Heiligmaker

Heiligmaker

… maar dat Christus met alle vrymoedigheid … groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is (Filip.1:20); [HK So. 1 V/A 1].

Prof. B Gemser het hier rondom 1952 ’n baie interessante vergely­king getref deur die Kategismus met ons bekende woord “eggo” te ver­ge­lyk. Eggo, soos ons almal weet, beteken klank en veral weerklank. Dit is ’n heel natuurlike veskynsel waar die klank spontaan vanuit die dieptes van die put of die kloof na ons teruggekaats word.

So weerklink die Woord van God in die woorde van die Kategismus en moet die woorde van die Kategismus weer spontaan die weerklank van God se Woord in ons lewe oordra. Net soos daardie eggo vanuit die onbekende dieptes hoorbaar word, so moet die wil van God uit die onbekende dieptes van ons harte duidelik spreek tot elkeen wat binne hoorafstand is.

Daardie eggo wat ons na buite gee, moet ook ’n getroue weergawe van die oorspronklike Woord wat in ons harte leef, wees. Dit beteken nie net dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort nie, maar ook dat ek na liggaam en siel sal eggo wat Hy in my werk omdat ek nie anders kan as om te doen wat Hy van my verlang nie.

Dit geld nie net wanneer dit goed gaan met my en dit maklik is om die Here se spieëlbeeld of eggo te wees nie, maar (veral) ook wanneer dit swaar gaan en dit moeilik is om die beeld van God suiwer oor te dra, d.w.s. ’n eggo te wees van Hom wat my lewe beheer. Die klanke hiervan moet tot in die verste uithoeke van die skepping gehoor word tot uitbreiding van sy koninkryk!

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 14: 1-12

Gebed: Heilige Here, help my om valse klanke in die krag van die Gees af te sny en om die eggo van die evangelie duidelik hoorbaar te maak. Amen.

Filip. 1:3-26

Ges. 127:1, 5

Die getuies

Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik 
(Mt. 5:16); [HK So. 1 V/A 1].

Die Kategimus is nie uit die lug gegryp omdat predikante en teoloë op ’n dag besluit het dat daar nou so ’n geskrif moet wees nie. Die opstellers van hierdie belydenisskrif het teen die agtergrond van baie vervolging, dikwels tot die dood toe, en baie dwaalleringe, die Kategismus die lig laat sien.

In hierdie belydenisskrif getuig die opstellers van ’n magtige Verlosser, ’n getroue Bewaarder, ’n vaste Versekeraar en ’n Bewerker van geloof wat met die volmag van God onder ons verskyn het. Hierdeur getuig hulle aan ons hoe hulle sy eiendom geword het, hoe hulle dit bly, hoe hulle dit weet en hoe hulle dit beleef. Uit hulle lewenservaring getuig hulle aan ons dat ons met sekerheid aan die wete kan vashou dat dieselfde God vandag nog onder ons woonagtig en deel van die gelowige se lewe is.

Ons beleef ook elke dag soveel genade uit die hand van die Here, ons Verlosser en Voorsiener. Ons het elke dag net soveel geleentheid om as getuies vir Hom op te tree as destyds, maar ons laat soveel geleenthede by ons verbygaan waarin ons sy Naam kon grootgemaak het; waarin ons vir ander tot troos en versekering kon gedien het dat Jesus Christus werklik leef en dat Hy daadwerklik deel vorm van ons gebroke en misvormde bestaan wat gedurig dreig om ons te verswelg in negatiwiteit en pessimisme.

Laat u lig vandag skyn in ’n donker wêreld en wees vir iemand, deur die genade van ons Saligmaker, ’n kragpunt sodat hy of sy by die Bron van alle krag kan herlaai.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 25:31-46

Gebed: Here, laat my lewe deur die werk van u Woord en Heilige Gees om altyd en oral ’n aangename geur en positiewe getuienis wees.

Amen.

Mt. 5:14-16

Ps. 147:1, 4

Skepper en Onderhouer

Skepper en Onderhouer

… Laat Ons mense maak na ons beeld … (Gén. 1:26); [HK So. 7 V/A 24].

In Vraag en Antwoord 23 van die Kategismus word ’n samevatting gegee van die kernwaarhede van wat vir ’n Christen nodig is om te glo (vgl. V/A 22). Die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis) lê die kern van die saligmakende geloof uit aan die hand van die Drie-eenheid.

