Waaragtige en regverdige mens

Waaragtige en regverdige mens

… Hy (het) naderhand honger geword (Mt. 4:2); [HK So. 5 V/A 16].

Wanneer ’n mens oor die verlossingsplan van God nadink, is daar natuurlik ’n hele paar “waaroms” wat die gedagtes te binne skiet. Daarom wil Vraag en Antwoord 16 dan ook weet waarom dit nodig is dat die middelaar ’n waaragtige en regverdige mens moet wees? Die vraagsteller se bedoeling is nie om beter as God te weet nie, maar eerder om meer van Hom te weet. God se geregtigheid eis dit, lui die antwoord, aangesien een sondaar nie vir ’n ander sondaar se sondes kan betaal nie. Wat nodig is, is ’n waaragtige en regverdige mens.

Waar Johannes moeite gedoen het om die Here Jesus se Goddelike en mens­like natuur te beklemtoon, slaag Matthéüs daarin om in sy weer­ga­we van Christus se versoeking in die woestyn, juis sy vlekkelose mens­like na­tuur te beklemtoon. In vers 2 lees ons dat die Here Jesus honger geword het. Dit is nie ’n terloopse opmerking nie. Hierdeur maak Mat­thé­üs dit duidelik dat die Here Jesus waarlik mens was, een soos ons.

Satan stel sy visier in op die menslike karakter van die Here Jesus net soos hy destyds in die tuin van Eden gedoen het. Waar die eerste Adam toegegee het aan sy menslike begeertes en behoeftes en slagoffer van die dood geword het, sondig die tweede Adam nie. Inteendeel, Hy wys Satan daarop dat die mens van brood alleen nie sal leef nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan (v. 4). Hy is dus nie net mens met tipies menslike begeertes en behoeftes nie. Nee, Hy is die Christus; die Plaasvervanger; die Een wat volledig in ons plek kom staan. Waar die eerste Adam ongehoorsaam was, is Hy getrou en toon Hy Homself as die Sondelose wat in staat is om ons plek in te neem.

Bykomende Skrifgedeelte: Filip. 2:1-18

Gebed: Here, ek bely dat u sondeloosheid ook my sondeloosheid is! Amen.

Mt. 4:1-11

Ges. 192:1, 2

Waaragtige God Want die Here jou God is ’n verterende vuur … (Deut. 4:24); [HK So. 5 V/A 17].

Toe ons kinders was, het ons veel eerder ’n pak slae gekies as enige ander vorm van straf. Al was dit seer, was dit gewoonlik vinnig verby. Ons leef dikwels onder die illusie dat God se oordeel ook so vlugtig soos ’n pak slae is. Moses skets egter vir ons ’n ander prentjie. Hy roep die volk op tot gehoorsaamheid aan God se verbondseise, maar hy spel ook die konsekwensies van ongehoorsaamheid uit. Wie hierdie verbond nie nakom nie, sal deur God se toorn wat soos ’n verterende vuur is, vernietig word.

Vreeslik is dit om te val in die hand van die lewende God (Hebr. 10:31). Die rede hiervoor het nie net te doen met die intensiteit van sy toorn nie, maar ook met die duur daarvan. Dit is nie ’n kortstondige straf nie. Aangesien God ewig is, is sy straf op die verbreking van sy verbond ook ewig en kan dit nie deur ’n sterflike mens gedra word nie. Wie dus ongehoorsaam is, sal vir ewig onder sy oordeel en straf staan.

Watter mens is in staat om hierdie straf te dra sonder om te vergaan? Slegs een wat ewige, Goddelike krag besit. Daarom beklemtoon die Ka­te­gismus die feit dat die middelaar nie net volkome en regverdige mens moet wees nie, maar terselfdertyd ook waaragtig God sodat hy in staat is om uit die krag van sy Godheid, God se straf aan sy mensheid te verduur. Die straf vir ons verbondsverbreking het Christus as ons Middelaar kom dra. In die duisternis van Gólgota het Hy die straf van die ewige dood net op Homself geneem, sodat Hy geregtigheid en die ewige lewe aan almal kon skenk.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 52:13-53:12

Gebed: Vader, ek sal U ewig dankbaar wees vir ewige verlossing van u ewi­ge toorn. Amen.

Deut. 4:1-40

Ges. 183

Niemand of niks anders nie

Niemand of niks anders nie

… delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! (Ex. 32:32); [HK So. 5 V/A 14].

