Opregte liefde op die horison

Opregte liefde op die horison

Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig (Ps. 26:11); [HK So. 2 V/A 4].

Gister het ons gesien die Here toets onder meer ons gesindheid jeens Hom. Om die regte gesindheid te openbaar, vra natuurlik opregte liefde.

Die opsomming van die wet soos ons dit in Matthéüs 22:37-40 vind, spel dit vir ons duidelik uit: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Hoe moeilik is dit nie dikwels om my naaste lief te hê soos wat ek myself het nie! Daar is altyd daardie een persoon wat ek nie kan verdra nie, wat nog te sê van liefhê! Maar die Woord van God is duidelik: as jy die Here jou God liefhet, moet jy ook jou naaste liefhê.

Hier is ons weer terug by die toets van my gesindheid! Dawid beskryf juis hierdie geveinsdheid van die hart wat nie opreg is nie, as: ’n Fyn uitgedinkte plan! Ja, ’n man se binneste en onpeilbare hart! (Ps. 64:7) en hierdie selfde man, ’n man so na God se hart, doen ’n oproep tot opregt­heid: Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart; want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid (Ps. 26:2).

Natuurlik sal die liefde teenoor my medemens verskil van my liefde wat ek het vir my vrou, my man of selfs my kinders, maar die op­regt­heid waarmee ek voor die Here wandel, gaan hier die deurslag gee. Onse God eis onvoorwaardelike trou aan sy eise en gebooie en Hy verlos die opregtes van hart.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 2:18-29

Gebed: Here, leer my u weg dat ek kan bely dat U my skild is wat die opregtes van hart verlos. Amen.

Ps. 26:1-12

Ges. 314:4

’n Lemoenboom met piesangs 

So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte (Mt. 7:17); [HK So. 2 V/A 5].

Het u al ooit ’n lemoenboom gesien wat piesangs dra? Ek ook nie! Maar ek het iets soortgelyks al baie gesien. En dit nogal in ons ker­ke! Baie mense verkondig deur hulle woorde dat hulle kinders van God is, maar hulle lewens wys iets anders; dikwels die teendeel van wat hulle verkondig! Deur hulle woorde verkondig hulle dat hulle lemoenbome is, maar as jy na hulle kyk, sien jy trosse piesangs!

Hier, in sy bergpredikasie, waarsku die Here Jesus sy dissipels teen val­se leraars en verleiers wat voorgee wat hulle nie is nie, maar ter­self­der­tyd waarsku Hy hulle om self ook nie so te wees nie. Hy leer hulle dat dit nie die skynheilige aanroep van God se Naam is nie, maar die Gods­ge­hoor­same lewe wat erkenning vind by God en toegang tot sy konin­kryk gee. Hy leer wat ware geregtigheid is, m.a.w. wat egte wetsvervul­ling is.

Om in ware gehoorsaamheid voor God te lewe, beteken dat jy jou hele lewe in ooreenstemming met sy wil sal inrig. Dit bring mee dat jy jou eiegeregtigheid moet afsterf as jy reg voor God wil leef.

Dit is nie maklik nie: Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind (Mt. 7:14). Dié wat dit wel vind, is soos ’n ver­standige man wat sy huis op die rots gebou het en wat sal bly staan in die dag van oordeel. Wat is u? ’n Lemoenboom met die soetste lemoene … of ’n basterboom?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 1:1-6

Gebed: Here, help my dat ek vrugte sal dra wat by die bekering pas en nie wat ek na my sondige natuur geneig is om te wil dra nie. Amen.

Mt. 7:13-29

Ges. 319:1-3

Om nie ’n donkie te wees nie

Om nie ’n donkie te wees nie

Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart (Ps. 26:2); [HK So. 2 V/A 4].

Wanneer ’n donkie voor ’n nuwe hek te staan kom, weet hy nie wat om te doen nie. So staan baie kinders van God ook voor sy wet.

Dit voel op ’n vreemde manier oorweldigend, want hoe op aarde kan ek hieraan voldoen? Hoe kan ek dit aan die een kant alles onderhou en dan terselfdertyd ook nog ’n lewe hê?

Die antwoord hierop is eenvoudig: Dieselfde Here wat hierdie eise aan ons stel, ken ook ons harte. Hy toets ons gesindheid. Al is dit só dat ons vanweë ons sondige geneigdheid en liefde vir die kwade nooit sy wet sal kan onderhou nie, gee Hy sy wet as ideaal waarna ons moet streef.