Wat opvallend is van die Kategismus se driedeling van die Twaalf Artikels is die gebruik van die persoonlike voornaamwoord ons. In die eerste instansie ons Skepper. Die Christelike geloof is nie maar net ’n onpersoonlike en leerstellige saak nie. Anders sou die Kategismus gepraat het van God die Vader en die skepping. Nee, Génesis 1 herinner ons daaraan dat God óns Skepper is. Hy hanteer ons nie as lewelose voor­werpe in sy skepping nie. Ons is nie net ’n nommer in ’n mas­sa­pro­duk­sielyn nie. Deur sy liefdevolle hand het God ons na sý beeld ge­skep as die kroon en rentmeesters van sy skepping (v. 28-29). Deur sy skep­ping openbaar Hy Hom ook as die Onderhouer (v. 12) wat só skep dat volhoubaarheid moontlik is.

Ek en jy is nie ’n toevalligheid op hierdie aarde nie. God ken ons by die naam, want Hy is ons Formeerder. Met sy liefdevolle Vaderhande het Hy ons elkeen gevorm en daarom sorg Hy vir ons beter as die lelies van die veld. Reeds voor die grondlegging van die wêreld was ons skepping en verlossing deel van sy raadsplan (vgl. Efés. 1:3-6). Daarom is God nie net ons Skepper nie, maar ook ons Herskepper deur die verlossingswerk van sy Seun, Jesus Christus. As Onderhouer het Hy dus nie net ons daaglikse brood in gedagte nie, maar skenk Hy ook die Brood van die ewige lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:1-7

Gebed: Vader, dankie vir die vertroosting dat U nie net Skepper is nie, maar ook Herskepper. Amen.

Gén. 1:1-2:3

Ges. 82:1

Spesifieke adres

… dit is die wil van die Vader … dat al wat Hy my gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie … (Joh. 6:39); [HK So. 7 V/A 24].

Christus se verlossing word dikwels as ’n baie algemene verlossing voorgestel. So asof Hy maar in die algemeen vir die sondes van die wêreld gesterf het en nie vir spesifieke mense se sondes nie. Wie dan hierdie verlossing aanvaar, sal gered word. Hoewel so ’n siening, menslik gesproke, redding meer toeganklik maak, haal dit tog die persoonlike aard daarvan uit: Christus het gesterf, ja, maar nie spesifiek vir mý nie. Hy het lief, ja, maar net so in die algemeen. Sy liefde is nie toegespits op mý en mý redding nie.

In sy gesprek met die skare weerlê die Here Jesus hierdie standpunt. Hy stel Homself bekend as die Brood van die lewe. Uit die hemel is Hy tot versadiging van ’n sielshonger wêreld gegee (v. 33). Wanneer Hy egter van die “wêreld” praat, bedoel Hy dit nie in algemene, onpersoonlike terme nie. Hy het spesifieke mense in gedagte, want sy verlossing is berekend en daarom persoonlik. Sy taak is om nie een van die wat die Vader aan Hom gegee het, verlore te laat gaan nie. So persoonlik is dit, dat elke verloste se naam reeds voor die grondlegging van die wêreld in die boek van die lewe opgeskryf is.

Is dit nie wonderlik om saam met die Kategismus te kan getuig dat die inhoud van my geloof oor God die Seun en mý (ons) verlossing han­del nie? In hierdie grootste skepping het God in sy ontsaglike liefde aan mý gedink! Sy redding is gerig tot ’n spesifieke adres. Wie in Jesus Christus glo as sy/haar Verlosser en Saligmaker, kan seker wees dat God se redding sy bedoelde adres gevind het!

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:3-6

Gebed: Vader, wat is die mens dat U aan hom dink? Amen.

Joh. 6:22-40

Ges. 82:2

Kennis én vertroue

Kennis én vertroue

… Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig (Mk. 10:47); [HK So. 7 V/A 21].

In Lukas se beskrywing van hierdie gebeure (Lk. 18:35-43) lees ons dat die blinde man by die skare wou weet wie by hom verbygegaan het. Hulle antwoord aan hom: Jesus van Násaret. Vir die skare was Hy maar net ’n gewone man, iemand soos hulle uit ’n dorpie uit die omgewing. Miskien het Bartiméüs al gehoor van die Here Jesus se reputasie as Iemand wat siekes genees, maar wanneer hy na Jesus uitroep, is dit duidelik dat Hy vir Bartiméüs meer as net ’n Wonderwerker was.

