… ons ontvang die verdiende loon vir ons dade … (Lk. 23:41); [HK So. 5 V/A 12].

In die eerste afdeling van die Kategismus word die mens van alle ver­ont­skuldiging vir sy sondige toestand ontneem. Die mens se sondigheid is nie die gevolg van God se skepping nie, maar eerder van sy eie keu­ses. God is ook nie onregverdig om van die mens iets te eis wat hy nie meer in staat is om te gee nie, want hy het uit eie keuse sy Godgegewe vermoëns prysgegee.

Nou verander die toon van die Kategismus egter met die opskrif: Ver­lossing. Die verlore toestand waarin die mens homself bevind, is nie ’n doods­vonnis wat die mens in wanhoop laat rondspartel nie. Daar is hoop, maar daardie hoop loop hand aan hand met die erkenning dat jy ’n son­daar is wat God se oordeel in terme van sy tydelike en ewige straf verdien.

Hierdie eerste treë op die verlossingspad is duidelik sigbaar in die re­ak­sie van die sondaar wat saam met Christus gekruisig is. Waar die eerste misdadiger smalend die Here Jesus uitdaag om Homself en hulle van die kruis te verlos, erken die tweede misdadiger dat sy probleem baie groter en die konsekwensies van sy dade baie meer verreikend is. Hy besef dat hy “na die regverdige oordeel van God, tydelike en ewige straf verdien” (HK V/A 12).

Net soos iemand wat nie wil erken dat hy siek is nooit sal besef hoe nodig hy ’n dokter het nie, net so sal iemand wat nie eers sy eie sondige en verlore toestand erken en bely, weet hoe nodig hy die Verlosser het nie. Deur die werking van die Gees het die sondaar aan die kruis besef hy is leeg, net met sy sondelas. Daarom gryp hy Christus, die Sondelose, se verdienste vas.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 51:1-21

Gebed: Here, wees my, sondaarmens, genadig! Amen.

Lk. 23:33-49

Sing: Ges. 69:3

Waar sal my hulp vandaan kom? … Waar sal my hulp vandaan kom? (Ps. 121:1); [HK So. 5 V/A 12].

Op pad na die pelgrimsfees in Jerusalem slaan die pelgrim van Psalm 121 sy oë op na die berge. Die pad na Jerusalem het oor die berge wat die stad omring, gekronkel. Hier het die onheil dikwels die plattelandse pelgrims ingewag. Wanneer die pelgrim dus na die berge kyk, is dit ’n gespanne kyk – diep bewus van die gevare wat wag.

Daar was egter nog ’n rede waarom na die berge opgekyk is. In die antieke wêreld is die berge as die woonplek van die gode beskou. Die vraag van die pelgrim is dus nie ’n gewone uitroep om hulp nie, maar ’n erkenning dat hulp van ’n bonatuurlike aard nodig is om hom uit sy wanhopige situasie te verlos.

Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus eggo iets van hierdie vraag. Wie die ellende van sy hopelose, sondige toestand besef, se situasie is selfs meer wanhopig as die pelgrim op pad na Jerusalem s’n. So iemand kan nie anders nie as om uit te roep: Waar sal my hulp vandaan kom?

Was jy al ooit eerlik met jouself oor jou eie geestelike toestand? Besef jy dat jou sondes jou lê en inwag en as jy nie hulp van buite jouself kry nie, jy Jerusalem nooit sal sien nie? Maak seker jy soek jou hulp op die regte plek. Kyk hoër as die berge met hul verwaande afgode van aansien, trots, hoogmoed of selfs goeie werke. As jy tussen hulle soek, besef jy nog nie werklik hoe groot jou nood is nie. Uiteindelik is dit net die Here wat die hemel en die aarde gemaak het wat in staat is om jou siel te bewaar van die dood. Dit doen Hy deur die bloed van sy kosbare Seun, Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 124:1-8

Gebed: Here, ek rig my oë verlangend op U! Amen.

Ps. 121:1-8

Sing: Ps. 146:1, 2, 8