As ons nie die wil van God geken het nie, sou ons nie weet wanneer ons in stryd met sy wil handel nie. Omdat ons nou sy wet ontvang het en bewus is van ons oortredinge, kan ons dit in die Naam van Jesus Christus bely.

Hy werk deur sy Gees by ons ’n opregte begeerte om nie sy wet te oortree nie. So dien die wet dan as toetssteen van ons gesindheid en lê dit ons liefde vir God bloot.

Ons is nie volmaakte mense wat sy wet volkome kan onderhou nie en Hy weet dit. Maar nog verhinder dit Hom nie om dit van ons te eis nie. Probeer ons ten minste in alle opregtheid of gooi ons uit die staan­spoor tou op?

Met die regte gesindheid kan ons opreg daarna streef om die wil van God te doen deur sy wet in diepe afhanklikheid te gehoorsaam.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kron. 29:10-19

Gebed: Here, dankie dat u my innerlike gesindheid toets en my nie net oordeel op my uiterlike werke nie. Amen.

Ps. 26:1-12

Ges. 63:1

Hef op jul hoofde, o poorte! Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon … Die Here van die leërskare – Hy is die Erekoning … (Ps. 24:1, 10); [HK So. 2 V/A 4].

In hierdie Psalm word die mens direk voor God gestel; meer nog, word hy in ’n bepaalde verhouding voor die Skepperkoning gedaag. Dit bring mee dat ek, as geskape mens, tot die besef moet kom dat my hele bestaan geraak word deur my verhouding met God.

Hierdie Psalm word in die kerk juis gebruik om ons op die verlos­sings­werk van Christus te wys deur sy oorwinning oor die graf en dat Hy opgevaar het na die hemel waar Hy sit aan die regterhand van God, ons Vader, om vir ons in te tree, omdat ons dit self nie vanweë ons gebro­ken­heid kan doen nie.

Dit alleen moet al genoeg wees om ons tot die vraag te lei van: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? (Ps. 24:3). En die antwoord is ewe bedrukkend, want die vereiste is alles-­behalwe waartoe ons in staat is! En die bedoeling is ook nie ’n sondelose toestand nie, want dan kan niemand hier ingaan nie.

Wat wel gevra word, is opregtheid voor die Here. Dit is slegs moontlik met ’n gesindheid wat spruit uit ’n hart wat vervul is met die vrees vir die Here. Hier het ons eintlik in wese ’n samevatting van die wet.

Die wonderlike is dat die oorwinning reeds behaal is! Die Erekoning het alreeds deur die poorte ingegaan! Hierdie poorte wat so hoog, groot en eeue oud is, moes oopgemaak word sodat Hy kan ingaan. Die poorte is oopgemaak en is nou vir ons finaal oop! En Hý is u en my Koning!

Bykomende Skrifgedeelte: Núm. 21:4-9

Gebed: Dankie, my Erekoning, dat ek rus kan vind in die wete dat ek eendag voor u troon sal kan staan. Amen.

Ps. 24:1-10

Ges. 172

Beste nommer 3: Dankbaarheid

Beste nommer 3: Dankbaarheid

Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die Here aanroep (Ps. 116:13); [HK So. 1 V/A 2].

Volgens die Bybelse Ensiklopedie dui dankbaarheid in die Bybel op die antwoord wat die mens verskuldig is op die handelinge van God: eerstens by die skepping en die onderhouding daarvan asook vir sy goedheid wat veral in sy barmhartigheid jeens die sondige mens geopenbaar word.

Die Boesmans van die Kalahari en die Namib het ’n eienaardige gewoonte gehad. By tye was hulle vir dae aaneen sonder vleis omdat die wild weggetrek het. Wanneer hulle weer wild gekry het, het hulle voorkeur gegee aan die jag van ’n kameelperd. Nie net omdat hy baie vleis gehad het of omdat die vleis lekkerder was nie, maar dit was veral oor die murgbene. Dit het groot bene met baie murg en hulle was lief vir murg. Hy sou daar langs die vuur sit en homself ooreet aan die murg en net daar aan die slaap raak. Sodra hy wakker word, gaan hy net aan waar hy laas opgehou het en hy sal nie ophou voordat alles op is nie! Dit doen hy omdat hy dankbaar is en hy glo hy bewys dankbaarheid aan sy voorvaders wat sy pad so voorspoedig gemaak het met die jag. Eet hy dit nie vinnig op nie, dink hulle dalk hy is ondankbaar en gee nie weer vir hom ’n kameelperd nie.