Hy spreek die Here Jesus aan as die Seun van Dawid. Dit was nie net ’n manier om sy herkoms aan te dui nie. Dit was ’n Messiaanse titel op grond van die belofte wat God destyds aan Dawid gemaak het (vgl. 2 Sam. 7:12-16). Bartiméüs weet dat sy gebrek ’n gevolg van die sondeval is. Die enigste persoon wat die effek daarvan kan omkeer, is die Messias van God. Die Here Jesus ontken nie hierdie titel nie, want Hy is die Messias. Op sy versoek, genees Hy vir Bartiméüs met die woorde: … jou geloof het jou gered.

Hierdie gedeelte beantwoord vraag 21 van die Kategismus: Wat is ’n ware geloof? In die eerste plek het Bartiméüs ’n gewisse kennis gehad dat Jesus die Christus, die Messias van God was. Deur te vra: Wees my barmhartig, eien hy Christus se verlossingswerk vir homself toe. Hy stel sy vertroue daarin dat Christus ook in sy lewe die effek van die sondeval kan omkeer. ’n Reddende geloof het niks te doen met die kwaliteit of kwantiteit van jou geloof nie, maar wel met die feit dat jy die gewisse kennis van Jesus Christus se verlossingswerk vir jouself toe-eien.

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29

Gebed: Help my, Here, om nie op my geloof te vertrou nie, maar om deur my geloof op U te vertrou! Amen.

Mk. 10:46-52

Ges. 71:1, 3

Alles … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Mt. 28:19); [HK So. 7 V/A 22].

Vraag 22 van die Kategismus, “Wat dan is vir ’n Christen nodig om te glo?”, kan maklik verkeerdelik vertolk word as: “Wat is die minste wat ek moet glo om nog steeds gered te word?” Dalk is dit ook jou benade­ring tot geloof: Wat is die minimum geloofsaktiwiteit en maksimum wêreldgesindheid waarmee ek kan wegkom en steeds gered word? Die subteks is duidelik: Ek wil wel meedoen solank dit my net nie te veel kos nie.

Uit die antwoord op Vraag 22 blyk dit duidelik dat dit nie die bedoe­ling van die vraag is nie. “Alles wat ons in die evangelie beloof word” – niks min­der en niks meer nie. Nie alles wat in ’n dogmatiekhandboek of ’n fi­na­lejaar verbondsonderrighandboek opgeteken is nie, maar alles wat die evangelie behels. Met hierdie opdrag stuur die Here Jesus ook sy kerk na die wêreld: Maak dissipels en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Hy beliggaam die evangelie en sy woorde is die evangelie. Elkeen wat in Hom glo en sy woorde vir waar en seker hou, sal gered word. Tydens sy bediening het Christus dit baie duidelik gemaak dat die hele Skrif evangelie is aangesien dit van Hom en sy verlossingswerk getuig (vgl. Lk. 24:27). Wat Hy geleer en gedoen het, is die vervulling van die Skrifte.

Terwyl Vraag 21 van die Kategismus op die kern van die evangelie fokus, naamlik dat daar ook “vir my vergewing van sondes is”, bevestig Vraag 22 dat dit nie al is waarmee gelowiges tevrede mag wees nie. Al is die hart die belangrikste orgaan in die liggaam, beteken dit nie die ander organe is onbelangrik vir die behoorlike funksionering van die liggaam nie. Alles moet “onderhou” word, dus as waar en seker aanvaar word.

Bykomende Skrifgedeelte: 2 Tim. 3:10-17

Gebed: Here, leer my om alles te onderhou wat U ons geleer het. Amen.

Mt. 28:16-20

Ges. 187:1-3

Ék is ook reeds salig

Ék is ook reeds salig

Welgeluksalig is … (Ps. 1:1); [HK So. 7 V/A 20].

Op die juigkreet van Sondag 6 van die Kategismus dat Christus deur God as Middelaar aan ons geskenk is, volg die logiese vraag: Wie vind almal baat by sy Middelaarskap? Ons moet versigtig wees om nie hierop slegs ’n algemene, teologiese antwoord te gee nie. Die Kategismus raak in der waarheid baie persoonlik. “Word alle mense dan weer deur Christus salig?” dwing ons om ons eie posisie te oorweeg. Is ek inge­sluit? Dit is nie ’n vraag wat ek eers “eendag” sal moet antwoord nie, maar waaroor ek nou reeds sekerheid moet en kan hê. “Word alle mense … salig” wek die indruk dat saligheid eers iewers in die toekoms op ons wag. Dit is ’n verkeerde verstaan. Hoewel ons saligheid eers in die toekoms volkome sal wees, is gelowiges in beginsel reeds salig.

