Maria Potgieter en haar vier boeties is tydens die Anglo-Boereoorlog teen hulle sin deur Britse soldate na die konsentrasiekamp by Krugersdorp geneem. Haar ma is dood en haar pa, kommandant FJ Potgieter, het as die kommandant van die Krugersdorpkommando aan die Natalse grens geveg. Maria moes as dertienjarige dogtertjie alleen verantwoordelikheid vir haar vier boeties neem. Die jongste was maar twee jaar oud.
Hulle was vir agt maande in die Krugersdorp-konsentrasiekamp tussen bekendes. Skielik is Maria en die boeties uitgekies en na die spoorwegstasie geneem om na ’n onbekende plek met onbekende mense gestuur te word. “Hoekom juis ons,” het Maria gewonder.
Kitchener het die Boerevroue in twee kategorieë ingedeel naamlik die “undesirables” of “ongewenstes” en die “vlugtelinge”. Die “vlugtelinge” was die vroue en kinders waarvan die pa’s reeds oorgegee het. Die vegtende Boere het na hulle as “hensoppers” verwys.
Die “ongewenstes” was die vroue wat weerstand gebied het, nog lojaal aan die Boererepublieke was en wie se mans nog nie opgehou veg het nie. Maria was trots daarop dat haar pa nog geveg het en het graag vertel hoe parmantig sy met die Engelse in die kamp was. Daar is deur die Britte besluit om hierdie “ongewenste” vroue uit die Transvaal en Vrystaat se konsentrasiekampe te verwyder en ver weg na Natal, as ’n Britse kolonie, te stuur. Merebankkamp by Durban is in September 1901 juis vir hierdie doel gebou. Daar is geglo dit sal help om die manne se moed te breek sodat hulle gouer oorgee.
By die spoorwegstasie is Maria en haar boeties in oop steenkooltrokke gelaai. Niemand het aan haar gesê waarheen hulle gaan nie. Vir twee dae lank was hulle in die oop trokke. Met tye het hulle papnat gereën. Met ’n rokende stoomlokomotief voor aan die trein, verstik en versmoor die boeties amper elke keer as hulle deur ’n tonnel ry. Met ’n sakdoek probeer sy hulle neuse toehou in die tonnels. Daar is natuurlik geen toilet in ’n oop steenkooltrok nie. Hulle span maar ’n kombers in die een hoek van die trok in wanneer iemand ’n behoefte het. So het Maria en haar boeties in Merebankkamp geëindig.
Maria Potgieter is my ouma. Sy het vir lang tye by ons gebly. In hierdie tye het ek haar vertellings van daardie tye op band opgeneem. Terwyl sy dit alles vertel het, het sy gehuil en gewonder hoe beskaafde Christenmense so iets aan ander mense kan doen?
Hoekom dink ek nou daaraan? Omdat ek toevallig weer die 2019-televisieonderhoud met JW Rees-Mogg op die Britse program BBC Question Time gesien het. Ek het daarna ook die debat van 25 Februarie 1901 in die Britse parlement gelees. In die 1901-debat reageer die Britse regering op Emily Hobhouse se bewerings oor die swak toestande in die konsentrasiekampe. Die Britse Minister van oorlog, St. John Brodrick, sê in die parlement dat die vroue vry is om die kampe te verlaat as hulle wil en dat die kamptoestande goed is. Dit is blatante leuens.
Rees-Mogg vertel drie leuens in die eerste 20 sekondes van sy TV-onderhoud. Volgens sy 2019-weergawe is die Boerevroue in kampe geplaas vir hulle beskerming (leuen 1). Verder beweer hy dat die sterftesyfer in die kampe presies dieselfde as die sterftesyfer daardie tyd in Glasgow, Skotland was (leuen 2) en: “Omdat die Boere op die slagveld was, waar sou die vroue en kinders kos kry?” Hulle is na die kampe geneem om gevoed te word (leuen 3).
My ouma se persoonlike ervaringe bewys al hierdie leuens verkeerd. Emily Hobhouse as Britse vrou het aan die Britse regering gesê: “Wat julle vlugtelinge noem en die mense wat julle sê julle beskerm, noem hulself krygsgevangenes, hulle word onder dwang aangehou en verag julle beskerming” (Emily Hobhouse-boek deur Elsabé Brits, 2016, bl. 67).
Dat die Boerevroue van die plase weggeneem is sodat hulle in die Britse kampe gevoed kon word, was ’n wrede leuen. Op die plase het hulle genoeg voedsel gehad om vir hulself te sorg. Die Britte het egter alles op meer as 8 000 Boereplase afgebrand as deel van hulle verskroeideaardebeleid.
As Britse bevelvoerder het Kitchener verder opdrag gegee dat die “ongewenste” vroue en kinders die helfte van die kos kry wat die Boere “vlugtelinge” kry. Daar is geglo dit sal maak dat hierdie vroue druk op hulle mans plaas om oor te gee. Die gevolge was net mooi die teenoorgestelde. Die vroue het meer vasberade geword en die mans het verhard en as bittereinders voortgeveg.
As “ongewenste” het my ouma geglo dat die swak en min kos wat hulle gekry het, tot haar jongste boetie se “bloedmaag” en dood in Merebank gelei het. Dit is blatante vermetelheid van Rees-Mogg om verder te beweer dat die Boere se sterftesyfer in 1901 in die konsentrasiekampe dieselfde as die van Britte in Glasgow was.
Glasgow se amptelike sterftesyfer in 1901 was 21 per 1000 van die bevolking. Tussen Julie 1901 en Februarie 1902 was die gemiddelde sterftesyfer in die konsentrasiekampe 247 per 1 000 – twaalf keer Glasgow se syfer. In Oktober 1901 het dit ’n hoogtepunt bereik met 344 sterftes per 1000. Dit het beteken dat een uit elke drie persone wat in die kampe ingekom het, nie lewend daaruit gekom het nie.
Wie is Rees-Mogg wat in 2019 nog sulke leuens oor die oorlog verkondig? Hy is ’n senior lid van die Britse parlement en tans leier van die Britse laerhuis. Hy spog ook met ’n graad van Oxford se universiteit – nogal in Geskiedenis.
Dan Brown skryf in The Da Vinci Code: “In oorlog skryf die wenner die geskiedenis om hul eie saak te verheerlik en die vyand s’n af te kraak. Geskiedenis is altyd eensydig.”
In Suid-Afrika verstaan ons dit, want ons het dit in die verlede ervaar en tans ervaar ons dit weer. Persone wat in die verlede helde was en reg was, is nou verkeerd en wat in die verlede verkeerd was, is nou reg. Daarom is JBM Hertzog-lughawe in Bloemfontein nou Bram Fischer Internasionale Lughawe. Daarom is Verwoerdrylaan nou Beyers Naudérylaan en vorige terroriste nou vryheidsvegters. Ons kinders, wat niks van hierdie verlede in die skool leer nie, word tans verward groot oor wie hulle is en waar hulle inpas.
George Orwell het geskryf: “Die doeltreffendste manier om ’n volk te verpletter, is om sy eie verstaan van sy geskiedenis te ontken en te vernietig.”
Op verskeie maniere, waaronder rubrieke soos hierdie, het ons elkeen ’n taak om die feite van ons geskiedenis so akkuraat as moontlik aan ons kinders oor te dra.