En dadelik roep die vader … Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! (Mk. 9:24); [HK So. 9 V/A 26].

Volgens HAT is ’n held iemand wat groot dapperheid aan die dag lê en deur ’n grootse daad onthou word byvoorbeeld Wolraad Wol­te­ma­de wat op 1 Junie 1773 herhaaldelik die Kaapse stormsee te perd aan­durf, 14 skipbreukelinge red en self verdrink.

“Ons is bedelaars … 16 Februarie, anno 1546” skryf Martin Luther ’n paar dae voor sy dood. Daarmee wou hy sê: Daar is nie iets soos ge­loofs­helde nie, net geloofsbedelaars. Al is jou geloof belangrik soos He­breërs 11:6 verklaar: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, is Bybelse geloof nooit ’n ónafhanklikheidsverklaring nie, maar ’n áfhanklikheidsbelydenis soos die vader in Markus 9.

Die Here Jesus daag hom uit om te glo: … as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo (Mk. 9:23), antwoord: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp … (v. 24). Dit beteken: “Ek vertrou Here, maar as ek nie altyd vertrou soos ek moet nie, help my asseblief”. Calvyn merk op: “Hy betuig dat hy glo, maar erken ook dat hy maar ongelowig is”. M.H. Bolkenstein sê: “Met sy geloof en sy ongeloof werp hy hom op Jesus en so word hy gehelp”.

Dit beteken dat my geloof in sigself geen krag het nie, daarom moet ’n mens nie eers in jou eie geloof glo nie, want daar sit dalk ’n stuk ongeloof in. Al wat God van ons vra, is om op te hou om geloofshelde te probeer wees en besef ons is maar net geloofsbedelaars wat bakhand staan.

Die Heidelbergse Kategismus lui: “… dat die ewige Vader … ter wille van sy Seun … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg” (Antw. 26).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 6:1-11

Gebed: Dankie, Here, dat U ook my ongeloof te hulp kom.

Amen.

Mk. 9:17-24

Ges. 82:1, 2

Die Here sal voorsien!

Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees … om hulle siel te red … en hulle in die lewe te hou in hongersnood
(Ps. 33:18, 19); [HK So. 9 V/A 26].

In die finale aanslag op die Franse stad Rochelle, het die Hugenote ’n laaste poging aangewend om hulle teen die Roomse gevaar te verweer. Hongersnood in die Hugenotestad was skrikwekkend en later was die sterftesyfer tot 400 per dag. Toe haar bure begin honger ly, het weduwee Prosni na hulle omgesien. ’n Sekere familielid het haar verkwalik en gevra wat sy sal doen as haar geringe voorraad sou opraak. Prosni het geantwoord: Die Here sal voorsien en die woorde van Psalm 33:18, 19 bygevoeg.

Later het madam Prosni en haar 4 kinders ook begin honger ly en haar tot genoemde familielid gewend. Van haar het sy geen hulp gekry nie, net verwyte. Totaal verslae het sy huiswaarts gekeer om geduldig haar dood af te wag. Wat was haar verbasing groot toe sy tuiskom en by die kinders verneem dat daar ruim voorsiening uit ’n onbekende oord gekom het. Daarmee kon hulle aan die lewe bly.

Psalm 33 is ’n blye belydenis van volle vertroue in God. Die gedig bestaan uit 22 verse, presies net soveel letters as waaruit die Hebreeuse alfabet bestaan. ’n Mens sou kan sê dat die digter daarmee die A tot Z van vertroue op God in ’n digterlike vorm wou saamvat. Die dryfkrag agter God se magtige dade in sy skepping (v. 6-9) en in die geskiedenis van volke (v. 10-17) is sy troue liefde. Daarom hoef ons nooit aan God te twyfel nie. Dit het ’n gelowige weduwee met verwondering ontdek.

Daarom help die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons: “… dat God wat in Christus my Vader is … my … sal versorg en ook al die kwaad … vir my tot heil sal beskik”.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 6:25-34

Gebed: Dankie, Here, dat U in alle omstandighede voorsien.

Amen.

Ps. 33:1-22

Ges. 296:1, 2