Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie …
(Jes. 45:5); [HK So. 1-4 V/A 1-11].
Om hierdie deel wat handel oor die mens se ellende op te som, kyk ons weer na Vraag en Antwoord 1: Wat is my enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, toebehoort, wat met sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal, en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos het … ook, dat alles vir my tot my saligheid moet dien; daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Nou weet ek dat ek, sondaarmens, niks verdien nie, behalwe die straf wat my in alle regverdigheid toekom. God is getrou en regverdig om geen sonde ongestraf te laat bly nie, maar daar … is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1). Dit gee my die gemoedsrus dat hierdie belofte van God nie ’n vervaldatum het nie; ook kan dit nie nietig verklaar word nie, want Hy het sy Naam daarop gesit (Hand. 10:43) en Hy sal nooit laat vaar die werke van sy hande nie (Ps. 138:8), want die … werke van sy hande is trou en reg; al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; uitgevoer in trou en opregtheid (Ps. 111:7).
Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! (Ps. 103:1).
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 103:1-22
Gebed: Here, al my dank bring ek U. Amen.
Jes. 45:1-25
Ges. 172