Is dit nie wat Psalm 1 leer nie? Welgeluksalig is … Die digter maak dit baie duidelik dat saligheid nie vir gelowiges eers in die toekoms gerea­li­seer word nie. Elkeen wat deur God uit die wildernis van sondesla­wer­ny verplant is op die oewers van die fontein van lewende water, Jesus Chris­tus, dra reeds vrug, sy blare verwelk nie en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit (v. 3). Vir elkeen wat glo (verplant is) en put uit die Bron van lewende water, is geluk ’n gegewe. Dit is nie iets wat eers eendag sal wees nie. Die geluk waarvan hier gepraat word, welgeluksaligheid, het dus minder te doen met die glimlag op jou gesig en meer te doen met die vrede in jou hart.

Mense wat reeds hierdie welgeluksaligheid in Christus besit, se le­wens getuig daarvan deurdat so iemand se behae in die wet van die Here is en hy/sy dit dag en nag oordink (v. 2).

Bykomende Skrifgedeelte: Filip. 4:4-9

Gebed: Here, die meetsnoere het inderdaad vir my in lieflike plekke geval! Amen.

Ps. 1:1-6

Ps. 1:1-4

Ingelyf deur die geloof … sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie … (Joh. 3:16); [HK So. 7 V/A 20].

As dit so is dat alle mense deur die eerste Adam verlore gaan, dan is dit seker net logies om te wonder of alle mense dan nie op die teen­oorgestelde wyse deur die tweede Adam (Christus) gered word nie? Die Here Jesus se uitspraak: Baie is geroep, maar min is uitverkies (Mt. 22:14), word in die Kategismus se antwoord ge-eggo. Slegs hulle wat deur ’n wa­re geloof in Christus ingelyf word en sy weldade aanneem, word gered.

Dit bevestig Christus ook in sy gesprek met Nikodémus. Niemand kan gered word indien so iemand nie eers wedergebore (van bo af gebore) is nie. Wie wedergebore is deur die Gees, ontvang geloof as gawe. Geloof kan beskryf word as dit wat my laat deel in Christus se weldade. Dit is soos ’n tandemsprong. Iemand wat nog nooit in sy lewe valskerm ge­spring het nie, word met ’n harnas vasgemaak aan ’n ervare val­skerm­springer. Ná die sprong kan die persoon verklaar: Ek het valskerm gespring, al was dit nie hyself wat gespring het nie. Geloof is die harnas wat ons aan Christus en sy weldade verbind. Daardeur word ons só een met Hom dat sy dade, gehoorsaamheid en oorwinning as ’t ware ons dade, gehoorsaamheid en oorwinning word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie (v. 18). Redding lê dus nie in die feit dat jy glo nie, maar eerder in wat jy glo.

Om deur die geloof deel te kry aan die liggaam van Christus, is nie net ’n geestelike saak nie. Dit word ook duidelik wanneer ek myself voeg by die sigbare uitdrukking van sy liggaam, naamlik die plaaslike kerk. Inlywing in Christus deur die geloof, beteken ook inlywing in die kerk van Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 15:1-27

Gebed: Ek dank U, Here, dat ek deur die geloof in u weldade kan deel! Amen.

Joh. 3:1-21

Ges. 137

Ope brief aan die Staatspresident

Ope brief aan die Staatspresident

Ope brief aan die Staatspresident
soos uitgereik deur die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Geagte Meneer die Staatspresident,

U sterk evangeliese agtergrond en gereelde optrede by Christelike kerke, het daartoe gelei dat u as staatspresident, Christene by meer as een geleentheid in die openbaar opgeroep het om as morele kompas vir die land te dien en die kerk versoek het om vir u en die regering te bid. As lidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk doen ons dit gereeld – nie omdat u dit versoek het nie, maar omdat God, die Here, in sy Woord die opdrag daar­toe gegee het. Alle gesag behoort aan Hom: Hý sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:21). Aan regeerders verleen Hy die gesag om as ’t ware namens Hom só te regeer dat mense … ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:2). Daarom bid gelowiges vir gesagsdraers dat hulle God se opdrag getrou, tot sy eer en tot heil van hulle onderdane mag uitvoer. Ook u gesag as staats- en regeringshoof is verleende gesag – dit is aan u verleen deur die ewige Koning, Jesus Christus. Daarom is u aan Hom verantwoordelik vir die manier waarop u die gesag wat Hy u gegee het, uitoefen.

