Die Kerkstraatbom van 1983

Die Kerkstraatbom van 1983

Dit is vanjaar 37 jaar gelede dat die terroristebom in Kerkstraat ontplof het. Die terroristiese aanslae teen Suid-Afrika (lees: die Blanke bewind) deur die ANC en sommige van sy simpatiseerders en meelopers, het nie met die vonnisoplegging van die Rivonia-aangeklaagdes op 11 Junie 1964 opgehou nie.

Pas ses weke later plaas John Harris ’n bom in ’n tas by die Johannesburgstasie. Dit het ’n ou dame gedood, haar 17-jarige kleindogter vir die res van haar lewe vermink en 22 ander mense ernstig beseer. Harris is in 1965 gehang. Alhoewel hy hom met die ANC se sogenaamde Struggle vereenselwig het, kan sy daad egter nie direk voor die deur van die ANC gelê word nie. Dit is egter moontlik dat die Rivoniagebeure wel ’n invloed kon uitoefen.

Tydens die Gochstraat-terroriste-aanval van 1977 in Johannesburg, is vanuit ’n gebou op mense geskiet. Die terroriste is ná ’n skietgeveg met die polisie gearresteer en in 1979 gehang. In Januarie 1980 het drie uMkhonto we Sizwe (MK)-terroriste die Volkskas Bank in Silverton binnegeval en 25 gyselaars vir ses ure lank aangehou. Die Suid-Afrikaanse Polisie het egter die Bank binnegedring en in die skietgeveg wat gevolg het, is al drie terroriste en twee burgerlikes gedood. Verskeie gyselaars is beseer en twee sou later aan hul beserings beswyk.

Later dieselfde jaar het die MK-aanval op die Koeberg-kernkragsentrale plaasgevind. Dit het R500 miljoen se skade aangerig en die voltooiing met 18 maande vertraag. In dieselfde jaar is agt reuse Sasol-brandstofopgaartenks deur ANC-kleefmyne opgeblaas en is nogeens miljoene rande se skade berokken. In 1981 volg die mislukte RPG-missiel-aanval op die militêre basis te Voortrekkerhoogte. As gevolg van die onbevoegdheid van hierdie terroriste, was geen skade aangerig of iemand ernstig beseer nie.

Wat lewensverlies betref, was die Kerkstraatbom van Vrydag 20 Mei 1983, die verwoestendste. Twee ANC-terroriste het ’n 40 kg bom in ’n blou Alfa Romeo na die Nedbankgebou in Kerkstraat vervoer. Die Suid-Afrikaanse Lugmagkantore, wat in dié groot kantoorblok gehuisves was, was die teiken. In hierdie gebou was honderde mense werksaam, uiteraard ook Lugmagpersoneel. Die bom sou om 16:30 (spitstyd) ontplof om soveel moontlik dood en verwoesting te saai. Dit het egter, na berig word, tien minute te vroeg ontplof en die twee bomplanters, Freddie Shongwe en Ezekial Maseko, onkant betrap en ook gedood.

’n Reuse rookwolk het meters die lug in opgestyg en liggame en puin het oral op die toneel rondgestrooi gelê. Die skokgolwe van die ontploffing het die glasvensters van nabygeleë winkels heeltemal uitgeruk. Hierdie gruwelik-onmenslike daad het 217 mense ernstig beseer. Negentien persone is gedood van wie sommige ook onherkenbaar geskend is. Meer as 20 ambulanse is gebruik om die dooies en beseerdes na drie hospitale in Pretoria af te voer. Die ANC het aanspreeklikheid vir die gebeure aanvaar, maar hom verontskuldig deur te verklaar dat dit ’n vergeldingsaanval was vir die oorgrens aanval wat Suid-Afrikaanse soldate kort tevore in Maputo (Mosambiek) geloods het waarin ses lede van die ANC gedood is.

Oliver Tambo, president van die ANC, en opdraggewer vir hierdie afskuwelike daad, het dus hiermee enersyds ’n klug gemaak van die ANC se vroeëre uitsprake dat sover moontlik probeer is om burgerlike ongevalle te voorkom en andersyds maar net bewys hoe onwaar dié stelling in elk geval was.

