Die Kerkstraatbom van 1983
Dit is vanjaar 37 jaar gelede dat die terroristebom in Kerkstraat ontplof het. Die terroristiese aanslae teen Suid-Afrika (lees: die Blanke bewind) deur die ANC en sommige van sy simpatiseerders en meelopers, het nie met die vonnisoplegging van die Rivonia-aangeklaagdes op 11 Junie 1964 opgehou nie.
Pas ses weke later plaas John Harris ’n bom in ’n tas by die Johannesburgstasie. Dit het ’n ou dame gedood, haar 17-jarige kleindogter vir die res van haar lewe vermink en 22 ander mense ernstig beseer. Harris is in 1965 gehang. Alhoewel hy hom met die ANC se sogenaamde Struggle vereenselwig het, kan sy daad egter nie direk voor die deur van die ANC gelê word nie. Dit is egter moontlik dat die Rivoniagebeure wel ’n invloed kon uitoefen.
Tydens die Gochstraat-terroriste-aanval van 1977 in Johannesburg, is vanuit ’n gebou op mense geskiet. Die terroriste is ná ’n skietgeveg met die polisie gearresteer en in 1979 gehang. In Januarie 1980 het drie uMkhonto we Sizwe (MK)-terroriste die Volkskas Bank in Silverton binnegeval en 25 gyselaars vir ses ure lank aangehou. Die Suid-Afrikaanse Polisie het egter die Bank binnegedring en in die skietgeveg wat gevolg het, is al drie terroriste en twee burgerlikes gedood. Verskeie gyselaars is beseer en twee sou later aan hul beserings beswyk.
Later dieselfde jaar het die MK-aanval op die Koeberg-kernkragsentrale plaasgevind. Dit het R500 miljoen se skade aangerig en die voltooiing met 18 maande vertraag. In dieselfde jaar is agt reuse Sasol-brandstofopgaartenks deur ANC-kleefmyne opgeblaas en is nogeens miljoene rande se skade berokken. In 1981 volg die mislukte RPG-missiel-aanval op die militêre basis te Voortrekkerhoogte. As gevolg van die onbevoegdheid van hierdie terroriste, was geen skade aangerig of iemand ernstig beseer nie.
Wat lewensverlies betref, was die Kerkstraatbom van Vrydag 20 Mei 1983, die verwoestendste. Twee ANC-terroriste het ’n 40 kg bom in ’n blou Alfa Romeo na die Nedbankgebou in Kerkstraat vervoer. Die Suid-Afrikaanse Lugmagkantore, wat in dié groot kantoorblok gehuisves was, was die teiken. In hierdie gebou was honderde mense werksaam, uiteraard ook Lugmagpersoneel. Die bom sou om 16:30 (spitstyd) ontplof om soveel moontlik dood en verwoesting te saai. Dit het egter, na berig word, tien minute te vroeg ontplof en die twee bomplanters, Freddie Shongwe en Ezekial Maseko, onkant betrap en ook gedood.
’n Reuse rookwolk het meters die lug in opgestyg en liggame en puin het oral op die toneel rondgestrooi gelê. Die skokgolwe van die ontploffing het die glasvensters van nabygeleë winkels heeltemal uitgeruk. Hierdie gruwelik-onmenslike daad het 217 mense ernstig beseer. Negentien persone is gedood van wie sommige ook onherkenbaar geskend is. Meer as 20 ambulanse is gebruik om die dooies en beseerdes na drie hospitale in Pretoria af te voer. Die ANC het aanspreeklikheid vir die gebeure aanvaar, maar hom verontskuldig deur te verklaar dat dit ’n vergeldingsaanval was vir die oorgrens aanval wat Suid-Afrikaanse soldate kort tevore in Maputo (Mosambiek) geloods het waarin ses lede van die ANC gedood is.
Oliver Tambo, president van die ANC, en opdraggewer vir hierdie afskuwelike daad, het dus hiermee enersyds ’n klug gemaak van die ANC se vroeëre uitsprake dat sover moontlik probeer is om burgerlike ongevalle te voorkom en andersyds maar net bewys hoe onwaar dié stelling in elk geval was.
Aboobaker Ismael, wat in pas met die eensydige optrede van die Tutu-kommissie in 2000 vrywaring ontvang het, was die bevelvoerder wat moes toesien dat die bom geplant word. Hy moes aan Joe Slovo, die opperbevelvoerder, MK-stafhoof en deurtrapte kommunis, rapporteer. Slovo het in ’n onderhoud sy aandeel erken en verklaar dat hierdie optrede onvermydelik was en homself probeer regverdig deur by te voeg dat sy gewete skoon is. Geen wonder nie dat Percy Yutar, staatsaanklaer tydens die Rivonia-hofsaak, Slovo beskou het as een van die slegste verraaiers wat die Suid-Afrikaanse grondgebied ooit besoedel het. Die ANC het hierdie gebeure as ’n militêre oorwinning beskou.
Aida Parker het hierdie gebeure egter tereg as niks anders nie as massamoord beskou. Op haar kenmerkende skerp ontleding van ’n saak, het sy daaraan toegevoeg: It is difficult to see how anyone other than a complete cynic could label this a contribution to the so-called liberation struggle. Soos te verwagte het lede van die NP-kabinet en van die SA Polisie tereg in persverklarings hierdie lafhartige daad skerp veroordeel. Op hierdie tydstip het niemand kon dink dat, deur verraad vanuit eie geledere, terroriste in sowat tien jaar hierdie land sou regeer en boonop vir hulle afskuwelike dade as helde vereer word nie.