“Terroriste of vryheidsvegters, Sharpeville of die stasiebom. Ek wil nie meer hoor van die ‘struggle’ van die verlede nie,” sê ’n dame onlangs aan my.

Ek verstaan haar wegskram. Die ANC-propagandiste laat nie ’n openbare vakansiedag of toespraak verbygaan sonder om hierdie gebeure weer op te diep nie. Polities korrekte stilswye en wegskram help, maar gee ongelukkig geleentheid aan die ANC-propagandiste om hulle weergawe van daardie gebeure oor te dra as die enigste waarheid. Huidige skoolhandboeke bevestig dan ook hulle eensydige weergawes as die enigste waarheid.

Wat is waarheid? Leopold Scholtz verduidelik dit soos volg: Die waarheid is dat Tafelberg groot en plat is. As jy egter van voor of van agter of van die kant af kyk, lyk Tafelberg elke keer anders. Net so kyk elkeen na die waarheid deur sý spesifieke bril.

Onlangs kyk ek na die Afrikaanse televisienuus. Die verslaggewer sê: “Vyf lede van die Vulindlela-familie is in 1964 by die Pretoria-Sentraal gevangenis tereggestel. Die misdaad: Politieke aktivisme.” Dit klink wreed en baie onbillik van die vorige regering. Vyf mense tereggestel net omdat hulle van die vorige regering en apartheid verskil het!

Die verslaggewer gaan verder en vertel van John Harris. Harris was die enigste wit politieke gevangene wat in die Sentrale gevangenis tereggestel is. Duidelik ook oor sy politieke aktivisme teen apartheid.

Aartsbiskop Desmond Tutu het die giftigste toesprake teen die vorige regering en teen apartheid gehou. Sekerlik was dit ook politieke aktivisme. Tog is hy nooit daaroor in die tronk gegooi nie. Hoe klop dit nou? Waarom die dubbele standaarde?

Nadat van hierdie persone tereggestel is, het mnr. John Vorster as destydse minister van Justisie gesê dat niemand ooit in Suid-Afrika ter dood veroordeel is net omdat hy teen apartheid gekant was nie. Hierdie persone is tereggestel omdat hulle onskuldige mense vermoor het. Dit is die anderkant van die prentjie wat tans berekend verswyg word. Tot 1994 het Suid-Afrika, soos baie ander lande, die doodstraf as straf vir moord gehad.

Op 4 Februarie 1963 ontspan Norman en Elizabeth Grobbelaar langs die pragtige Basheerivier in die Oos-Kaap. Saam met hulle is hul twee tienderjarige dogters en ’n vriend, Derek Thompson. Hulle kampeer in woonwaens.

Dié nag is hulle uit die bloute aangeval en op ’n uiters wreedaardige manier met pangas doodgekap. Vyf lede van die Vulindlela-familie het die moorde gepleeg. Uit latere verslae blyk dit dat hulle lede van die PAC was wat geglo het dit is tyd dat die oorlog teen die wittes moet begin. Hulle is verhoor, aan moord skuldig bevind en tereggestel.

Die Waarheidskommissie veroordeel die voorval as ’n ernstige menseregteskending, omdat onskuldige burgerlikes ongevraagd doodgemaak is en daar geen sprake van ’n militêre teiken was nie (hoofstuk 5, bl. 703 paragraaf 9).

Die TV-verslaggewer beskryf die rede vir die teregstellings as politieke aktivisme. Het hy nie al die feite gehad nie of verswyg hy dit berekend? Die persone wat tereggestel is, se foto’s verskyn as helde van die bevrydingstryd in ’n museum by die Sentrale gevangenis. Sou dit nie billik wees om ook die foto’s van hulle onskuldige slagoffers, die Grobbelaar-gesin, daarby te plaas nie? Dan het ons die hele prentjie oor die konflik en geweld van die verlede.

Waar pas John Harris in?

Dit is spitstyd Vrydagmiddag 24 Julie 1964 op die Johannesburgse stasie. Daar is ’n opgewondenheid in die lug, want die volgende dag speel die Springbokke in ’n rugbytoets teen die Franse. Baie mense kom per trein in Johannesburg aan.

’n Jong wit man in ’n bruin pak plaas ’n tas naby ’n bankie op perron 7 en 8. Hy skarrel vinnig weg en staan ’n ent daarvandaan en kyk na die tas. ’n Omstander wonder waarom hy die tas so dophou.

Op die bankie sit Glynnis Burleigh (12) en haar ouma Ethel Rhys (77). Hulle wag op ’n trein. Glynnis het die etiket op die tas gaan lees. Daarop staan dat die eienaar oor tien minute terug sal wees.

Om 16:25 kry die Spoorwegpolisie ’n oproep dat daar ’n bom op die stasie gaan ontplof. Agt minute later, om 16:33, ontplof die bom voordat die stasie ontruim kan word. Die bom ontplof met ’n verblindende flits. Binne-in die tas was agt dinamietkerse.

Omdat Harris twee liter petrol binne sy bom geplaas het, het Glynnis en haar ouma gruwelik verbrand. Ouma Rhys is na ’n maand se lyding oorlede. Haar kleindogter, Glynnis, se 70% brandwonde het veroorsaak dat haar gesig onherkenbaar verbrand en vir die res van haar lewe misvorm is. ’n Traumatiese gebeurtenis vir ’n twaalfjarige meisie met haar lewe nog voor haar.

Drie-en-twintig ander mense is ernstig beseer en verbrand. Die driejarige Cornelia Koekemoer is een van hulle.

Dieselfde aand word John Harris gearresteer. In die hof argumenteer hy dat hy net ’n groot ontploffing as demonstrasie wou maak. Hy het gehoop die polisie sou die stasie ontruim. Hy was ’n onderwyser in Johannesburg en lid van die African Resistance Movement. Hy is aan moord skuldig bevind en tereggestel.

Is dit onbillik om ’n foto van Glynnis en Cornelia se gesigte, met hulle littekens, langs Harris s’n in die museum te plaas? Wat van foto’s in die museum van daardie ANC-lede wat sonder verhoor deur ander ANC-lede in kampe in Angola tereggestel is? Verskeie verslae is daaroor geskryf. Wat van die 505 halssnoermoorde wat deur ANC-ondersteuners gepleeg is? Later is uitgevind dat talle van die vermoordes onskuldig was en met iemand anders verwar is. In watter museum moet hulle herdenk word?

George Orwell het in sy boek 1984
geskryf: Hy wat die hede beheer, beheer die verlede, sodat dit by sy huidige doelwitte kan pas.

Maar, geskiedenis sonder konteks word propaganda. Daarom die feite hierbo, om meer konteks te bring. Nog baie tyd gaan verloop voordat ons by die volle waarheid en die hele Tafelberg uitkom. Intussen durf ons nie toelaat dat die ANC-propagandiste wegkom met slegs húlle weergawe van die waarheid nie.