Aboobaker Ismael, wat in pas met die eensydige optrede van die Tutu-kommissie in 2000 vrywaring ontvang het, was die bevelvoerder wat moes toesien dat die bom geplant word. Hy moes aan Joe Slovo, die opperbevelvoerder, MK-stafhoof en deurtrapte kommunis, rapporteer. Slovo het in ’n onderhoud sy aandeel erken en verklaar dat hierdie optrede onvermydelik was en homself probeer regverdig deur by te voeg dat sy gewete skoon is. Geen wonder nie dat Percy Yutar, staatsaanklaer tydens die Rivonia-hofsaak, Slovo beskou het as een van die slegste verraaiers wat die Suid-Afrikaanse grondgebied ooit besoedel het. Die ANC het hierdie gebeure as ’n militêre oorwinning beskou.

Aida Parker het hierdie gebeure egter tereg as niks anders nie as massamoord beskou. Op haar kenmerkende skerp ontleding van ’n saak, het sy daaraan toegevoeg: It is difficult to see how anyone other than a complete cynic could label this a contribution to the so-called liberation struggle. Soos te verwagte het lede van die NP-kabinet en van die SA Polisie tereg in persverklarings hierdie lafhartige daad skerp veroordeel. Op hierdie tydstip het niemand kon dink dat, deur verraad vanuit eie geledere, terroriste in sowat tien jaar hierdie land sou regeer en boonop vir hulle afskuwelike dade as helde vereer word nie.

Die Kerkstraatbom van 1983

April 1900 – Waarom vier Boerekrygsgevangekampe op St. Helena?

Gedurende April 1900 gooi die Britse skip Milwaukee anker by die vulkaaneiland St. Helena. Aan boord is 514 Boere krygsgevangenes. Baie is moeg en swak na seesiek en dae op die oop see. Wat het hierdie Boere gedink toe hulle die eiland se vyandige, onherbergsame kranse wat meters hoog die lug in troon, sien?

Generaal Piet Cronjé het by Paardeberg met meer as 4000 Boere oorgegee. Die Britte was bekommerd dat hierdie krygsgevangenes kan ontvlug om weer te veg. Hulle kon ook deur ander Boere bevry word. Hulle oplossing was om hulle landuit na St. Helena te stuur.

St. Helena is ’n stippeltjie in die middel van die Atlantiese Oseaan. Daar is 2000 km se see na Afrika se kus en 3000 km se see na Suid-Amerika se kant. Die eiland is eintlik twee vulkane waarvan net die boonste 5% bo die see uitsteek. Daarom die hoë kranse en diep valleie.

Die Boere word aangejaag na die enigste effense gelyk plato. Daar is honderde tente binne ’n doringdraadkamp opgeslaan. Dit is Deadwood kamp waar die wind permanent waai. Vir die volgende twee jaar, tot die einde van die Anglo-Boereoorlog, sou hulle hier bly. Hoë offisiere soos generaal Cronjé en sy vrou, wat ook op die skip was, word toegelaat om in huise te woon. Hulle word na Kent Cottage geneem. Uiteindelik is meer as 25 000 Boere so na kampe in St. Helena, Ceylon (vandag Sri Lanka), Bermuda en ander Britse gebiede gestuur. Meer as 5000 na St. Helena.

Om die tyd om te kry, het die Boere allerlei houtbakke, borsspelde en beeldjies gemaak. Hierdie aandenkings is na Europa uitgevoer om verkoop te word. Die geld so ingesamel was vir die Boere se weduwees en weeskinders in Britse konsentrasiekampe in Suid-Afrika.

Veertien Boere het op verskillende maniere vanaf die eiland probeer ontsnap. Die oorspronklikste was Smorenburg se poging. Hy het ’n houtkrat gebou waarin hy kon pas en wat hy van binne kon oop en toe maak. Buite op het hy geskryf “Curios” en “Handle with Care” met ’n vals Londense adres daarby. Die Britte het die krat, en so vir Smorenburg, op die skip Goth gelaai. Op pad na Brittanje het die skip by die eiland Ascension aangegaan.

Wat Smorenburg nie geweet het nie, was dat die Eastern Telegraph Company net die vorige jaar ’n ondersese kabel van Kaapstad na St. Helena en van St. Helena na Ascension eiland gelê het. Hiermee kon boodskappe vinnig tussen die plekke gestuur word. Toe die Britte agterkom Smorenburg is weg, is ’n boodskap met die nuwe kabel na Ascension eiland, 1100 km verder, gestuur. Smorenburg is op Ascension afgelaai en teruggestuur na St. Helena. Opstandige Boere en dié wat probeer ontsnap het, is hierna in ’n tweede kamp, High Knoll Fort, geplaas. Hier kon hulle beter bewaak word.

