Generaals Louis Botha, Jan Smuts, Christiaan de Wet en Koos de la Rey was Afrikanerhelde ná die Anglo-Boereoorlog. Twaalf jaar later neem hulle die wapen teen mekaar op. Hoe was dit moontlik?

Die mislukte Jameson-inval van 1896 was ’n waarskuwing dat oorlog met Brittanje op pad is. As voorbereiding het die Transvaalse regering moderne kanonne en altesame 37 000 Mauser-gewere uit Duitsland aangekoop. Die Mauser was destyds die modernste militêre geweer in Europa. Die Duitsers help ook om in hierdie tyd forte soos Schanskop en Klapperkop te bou. Die Duitse wapens en forte maak dat dit drie jaar neem vir Brittanje, as die supermoondheid van daardie tyd, om die Boere in 1902 te oorwin.

By die Vredesonderhandelinge by Vereeniging in 1902 het generaal De Wet vir ’n voortsetting van die oorlog geargumenteer. Ons het nie verniet so ’n reuse prys met afgebrande plase en die dood van vroue en kinders betaal nie, was sy argument.

Na bewering het Botha vir De Wet eenkant geneem en hom oortuig om die vryheid van die Boererepublieke voorlopig prys te gee tot die volk eers weer herstel het. Sy hoofargument was dat Brittanje eendag in ’n oorlog in Europa vasgevang gaan word. Dan is dit die tyd om die Boererepublieke terug te neem. Hierop teken De Wet.

Die Afrikanerleiers stuur in 1906 vir generaal Jan Smuts na Brittanje. Sy opdrag is om selfregering vir die verowerde Boere-republieke by die nuwe eerste minister Campbell-Bannerman asook Winston Churchill, adjunk-minister vir kolonies, te vra. Churchill vra aan Smuts of hy weet van iewers in die wêreld waar ’n verowerde volk so gou nadat hulle verslaan is, toegelaat is om hulleself te regeer?

Smuts argumenteer dat die Britte die keuse het om die Boere as permanente vriende of permanente vyande te hê. As jy die Boere vriende maak, sal jy sien hulle is baie lojale vriende, belowe Smuts.

Smuts is suksesvol. In Desember 1906 kry Transvaal selfregering. Waarskynlik het Brittanje Smuts daarmee vir hulle saak gewen vir die res van sy lewe. Hy jubel: “Hulle het ons land vir ons teruggegee met alles behalwe die naam. Die Britte maak foute, maar hulle is grootmoedig.”

Agt jaar later in 1914 verklaar Brittanje oorlog teen Duitsland. Botha verklaar dat Suid-Afrika homself sal kan verdedig en dat die 6000 Britse troepe na Europa kan terugkeer om daar te gaan help. Generaal De Wet is opgewonde dat dit die geleentheid is wat Botha voorspel het waar die Boererepublieke se onafhanklikheid maklik herstel kan word.

Ongeveer 11 500 Boere-veterane uit die Anglo-Boereoorlog neem die wapen op en is bereid om De Wet en Maritz en ander Boeregeneraals te steun in hulle poging om die ou Boererepublieke terug te kry. De Wet glo aanvanklik Botha sien ook die geleentheid daarin raak.

Brittanje vra egter vir Suid-Afrika om die Duitse kolonie langs Suid-Afrika, Duits-Suidwes (Namibië) vir Brittanje te gaan verower. Die toets van Boere-lojaliteit aan Brittanje kom gouer as wat Botha en Smuts gehoop het.

Die verwarring in Afrikanergeledere blyk duidelik uit die reaksie van generaal Coen Brits: “Wie baklei ons, die Britte of die Duitsers?” sou hy gevra het. Februarie 1915 val Botha Duits-Suidwes binne.

Waar Duitsland in verskeie opsigte die Boere in die Anglo-Boereoorlog ondersteun het, moet Afrikaners nou 12 jaar ná die oorlog vir Brittanje teen Duitsland veg. De Wet sit hom teë en neem die wapen teen Botha en Smuts op. Die opstand misluk. ’n Uitgeputte generaal De Wet word teen die einde van November 1914 naby Vryburg gevang. Generaal Coen Brits het De Wet se perdekommando met motors ingejaag.

“Dit was die motors wat my gewen het,” het De Wet met sy gevangeneming gesê. Hy is dankbaar dat dit Afrikaners is wat hom gevang het. “Die Engelse het my dus nog nooit gevang nie,” was sy reaksie. De Wet, die held van die vorige oorlog, word verneder en kry ses jaar tronkstraf.

Botha en Smuts het geglo hulle tree in die beste belang van Suid-Afrika op. Hulle is deur baie Afrikaners as “oorlopers” en “verraaiers” uitgekryt. De Wet en die ander Boere-generaals het geglo hulle tree in die beste belang van die ou vrye republieke op. My simpatie is met De Wet, maar net so baie glo vandag steeds dat Botha en Smuts reg was.

Die meeste botsings in die politiek kom van leiers wat verskillend reageer op ’n skielike nuwe situasie. So was dit ook in 1914 met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hierdie verskille sou later ’n baie groot rol in die bitter Sap-Nat-politiek vir die res van die
eeu speel.