Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Republiek vanuit verskeie oorde kritiek en selfs vyandigheid beleef. Sedert 1960 het sabotasie-voorvalle begin voorkom, wat vanaf die volgende jaar in felheid en gewelddadigheid toegeneem het.

Dít kan toegeskryf word aan die doen en late van samesweerders wat ’n kommunistiese rewolusie in Suid-Afrika van stapel wou stuur. Ná die (dikwels verdraaide) Sharpeville-gebeure (1960), het hierdie booswigte ondergronds gegaan. Nelson Mandela het die belangrikste leier van dié geweldsopsie geword. In 1961 het hy en Joe Slovo Umkhonto we Sizwe (Assegaai van die nasie) as die militêre vleuel van die ANC op die been gebring, juis met die doel om sodanige rewolusie te bewerkstellig. Van toe af het die terroristiese bedrywighede in Suid-Afrika toegeneem.

Alleen sou die knoop nie deurgehak kon word nie. In 1962 het Mandela derhalwe, onder die skuilnaam David Motsamayi, die land onwettig verlaat en Afrika en Europa besoek met die doel om ondersteuning vir die gewapende stryd én opleidingsfasiliteite vir die ANC-kaders te verkry. Honderde misleide ANC-jeugdiges is toe ook daarna vir rewolusionêre opleiding na Kuba, Algerië, Egipte, Ethiopië, Noord-Korea, Rusland, Sjina, Oos-Duitsland en Tsjeggo-Slowakye gestuur.

Die gevolg was dat ’n duiwelse komplot, gerugsteun deur ’n skrikwekkende meesterplan vir oorlogvoering, bekend as Operasie Mayibuye, te voorskyn gekom het. In ’n vorige artikel is besonderhede verstrek oor die hoeveelheid bomme, handgranate, landmyne, plofstof ensovoorts wat in die proses vervaardig is. In die aanwending daarvan sou op koelbloedige wyse niemand ontsien word nie. Hierdie verwoestingsmiddels is in onskuldige verpakkings soos byvoorbeeld kissies landbouprodukte, koffie- en konfytblikke en op die onskuldigste plekke soos byvoorbeeld voetpaadjies en ingange na tuine geplaas om soveel moontlik verwoesting, verminking en dood te veroorsaak. Aanvalle sou aanvanklik hoofsaaklik op die platteland afgestem wees. Die land is in vier streke verdeel en sou deur ’n guerrilla-mag van 30 ingeval word. Deur misleiding en intimidasie sou die plaaslike bevolking gedwing word om by hulle aan te sluit. Die ANC het ook sy manifes, waarin sy strategie van geweld en sabotasie uiteengesit is, teen pale in lokasies aangebring en in 1963 is selfs vlugskrifte onder blankes versprei waarin gepoog is om hulle te beïnvloed en te intimideer, byvoorbeeld: “Luister, witman! Vyf blankes is in die Transkei vermoor, ’n ander by Langa doodgekap. Sabotasie kom elke week oor die hele land voor – nou hier dan daar. Vir jou wag daar nou ’n onbepaalde lang toekoms van terrorisme, onsekerheid en stadig-kwynende mag.” Hierby het die voortdurende propaganda van die ANC se Radio Freedom aangesluit.

Ter ondersteuning van die rewolusie, sou ook ’n buitelandse mag van 7 000 saamgestel en gereed gehou word. Intussen het Mandela na Suid-Afrika teruggekeer en sy ondermyning as vermomde deur die land voorgesit. Waar hy gekom het, het hy nie-blankes tot verset en stakings aangemoedig. Op 5 Augustus 1962 is hy egter in hegtenis geneem. Vanweë sy onwettige landverlating en ondermynende bedrywighede, is hy skuldig bevind en vir vyf jaar tronk toe gestuur. Hy was dus reeds in die tronk toe die Rivonia-hofsaak, waarin hy die hoof beskuldigde was, plaasgevind het.

Agtien maande lank het die Veiligheidsafdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie onverpoosd geswoeg om die sabotasie-vlaag te beheer. Die vaste patroon daarvan het geen twyfel gelaat nie dat dit sekuur en doelbewus beplan was. Dit het die SAP ook hoofbrekens besorg om vas te stel wie die leiers was en waar hulle hul bevind het, totdat ’n informant uit die bloute inligting aan hulle verstrek het. Dit het tot die deeglik-beplande klopjag op die plaas Lilliesleaf, in Rivonia, op 11 Julie 1963 onder bevel van luitenant Van Wyk gelei. Beslag is onder meer op ’n groot hoeveelheid inkriminerende dokumente gelê en die vernaamste samesweerders, wat houtgerus was, is in hegtenis geneem. Die getuienis wat hier bekom is, het die Rivonia-hofsaak tot gevolg gehad waardeur die skuldiges tronk toe gestuur is. Ongelukkig het vier van hulle landuit gevlug en is dus nie gevonnis nie. Vandag word al hierdie terroriste egter as helde vereer en geboue en strate na hulle vernoem! ’n Maand later is op die kleinhoewe, Travallyn, 12 km vanaf Lilliesleaf, toegeslaan. Verdere bewyse asook ’n wapenfabriek is gevind. In September is op nog ’n opslagplek in Mountain View, Johannesburg, toegeslaan, wat nog bewysstukke opgelewer het.

Die liewe Vader het dit dus genadiglik beskik dat, deur die toedoen van knap polisiewerk, ’n rewolusionêre bloedbad destyds in Suid-Afrika voorkom is en die skuldiges agter tralies beland het.