Waarom was daar uiteindelik vier kampe op St. Helena?

Sommige Boere het hulle bereid verklaar om die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê. Hulle het geglo dat die oorlog tog nie gewen kan word nie. So het hulle meer bewegingsvryhede op die eiland gekry. Die Britte noem hulle “lojaliste”. Die Boere noem hulle “verraaiers.” Hulle was nie meer welkom in die Boerekamp nie. ’n Derde kamp, “Peace Camp” moes vir hulle opgerig word.

Soos Deadwood Camp oorbevolk geraak het, het die Transvalers en die Vrystaters struwelinge begin kry. Daar was verwyte oor wie se skuld dit is dat hulle hier is. As oplossing is die Vrystaters na ’n nuwe vierde kamp, Broadbottom, verskuif.

31 Mei 1902 word vrede in Suid-Afrika gesluit. Die woord “peace” word oor die kabel na St. Helena gestuur. Die Britte en die Boere jubel albei. Elkeen glo hulle het die oorlog gewen. Dae later kom die slegte nuus dat die Britte gewen het. Twee weke later verskyn ’n kennisgewing in die Boere se kampe. Boere Krygsgevangenes wat bereid is om die eed van getrouheid aan aan die Britse koning, Edward VII, af te lê, sal permitte kry om uit die kamp te gaan. Hulle moet na die Court House gaan om die eed af te lê en so Britse burgers word.

Die kennisgewing lei tot ernstige debatte en bitterheid in die kampe. “Hoe kan ons voor die Britse gesag buig? Hulle wat ons plase afgebrand en in die konsentrasiekampe ons kinders en vroue se dood veroorsaak het?”, word geargumenteer.

’n Week later vertrek die Britse skip, Canada, na Suid-Afrika met 470 Boere wat die eed afgelê het. Talle ander weier. Later sou die meeste Boere die eed aflê as die enigste manier om terug by die huis te kom.

Ek bewonder opnuut die hoë prys wat ons voorvaders bereid was om vir ons vryheid te betaal – en vra myself af wat ons daarmee gemaak het?

Die Kerkstraatbom van 1983

Kommunistiese aanslag op die Republiek van Suid-Afrika 

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Republiek vanuit verskeie oorde kritiek en selfs vyandigheid beleef. Sedert 1960 het sabotasie-voorvalle begin voorkom, wat vanaf die volgende jaar in felheid en gewelddadigheid toegeneem het.

Dít kan toegeskryf word aan die doen en late van samesweerders wat ’n kommunistiese rewolusie in Suid-Afrika van stapel wou stuur. Ná die (dikwels verdraaide) Sharpeville-gebeure (1960), het hierdie booswigte ondergronds gegaan. Nelson Mandela het die belangrikste leier van dié geweldsopsie geword. In 1961 het hy en Joe Slovo Umkhonto we Sizwe (Assegaai van die nasie) as die militêre vleuel van die ANC op die been gebring, juis met die doel om sodanige rewolusie te bewerkstellig. Van toe af het die terroristiese bedrywighede in Suid-Afrika toegeneem.

Alleen sou die knoop nie deurgehak kon word nie. In 1962 het Mandela derhalwe, onder die skuilnaam David Motsamayi, die land onwettig verlaat en Afrika en Europa besoek met die doel om ondersteuning vir die gewapende stryd én opleidingsfasiliteite vir die ANC-kaders te verkry. Honderde misleide ANC-jeugdiges is toe ook daarna vir rewolusionêre opleiding na Kuba, Algerië, Egipte, Ethiopië, Noord-Korea, Rusland, Sjina, Oos-Duitsland en Tsjeggo-Slowakye gestuur.

