1-3