Die volk het oortree! Hulle het ’n afbeelding van God gemaak en dit aanbid asof dit God is. Hulle verdien God se oordeel. As mid­de­laar probeer Moses om vir hulle by God in te tree. Hy bied aan dat sy eie naam uit die boek van die lewe verwyder word in ruil vir die kwyt­skel­ding van die volk. Ten spyte van hierdie eerbare optrede van Moses, wei­er God sy versoek. Die wat gesondig het, húlle sal uitgedelg word uit die boek van die lewe (v. 33).

In hierdie gedeelte antwoord God eintlik self Vraag 14 van die Ka­te­gismus: Kan daar ook êrens enige skepsel gevind word om vir ons te vol­doen? Die soeke na “’n ander skepsel” spreek opnuut van hoogmoed. Soos iemand wat sy skandes wil bedek deur sy probleem as ’t ware “bin­ne eie kring te hou”, soek die mens allereers sy hulp in ander geskape we­sens. God maak dit egter duidelik: Geen ander is voldoende nie! Moses was self ’n sondaar wat nie toegelaat is om die beloofde land in te gaan nie. Een sondaar kan nie vir ’n ander sondaar se oortredinge betaal nie.

Ook in die diereryk is daar geen skepsel wat kan betaal nie, want God se reg eis dat dit ’n mens is wat moet betaal as ’n mens sondig, aangesien die mens met sy liggaam en sy siel (gedagtes, gevoelens, begeertes, ens.) sondig. Diere het nie siele nie, daarom kan hulle nie plaasvervangers wees nie. Dieselfde geld ook bonatuurlike wesens soos engele. Hulle het weer nie liggame nie. Wat nodig is, is ’n perfekte Plaasvervanger. Een wat volkome mens is, maar ook tegelykertyd God is sodat Hy in staat is om die straf te dra.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14:1-14

Gebed: Here, my hulp is in u Naam wat die hemel en die aarde gemaak het! Amen.

Ex. 32:30-35

Ges. 186:1-3

Volkome God en mens Jesus het geween … Lasarus, kom uit! (Joh. 11:35, 43); [HK So. 5 V/A 15].

Sondag 5 het begin met die soeke na ’n “middel” om God se oordeel vry te spring. Algaande het dit egter duidelik geword dat meer as net ’n “middel” nodig is. Wat nodig is, is ’n middelaar. Al word die naam van die middelaar nog nie genoem nie, raak dit algaande duideliker dat daar maar net Een kan wees. Die hoofsaak in Vraag en Antwoord 15 is dat die middelaar iemand moet wees aan wie God die sonde wil straf omdat hy “geen ander skepsel” is nie, maar volkome mens. Terselfdertyd moet hy ook die straf kan dra omdat hy meer as net ’n gewone skepsel is. Slegs met só ’n middelaar sal God tevrede wees.

Johannes 11 beskryf die optrede van die Here Jesus tydens die dood van sy goeie vriend, Lasarus. Hy toon duidelik hoedat die Here Jesus aan beide vereistes vir ’n middelaar voldoen. Aan die een kant beklemtoon hy sy menslike natuur. Daarom lees ons dat Hy verskriklik hartseer was oor Lasarus se dood en selfs geween het ten spyte van die feit dat Hy op pad was om Lasarus uit die dood op te wek. Hy kom staan volledig in ons plek deur ook soos ons te wees. Sy Goddelike natuur het nie sy menslike natuur vernietig nie. Soos ons beleef Hy ook intense hartseer en verdriet.

Aan die ander kant beskryf Johannes Hom ook na sy Goddelike na­tuur. Lasarus is reeds ’n paar dae dood, maar dit stuit Hom nie. Met die spreek van ’n woord beveel Hy Lasarus om uit die dood op te staan. Ten aanskoue van almal kom Lasarus, nog in doeke toegedraai, uit die graf uit. Christus is die Middelaar – in Hom is die opstanding en die lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 8:1-17

Gebed: Here, dankie dat U ook vir my die perfekte Middelaar is! Amen.

Joh. 11:1-44

Ges. 48:1, 2, 5

Ek het ’n weldoener nodig

Ek het ’n weldoener nodig

… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe (Gén. 2:17); [HK So. 5 V/A 12].