Besef ek as Christen waar die genade van God vandaan kom; besef ek as Christen werklik dat die verlossing van my sondelas deur die bemiddelingswerk van Jesus Christus plaasgevind het? Hierdie wete moet so ’n oormaat van dankbaarheid by my tuisbring dat ek sonder ophou vir Hom wil leef en my elke dag in sy liefde sal verlustig!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 18:1-15

Gebed: Dankie, Here, dat ons in die sonskyn van u verlossende genade mag lewe. Amen.

Ps. 116:1-19

Ges. 316:1-3

Noodsaaklike kennis … deur die wet is die kennis van sonde (Rom. 3:20); [HK So. 2 V/A 3].

“Kennis is mag” het ons geleer. Om kennis te hê, is om ’n hele ket­ting­reaksie aan die gang te sit. Alles begin by kennis wat lei tot iets daaropvolgend en so hou dit aan. Dit eindig egter nie by kennis nie. Kennis alleen is nie genoeg nie. As ek weet ek is siek en ek doen niks aan my siekte om dit op te klaar nie, bly ek in daardie siektetoestand.

So is dit met sonde ook. Om te weet dat ek sondig is, is ’n baie goeie begin, maar dit bly slegs ’n beginpunt. Ek moet werk maak van my sonde. Die eerste ding wat ek moet doen, is om tot die kennis van hoe groot my sonde is, te kom; wat hierdie sonde van my dus alles behels.

Eers as ek onder die diepe besef kom van hoe groot my sonde is, begin ek besef hoe groot die penarie is waarin ek myself bevind. En hier kom God ons ook weer tegemoet deur aan ons sy wet te gee. En as ons praat van sy wet, moet ons daarna kyk soos na ’n piramide.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament vorm die breë basis aan die onderkant en dit word al nouer na bo met die Tien Gebooie wat die spits vorm. Die res van die Bybel volg dan hieruit. En die doel van dit alles is juis om my onder die diepe besef van my sondige toestand en die hopeloosheid daarvan te bring. Die besef dat ek hulp van buite nodig het, moet vir my deur al hierdie kennis na God lei.

Dan eers begin hierdie kennis vir my ’n mag word, nl. ’n mag teen die duiwel.

Bykomende Skrifgedeelte: Deut. 6:1-25

Gebed: Here, oortuig my van sonde deur u Gees sodat ek dit sal haat en daarvan wegvlug. Amen.

Rom. 3:9-20

Ges. 56:9

Beste nommer 1: Ellende

Beste nommer 1: Ellende

Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden … So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon … (Gén. 3:23); [HK So. 1 V/A 2].

Daar is baie vrae oor die mens se ellende, maar kom ons volstaan by twee van die vrae: Wat behels my ellende en hoe groot is dit?

Die ellende wat hier ter sprake is, strek baie dieper as net ons alledaagse sosiale ellende van honger, pyn, hartseer of teleurstelling. Dit strek baie dieper as die politieke of kulturele ellende waarin ons as volk ons tans mag bevind. Het u al ooit verdwaal in die middel van die Na­mib­woestyn – omring deur een van die skepping se mooiste skoonhede denkbaar, maar so genadeloos as wat kan kom? Sonder enige beskutting of beskerming? Sonder selfs ’n druppel water of ’n krummeltjie kos, wéét jy hier is jou einde en jy gaan niks aan jou situasie kan verander nie. Dit is ’n sielsellende, vreemdelingsellende, verlatenheidsellende, ’n sonder-God-wees-op-aarde-ellende.

Die ellende waarvan ons hier praat, is die gevolg van ’n ballingskap waarin ons weggevoer is uit die paradys in die woestyn van die sonde in. Ons is verlos deur Christus se kruisdood, gevoed deur sy liggaam wat gebreek is en bedek deur sy bloed wat gevloei het. En eers as die eerste dinge verbygegaan het, sal ons weer uit ballingskap gered word en teruggebring word na die nuwe hemel en die nuwe aarde (Openb. 21).

Dit is hoe groot jou ellende is. Baie groter as wat jy ooit sal kan besef, totdat jy daaruit gered is en vanaf ’n hoogte neerkyk op die ellende waaruit jy gered is. Vanuit die reddingsvliegtuig sien jy hoe groot die Namib is en besef jy dat dit jou niks sou gehelp het nie al het jy ook in watter rigting geloop.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 21:1-27

Gebed: Dankie, Here, dat U altyd naby my is. Amen.

Gén. 3:23, 24

Ps. 38:17

Beste nommer 2: Verlossing

… sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe (Tit. 3:7); [HK So. 1 V/A 2].