Die Here roep mense op om sy getuies te wees. Die getuies se woorde is ontleende woorde en hulle getuienis slegs getuienis van wat hulle gehoor het. Hulle mag nooit anders sê nie as: “So spreek die Here.” As getuies van die Here is hulle dus ook aan God verantwoordelik vir die manier waarop hulle sy raad en wil aan u betuig. In die nederige gesindheid van ’n kneg in diens van die Here, word hierdie skrywe aan u gerig in ’n beskeie poging om iets te laat hoor van die kommer in die hart dat die eer van God en die heil van die mense oor wie u regeer, deur u regering aangetas word.

As daar vir u regering gebid word, kan dit nie anders nie as volgens die inhoud en voorbeeld wat die Here Jesus self aan ons geleer het in die volmaakte gebed, die Onse Vader. Wanneer daar gebid word, ook wanneer u vra dat daar vir u en u regering gebid moet word, dan moet daar met ootmoed en erns tot God genader word. Iemand wat bid wat hy nie bedoel nie, laster teen die Here. Dit sou vir hom beter wees as hy sou swyg.

Die eerste drie bedes van die Onse Vader is die onontbeerlike fondament vir ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waarheid.

Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied … (Mt. 6:9-10), is die smeekbede dat daar, uit respek en eerbied vir God, erns ge­maak sal word met sy Naam; sy gesag en sy wil.

Die drie bedes eggo die eerste vier gebooie van die Here, wat ons daartoe dring om geen ander gode te hê of te aan­bid nie; met eerbied en erns voor God te lewe en Hom nie anders te dien as wat Hy beveel nie.

Dit bly vir ons onbegryplik dat ’n staat waarvan meer as sewentig persent van die inwoners te kenne gee dat hulle in Christus Jesus glo, bereid is om dié drie bedes gering te skat deur met ’n neutrale grondwet tevrede te wees. U regering is egter nie bloot neutraal nie. U handhaaf nie slegs die beginsel van godsdiensvryheid nie. Inteendeel, as regering bevorder en propageer u in die openbaar godsdiensgelykheid. By regeringsgeleenthede nooi u regering alle gelowe om saam te bid en godsdienstige rituele uit te voer. So maak u regering ’n bespotting van die gebed en van God se wet. U spot met God – en geen erger ydel gebruik van sy Naam is denkbaar nie.

Daarmee kom die grondliggende en ware swakheid van u regering en sy optredes aan die lig. U moet onthou: U en die regering is nie eerstens aan ’n party, ’n parlement of aan kiesers verantwoording verskuldig nie. U is heel eerste aan God verantwoordbaar. As daar nie eerbied en ontsag vir Hom as die enigste, ware, lewende God is nie, sal daar ook nie respek vir sy gesag of wil wees nie. Hy waarsku dat Hy elkeen wat ligtelik met Hom omgaan en sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf sal laat bly nie (Ex. 20:7).

Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, het aan koning Frans van Frankryk geskrywe: “Die koning wat in sy ryk nie só regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof.” Kom die plundering van die land onder die regerings van die afgelope 25 jaar nie neer op die berowing van God se eer nie en is dit nie ’n sprekende bewys van die waarheid van Calvyn se woorde nie?

Die Here Jesus leer ons verder bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe (Mt. 6:11).

Dit is ’n bede om ’n lewe waarin daar vir elkeen ruimte tot bestaan en roepingsvervulling is. In die wet van die Here gee Hy self vir ons die gebooie wat dit moontlik maak om so ’n lewensruimte te handhaaf. In die gehoorsaamheid aan God se wet, word daar vir elkeen ’n plek gegee waar hy sy roeping kan nakom; homself en dié wat aan sy sorg toevertrou is kan beskerm en versorg; die eiendom wat hy uit die hand van God ontvang in vrede kan benut; sy eer en goeie naam kan behou. Waar daar só gelewe word, is daar ruimte vir deernis met mekaar en erkenning dat ons almal uit God se hand en in sy genade leef; sodat die reg op barmhartige wyse gehandhaaf kan word.

Die gehoorsaamheid begin by die respek wat ons het vir God en vir die mense met wie ons saam lewe. Dit word uitgedruk in gehoorsaamheid aan die gesag van hulle wat God oor ons gestel het. Daaruit volg respek vir die reëls waarvolgens en die grense waarbinne ons met mekaar saam lewe. Sonder respek vir mekaar en vir wet en orde, is geen ruimte moontlik vir ’n samelewing waar ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waardigheid gelewe kan word nie. Sonder daardie respek is daar geen deernis en omgee vir mekaar se swakheid en nood nie en word die reg ’n klug om eiebelang te beskerm.

