… Dink aan my, Here … (Lk. 23:42); [HK So. 5 V/A 12].
Wanneer kinders weet hulle optrede verdien straf, is dit opvallend (en soms komies) om te sien wat hulle alles sal doen om die straf te ontglip. Kinders besef baie goed dat hulle optrede dikwels die verhouding met hul ouers in gedrang bring. Daarom soek hulle nie net vergewing nie, maar sal hulle alles in hul vermoë doen om die verhouding te herstel.
Iets hiervan, skryf ds. Herman Veldkamp, is ook sigbaar in Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus. Die skrywer is nie net eerlik oor sy sondige toestand nie, hy het ook ’n opregte begeerte na ’n herstelde verhouding met die Vader. Wanneer die sondaar saam met Christus aan die kruis hang, gaan hy verder as om sy doemwaardigheid te erken en te bely. Hy spreek ook sy begeerte uit om met God herstel te wees: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom (v. 42). Soos Augustinus dit gestel het: Alle dinge wat God mag skenk, is van nul en gener waarde as ek God self nie het nie.
Die besef van sonde en verlorenheid, laat die sondaar sidderend voor die heilige God, maar nie sonder hoop nie. Wie deur die werking van die Gees in die geloof God se verlossing en genade in Jesus Christus aangryp, is daar meer as net die hoop op ’n herstelde verhouding. Daar is die seker wete: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees (v. 43).
Begeer jy ’n herstelde verhouding met God? Moet dan nie dat sy geregtigheid jou in wanhoop laat vergaan nie. Gryp die genade van God in Christus vas, want Hy het reeds namens jou aan God se geregtigheid voldoen sodat jy ook saam met Hom in die Paradys mag wees!
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 130:1-8
Gebed: Dankie, Here, dat ek weer met U in die aandwindjie kan wandel! Amen.
Lk. 23:33-49
Ps. 130:1, 2, 4
God se geregtigheid … die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eség. 18:4); [HK So. 5 V/A 12].
Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie (v. 25). Hoe gereeld hoor ’n mens nie hierdie aanklag wanneer die evangelie verduidelik word nie? Die mens is maar net nie tevrede met die weë van die Here nie. In ons grootheidswaan weet ons altyd beter. Tog moet ons duidelik verstaan: In God se raadsplan, ook sy verlossingsplan, het ons geen sê nie. Alle siele behoort aan Hom (v. 4) en daarom besluit Hy self wat die reëls is.
In die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus erken die skrywer juis dit as hy sê: God wil … Wat ons dus in hierdie antwoord kry, is nie uit die duim gesuig nie. Dit is nie die produk van menslike vindingrykheid of wetenskaplike navorsing nie. Dit is hoe God sy geregtigheid (dit wat nodig is om “reg” te wees met Hom) aan ons in sy Woord geopenbaar het.
Van hierdie geregtigheid lees ons in Eségiël 18. Beïnvloed deur die heidene rondom hulle, het Israel geglo dat die ongeregtigheid van die vaders op hul kinders oorgedra word. Dit het ’n fatalistiese bestaan tot gevolg, aangesien jy in elk geval die slagoffer van jou vader se sondes is. Die Here stel dit egter deur Eségiël duidelik dat hierdie sienswyse nie ooreenstem met sy geregtigheid nie. Sy geregtigheid eis dat die een wat sondig, vir sy eie oortredinge moet betaal. Sedert die skepping eis God gehoorsaamheid van die mens, maar as gevolg van die sondeval het die mens sy vermoë tot hierdie gehoorsaamheid verloor en staan ons as ’t ware magteloos voor die eise van God se geregtigheid. Wat ons nodig het om gered te word, is Iemand wat namens ons aan hierdie geregtigheid kan voldoen.
Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29
Gebed: O God, help my om in nederigheid u reddingsplan te aanvaar! Amen.
Eség. 18:1-32
Sing: Ps. 51:1, 3, 5