O, arme bloedjie!

O, arme bloedjie!

… want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem (Hebr. 12:6); [HK So. 4 V/A 11].

As God dan regverdig is in sy straf op die sonde van die mens en dat hierdie straf ’n werklikheid is, dan behoort God tog in sy barmhartigheid iets vir die mens te voel en hom jammer te kry en te laat gaan, nie waar nie? Die volgende stap in die mens se verontskuldigingspro­ses gaan uit van die standpunt dat die barmhartigheid van God straf op sonde behoort uit te sluit.

Ons kry onsself verskriklik jammer! Besef ons dan nie wat werklik die doel van God se straf op sonde is nie? Juis deur sy straf betuig God sy genade! As God die sonde ongestraf sou laat, sou dit die sondaar daartoe dring om hom van sy sondige weë weg te draai? In die woorde van Paulus: stellig nie! Lees ons dan nie juis in Spreuke dat wie sy roe­de terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging (Spr. 13:24) nie? In sy straf vir die sonde maak God Homself ook as die barmhartige bekend. God laat nie toe dat sonde oor jou bly heers nie. Daarom straf Hy die sonde. Mense wat nie aan Jesus Christus behoort en Hom volg nie, word gestraf. Vir mense wat glo dat Hy God is wat in ons plek die straf op ons sonde aan die kruis gedra het, en daarom hul lewe aan Hom wy, verander die straf in tug. Die Here tug hulle om hulle tereg te wys as hulle afdwaal. Hy tug hom wat Hy liefhet, en straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Spr. 3:11, 12).

Die dood is nie meer ’n straf op ons sonde nie, maar die weg na die ewige lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 1:16-2:10

Gebed: Here, help my om daagliks u grootheid en geregtigheid in die regte lig te sien. Amen.

Hebr.12:1-13

Ges. 359:1, 2

Vinkel en koljander …

En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon … vol van genade en waarheid (Joh. 1:14); [HK So. 4 V/A 11].

God se straf en genade is soos vinkel en koljander, baie dieselfde, maar tog onderskeibaar. Net soos die wese van God.

Telkemale leer die Woord van God ons dat daar waar die mens gesondig het en God se straf op hulle gerus het, het sy genade gevolg soos beloof: In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het … (Efés. 1:7). God het vir sy beelddraers gesê dat hulle van die boom van kennis van goed en kwaad nie mag eet nie. Die dag as hulle daarvan eet, sal hulle sekerlik sterf (Gén. 2:17). Nadat Adam en Eva in ’n poging om soos God te word daarvan geëet het, het God in sy genade die mens nog ’n tyd gegee om te lewe voordat hulle sterf. Binne hierdie genadetyd gee Hy die moederbelofte.

Die Here straf Kain om ’n swerwer te word nadat hy Abel vermoor het, maar uit sy genade gee die Here ’n teken aan Kain sodat niemand hom sal doodmaak nie (Gén. 4:10-15). Toe die Here sien hoe god­de­loos die mense geword het en boosheid hulle bestaan kenmerk, het dit Hom berou en het Hy Homself voorgeneem om alles te verdelg, maar Noag het genade gevind in die oë van die Here (Gén. 6:8). En so kan vele voorbeelde aangehaal word.

Die hoogtepunt is egter Jesus Christus se kruisdood waar God se geregtigheid en genade in balans kom toe Hy ons straf gedra het en ons terselfdertyd sy genade ontvang het.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 32:1-11

Gebed: Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart (Ps. 36:11). Amen.

Joh. 1:1-14

Ges. 101:1, 4

Buk boetie, buk!

Buk boetie, buk!

Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou … wat ongeregtigheid
en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie … (Ex. 34:6, 7); [HK So. 4 V/A 10].

Buk boetie, buk! Daar is sekerlik nie ’n seun wat hierdie woorde nie ken nie! Omdat hy deeglik bewus is van die rede waarom hy homself in hierdie ongemaklike penarie bevind, weet hy die komende straf hou ten nouste verband met die oortreding.

Omdat daar teen God oortree is, eis Hy die hoogste straf vir die sonde denkbaar, nl. die dood (Rom. 6:23). Omdat die mens bewus is van die gevolg van sy sonde, soek hy nou na versagtende omstandighede. Daarom probeer hy nou die blaam terug verskuif na God. Daarom die vraag of God nie onregverdig is om van die mens te verwag om iets te doen wat nie vir hom moontlik is nie – ’n truuk so oud soos die berge self. Adam het dit gedoen deur die blaam te verskuif na Eva, Eva op haar beurt na die slang, later het Israel dit met die goue kalf-fiasko gedoen (Ex. 32:1) en die mens doen dit vandag nog steeds (net beter), want hy weet hy het moeilikheid.