Laat ons nie doekies omdraai nie, Meneer die President. Die misdaadgolf in hierdie land is nie die gevolg van broodsgebrek en ekonomiese nood nie. Dit is die gevolg van ’n diepliggende gebrek aan respek vir God, vir sy Woord, vir wet en orde en vir die mense met wie saam geleef moet word. Met diep kommer moet gestel word dat u regering aktief tot die gebrek aan respek bydra. U regering ondermyn ouerlike gesag en daardeur respek vir alle gesag, met wetgewing wat lyfstraf as wyse waarop ouerlike tug en opvoeding tuisgebring mag word, kriminaliseer. U regering laat toe dat duisende ongebore kinders elke jaar deur aborsie vermoor word, maar iemand wat moord pleeg, mag nie die doodstraf kry nie. So ondermyn u regering die waarde en waardigheid van lewe en spoor doodslag aan deur nie diegene wat dood en geweld aanblaas, te straf nie. U inkonsekwentheid ten opsigte van haatspraak, u onwilligheid om plaasmoorde, soos bendegeweld, as prioriteitsmisdade te hanteer tesame met ’n korrupte polisiemag, hits die disrespek aan.

U regering vernietig respek vir die heiligheid en die waarde van die huwelik as hoeksteen van ’n gesonde gemeenskapslewe deur selfdegeslag-huwelike te wettig, pornografie toe te laat en seksuele uitspattigheid deur middel van die nuwe voorgestelde leerplan vir lewens­oriëntering (sg. “CSE”) te legitimeer en te bevorder. Korrupsie, wat steeds onder u regering voortwoed, ken geen respek vir eiendom, geld of goed nie. Onder u regering word erfgrond soos ’n Nabotswingerd beskou – as die koning dit wil gryp, doen hy dit. U regering ondermyn respek vir die waarheid deur die valse beskuldigings waarmee die witmense in die land gedemoniseer word. U eie verwronge weergawe van die gebeure by Bloedrivier getuig daarvan. Daarby ondermyn u regering die respek vir die reg deur dikwels met vooroordeel te handel en te vonnis.

Calvyn skryf aan koning Frans: “Voorts bedrieg ’n ko­ning homself wanneer hy langdurige voorspoed vir ’n ryk verwag wat nie deur die septer van God, dit is deur sy heilige Woord, geregeer word nie.” Hoe verwag u dat daar onder u regering voorspoed in die land kan wees sonder gehoorsaamheid aan God se gesag en wil?

Gebrek aan respek vir God, vir ander en vir wet en orde, vernietig selfrespek. Dit laat selfsug en soeke na eiebelang in mense botvier as die enigste manier waarop hulle sin aan hulle bestaan gee. Die Here leer ons om te bid dat ons bestaan nie daardeur vernietig sal word nie:

… en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (Mt. 6:13). Die laaste van die Tien Gebooie dring ons om ons eie begeertes ondergeskik aan God se wil en beskikking te stel.

Die grondslag van u regering berus egter op die uitgangspunt van die regte van mense en nie op die reg van God nie. In homself dra die veel geroemde grondwet die kiem van ondergang. Dit spreek immers van die heel vroegste verleiding: Dat ’n mens nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie, maar self jou eie godjie kan word. In hierdie valsheid word ’n land prysgegee aan die Bose; word ’n staat die gestalte van die antichris.

Meneer die President, dit is met groot kommer in die hart en diepe besorgdheid oor die mense in die land waarmee aan u geskryf word. Wie van die pad van God afwyk, loop onvermydelik die pad van God se oordeel. Dit is op dié pad waarop u regering ons lei. Daarom doen ons op u en u regering ’n dringende beroep:

Moenie net vra dat vir u gebid word nie, maar wys deur u dade dat u God en sy wil, waarvoor u vra daar gebid moet word, erken en dien.

Ter wille van al die mense van die land, bid ons vir die regering en vir u as staatspresident. Ons bid dat u as kneg(te) van God sý eer sal dien; met respek sal optree teenoor elkeen oor wie God u aangestel het deur respek te toon vir God se wet en orde; die werke van die Bose sal teengaan deur in onderworpenheid aan God te regeer. Ons bid dat u só sal regeer dat u ons nie langer op die pad van oordeel sal lei nie. As dit nie gebeur nie, bid ons dat God self vir ons ’n regering sal gee wat met Hom en met sy Woord erns sal maak, sodat ons ’n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid kan lei.