Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie (Joh. 14:6); [HK So. 5 V/A 18].

In die lig van die hoë eise wat aan die middelaar gestel word, vra die opsteller van die Kategismus amper paniekerig: “Maar wie is hierdie middelaar wat tegelyk waaragtige God en ’n waaragtige regverdige mens is?” Dit klink amper soos Thomas se: … hoe kan ons die weg ken? (v. 5)

Die Kategismus antwoord: “Onse Here Jesus Christus …” Hierdie antwoord weerspieël iets van die Here Jesus se woorde aan sy dissipels in Johannes 14:6. Hierdie vers is een van die klassieke verse in die Bybel wat Christus se middelaarskap bevestig. Om by die Vader te kom; m.a.w. om uit jou sonde en ellende verlos te word, is slegs moontlik in en deur Jesus Christus. Daar is geen ander “weg” teen die berg op nie; daar is geen ander waarheid wat parallel met hierdie waarheid loop nie; daar is niemand anders wat lewe kan bewerk buiten Jesus Christus nie. Net Hý het in die wêreld gekom om sondaars te red (1 Tim. 1:15).

Wat opvallend is van die taal van die Kategismus, is dat dit nou baie meer innig is. Die Middelaar is geïdentifiseer, maar die taal waarmee die Kategismus Hom bekendstel, is persoonlik: Onse Here Jesus Christus. Hieruit is dit duidelik dat jy nie neutraal teenoor Hom kan staan nie. Daar gaan óf ’n persoonlike verbintenis tussen jou en Christus wees, óf daar gaan nie een wees nie. Daarom beklemtoon Christus ook dat ver­los­sing net “deur Hom” is. Om uiteindelik deur Christus na die Vader te gaan, vra dat ek nie net my sonde en ellende sal erken nie, maar dat ek Christus in die geloof as mý (onse) Here Jesus Christus, sal toe-eien.

Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 4:1-31

Gebed: Dankie, Vader, dat U sorg vir verlossing en ’n Verlosser. Amen.

Joh. 14:1-31

Ges. 43:1, 3

Christus ons wysheid

Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die Here (Spr. 8:35); [HK So. 5 V/A 18]. 

Die tema van die boek Spreuke is wysheid. Hierdie wysheid is na­tuur­lik nie ’n sinoniem vir intellektuele vermoëns of selfs lewens­er­va­ring nie. Op meer as een plek word dit gedefinieer as “die vrees van die Here” (Spr. 9:10). Dit beteken om eerbied en ontsag vir Hom te hê. Ons sou dus ook kon sê dat Bybelse wysheid die vermoë is om God reg te dien.

In Spreuke 8 word wysheid ook as ’n persoon voorgestel. Wysheid is dus nie net iets nie, dit is ook Iemand en daardie Iemand bestaan van ewigheid af (v. 23-26) en was selfs by die skepping teenwoordig en be­trokke (v. 27-30). Sy verlustiging was met die mensekinders (v. 31). Saamgelees met Génesis 1:26 wat leer dat God die mens na sy beeld geskep het, beteken dit dat die mens dus geskep is met hierdie wysheid. Die sondeval het egter hierdie wysheid in dwaasheid verander.

As gevangene van sy eie dwase optrede is die mens nie in staat om uit homself meer die Here te vrees nie. Hy het Iemand nodig om sy wys­heid te wees. Daarom skenk God sy Seun om ons wysheid te wees (V/A 18). Hy verlos ons nie net van ons dwaasheid nie; Hy open nie net ons oë om God weer reg te ken nie; Hy staan so volledig in ons plek dat sy “vrees vir die Here” ons toegereken word. Deur die inwoning van sy Gees verlustig Hy Hom met die mensekinders. Wie Hom vind, vind die lewe en verkry ’n welbehae van die Here.

Sonder hierdie Wysheid is jy ’n dwaas. Maak dus seker jou geloof is gebou op hierdie ewige Wysheid en nie op mensgemaakte versinsels nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-14

Gebed: In die geloof, Here Jesus, gryp ek U aan as my wysheid. Amen.

Spr. 8:22-36

Ps. 51:1, 3