Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het (2 Kor. 5:5); [HK So. 1 V/A 1].
Die Kategismus getuig ons Saligmaker, Jesus Christus, verlos nie net nie, ook bewaar Hy nie net nie, maar sy sorg gaan verder: By die verlossing en bewaring skenk Hy ook versekering in ons harte.
Voortdurend en herhalend gee Hy aan ons in sy Woord die sekerheid dat ons onder sy beskerming en beheer is. In Johannes 10:28, 29 gee Hy die belofte dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie.
Verder sal ons meer versorging as die mossies geniet (Mt. 10:29) en asof dit nie genoeg is nie, is al die hare op ons hoof getel en sal nie een uitval sonder dat Hy daarvan bewus is nie. Maar al hierdie beloftes loop op die hoogtepunt uit wat bereik is aan die kruis en vasgenael is in Johannes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Dit is sekerlik so dat ons nie hierdie beloftes elke dag aanskou nie, maar deur sy Gees maak Hy hierdie beloftes ’n vaste versekering in ons harte dat Hy wat begin en beloof het, getrou en regverdig is tot op die einde en sy beloftes sal deurvoer soos Hy dit aan die kruis bewys het.
Ek vrees geen vyand nie, want … ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom. 8:38).
Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:13-14
Gebed: Dankie, Here, vir die ewige sekerheid en waarheid waarin ek ook veilig kan sterwe. Amen.
2 Kor. 5:1-10
Ges. 299:1, 2
Vierde getuienis: Hy maak gewillig
En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 1:3); [HK So. 1 V/A 1].
Die laaste van die vier getuienisse wat die opstellers van die Kategismus aan ons oordra, staan in ’n noue band met gister se sekerheid wat deur die Gees in ons lewens gewerk word. Die sekerheid vind sy sigbaarheid in die begeerte om iets te wil doen want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filip. 2:13).
As ek as sondaar seker is dat ek verlos is van my sondelas en deur die genadige hand van die Here bewaar word om nie weer totaal en al daarin terug te val nie – en ek getuig dat ek seker is daarvan, moet daar tog iets daarvan in my lewe sigbaar wees; my dankbaarheid moet tog deurskemer. En tog is dit hier waar ons gereeld in die hek bly sit! Die heilsorde beskryf hierdie bewaring van die Here as die volharding van die gelowiges. In Hebreërs 11:27 staan geskryf dat Moses volhard het in sy roeping soos een wat die Onsienlike sien. Die versekerdheid van die geloof en die volharding van die heiliges gaan saam en word in gehoorsaamheid geopenbaar. Hiermee saam loop die vermaning: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Mk. 14:38).
Gooi ons hierdie vier punte saam, is dit voorwaar ’n unieke troos, krag en uitsig wat ons op ons lewe, maar ook op ons sterfbed, het. Wanneer ons aan die einde voor ons Leidsman en Verlosser staan, sal ons inderdaad met oorgawe kan bely dat die Here ons deur sy Gees gelei het om tot sy eer te lewe.
Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 12:1-8
Gebed: Here, help ons om nie net te bestaan nie, maar sinvol te lewe en U te dien. Amen.
1 Joh. 1:1-10
Ges. 128:1-5