Maar die binnegoed en pote moet hy met water was … (Lev. 1:9); [HK So. 5 V/A 19].
Dit is soms vir ons moeilik om te glo dat “goeie mense” nie gered kan word net omdat hulle nie in Jesus Christus glo nie. Hulle is dan sulke goeie huweliksmaats; gehoorsame burgers; goeie ouers; hulle sorg vir die armes en hulle sal nie ’n vlieg skade aandoen nie.
Levítikus 7 help om hierdie vraag te beantwoord. Die brandoffer was die algemeenste van die offers. Die offerdier moes manlik wees, dus die sterker en beter een uit jou kudde. Die belangrikste is egter dat dit sonder gebrek moes wees (v. 3). Die offeraar moes sy hande op die offerdier se kop plaas as ’n simboliese handeling waardeur hy erken het dat die offerdier hom voor God verteenwoordig.
Twee sake is egter opvallend. Ten spyte daarvan dat die heel beste geoffer is, lees ons in vers 9 dat sekere dele eers gewas moes word voordat die offer gebring kon word. Die punt is duidelik – nie eens die beste wat die mens kan aanbied, is goed genoeg nie. Wat hierdie onvolkomenheid van die offer verder bevestig, is die herhalende karakter daarvan. Hierdie offer het, soos baie ander kultiese rituele, geroep om vervulling.
In Christus is al die Ou Testamentiese seremoniële wette vervul. Christus was immers die volmaakte Offer – manlik en sonder gebrek. Aan Hom was niks onrein wat eers gereinig moes word voordat Hy geoffer kon word nie. Sy offer was die volmaakte offer en hoef daarom nooit weer herhaal te word nie. Deur die geloof plaas ons as ’t ware ons hande op Hom en erken dat Hy ons voor God verteenwoordig. Sonder sy volmaakte offer sal ons onvolmaakte werke, hoe goed hulle ook al vir ons mag lyk, niks beteken nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 9:1-10:18
Gebed: Here Jesus, dankie dat U volmaak betaal het vir my onvolmaaktheid. Amen.
Lev. 1:1-17
Ps. 66:1, 6
Deur die Eniggeborene vervul
En daar was twee manne in gesprek met Hom … Moses en Elía … Dit is my geliefde Seun; luister na Hom (Lk. 9:30, 35); [HK So. 5 V/A 19].
In hierdie gedeelte van sy evangeliebeskrywing wil Lukas sy lesers oortuig dat die Here Jesus werklik die Christus (Messias) is. Eers toon Hy sy mag oor die natuur (Lk. 8:22-25); toe oor die Bose (Lk. 8:26-39); toe oor siekte en dood (Lk. 8:40-56); daarna vermeerder Hy die brode (Lk. 9:10-17) en word sy Messiasskap bevestig deur Petrus se belydenis: [U is] die Christus (Lk. 9:20). Die verheerliking op die berg is dus die kersie op die koek – die finale bevestiging deur God self.
Christus word verheerlik. Sy klere en sy aangesig verander en Hy is in gesprek met Moses en Elía. Die rede waarom spesifiek hierdie twee persone op die berg verskyn het, is belangrik. Dikwels wanneer die Here Jesus na die Ou Testament verwys, praat Hy van die “Wet en die Profete”. Moses verskyn as verteenwoordiger van die wetsgedeeltes van die Ou Testament terwyl Elía as verteenwoordiger van die profete verskyn. Hulle praat met Hom oor sy “uitgang” (v. 31) – dit is sy naderende dood. Wat Lukas dus hierdeur wil bevestig, is dat die Wet en die Profete, oftewel die Ou Testament, van die Here Jesus se Messiasskap getuig. Uiteindelik bevestig God dit self wanneer Hy Hom as sy Seun uitwys en opdrag gee dat daar na Hom geluister moet word (v. 35).
In hierdie gebeure sien ons dus dit waarvan die Kategismus in Vraag en Antwoord 19 praat: “… die heilige Evangelie wat God self eers in die paradys geopenbaar het en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld het, (is) eindelik deur sy eniggebore Seun vervul …”
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 24:13-35
Gebed: Vader, dankie dat u Woord my oortuig: u Seun, Jesus, ís die Christus! Amen.
Lk. 9:28-36
Ges. 89:1, 2