Die eis van God se geregtigheid is reeds voor die sondeval in Géne­sis 2:17 uitgespel: Wees gehoorsaam aan my insettinge en verorde­ninge en jy sal lewe. Die gehoorsaamheid wat God eis, is egter volkome ge­hoorsaamheid soos die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus dit stel. Om “reg” met God te wees, vereis dat nie een van sy gebooie in die min­ste oortree sal word nie.

Die dag toe God die mens na sy beeld geskep het, het Hy dit goed gedoen. Dit het behels dat hulle geskep is met ware geregtigheid, volko­me kennis en heiligheid. Dit beteken dat God in Génesis 2:17 nie iets van die mens eis waartoe hy nie in staat is nie. Die sondeval het egter hier­die vermoë tot so ’n mate beïnvloed, dat volkome gehoorsaamheid deur die mens nie meer moontlik is nie. Voorwaar ’n ellendige toestand!

En tog is ons by Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus nie meer by die sonde en ellende-deel van die Kategismus nie. Daaraan herinner die tweede deel van die antwoord ons as dit sê dat God se geregtigheid ook voorsiening maak daarvoor dat iemand anders aan God se gereg­tig­heid kan voldoen. Betaal moet daar betaal word, want God sien geen son­de (ongeregtigheid) oor nie. As ek egter nie self kan betaal nie, kan ’n ander namens my volkome voldoen. Na hierdie Plaasvervanger wys die hele Ou Testament vooruit. Dink byvoorbeeld aan Abraham se offer op Moria, die slag van die Paaslam en die kultiese handelinge by die tempel.

Wie sy geestelike bankrotskap voor God besef, sal weet hoe nodig hy of sy ’n weldoener het – iemand wat in ons plek kan staan en aan God se geregtigheid voldoen. Wie is jou weldoener?

Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 22:1-24

Gebed: Vader, dankie vir ’n plaasvervangende Weldoener! Amen.

Gén. 2:4-17

Sing: Ges. 62

Altyd te min … met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is … (Lk. 18:9); [HK So. 5 V/A 13].

As dit God se wil is dat daar aan sy geregtigheid voldoen moet word voordat daar redding kan wees, is die eerste logiese vraag wat volg: Kan die mens self daaraan voldoen? Kan die mens self op een of ander manier betaal vir die skuld wat hy deur sy eie sonde op hom laai?

Gevoed deur sy grootheidswaan het die mens nog altyd geglo dat dit tog op een of ander manier moontlik is. Dit was nie net die Middeleeuse Roomse kerk met sy aflaatstelsel en boetedoening-bygeloof wat in hierdie dryfsandteologie vasgeval het nie. Een van die grootste gevare binne gereformeerde kerke is juis dat ons dink ons is gevrywaar van sulke skeefgetrekte teologiese denke.

Dit is deel van die menslike natuur om te dink dat hy vir sy eie gees­te­like welstand kan sorg. Hoor byvoorbeeld hoe leer ons ons kinders: Moe­nie stout of ongehoorsaam wees nie, want sulke kinders gaan nie he­mel toe nie. Wat is ons subteks? As jy nie goed doen nie, kan jy nie ge­red word nie. Nog een van hierdie fariseïstiese denkpatrone is dat ons male sonder tal teenspoed in ons lewens as die direkte gevolg beskou van iets wat ons iewers verkeerd moes gedoen het.

Met die oog op só ’n ingesteldheid, het die Here Jesus hierdie gelyke­nis vertel. Hy waarsku daarteen om nie op jou eie godsdienstigheid en gehoorsaamheid te reken wanneer jy op ’n herstelde verhouding met God hoop nie. So ’n gebrekkige betaling vir ons skuld sal altyd te kort skiet. Wat ons nodig het, is om soos die tollenaar ons geestelike bankrotskap te erken, want slegs dan sal ons al ons hoop op verlossing in God en sy Messias stel.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 64:1-12

Gebed: Vader, ek bely my sonde en afhanklikheid voor U. Wees my, son­daar­mens, genadig! Amen.

Lk. 18:9-14

Sing: Ges. 69:2

Dink aan my, Here

Dink aan my, Here

… Dink aan my, Here … (Lk. 23:42); [HK So. 5 V/A 12].

Wanneer kinders weet hulle optrede verdien straf, is dit opvallend (en soms komies) om te sien wat hulle alles sal doen om die straf te ontglip. Kinders besef baie goed dat hulle optrede dikwels die verhou­ding met hul ouers in gedrang bring. Daarom soek hulle nie net vergewing nie, maar sal hulle alles in hul vermoë doen om die verhou­ding te herstel.