God is die volmaak goeie, genadige en barmhartige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. Hierdie antwoord wys duidelik dat God die mens só geskape het dat hy alles kon doen wat God van hom vra. God doen die mens dus geen onreg aan wanneer Hy Homself openbaar as die God wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie (Ex. 34:7).

Ons kan slegs maar in ootmoed bely dat God volmaak regverdig is in sy straf op sonde.

Bykomende Skrifgedeelte: Jer. 46:28, 29

Gebed: O Here, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie … daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie (Ps. 38:2). Amen.

Ex. 34:1-10

Ps. 38:1-3

Is jy ’n senter?

… en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke (Openb. 20:13); [HK So. 4 V/A 10].

As daar darem nou een man is wat vir ’n rugbyspan van onskatbare waarde is, is dit die binnesenter. Hy moet wéét hoe om ’n gaping te kan vat tussen die ander span se verdedigers deur.

As dit kom by gapings vat, is elke mens entlik in eie reg ’n talentvolle senter! As God dan nie onregverdig is nie, dan vat ons die volgende gaping met die vraag: Gaan God ons sonde regtig straf? Ons hoor gereeld stemme wat beweer dat God nie sonde straf nie en ook dat daar nie so iets soos die ewige oordeel in die hel is nie. In Exodus 34:7 lees ons dat God die sonde nie ongestraf laat bly nie. God is getrou (1 Kor. 1:9). Hy is juis ook getrou aan Homself, aan sy geregtigheid en sy hei­lig­heid. Telkemale lees ons in die Bybel dat God ongehoorsaamheid straf. Sommer kort ná hulle ongehoorsaamheid, straf God vir Adam en Eva; nadat Moses van die berg afgekom het waar hy die Wet ontvang het en die volk intussen die goue kalf gemaak het, straf God hulle en dood op die plek drieduisend man.

Vandag word dit nog steeds ervaar: Waar sedelikheid oorboord ge­gooi word, klim siektes in; dwelm- en alkoholmisbruik lei tot versla­wing en die dood, en so kan ons aanhou. Maar die Heilige God se toorn in hierdie lewe is nog maar net die voorsmaak van sy ewige straf in die poel van vuur en swael (Openb. 21:8).

Dit help nie u en ek hou ons lyf senter nie. Daar is nie ’n gaping te vat nie! God se heiligheid, sy geregtigheid en trou eis dat Hy sonde sal straf en dit doen Hy ook, tydelik en ewig.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 24:45-51

Gebed: Heilige Gees, stel ons in staat om die lewe van geregtigheid, gehoorsaamheid en voortdurende heiligmaking te lewe. Amen.

Openb. 20:11-15

Ges. 375:1, 2

Regverdige Skeidsregter

Regverdige Skeidsregter

Wat van die begin af was … verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:1, 3); [HK So. 4 V/A 9].

Eendag ná ’n rugbywedstryd, vra ’n baie onstoke, ouerige omie aan die skeidsregter of hy sy gidshond die oggend kos gegee het! Vir die oom was van die beslissings op die veld maar baie twyfelagtig.

Ons is ook dikwels ongelukkig met sekere “beslissings” wat God in die wedstryd van ons lewe maak. Daarom die vraag of dit dan nie onregverdig is van God om van die mens te verwag dat hy sy wet moet gehoorsaam nie. Regverdigheid vereis twee dinge: kennis en verantwoordelikheid. God se oproep tot gehoorsaamheid om regverdig te wees, vereis dat die mens moet weet wat reg en verkeerd is en dan moet hy ook ’n sin vir verantwoordelikheid hê om dit wat reg is, te doen en dit wat verkeerd is, te vermy. Omdat ons na God se beeld geskape is, het ons albei ontvang. Ons het trouens meer ontvang! As beelddraers van God besit die mens ook geregtigheid en heiligheid en liefde.

Die mens is dus duidelik binne die vermoë om aan God se oproep gehoorsaam te wees, soveel so dat God hom eintlik as heerser oor die skepping aangestel het! Maar dit was die mens se eie keuse om eerder aan Satan gehoorsaam te wees. Hier is dus sprake van ’n moedswillige ongehoorsaamheid teen God!

