Sammy Marks het ’n afspraak vir ’n belangrike Britse “lord” met president Paul Kruger in Pretoria gemaak. Die “lord” het homself en sy invloedryke posisie in Londen aan Kruger bekendgestel. Marks, ’n miljoenêr nyweraar, het as tolk vir die gesprek opgetree.

Dit was duidelik dat die Brit se titels geen indruk op Kruger gemaak het nie. Om ’n groter indruk op Kruger te maak, het Marks nou die gesprek oorgeneem. Hy het aan Kruger vertel watter belangrike ampte die lord in Brittanje beklee en hoe belangrik sy voorvaders was. Toe Marks klaar was, het die president droogweg opgemerk: “Sê vir die meneer dat ek ’n veewagter was en my vader ’n boer.”

Sammy Marks het as Joodse vlugteling uit Rusland gevlug. Hy het brandarm in Suid-Afrika aangekom. Anders as baie ander buitelanders was hy ’n groot bewonderaar van Paul Kruger. Hy het die President gesien as die verpersoonliking van die Afrikanervolk se vryheidsideale.

In 1895 het Marks besluit dat ’n standbeeld vir Kruger opgerig moet word. Hy skryf ’n brief aan die ZAR-regering waarin hy dit voorstel en 10 000 pond (vandag so R25 miljoen) vir die oprigting van so ’n standbeeld skenk.

Die regering het sy voorstel aanvaar, hom bedank en Anton van Wouw aangestel om die beeld te ontwerp. Van Wouw se ontwerp het Kruger op ’n suil laat staan, omring deur vier hurkende gewapende Boerekrygers of brandwagte. Die Boerekrygers het Kruger, en simbolies die Afrikanervryheidsideale waarvoor hy staan, beskerm. Van Wouw het die beelde in Italië gemaak en laat giet.

Die regering het met Marks se voorstel dat die beelde op Kerkplein opgerig word, saamgestem. Marks het opdrag gegee dat ’n voetstuk solank daar gebou word terwyl die beelde vanaf Europa op pad was.

Voor die beelde opgerig kon word, het die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitgebreek. Die beelde het net tot in Delagoabaai (Maputo in Mosambiek) gekom.

Teen die einde van die oorlog het lord Kitchener, die Britse bevelvoerder in Suid-Afrika, vir Sammy Marks op sy plaas buite Pretoria besoek. Daar het hy foto’s van die Krugerstandbeelde gesien. Kitchener het Marks gevra om die beelde aan hom te skenk as ’n aandenking van die oorlog. Vir Marks was dit duidelik dat die Britte die oorlog gaan wen en het hy toegestem.

Kitchener het die beelde vanaf Mosambiek na Brittanje gestuur, waar hy twee van die brandwagbeelde by sy landgoed opgerig en die ander twee aan ’n militêre basis in Chatham geskenk het. Hy het nie in die Krugerstandbeeld belanggestel nie en het dit in ’n stoor in Maputo laat agterbly.

Die doel met die Tweede Vryheidsoorlog was in die woorde van Alfred Milner “to wipe out the last trace of Afrikanderism”. Daarom was Kitchener vasberade dat die oprigting van die Krugerstandbeeld in Transvaal nooit moet gebeur nie. Kruger was vir hom die verpersoonliking van wat die Britte “Krugerisme” genoem het. Hy het dan ook opdrag gegee dat die voetstuk van Kerkplein verwyder moet word en ’n besluit laat notuleer dat geen beelde ooit weer op Kerkplein opgerig mag word nie. As simbool van Afrikanervryheid, was Kruger skielik ongewens.

Toe Louis Botha in 1910 Eerste Minister word, het hy in ’n brief aan Kitchener gevra om die vier brandwagte, wat hy as oorlogsbuit geneem het, terug te gee. Kitchener het geantwoord dat dit nie oorlogsbuit was nie, maar ’n geskenk van Sammy Marks. Hy was nie bereid om dit terug te gee nie.

In 1913 is die Krugerbeeld vanaf Mosambiek gehaal en sonder sy vier brandwagte in Pretoria se Prinsepark opgerig. Kitchener se bevel het dit onmoontlik gemaak om dit op Kerkplein op te rig.

Kitchener het tydens die Eerste Wêreldoorlog verdrink toe sy skip gesink het. Gedurende die oorlog het Jan Smuts so ʼn goeie verhouding met die Britse eerste minister gehad, dat hy gevra is om in die Britse oorlogskabinet te dien. In 1919 het Smuts, as nuwe Eerste Minister, die Britte gevra om die vier brandwagte terug te stuur. As ’n gebaar van die nuwe goeie verhoudinge tussen Suid-Afrika en die Smuts regering, het die Britte ingewillig.

Dit neem tot 1925, ná die NP se oorwinning in 1924, voor die volle beeldegroep – Kruger en sy vier brandwagte – voor die stasie onthul is. Daar was steeds ’n Kitchener-servituut dat die Krugerbeeld nie op Kerkplein opgerig mag word nie. Meer as 25 000 mense het genl. Hertzog, die nuwe eerste minister, se onthullingstoespraak bygewoon. Die ou Boererepublieke se vlae het as vryheidsimbole rondom die standbeelde gewapper.

Hierna het Afrikanerorganisasies hulle steeds beywer dat die Krugerbeeld na Kerkplein moet skuif. Engelse organisasies soos die Sons of England het daarteen geveg. Die spook van Kitchener het uit sy graf gehelp keer dat Kruger op sy regmatige plek staan, deurdat die stadsraad gebonde was aan Kitchener se servituut.

In 1948 kom die NP aan bewind. Hulle was bereid om hierdie Kitchenerbesluit om te keer. Op 10 Oktober 1954 het dr. DF Malan, nuwe eerste minister, die volledige Krugerbeeldegroep vir die eerste keer op Kerkplein onthul. Ná baie omswerwinge het Kruger uiteindelik tuisgekom, het baie Afrikaners gevoel.

Daar is ’n deurlopende ooreenkoms tussen die Afrikaner se wipplankstryd om vryheid en die geskiedenis en omswerwinge van die Krugerstandbeeld.

In 1994 neem die ANC die regering oor. Weer is Kruger, as simbool van Afrikanervryheid, ongewens soos tydens die Britse bewind. Tans is daar gereelde pogings tot vandalisme en druk dat dit verskuif moet word.

Ná Kruger se dood het die Franse aan hom hulde gebring as “die leier van ’n klein volk wat staan vir ’n groot
idee”. Daardie idee en stryd om vryheid gaan steeds voort. Soos in die verlede, glo ek, sal Kruger en die vryheidsidee in die toekoms weer tuis kom, gewens wees en waardeer word.