Iets hiervan, skryf ds. Herman Veldkamp, is ook sigbaar in Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus. Die skrywer is nie net eerlik oor sy son­dige toestand nie, hy het ook ’n opregte begeerte na ’n herstelde ver­houding met die Vader. Wanneer die sondaar saam met Christus aan die kruis hang, gaan hy verder as om sy doemwaardigheid te erken en te bely. Hy spreek ook sy begeerte uit om met God herstel te wees: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom (v. 42). Soos Augustinus dit gestel het: Alle dinge wat God mag skenk, is van nul en gener waarde as ek God self nie het nie.

Die besef van sonde en verlorenheid, laat die sondaar sidderend voor die heilige God, maar nie sonder hoop nie. Wie deur die werking van die Gees in die geloof God se verlossing en genade in Jesus Christus aangryp, is daar meer as net die hoop op ’n herstelde verhouding. Daar is die seker wete: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees (v. 43).

Begeer jy ’n herstelde verhouding met God? Moet dan nie dat sy geregtigheid jou in wanhoop laat vergaan nie. Gryp die genade van God in Christus vas, want Hy het reeds namens jou aan God se geregtigheid voldoen sodat jy ook saam met Hom in die Paradys mag wees!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 130:1-8

Gebed: Dankie, Here, dat ek weer met U in die aandwindjie kan wandel! Amen.

Lk. 23:33-49

Ps. 130:1, 2, 4

God se geregtigheid … die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eség. 18:4); [HK So. 5 V/A 12].

Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie (v. 25). Hoe gereeld hoor ’n mens nie hierdie aanklag wanneer die evangelie verduidelik word nie? Die mens is maar net nie tevrede met die weë van die Here nie. In ons grootheidswaan weet ons altyd beter. Tog moet ons duidelik verstaan: In God se raadsplan, ook sy verlossingsplan, het ons geen sê nie. Alle siele behoort aan Hom (v. 4) en daarom besluit Hy self wat die reëls is.

In die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus erken die skrywer juis dit as hy sê: God wil … Wat ons dus in hierdie antwoord kry, is nie uit die duim gesuig nie. Dit is nie die produk van menslike vindingryk­heid of wetenskaplike navorsing nie. Dit is hoe God sy geregtigheid (dit wat nodig is om “reg” te wees met Hom) aan ons in sy Woord geopenbaar het.

Van hierdie geregtigheid lees ons in Eségiël 18. Beïnvloed deur die heidene rondom hulle, het Israel geglo dat die ongeregtigheid van die vaders op hul kinders oorgedra word. Dit het ’n fatalistiese bestaan tot gevolg, aangesien jy in elk geval die slagoffer van jou vader se sondes is. Die Here stel dit egter deur Eségiël duidelik dat hierdie sienswyse nie ooreenstem met sy geregtigheid nie. Sy geregtigheid eis dat die een wat sondig, vir sy eie oortredinge moet betaal. Sedert die skepping eis God gehoorsaamheid van die mens, maar as gevolg van die sondeval het die mens sy vermoë tot hierdie gehoorsaamheid verloor en staan ons as ’t ware magteloos voor die eise van God se geregtigheid. Wat ons nodig het om gered te word, is Iemand wat namens ons aan hierdie geregtigheid kan voldoen.

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29

Gebed: O God, help my om in nederigheid u reddingsplan te aanvaar! Amen.

Eség. 18:1-32

Sing: Ps. 51:1, 3, 5

Ek het die Geneesheer nodig

Ek het die Geneesheer nodig

… ons ontvang die verdiende loon vir ons dade … (Lk. 23:41); [HK So. 5 V/A 12].

In die eerste afdeling van die Kategismus word die mens van alle ver­ont­skuldiging vir sy sondige toestand ontneem. Die mens se sondigheid is nie die gevolg van God se skepping nie, maar eerder van sy eie keu­ses. God is ook nie onregverdig om van die mens iets te eis wat hy nie meer in staat is om te gee nie, want hy het uit eie keuse sy Godgegewe vermoëns prysgegee.

Nou verander die toon van die Kategismus egter met die opskrif: Ver­lossing. Die verlore toestand waarin die mens homself bevind, is nie ’n doods­vonnis wat die mens in wanhoop laat rondspartel nie. Daar is hoop, maar daardie hoop loop hand aan hand met die erkenning dat jy ’n son­daar is wat God se oordeel in terme van sy tydelike en ewige straf verdien.

