’n Ereskuld van die Afrikaners aan die Iere – Ierse monument amper tot niet
Toe die oorlogswolke in September 1899 swaar oor die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR: Transvaal) begin saampak, het die Iere aan die Witwatersrand ’n manifes opgestel. Daarin is hulle eeue-oue onderdrukking deur Engeland uiteengesit.
Die manifes het gelui: “Gaan ons toelaat dat dieselfde lot wat Ierland in puin gelê het, die Transvaal ook tref? Wreek julle, Iere! Ons roep julle op om te veg teen die nasie (Engeland) wat ons mense meer as 700 jaar lank onderdruk. Die Iere moet wrekers en nie mede-samesweerders van sulke misdade wees nie.”
’n Komitee van Witwatersrandse Iere, onder leiding van majoor John McBride, is op die been gebring. Die doel was om ’n Ierse brigade of kommando te vorm om aan Boerekant te veg. McBride was ’n Ierse apteker wat in 1896 aan die Rand kom woon het. Hy wou nie self bevel van enige kommando neem nie, omdat hy gereken het dat hy nie die nodige militêre ervaring het nie.
Daar was egter ’n probleem. Die Iere was steeds burgers en onderdane van Engeland. Indien hulle gevang word waar hulle teen Engeland veg, sou hulle as rebelle doodgeskiet word. President Kruger het twee keer hulle versoeke om nogtans ’n kommando te vorm, van die hand gewys. Die risiko om as ’n rebel doodgeskiet te word, was ’n te hoë offer wat Kruger nie van die Iere wou vra nie. Met die komitee se derde versoek het Kruger toegegee. ’n Plan is gemaak. ’n Spesiale wet is vinnig deur die Volksraad goedgekeur wat onmiddellike burgerregte aan die Iere toegeken het. As burgers van die ZAR kon die Engelse hulle nie meer as rebelle veroordeel nie.
Vyf honderd en sewentig Witwatersrandse Iere het aansoek om burgerskap van die ZAR gedoen.
- Een kommando met sowat 300 man het onder leiding van ’n Amerikaanse Ier van Pretoria, kolonel John Blake, gestaan. Majoor John McBride, die apteker, was tweede in bevel. Hulle het aan die Natalse front diens gedoen en hulle met die Slag by Nicholsonsnek, asook by Colenso onderskei. Blake is aan die Amerikaanse Militêre Akademie by West Point opgelei. Die Ierse kommando se leuse was: “Enige vyand van Engeland, is ’n vriend van ons.”
- ’n Tweede kommando, onder leiding van die Australiese Ier, kolonel Arthur Lynch, met sowat 20 Iere in hulle geledere, het in gevegte teen die Engelse by Ladysmith en Glencoe die wapen opgeneem.
- ’n Derde groep van omtrent 50 Amerikaanse Iere onder leiding van kaptein Patrick O’Connor, is as ’n ambulanseenheid deur die Clan-na-Gael (’n geheime Ierse anti-Engelse organisasie) uit die Verenigde State van Amerika (VSA) na Transvaal gestuur. Slegs tien was opgeleide ambulansmanne.
Ná afloop van die groot veldslae is die Iere onder verskeie Boerekommando’s ingedeel en het hulle enduit aan talle gevegte deelgeneem. Voor die Iere Suid-Afrika verlaat het, het hulle briewe van dank ontvang van staatsekretaris FW Reitz, kommandant-generaal Louis Botha en generaal Ben Viljoen.
- Blake is terug na die VSA en is daar onder verdagte omstandige dood aangetref. Daar was sprake dat hy óf homself vergas het, óf deur ’n tweede party só uitgeskakel is.
- Anders as die meeste ander Iere, het Lynch eers ’n hele tyd nadat die oorlog reeds begin het, Transvaalse burgerskap aangevra en gekry. Dit het hom kwesbaar vir ’n klag van hoogverraad gemaak. In 1901 is hy in sy afwesigheid tot die Britse parlement verkies. Toe hy in Londen aankom, is hy van hoogverraad aangekla en tot die galgdood gevonnis. Ná ’n tegniese geveg oor die presiese aanvang van sy Transvaalse burgerskap, is hy uiteindelik begenadig en vrygelaat. In 1909 is hy weer tot parlementslid verkies.
- Majoor John McBride is terug na Ierland waar hy by die gevegte vir Ierse onafhanklikheid betrokke geraak het. Ná die 1916-opstand, is McBride gevang, veroordeel en deur ’n vuurpeleton tereggestel. Sy laaste woorde was blykbaar: “Ek het in die lope van soveel gewere vasgekyk in die oorlog in Suid-Afrika, dat ek die dood nie vrees nie. Please carry out your sentence.”
Omdat die Iere soveel opgeoffer het om ons teen die Britte te help veg, het ’n sterk gevoel ontwikkel dat ’n monument vir hulle gebou moet word. Jan van Wijk, wat ook die Taalmonument in die Paarl ontwerp het, het as argitek opdrag gekry om ’n Ierse gedenkteken te ontwerp. Vir sy ontwerp het hy verskeie monumente in Ierland bestudeer. Baie Ierse monumente bestaan uit staanstene wat op ’n sekere manier binne ’n grondwal of “berm” gerangskik word.
Sy ontwerp het uit vier beton “staanstene” bestaan, wat in ’n sirkel gerangskik was. Hulle is van klein na groot geplaas. Die eerste drie stene verteenwoordig die drie Ierse kommando’s. Omdat die Iere saam met die Boere vir vryheid geveg het, lei die opwaartse lyn jou oog na die vierde en grootste steen, wat vryheid simboliseer.
Tydens die onhulling van die monument in 1975, langs die Brixtontoring, het mevrou Betsie Verwoerd onder meer gesê: “Met die oprigting van hierdie monument is die lank uitstaande ereskuld van die Afrikaners teenoor die Iere en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen.”
In 1998 het die Johannesburgse ANC-stadsraad die grond aan ’n ontwikkelaar verkoop. Hy wou die Ierse monument dadelik afbreek. Gelukkig het ons gou daarvan te hore gekom. Ek was betrokke by die pogings om die monument te red. Ongelukkig was geen stadsraad of kultuurorganisasie bereid om die koste vir die afbreek, verskuiwing en heroprigting van die monument te betaal nie. Orania het aangebied dat die monument daar by hulle heropgerig kon word. Hulle het ook die jaarlikse instandhouding onderneem, maar het nie kans gesien vir die afbreek en vervoerkoste van die swaar stene nie. Ek kon die Vryheidsfront sover kry om die koste vir die afbreek en vervoer van die monument te dek, waarna dit op Orania heropgerig is. Die heropgerigte Ierse monument kan vandag daar besigtig word.