Hierdie ongehoorsaamheid het nie net by Adam en Eva gebly nie. God se Woord sê elkeen van ons staan ook skuldig voor God en as ons dit ontken, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie (1 Joh. 1:8, 10). Daar was net één Mens wat geen sonde gehad het nie en dit was Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 19:1-10

Gebed: Here, u oordeel is regverdig, wees my sondaar genadig! Amen.

1 Joh. 1:1-10

Ges. 410

Die rooi ligte flikker!

Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister (Lk. 16:29); [HK So. 4 V/A 9].

Ai, was die mens maar ’n donkie! Die spreekwoord sê ’n donkie stamp hom nie twee keer teen dieselfde klip nie. Maar die méns doen dit.

Daar is niemand regverdig nie, nie eens een nie; niemand wat verstandig is nie, wat nog te sê van na God soek. Hulle het almal afgewyk, heeltemal ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie (Rom. 3:10-12). Verder hoor ons dat almal gesondig het en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Gaan kyk ons in die Bybel (so vroeg as in Gén. 2:17 al!) waarsku God die mens dat hy nie ongehoorsaam moet wees nie.

Die mens het nie geluister nie en die eerste keer sy kop gestamp. Net in die volgende geslag waarsku God weer vir Kain om oor die sonde te heers en weer luister die mens nie. Toe stamp die mens weer sy kop teen dieselfde klip. En so kan ons aangaan: Noag net voor die vloed, Moses met die volk Israel in die woestyn, Jona met die stad Ninevé, die Here Jesus se volgelinge wat by Hom geleer het. Elke keer was daar straf op hierdie ongehoorsaamheid en dan wonder ons nog of God regverdig is as Hy óns straf?!

God ís regverdig as Hy ons straf, want Hy het ons vroegtydig gewaarsku. Die vraag is eerder: Hoeveel keer moet Hy ons nog waarsku voordat ons begin luister? Net soos wat Hy nog sewe dae genadetyd aan die mense gegun het voordat Hy die verderf wat op die aarde geheers het, uitgeroei het met reën … en al die lewende wesens … van die aarde verdelg [het] … (Gén. 7:4), so leef ons ook in genadetyd sodat ons die sonde kan bestry.

Bykomende Skrifgedeelte: Deut. 27:9-26

Gebed: Here, U is regverdig, en reg is u verordeninge (Ps. 119:137). Amen.

Lk. 16:19-31

Ges. 1:1, 2

Wedergeboorte – wondergeboorte

Wedergeboorte – wondergeboorte

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie (Joh. 3:5); [HK So. 3 V/A 8].

Om so dood soos ’n mossie te wees en tot lewend te verander, vereis ’n wonderwerk! En dit is presies wat gebeur! Wedergeboorte, die proses van geestelik dood na geestelik lewend is so wonderbaar dat selfs ’n Skrifgeleerde uit Israel dit nie kon begryp nie.

Nikodémus se belydenis dat die Here Jesus deur God gestuur is, berus in die sigbare tekens wat die Here gedoen het, maar Hy vereis veel meer. Wonderwerke was in daardie tyd beskou as tekens van Goddelike gesag. Wat die Here Jesus egter vereis, is ’n verandering van hart, wedergeboorte. Nikodémus verstaan die woord “wedergeboorte” egter letterlik, terwyl die Here “opnuut” of “van bo” met die woord bedoel.

Hierdie vernuwing geskied van bo deur die werking van die Heilige Gees. Hy vergelyk dit met die wind: Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is (v. 8).

Vleeslike geboorte is die resultaat van die wil en optrede van die mens, maar wedergeboorte skenk God uit sy vrymagtige genade aan wie Hy wil. Die Dordtse Leerreëls beskryf dit as: … ’n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif … is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies nie.

Dit is met hierdie selfde mag en gesag wat God deur sy Gees in u en my werk om ons geestelik lewend te maak!

Bykomende Skrifgedeelte: Núm. 21:1-10

Gebed: Here, dankie dat ek deur U kan lewe! Help my dat dit tot u eer sal wees. Amen.

Joh. 3:1-21

Ges. 309:1-5

Reg tot stilswye?

Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek? (Job 15:8); [HK So. 4 V/A 9].

Alles draai deesdae om regte. Menseregte. Wanneer jy gearresteer word, het jy die reg tot stilswye en om voor ’n hof binne 48 uur te verskyn en het jy die reg tot regsverteenwoordiging. Jy het die reg om te dink, glo en te aanbid hoe jy ook al verkies.

