Hoekom is 9 Augustus 1945 so ’n belangrike datum in die wêreldgeskiedenis?

Omdat dit die laaste datum is waarop ’n atoombom gebruik is om mense dood te maak. Op hierdie datum het die Amerikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n atoombom op die Japanse stad Nagasaki gegooi. In 1945 het Nagasaki ongeveer 260 000 inwoners gehad. 150 000 hiervan is onmiddellik dood of ernstig beseer.

Ná Hirosjima was die Japanse stad Kokura in 1945 gekies as teiken vir die tweede atoombom. Vyf Japanse stede is aanvanklik deur die Amerikaners uitgekies as moontlike teikens vir die eerste atoombomme. Nagasaki was nie een van hulle nie.

Wat het gemaak dat die tweede atoombom op Nagasaki en nie op Kokura gegooi is nie?

Die bemanning van die Amerikaanse Boeing B29-bomwerper het naby hulle teiken, die stad Kokura, die elektroniese veiligheidspenne uitgetrek wat die atoombom finaal geaktiveer het. Omdat tot 70% van die stad met wolke en rook bedek was, kon hulle nie die stad en hulle teiken sien nie.

Die vliegtuigbemanning het ’n tweede keer probeer deur vanaf ’n ander kant oor Kokura te vlieg. Weer was die teiken nie duidelik sigbaar nie. Ná die derde mislukte poging moet daar besluite geneem word. Die vliegtuig het reeds 50 minute gemors met drie pogings oor die stad. Die brandstof was so laag dat die vliegtuig nie meer veilig na sy basis op Iwo Jima sal kan terugkeer nie. Hulle sal nou na die nader Amerikaanse basis op Okinawa moet vlieg om veilig te kan land. Omdat hulle nie met ’n geaktiveerde bom kan land nie, sal hulle dit in die see moet gooi voor landing. ’n Ander opsie is om dit op ’n tweede teiken te gooi.

Op pad na Okinawa vlieg hulle toevallig oor Nagasaki. Die stad is ook met wolke bedek. Vir ’n kort oomblik is daar ’n opening in die wolke waardeur die bombardier ’n klein gedeelte van die stad kan sien. Om 11:01 die oggend laat hy die bom los. Dit val vir 47 sekondes en ontplof ongeveer 500 m bokant die grond.

Van die oorlewendes in Nagasaki het die ontploffing beskryf as ’n skielike reusepilaar van pers vlamme met daarna ’n sampioenwolk wat tot 14 000 m die lug in opgestyg het. Die ontploffing het ’n drukwind van 1 005 km/h veroorsaak wat vanaf die middelpunt uitgekring het. Hierdie wind het alles voor hom platgevee. Dit is gevolg deur ’n golf van hitte en radio-aktiewe bestraling. Die hitte se temperatuur was 3 900 °C. Dit is warmer as die son se oppervlakte. Niks kon dit oorleef nie. In ’n sirkel van 4 km vanaf die middelpunt is alle huise vernietig en net ’n kaal gestroopte vlakte van rommel is agtergelaat.

In die middelpunt is later ’n swart suil opgerig. Ek was bevoorreg om dit onlangs in Nagasaki te kon besoek. Presies 500 m bokant hierdie suil het die bom ontplof. Langs die suil is ’n swart kis, ’n senotaaf of leë graf, simbolies vir al die dooies wat nooit gevind is nie.

Sowat 300 m vanaf die middelpunt van die ontploffing was die Urakami Nagasaki-tronk. Die tronk het staal-
versterkte gewapende betonmure van 25 cm dik en 4 m hoog gehad. Die tronk het 20 000 m2 beslaan. Ná die ontploffing was niks, behalwe die fondamente van die tronk, oor nie. Die bewaarders, gevangenes en mure het letterlik in die hitte verdamp.

Die bomwerper het met min brandstof voortgevlieg. Die bemanning van die vliegtuig het nie die vaagste idee gehad van die werklike omvang, skade en dood wat hulle agtergelaat het nie. Die werklike impak van hierdie nuwe oorlogswapen sou eers later besef word. Hulle het Okinawa lugmagbasis net-net gemaak met twee van die vier enjins wat weens ’n tekort aan brandstof reeds gaan staan het.

Vanweë wolke oor Konkura is duisende inwoners van Nagasaki se lewe en toekoms binne enkele sekondes ingrypend verander. As die stad Konkura nie op daardie dag met wolke bedek was nie, sou Nagasaki vandag steeds ’n onbekende Japanse stad gewees het.

Net 20 jaar het verloop tussen die Eerste Wêreldoorlog en die Tweede Wêreldoorlog in 1939. Vir 76 jaar vanaf die Tweede Wêreldoorlog tot vandag gebruik wêreldleiers die afskrikwaarde van hierdie verwoestende bom om vrede mee te beding en ’n Derde Wêreldoorlog te keer.

Op 2 Februarie 1990 kondig president FW de Klerk aan dat Nelson Mandela vrygelaat word en dat die ANC en Kommunistiese Party in Suid-Afrika ontban word. Op 26 Februarie 1990 gee FW de Klerk in die geheim opdrag dat die Suid-Afrikaanse kernwapenprogram onmiddellik gestaak moet word en dat die ses atoombomme wat reeds gemaak is, tot niet gemaak moet word.

Die Amerikaners en die inspekteurs van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) sou later jare hul hande in verbasing saamslaan oor die kennis en tegniese vaardighede waarmee Afrikaners ’n eie atoombom ontwikkel het. Lees gerus Nic von Wielligh se boek Die Bom hieroor.

Hoekom is daar kort ná Mandela se vrylating opdrag gegee om Suid-Afrika se kernvermoë te vernietig?

President De Klerk het op daardie tydstip die versekering aan kiesers gegee dat met magsdeling die staatsmag nie aan ’n ANC-regering oorhandig sal word nie. Tog is dit net ’n logiese gevolgtrekking dat die besluit deel was van ’n gereedmaakproses om die politieke mag aan die ANC te oorhandig.

Die eerste openbare bekendmaking dat Suid-Afrika atoombomme besit, maar dat dit nou vernietig is, is eers drie jaar later op 23 Maart 1993 in die Parlement gemaak. Die ANC was kwaad en wou dit nie gehad het nie. Uit verskillende bronne is dit duidelik hoeveel druk daar vanaf die Amerikaanse- en Britse regerings op Suid-Afrika was om sy kernvermoë te vernietig. Hulle het met reg gevrees dat ’n toekomstige ANC-regering hierdie vermoë met Kuba, Libië en hulle ander vennote sal deel.

Mag ek vir ’n oomblik droom dat Afrikanerpolitici in 1994 ons atoombomvermoë gebruik as bedinging om met die wêreld ’n eie Afrikanerstaat te beding. ’n Staat wat vrede en nie oorlog soek nie, maar wat sy atoomvermoë, soos Amerika en Rusland, as bedinging en afskrikmiddel gebruik om sy oorlewing in Afrika en die wêreld te verseker.