Van verloёner tot verdediger!

Van verloёner tot verdediger!

Van verloёner tot verdediger!

En die saligheid is in niemand anders nie … (Hand. 4:12); [HK So. 11 V/A 29].

Petrus wat die Here Jesus drie maal verloën het (Mt. 26:75), is dieselfde Petrus wat sy Here nou verdedig. Dit is opvallend: in al vier Evangelies is hierdie verloëning opgeteken. Markus wat Petrus se vertellinge neerskryf, voeg ook by: Toe begin hy (Petrus) homself te verwens en te sweer … (Mk. 14:71). Ja, Petrus, die rotsman, verdedig sy Meester met die swaard, kap Malgus se oor af, maar verloën die Here Jesus voor ’n tenger diensmeisie in kru taal!

Verder meld Johannes (Joh. 18:26) dat ’n familielid van Malgus wat ’n ooggetuie van die swaardaanslag was ook vir Petrus herken het: En Petrus het dit weer ontken … (v. 27). Dit kon kwalik erger, iemand wat die Jesus-dissipel met sy eie oë gesien het en weer ontken hy dit! So word hy die lafhartigste dissipel van die Here Jesus. MAAR dan is dit dieselfde Petrus, vervul met die Heilige Gees (Hand. 4:8) wat sy Meester verdedig. Nou nie meer die rotsman vol van homself nie, maar vol van die Heilige Gees (ná Pinksterdag) wat Hom verdedig.

• Eers die verloëner-Petrus en dan die verdediger-Petrus;

• Eers die selfkrag-rotsman wat verloën en dan die Heilige Gees-kragman wat verdedig.

Hier voor die Joodse Raad wat verantwoordelik was vir Jesus Christus se kruisdood antwoord hy: En die saligheid is in niemand anders nie; ’n an­ker-waarheid i.v.m. Jesus Christus vir die kerk in al die eeue wat sou kom.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:10, 11

Gebed: Here Jesus, ek bely: U is die enigste Verlosser.

Amen.

Hand. 4:8-12

Ges. 19:1

Plus-geloof Christene

Want uit genade is julle gered, deur die geloof … (Efés 2: 8); [HK So. 11 V/A 30].

Marten Luther en veral Johannes Calvyn het ’n deurslaggewende rol gespeel tydens die Kerkhervorming van die 16e eeu. Hulle het die basiese beginsels en waarhede van gereformeerdheid vasgelê.

Hulle ywer het daartoe gelei dat vyf grondwaarhede van die Christelike godsdiens volgens die Bybel vasgestel is, nl.:

Slegs aan God die eer. Slegs die Bybel. Slegs Genade. Slegs Christus. Slegs Geloof.

Na aanleiding van bg. vyf grondwaarhede weet ons dat God ons slegs uit genade red deur Christus alleen. Dit geskied as Christus verkondig word en die Heilige Gees ons laat glo.

’n Mens sou sekere groeperinge die beoefenaars van ’n plus-geloof kan noem. Volgens hulle is dit nie meer genade alléén, Christus alléén en geloof alléén nie, maar dat die vroom mens nog ’n plus moet by doen. Anders gestel: Hierdie mense beoefen dan ’n “Christus-plus-redding”, met ander woorde naas jou geloof in Christus, ook die grootdoop (Wederdopers) of die Sabbatsgebod (Sabbatariёrs). Hulle voeg ’n element van moralisme of verdienste in hul godsdiens. Jou redding word deur jou mede-bepaal, want jy moet “iets” van jou kant af doen. Hulle is Christene, maar hulle is nie gereformeerd nie.

Onthou egter dat Christus Paulus red (terwyl hy Christene vervolg) son­der die Sabbatsgebod en die een misdadiger saam met Jesus Christus op Gólgota is gered sonder die grootdoop.

Daarom beklemtoon die Kategismus dat Jesus Christus die “enigste en volkome Saligmaker is en dat geen saligheid en heil êrens anders” is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Joh 1:11-13

Gebed: Here Jesus, ek erken: U is die enigste en volkome Verlosser. Amen.

Efés. 2:1-8

Ges. 69:1, 2

Gelowig-versienend in goeie tye!

Gelowig-versienend in goeie tye!

… Want om lewens te behou, het God my voor julle uitgestuur (Gén. 45:5); [HK So. 10 V/A 27].

Vanuit ’n put tot in ’n paleis! So verander Josef se lewe van ’n sleggaan-tyd na ’n goedgaan-tyd. Dit is die 2 opsigtelike tye waarvan die Bybel vertel in Génesis 40-45. Josef se sleggaan-tyd begin as sy broers hom in ’n put gooi, daarna aan handelaars verkoop en hy later in Egipte by die hoof-lyfwag van die koning werk. Hy beland in die tronk as mev. Pótifar hom wil verlei en sy hom van seksuele teistering aankla. Twee van sy tronkvriende is amptenare in die koningshuis, ’n skinker en ’n bakker. Hy lê hulle drome uit: die skinker word in sy werk herstel, maar die bakker sterf – presies net soos Josef voorspel het.