Jy het die reg tot gesond­heid­sorg, voldoende voedsel en water en so kan ons aanhou. Dit is vir die mens so belangrik dat dit selfs in ’n handves vervat en deur ’n organisasie beskerm word. Selfs God word hierby betrek.

Wie dink dat God dalk onregverdig teenoor die mens is om van hom te verwag om aan sy wet en gebooie getrou te bly, maak een fou­tiewe ver­onderstelling: dat die mens ook voor God ’n reg het. Daardeur word God nou eintlik aangekla vir skending van die mens se reg en sommer in een asem ook skuldig bevind.

Die Kategismusvraag kon in werklikheid eintlik wees: “Doen die mens dan aan God geen onreg om van Hom te verwag om te doen wat Hy nie veronderstel is om te doen nie?” Dit is nie ’n vreemde verskynsel nie, want Adam het reeds God verwytend aangekla oor die vrou wat Hy hom gegee het (Gén. 3:12).

Wat eis God dan van die mens? Liefde vir Hom en liefde vir jou naaste (Mt. 22:34-40). Veldkamp sê in Zondagskinderen dat ons onmag in ons onwil lê. Dit is nie buite ons vermoë om God lief te hê nie, maar ons het onsself meer lief as vir God. My reg lê egter daarin dat ek myself eerder in stilte biddend in die regte verhouding voor God moet plaas.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 11:33-36

Gebed: Here, my enigste reg in die lewe is om te sterf. Ek dank U dat dit my voorreg is om deur Christus te mag leef tot in ewigheid. Amen.

Job 15:1-11

Ps. 130:1, 2

Rondom lelik!

Rondom lelik!

Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is (Rom. 3:23); [HK So. 3 V/A 7].

Die ander dag hoor ek ’n sekere persoon word beskryf as “rondom lelik”! Ek dink toe so by myself dat dit darem maar ’n lelike lelik moet wees! Toe dit tref my: ons as sondaars is voor God so rondom lelik!

Daar is geen gedeelte van my bestaan wat nie besmet is met die sonde nie. Nie my gedagtes, nie my woorde of my dade nie. Geen plek wat ek kan vind om te gaan wegkruip vir God nie – nie in my huis nie, nie in my volksmuseum nie, nie in my kind se privaatskool nie, nie eers in my kerk nie.

Selfs Adam en Eva moes agterkom dat wegkruip nie help nie! En as­of dit nie erg genoeg is nie, het hierdie lot op almal geval – nie een het ont­snap nie: nie die ouderling nie, nie die diaken nie ook nie die do­mi­nee nie! Paulus skryf: almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23).

Ek kan self niks doen om hierdie lelike lelikheid weg te steek nie. Om dit te bedek, gaan niks help nie. Vyeblare gaan nie werk nie – dit is al probeer! Al wat sal help, is om my te was in die bloed van die Lam! Wat die eerste Adam verbrou het, het God weer herstel deur die laaste Adam na hierdie aarde te stuur: sy Seun, Jesus Christus.

Daardie wonderlike beeld waarna die mens geskape was, die beeld van ware kennis van God, geregtigheid en heiligheid, is nou weer herstel tot sy vorige heerlikheid. En die volheid daarvan sal ons by die wederkoms beleef!

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 15:35-49

Gebed: Here, ek dank U vir u genade wat U so mildelik aan my bewys. Amen.

Rom. 3:21-26

Ges. 295:1-4

Dood soos ’n mossie

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes … (Efés. 2:2); [HK So. 3 V/A 7].

Waar die vergelyking van die arme mossie sy oorsprong het, is onbekend, maar wat wel bekend is, is dat dit presies die toestand van die mens in sy sondige staat weerspieël.

Daar is by baie van ons mense die idee dat die mens nie heeltemal so sleg is as wat almal dink nie. Elke mens sou iets goeds in hom hê – jy moet dit net ontdek en ontgin, dan sal jy verbaas staan oor die resultaat! Paulus skryf hulle was geestelik dood, nie net siek of verkoue wat deur ’n pilletjie genees kan word nie, maar mossie-dood. Daardeur bring hy dit onder hulle aandag dat hulle heeltemal van God geskei was en dat dit nie aan hulle eie toedoen te danke is dat hulle nou lewend is nie, maar deur die werk van die Gees.