Die gevolg was dat ’n duiwelse komplot, gerugsteun deur ’n skrikwekkende meesterplan vir oorlogvoering, bekend as Operasie Mayibuye, te voorskyn gekom het. In ’n vorige artikel is besonderhede verstrek oor die hoeveelheid bomme, handgranate, landmyne, plofstof ensovoorts wat in die proses vervaardig is. In die aanwending daarvan sou op koelbloedige wyse niemand ontsien word nie. Hierdie verwoestingsmiddels is in onskuldige verpakkings soos byvoorbeeld kissies landbouprodukte, koffie- en konfytblikke en op die onskuldigste plekke soos byvoorbeeld voetpaadjies en ingange na tuine geplaas om soveel moontlik verwoesting, verminking en dood te veroorsaak. Aanvalle sou aanvanklik hoofsaaklik op die platteland afgestem wees. Die land is in vier streke verdeel en sou deur ’n guerrilla-mag van 30 ingeval word. Deur misleiding en intimidasie sou die plaaslike bevolking gedwing word om by hulle aan te sluit. Die ANC het ook sy manifes, waarin sy strategie van geweld en sabotasie uiteengesit is, teen pale in lokasies aangebring en in 1963 is selfs vlugskrifte onder blankes versprei waarin gepoog is om hulle te beïnvloed en te intimideer, byvoorbeeld: “Luister, witman! Vyf blankes is in die Transkei vermoor, ’n ander by Langa doodgekap. Sabotasie kom elke week oor die hele land voor – nou hier dan daar. Vir jou wag daar nou ’n onbepaalde lang toekoms van terrorisme, onsekerheid en stadig-kwynende mag.” Hierby het die voortdurende propaganda van die ANC se Radio Freedom aangesluit.

Ter ondersteuning van die rewolusie, sou ook ’n buitelandse mag van 7 000 saamgestel en gereed gehou word. Intussen het Mandela na Suid-Afrika teruggekeer en sy ondermyning as vermomde deur die land voorgesit. Waar hy gekom het, het hy nie-blankes tot verset en stakings aangemoedig. Op 5 Augustus 1962 is hy egter in hegtenis geneem. Vanweë sy onwettige landverlating en ondermynende bedrywighede, is hy skuldig bevind en vir vyf jaar tronk toe gestuur. Hy was dus reeds in die tronk toe die Rivonia-hofsaak, waarin hy die hoof beskuldigde was, plaasgevind het.

Agtien maande lank het die Veiligheidsafdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie onverpoosd geswoeg om die sabotasie-vlaag te beheer. Die vaste patroon daarvan het geen twyfel gelaat nie dat dit sekuur en doelbewus beplan was. Dit het die SAP ook hoofbrekens besorg om vas te stel wie die leiers was en waar hulle hul bevind het, totdat ’n informant uit die bloute inligting aan hulle verstrek het. Dit het tot die deeglik-beplande klopjag op die plaas Lilliesleaf, in Rivonia, op 11 Julie 1963 onder bevel van luitenant Van Wyk gelei. Beslag is onder meer op ’n groot hoeveelheid inkriminerende dokumente gelê en die vernaamste samesweerders, wat houtgerus was, is in hegtenis geneem. Die getuienis wat hier bekom is, het die Rivonia-hofsaak tot gevolg gehad waardeur die skuldiges tronk toe gestuur is. Ongelukkig het vier van hulle landuit gevlug en is dus nie gevonnis nie. Vandag word al hierdie terroriste egter as helde vereer en geboue en strate na hulle vernoem! ’n Maand later is op die kleinhoewe, Travallyn, 12 km vanaf Lilliesleaf, toegeslaan. Verdere bewyse asook ’n wapenfabriek is gevind. In September is op nog ’n opslagplek in Mountain View, Johannesburg, toegeslaan, wat nog bewysstukke opgelewer het.

Die liewe Vader het dit dus genadiglik beskik dat, deur die toedoen van knap polisiewerk, ’n rewolusionêre bloedbad destyds in Suid-Afrika voorkom is en die skuldiges agter tralies beland het.

Louis Botha val Duits-Suidwes in Februarie 1915 binne

Louis Botha val Duits-Suidwes in Februarie 1915 binne

Generaals Louis Botha, Jan Smuts, Christiaan de Wet en Koos de la Rey was Afrikanerhelde ná die Anglo-Boereoorlog. Twaalf jaar later neem hulle die wapen teen mekaar op. Hoe was dit moontlik?

Die mislukte Jameson-inval van 1896 was ’n waarskuwing dat oorlog met Brittanje op pad is. As voorbereiding het die Transvaalse regering moderne kanonne en altesame 37 000 Mauser-gewere uit Duitsland aangekoop. Die Mauser was destyds die modernste militêre geweer in Europa. Die Duitsers help ook om in hierdie tyd forte soos Schanskop en Klapperkop te bou. Die Duitse wapens en forte maak dat dit drie jaar neem vir Brittanje, as die supermoondheid van daardie tyd, om die Boere in 1902 te oorwin.