Die verlossing deur Christus is nie iets wat ons kan verdien nie. Paulus beklemtoon hier, net soos in sy brief aan die Efésiërs, dat die gelowiges moet weet dat hulle begeerte om te wil leef soos God wil, nie aan hulle eie toedoen te danke is nie. Aangesien die meeste van hulle eers as volwassenes gelowig geword het, moet hulle besef dat hulle steeds vrye teuels aan hulle natuurlike sondige geneigdheid sou gegee het en dus niks anders as die ongelowiges sou wees as dit nie vir die liefde en genade van God (Tit. 3:4) was nie.

Gered uit die Namib (gister se dagstukkie), kom ek diep onder die besef dat hierdie redding uit hierdie eindelose sandduine nie gebeur het omdat ek iets reg gedoen het nie – hulp het mý vanuit die hoogte bereik toe ek deur die ver­ken­ningsvliegtuig opgemerk is!

Wanneer ’n mens besef dat “jy deur sy genade vrygespreek” is en “erf­gename van die ewige lewe” (Tit. 3:7 in NAV) geword het, verander werkheiligheid in goeie werke wat wel vir ander mense van nut kan wees (Tit. 3:8). Jy wíl dus doen wat God behaag, nie sodat jy daardeur sy guns verwerf en gered word nie, maar omdat Gód jou gered het.

Dit kan vir jou egter voel asof God jou nóóit sal kan vergewe nie, dat jou sonde te veel is, of dat sommige van hulle te groot is. Die goeie nuus is dat God dit álles kan en wil vergewe. Niemand is te ver heen om verlos te word nie, en niemand is so vol sonde dat hy nie gereinig kan word nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 2:1-22

Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om te lewe soos ’n vrygemaakte. Amen.

Tit. 3:1-7

Ges. 50:1, 2

Vryheid en ongebondenheid

Vryheid en ongebondenheid

Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het … (Gal. 5:2); [HK So. 1 V/A 1].

Dit is nodig dat ons ’n duidelike onderskeid moet tref tussen twee naby verwante begrippe wat dikwels met mekaar verwar word: vryheid en ongebondenheid.

Veldkamp skryf in sy boek Zondagskinderen dat ware vryheid noodwendig gebondenheid beteken. En dan gebruik hy ook die beeld van ’n vis in sy natuurlike omgewing. So vry as wat daardie vis is om te swem net waar hy wil in die see, bly hy gebonde aan die water (see). Daarsonder sal hy nie kan leef nie en sal hy vir seker sterf.

Net so vry as wat ek as begenadigde sondaar is van die drukkende sondelas wat my dag in en dag uit gekwel het, bly ek gebonde aan Christus wat my juis daarvan verlos het. Sy bloed wat aan die kruis vir my gevloei het tot volkome versoening van al my sondes, het my onlosmaaklik aan Hom gebind. Nou is dit vir my moontlik om vry te kan asemhaal en waarlik te lewe deur my gebondenheid aan Hom, want nou leef ek in die dampkring van die ewige lewe. Buite Hom om is daar geen lewe meer vir my moontlik nie en dit besef ek nou ook.

Om waarlik vry te kan wees, moet ek weet wat my beperkinge is. Sonder daardie kennis loop ek die gevaar om op die strand uit te spoel, ver van die water af – wat my lewensbron is. Om te weet wat ek is, bevry my om in vrede (getroos) te kan leef en daarmee saam ook te sterf. As vis het ek nou geen begeerte meer om te kan vlieg nie en ook geen begeerte om daaroor ontevrede of ongelukkig te wees nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8:30-36

Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om soos ’n vry mens te lewe omdat ek aan u Woord gehoorsaam is. Amen.

Gal. 5:1-15

Ges. 8:1

Drie van die bestes … … ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes … (1 Joh. 2:1, 2); [HK So. 1 V/A 2].

Dit is opvallend hoeveel ooreenkoms daar tussen die gesegde “drie van die bestes” en die waarheid van die antwoord op hierdie vraag van die Kategismus is, nl. die grondslag van sondebesef, verlossing en dankbaarheid. Eers as jy dit aan jou lyf voel, besef jy dat jy knie­diep in die moeilikheid is en nou gehelp moet word om weer die regte pad te sien! Sonder hierdie broodnodige aksie is daar min kans dat jy weer op die regte pad sal kom.