Net so min as wat ’n dooie persoon deur sy eie toedoen weer sy hart aan die klop kan kry, net so min kan jy op jou eie geestelik lewend word. Soos aksie van buite benodig word om hierdie hartstilstand te verander, so benodig ons die wedergeboorte, ’n werking van buite, om ons hart van klip te verander sodat dit ’n hart kan wees wat die bloed van Christus in ons binneste pomp.

Daarom getuig die Dordtse Leerreëls in die Derde en Vierde Leerstuk paragraaf 11: Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend …

Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 6:1-8

Gebed: Here, hoe kan ek U ooit genoeg dank vir my nuwe lewe? Amen.

Efés. 2:1-10

Ges. 288:1, 2

Liggaam en siel

Liggaam en siel

En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape … (Gén. 1:27); [HK So. 3 V/A 6].

Heel dikwels besef ’n mens eers wat jy gehad het nadat jy dit verloor het. Dan kom die spreekwoord “spyt kom te laat” heel van pas. Om sonde reg te sien, moet jy eers verstaan hoe die mens vóór die sondeval gelyk het.

In Génesis 2:7 lees ons dat die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde. Met ander woorde die materiaal waaruit die aarde saamgestel is, kom in die mens voor. Sodoende is die mens wat sy liggaam betref nou aan die natuur verwant. Maar die mens was nog nie lewend nie en iets van buite was nodig om hom te laat leef. Dan sien ons die Here God het in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. Nou eers was hy ’n lewende wese met ’n gees wat direk van God af kom. Liggaam en siel is dus ten nouste aan mekaar verbonde, maar nog nouer as dit is die verband tussen die mens en sy God wat die mens onderskei van die dier.

Volgens Génesis 1:26 is Adam en Eva beide na die beeld en gelykenis van God geskape. Dawid sing in Psalm 8:6 dat die mens ’n weinig (anders vertaal: vir ’n kort rukkie) minder geskape is as ’n goddelike wese! Die mens vertoon dus soos God sonder om God te wees, maar as ’n skepsel bly die mens egter ’n beperkte wese.

Hoe wonderlik het God my nie geskape nie! Hy het my só lief dat Hy bereid was om sy eie Seun in my plek te laat sterf! Daarom moet ons opreg strewe om altyd waardige beelddraers van God te wees.

Bykomende Skrifgedeelte: Kol. 3:1-11

Gebed: Here, dankie dat U aan my gedink het in u skepping. Amen.

Gén. 1:26-31 en Gén. 2:7

Ps. 90:1, 2

Op ’n druppel water

En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efés. 4:24); [HK So. 3 V/A 6].

By die geboorte van ’n babadogtertjie (sekerlik seuntjies ook) hoor ons dikwels sy lyk op ’n druppel water na haar ouma, net sodat die an­der ouma later ook dieselfde stelling maak – net aan haar kant van die fa­mi­lie! Beide families herken gelaatstrekke wat vir hulle bekend is.

Die mens is ook na die beeld van God geskape. Nie wat uiterlike gelaatstrekke betref nie, maar die dinge waarin die mens sekere eien­skappe met God deel. In breëre sin word verwys na sy verstandelike vermoë en sy sedelike bewustheid. Ook is hy ’n godsdienstige wese wat bewus is van sy heiligheid en wat graag wil heers oor die skepping. Maar volgens Efésiërs 4 verwys die beeld van God na ’n baie nouer band. ’n Nouer verhouding tussen Skepper en skepsel word geopenbaar deur geregtigheid en heiligheid: Geregtigheid deurdat die eerste mens in die regte verhouding met sy Skepper gestaan het; heiligheid deurdat die mens nog ’n hart gehad het wat rein en onbedorwe was, dus volkome aan God behoort het. Hy het ware kennis van God gehad.

Ná die sondeval het dinge dramaties verander. Die sonde het God se beeld in die mens vernietig. Alhoewel die beeld nie totaal verwoes is nie (Jak. 3:9), is dit amper onherkenbaar. Die mens het nie ’n dier geword nie, maar het nie meer ware kennis, geregtigheid en heiligheid besit nie. In die hele proses het hy glad nie meer ’n verhouding met God gehad nie omdat sy hart nou weggedraai het van God en net op die kwaad gefokus is. Hy besit nou net die kennis wat sy nuwe vader, Satan, hom geleer het.

Maar vir God se uitverkore kinders bly bloed dikker as water …

Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 3:15

Gebed: Here, herskep my deur u Gees tot ’n spogbeeld van u werke. Amen.

Efés. 4:17-24

Ges. 228:1-4