Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie (Joh. 3:5); [HK So. 3 V/A 8].
Om so dood soos ’n mossie te wees en tot lewend te verander, vereis ’n wonderwerk! En dit is presies wat gebeur! Wedergeboorte, die proses van geestelik dood na geestelik lewend is so wonderbaar dat selfs ’n Skrifgeleerde uit Israel dit nie kon begryp nie.
Nikodémus se belydenis dat die Here Jesus deur God gestuur is, berus in die sigbare tekens wat die Here gedoen het, maar Hy vereis veel meer. Wonderwerke was in daardie tyd beskou as tekens van Goddelike gesag. Wat die Here Jesus egter vereis, is ’n verandering van hart, wedergeboorte. Nikodémus verstaan die woord “wedergeboorte” egter letterlik, terwyl die Here “opnuut” of “van bo” met die woord bedoel.
Hierdie vernuwing geskied van bo deur die werking van die Heilige Gees. Hy vergelyk dit met die wind: Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is (v. 8).
Vleeslike geboorte is die resultaat van die wil en optrede van die mens, maar wedergeboorte skenk God uit sy vrymagtige genade aan wie Hy wil. Die Dordtse Leerreëls beskryf dit as: … ’n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif … is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies nie.
Dit is met hierdie selfde mag en gesag wat God deur sy Gees in u en my werk om ons geestelik lewend te maak!
Bykomende Skrifgedeelte: Núm. 21:1-10
Gebed: Here, dankie dat ek deur U kan lewe! Help my dat dit tot u eer sal wees. Amen.
Joh. 3:1-21
Ges. 309:1-5
Reg tot stilswye?
Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek? (Job 15:8); [HK So. 4 V/A 9].
Alles draai deesdae om regte. Menseregte. Wanneer jy gearresteer word, het jy die reg tot stilswye en om voor ’n hof binne 48 uur te verskyn en het jy die reg tot regsverteenwoordiging. Jy het die reg om te dink, glo en te aanbid hoe jy ook al verkies.
Jy het die reg tot gesondheidsorg, voldoende voedsel en water en so kan ons aanhou. Dit is vir die mens so belangrik dat dit selfs in ’n handves vervat en deur ’n organisasie beskerm word. Selfs God word hierby betrek.
Wie dink dat God dalk onregverdig teenoor die mens is om van hom te verwag om aan sy wet en gebooie getrou te bly, maak een foutiewe veronderstelling: dat die mens ook voor God ’n reg het. Daardeur word God nou eintlik aangekla vir skending van die mens se reg en sommer in een asem ook skuldig bevind.
Die Kategismusvraag kon in werklikheid eintlik wees: “Doen die mens dan aan God geen onreg om van Hom te verwag om te doen wat Hy nie veronderstel is om te doen nie?” Dit is nie ’n vreemde verskynsel nie, want Adam het reeds God verwytend aangekla oor die vrou wat Hy hom gegee het (Gén. 3:12).
Wat eis God dan van die mens? Liefde vir Hom en liefde vir jou naaste (Mt. 22:34-40). Veldkamp sê in Zondagskinderen dat ons onmag in ons onwil lê. Dit is nie buite ons vermoë om God lief te hê nie, maar ons het onsself meer lief as vir God. My reg lê egter daarin dat ek myself eerder in stilte biddend in die regte verhouding voor God moet plaas.
Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 11:33-36
Gebed: Here, my enigste reg in die lewe is om te sterf. Ek dank U dat dit my voorreg is om deur Christus te mag leef tot in ewigheid. Amen.
Job 15:1-11
Ps. 130:1, 2