As ek nie op my afhanklikheid van God gewys word nie, sou sonde so deel van my lewe word soos eet, drink en slaap. Eers onder die besef van my verlorenheid onder my opgehoopte sonde en die gevolglike ellende, sien ek dat ek niks kan doen wat my situasie verbeter nie – inteendeel, alles wat ek doen, vererger dit net! Dan besef ek dat die oplossing buite my, sondaarmens, te vind is. En hierdie redding is nie net ’n verligting van die situasie in nood nie, maar ’n totale verlossing van al my ellende – vir ewig. Onder die besef van die grootsheid van my verlossing in Christus Jesus kan ek dan nie anders as om te verdrink in die poel van dankbaarheid nie.

Hierdie drie vereistes is ononderhandelbaar! Dit is ’n kwessie van óf alles, óf niks. Hier kan nie kompromieë aangegaan word nie. As een hier­van in u lewe ontbreek, moet ek ernstig gaan besin wat my ver­hou­ding met die Verlosser, Jesus Christus, is.

In die volgende drie dae kyk ons meer in diepte na die drie bestes van God.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 50:1-23

Gebed: Here, u genade is so groot en heeltemal onverdiend, maar tog ook ’n onwrikbare sekerheid – dankie daarvoor! Amen.

1 Joh. 1:8-2:2

Ges. 50:1, 2

Derde getuienis: Hy verseker

Derde getuienis: Hy verseker

Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het (2 Kor. 5:5); [HK So. 1 V/A 1].

Die Kategismus getuig ons Saligmaker, Jesus Christus, verlos nie net nie, ook bewaar Hy nie net nie, maar sy sorg gaan verder: By die verlossing en bewaring skenk Hy ook versekering in ons harte.

Voortdurend en herhalend gee Hy aan ons in sy Woord die sekerheid dat ons onder sy beskerming en beheer is. In Johannes 10:28, 29 gee Hy die belofte dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie.

Verder sal ons meer versorging as die mossies geniet (Mt. 10:29) en as­of dit nie genoeg is nie, is al die hare op ons hoof getel en sal nie een uit­val sonder dat Hy daarvan bewus is nie. Maar al hierdie beloftes loop op die hoogtepunt uit wat bereik is aan die kruis en vasgenael is in Jo­han­nes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dit is sekerlik so dat ons nie hierdie beloftes elke dag aanskou nie, maar deur sy Gees maak Hy hierdie beloftes ’n vaste versekering in ons harte dat Hy wat begin en beloof het, getrou en regverdig is tot op die einde en sy beloftes sal deurvoer soos Hy dit aan die kruis bewys het.

Ek vrees geen vyand nie, want … ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom. 8:38).

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:13-14

Gebed: Dankie, Here, vir die ewige sekerheid en waarheid waarin ek ook veilig kan sterwe. Amen.

2 Kor. 5:1-10

Ges. 299:1, 2

Vierde getuienis: Hy maak gewillig

En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 1:3); [HK So. 1 V/A 1].

Die laaste van die vier getuienisse wat die opstellers van die Kate­gis­mus aan ons oordra, staan in ’n noue band met gister se seker­heid wat deur die Gees in ons lewens gewerk word. Die sekerheid vind sy sigbaarheid in die begeerte om iets te wil doen want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filip. 2:13).

As ek as sondaar seker is dat ek verlos is van my sondelas en deur die genadige hand van die Here bewaar word om nie weer totaal en al daarin terug te val nie – en ek getuig dat ek seker is daarvan, moet daar tog iets daarvan in my lewe sigbaar wees; my dankbaarheid moet tog deurskemer. En tog is dit hier waar ons gereeld in die hek bly sit! Die heilsorde beskryf hierdie bewaring van die Here as die volharding van die gelowiges. In Hebreërs 11:27 staan geskryf dat Moses volhard het in sy roeping soos een wat die Onsienlike sien. Die versekerdheid van die geloof en die volharding van die heiliges gaan saam en word in gehoorsaamheid geopenbaar. Hiermee saam loop die vermaning: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Mk. 14:38).

Gooi ons hierdie vier punte saam, is dit voorwaar ’n unieke troos, krag en uitsig wat ons op ons lewe, maar ook op ons sterfbed, het. Wanneer ons aan die einde voor ons Leidsman en Verlosser staan, sal ons inderdaad met oorgawe kan bely dat die Here ons deur sy Gees gelei het om tot sy eer te lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 12:1-8

Gebed: Here, help ons om nie net te bestaan nie, maar sinvol te lewe en U te dien. Amen.

1 Joh. 1:1-10

Ges. 128:1-5