Hierdie eerste treë op die verlossingspad is duidelik sigbaar in die re­ak­sie van die sondaar wat saam met Christus gekruisig is. Waar die eerste misdadiger smalend die Here Jesus uitdaag om Homself en hulle van die kruis te verlos, erken die tweede misdadiger dat sy probleem baie groter en die konsekwensies van sy dade baie meer verreikend is. Hy besef dat hy “na die regverdige oordeel van God, tydelike en ewige straf verdien” (HK V/A 12).

Net soos iemand wat nie wil erken dat hy siek is nooit sal besef hoe nodig hy ’n dokter het nie, net so sal iemand wat nie eers sy eie sondige en verlore toestand erken en bely, weet hoe nodig hy die Verlosser het nie. Deur die werking van die Gees het die sondaar aan die kruis besef hy is leeg, net met sy sondelas. Daarom gryp hy Christus, die Sondelose, se verdienste vas.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 51:1-21

Gebed: Here, wees my, sondaarmens, genadig! Amen.

Lk. 23:33-49

Sing: Ges. 69:3

Waar sal my hulp vandaan kom? … Waar sal my hulp vandaan kom? (Ps. 121:1); [HK So. 5 V/A 12].

Op pad na die pelgrimsfees in Jerusalem slaan die pelgrim van Psalm 121 sy oë op na die berge. Die pad na Jerusalem het oor die berge wat die stad omring, gekronkel. Hier het die onheil dikwels die plattelandse pelgrims ingewag. Wanneer die pelgrim dus na die berge kyk, is dit ’n gespanne kyk – diep bewus van die gevare wat wag.

Daar was egter nog ’n rede waarom na die berge opgekyk is. In die antieke wêreld is die berge as die woonplek van die gode beskou. Die vraag van die pelgrim is dus nie ’n gewone uitroep om hulp nie, maar ’n erkenning dat hulp van ’n bonatuurlike aard nodig is om hom uit sy wanhopige situasie te verlos.

Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus eggo iets van hierdie vraag. Wie die ellende van sy hopelose, sondige toestand besef, se situasie is selfs meer wanhopig as die pelgrim op pad na Jerusalem s’n. So iemand kan nie anders nie as om uit te roep: Waar sal my hulp vandaan kom?

Was jy al ooit eerlik met jouself oor jou eie geestelike toestand? Besef jy dat jou sondes jou lê en inwag en as jy nie hulp van buite jouself kry nie, jy Jerusalem nooit sal sien nie? Maak seker jy soek jou hulp op die regte plek. Kyk hoër as die berge met hul verwaande afgode van aansien, trots, hoogmoed of selfs goeie werke. As jy tussen hulle soek, besef jy nog nie werklik hoe groot jou nood is nie. Uiteindelik is dit net die Here wat die hemel en die aarde gemaak het wat in staat is om jou siel te bewaar van die dood. Dit doen Hy deur die bloed van sy kosbare Seun, Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 124:1-8

Gebed: Here, ek rig my oë verlangend op U! Amen.

Ps. 121:1-8

Sing: Ps. 146:1, 2, 8

Afgerond en opgebind

Afgerond en opgebind

Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie …
(Jes. 45:5); [HK So. 1-4 V/A 1-11].

Om hierdie deel wat handel oor die mens se ellende op te som, kyk ons weer na Vraag en Antwoord 1: Wat is my enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, toebehoort, wat met sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal, en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos het … ook, dat alles vir my tot my saligheid moet dien; daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Nou weet ek dat ek, sondaarmens, niks verdien nie, behalwe die straf wat my in alle regverdigheid toekom. God is getrou en regverdig om geen sonde ongestraf te laat bly nie, maar daar … is dan nou geen ver­oor­deling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1). Dit gee my die gemoedsrus dat hier­die belofte van God nie ’n vervaldatum het nie; ook kan dit nie nie­tig verklaar word nie, want Hy het sy Naam daarop gesit (Hand. 10:43) en Hy sal nooit laat vaar die werke van sy hande nie (Ps. 138:8), want die … werke van sy hande is trou en reg; al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; uitgevoer in trou en opregtheid (Ps. 111:7).

Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! (Ps. 103:1).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 103:1-22

Gebed: Here, al my dank bring ek U. Amen.

Jes. 45:1-25

Ges. 172