Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het … (Gal. 5:2); [HK So. 1 V/A 1].
Dit is nodig dat ons ’n duidelike onderskeid moet tref tussen twee naby verwante begrippe wat dikwels met mekaar verwar word: vryheid en ongebondenheid.
Veldkamp skryf in sy boek Zondagskinderen dat ware vryheid noodwendig gebondenheid beteken. En dan gebruik hy ook die beeld van ’n vis in sy natuurlike omgewing. So vry as wat daardie vis is om te swem net waar hy wil in die see, bly hy gebonde aan die water (see). Daarsonder sal hy nie kan leef nie en sal hy vir seker sterf.
Net so vry as wat ek as begenadigde sondaar is van die drukkende sondelas wat my dag in en dag uit gekwel het, bly ek gebonde aan Christus wat my juis daarvan verlos het. Sy bloed wat aan die kruis vir my gevloei het tot volkome versoening van al my sondes, het my onlosmaaklik aan Hom gebind. Nou is dit vir my moontlik om vry te kan asemhaal en waarlik te lewe deur my gebondenheid aan Hom, want nou leef ek in die dampkring van die ewige lewe. Buite Hom om is daar geen lewe meer vir my moontlik nie en dit besef ek nou ook.
Om waarlik vry te kan wees, moet ek weet wat my beperkinge is. Sonder daardie kennis loop ek die gevaar om op die strand uit te spoel, ver van die water af – wat my lewensbron is. Om te weet wat ek is, bevry my om in vrede (getroos) te kan leef en daarmee saam ook te sterf. As vis het ek nou geen begeerte meer om te kan vlieg nie en ook geen begeerte om daaroor ontevrede of ongelukkig te wees nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8:30-36
Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om soos ’n vry mens te lewe omdat ek aan u Woord gehoorsaam is. Amen.
Gal. 5:1-15
Ges. 8:1
Drie van die bestes … … ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes … (1 Joh. 2:1, 2); [HK So. 1 V/A 2].
Dit is opvallend hoeveel ooreenkoms daar tussen die gesegde “drie van die bestes” en die waarheid van die antwoord op hierdie vraag van die Kategismus is, nl. die grondslag van sondebesef, verlossing en dankbaarheid. Eers as jy dit aan jou lyf voel, besef jy dat jy kniediep in die moeilikheid is en nou gehelp moet word om weer die regte pad te sien! Sonder hierdie broodnodige aksie is daar min kans dat jy weer op die regte pad sal kom.
As ek nie op my afhanklikheid van God gewys word nie, sou sonde so deel van my lewe word soos eet, drink en slaap. Eers onder die besef van my verlorenheid onder my opgehoopte sonde en die gevolglike ellende, sien ek dat ek niks kan doen wat my situasie verbeter nie – inteendeel, alles wat ek doen, vererger dit net! Dan besef ek dat die oplossing buite my, sondaarmens, te vind is. En hierdie redding is nie net ’n verligting van die situasie in nood nie, maar ’n totale verlossing van al my ellende – vir ewig. Onder die besef van die grootsheid van my verlossing in Christus Jesus kan ek dan nie anders as om te verdrink in die poel van dankbaarheid nie.
Hierdie drie vereistes is ononderhandelbaar! Dit is ’n kwessie van óf alles, óf niks. Hier kan nie kompromieë aangegaan word nie. As een hiervan in u lewe ontbreek, moet ek ernstig gaan besin wat my verhouding met die Verlosser, Jesus Christus, is.
In die volgende drie dae kyk ons meer in diepte na die drie bestes van God.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 50:1-23
Gebed: Here, u genade is so groot en heeltemal onverdiend, maar tog ook ’n onwrikbare sekerheid – dankie daarvoor! Amen.
1 Joh. 1:8-2:2
Ges. 50:1, 2