By die Vredesonderhandelinge by Vereeniging in 1902 het generaal De Wet vir ’n voortsetting van die oorlog geargumenteer. Ons het nie verniet so ’n reuse prys met afgebrande plase en die dood van vroue en kinders betaal nie, was sy argument.

Na bewering het Botha vir De Wet eenkant geneem en hom oortuig om die vryheid van die Boererepublieke voorlopig prys te gee tot die volk eers weer herstel het. Sy hoofargument was dat Brittanje eendag in ’n oorlog in Europa vasgevang gaan word. Dan is dit die tyd om die Boererepublieke terug te neem. Hierop teken De Wet.

Die Afrikanerleiers stuur in 1906 vir generaal Jan Smuts na Brittanje. Sy opdrag is om selfregering vir die verowerde Boere-republieke by die nuwe eerste minister Campbell-Bannerman asook Winston Churchill, adjunk-minister vir kolonies, te vra. Churchill vra aan Smuts of hy weet van iewers in die wêreld waar ’n verowerde volk so gou nadat hulle verslaan is, toegelaat is om hulleself te regeer?

Smuts argumenteer dat die Britte die keuse het om die Boere as permanente vriende of permanente vyande te hê. As jy die Boere vriende maak, sal jy sien hulle is baie lojale vriende, belowe Smuts.

Smuts is suksesvol. In Desember 1906 kry Transvaal selfregering. Waarskynlik het Brittanje Smuts daarmee vir hulle saak gewen vir die res van sy lewe. Hy jubel: “Hulle het ons land vir ons teruggegee met alles behalwe die naam. Die Britte maak foute, maar hulle is grootmoedig.”

Agt jaar later in 1914 verklaar Brittanje oorlog teen Duitsland. Botha verklaar dat Suid-Afrika homself sal kan verdedig en dat die 6000 Britse troepe na Europa kan terugkeer om daar te gaan help. Generaal De Wet is opgewonde dat dit die geleentheid is wat Botha voorspel het waar die Boererepublieke se onafhanklikheid maklik herstel kan word.

Ongeveer 11 500 Boere-veterane uit die Anglo-Boereoorlog neem die wapen op en is bereid om De Wet en Maritz en ander Boeregeneraals te steun in hulle poging om die ou Boererepublieke terug te kry. De Wet glo aanvanklik Botha sien ook die geleentheid daarin raak.

Brittanje vra egter vir Suid-Afrika om die Duitse kolonie langs Suid-Afrika, Duits-Suidwes (Namibië) vir Brittanje te gaan verower. Die toets van Boere-lojaliteit aan Brittanje kom gouer as wat Botha en Smuts gehoop het.

Die verwarring in Afrikanergeledere blyk duidelik uit die reaksie van generaal Coen Brits: “Wie baklei ons, die Britte of die Duitsers?” sou hy gevra het. Februarie 1915 val Botha Duits-Suidwes binne.

Waar Duitsland in verskeie opsigte die Boere in die Anglo-Boereoorlog ondersteun het, moet Afrikaners nou 12 jaar ná die oorlog vir Brittanje teen Duitsland veg. De Wet sit hom teë en neem die wapen teen Botha en Smuts op. Die opstand misluk. ’n Uitgeputte generaal De Wet word teen die einde van November 1914 naby Vryburg gevang. Generaal Coen Brits het De Wet se perdekommando met motors ingejaag.

“Dit was die motors wat my gewen het,” het De Wet met sy gevangeneming gesê. Hy is dankbaar dat dit Afrikaners is wat hom gevang het. “Die Engelse het my dus nog nooit gevang nie,” was sy reaksie. De Wet, die held van die vorige oorlog, word verneder en kry ses jaar tronkstraf.

Botha en Smuts het geglo hulle tree in die beste belang van Suid-Afrika op. Hulle is deur baie Afrikaners as “oorlopers” en “verraaiers” uitgekryt. De Wet en die ander Boere-generaals het geglo hulle tree in die beste belang van die ou vrye republieke op. My simpatie is met De Wet, maar net so baie glo vandag steeds dat Botha en Smuts reg was.

Die meeste botsings in die politiek kom van leiers wat verskillend reageer op ’n skielike nuwe situasie. So was dit ook in 1914 met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hierdie verskille sou later ’n baie groot rol in die bitter Sap-Nat-politiek vir die res van die
eeu speel.