Die goedgaan-tyd in sy lewe breek aan as die skinker se geheueverlies verdwyn, Josef die farao se drome verklaar en hy dan die Egiptiese onder-koning word. Sy broers kom om by hom kos te koop vanweë ’n groot hongersnood en hy herken hulle. Nou kan hy terugslaan en die onreg van die verlede vergeld, dit is mos tipies (sondig) menslik: ’n oog vir ’n oog. Maar dan sien ons watter verskil die Here in sy lewe maak. Hy tree gelowig op, want al het hulle hom benadeel, het die Here daarmee ’n doel gehad, nl. om lewens te behou, het God my voor julle uitgestuur. Josef verstaan iets van God se voorsienigheid, die Here se plan.

Dit is wat die Kategismus ons leer: dat God, die Vader van Jesus Christus, die “ … hemel en aarde … en al die skepsele asof met sy hand … so regeer … dat reën en droogte … en alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons te beurt val” (Antw. 27).

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 5:38-44

Gebed: Leer ons op U vertrou, o Here.

Amen.

Gén. 45:1-8

Ps. 118:1

Geloof te midde van ’n ongeloofswêreld

Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie … (Gén. 46:3); [HK So. 10 V/A 28].

Die koning van Egipte laat Jakob (Israel) met al sy kinders en kleinkinders in sy land toe terwyl hulle maar veeboere is en dit vir Egiptenaars ’n gruwel is (Gén. 46:34). Aanvanklik verstaan ’n mens dit nie. Om egter te verhuis, is ingrypend en sonder God se begeleiding sien Jakob nie daarvoor kans nie. By Berséba – die suidelike grens – bring hy ’n offer en God verseker hom deur ’n visioen dat die volksverhuising deel van sy plan is. Juis in Egipte gaan God sy nageslag tot ’n groot nasie maak (v. 3) en dan word die oorspronklike belofte aan Abraham (Gén. 12:2) herhaal. Jakob bou sy toekomshoop op die beloftes van die Here en nie op die menslik goeie vooruitsigte in Egipte nie.

Natuurlik het Josef hierin ’n sleutelrol gespeel. Dit is hy wat as on­der-koning in die 7 jaar van oorvloed (Gén. 41:47) groot hoeveelhede koring opberg. Toe breek die 7 jaar van droogte en hongersnood aan: … En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde (Gén. 41:57) en word Egipte die spens van die destydse wêreld.

So voorsien God in sy algemene genade dat die volk Israel ’n heenkome vind in Egipte. Later red Hy hulle met die uittog uit Egipte – in sy besondere genade – sodat die Messias uit hul nageslag gebore sou word. Dit is die troos van die Kategismus “… dat ons ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader … aangesien alle skepsele so in sy hand is dat hulle, teen sy wil, hulle nie kan roer of beweeg nie” (Antw. 28).

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:6-8, 16

Gebed: Dankie, Here, vir geloof in ’n ongeloofswêreld.

Gén. 46:1-4

Ges. 261:1

Sal ’n mens nog glo?

Sal ’n mens nog glo?

Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter … (Ex. 1:13, 14); [HK So. 10 V/A 28].

Die gebeure soos beskryf in Exodus 1 verplaas ons na die regeertyd van Raämses II, toe koning in Egipte (1292-1225 v.C. = 67 jaar). Dit was ’n slegte tyd vir Israel wat sweepslae van slawedrywers in steengroewe moes verduur. Vroeër het dit goed gegaan, want Josef was die Egiptiese onderkoning (Gén. 41:41). Tog het hy sy volk se toekoms nie verbind aan die guns van Egipte nie, maar op die beloftewoord van die Here: … God sal gewis op julle ag gee en julle … laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob … beloof het (Gén. 50:24).

Maar toe kom daar ’n tyd dat die farao se houding verander in aggressiewe benadeling d.m.v. slawe-arbeid en kindermoord! Dan kom die vraag:

• As jy 300 jaar lank as ontwortelde/indringer bejeën word …

• as saam-eet met die maghebbers ’n gruwel is (Gén. 43:32) …

• as wette gemaak word om jou voortbestaan te bedreig … sal jy nog die Woordbelofte glo soos jou voorvader Josef? Gee God regtig om? Hoor God as ons roep? As daar by jou ook die vraag opkom: Sal ’n mens nog glo? Weet dan: deur Moses het God vir Israel áárdse redding gebring en vir ons in Christus hoop en éwige redding.

Die Kategismus verseker ons i.v.m. God se voorsienigheid: “Dat ons in alle teenspoed geduldig … kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antwoord 28).

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 2:4-8

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat geloof in U ook ’n gawe van U is.

Amen.

Ex. 1:8-22

Ps. 130:1

Gelowig gehoorsaam in slegte tye … hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? (Gén. 39:9); [HK So. 10 V/A 28].

Josef se lewe bestaan uit twee tydperke – ’n slegte en ’n goeie tyd. Dit was in die sleggaan-tyd wat die Bybel vir ons aantoon hoe die Here hom beskerm het. Vir sy pa, Jakob, was hy die witbroodjie-seun (Gén. 37:3, 4) en so beleef hy die argwaan en jaloesie van sy broers. Eers word hy in ’n put gegooi, toe aan Ismaeliete verkoop en later (as slaaf) deur Pótifar – hoof-lyfwag van die Egiptiese koning – gekoop en in beheer van sy huishouding geplaas. Mev. Pótifar probeer hom verlei, maar hy weerstaan die versoeking, want dit is sonde teen God. Later vlug hy, maar beland uiteindelik in die tronk. Twee van sy tronkvriende is Egiptenaars. Hy lê hulle drome uit: die skinker word herstel in die koningshuis, maar die bakker moet sterf – net soos Josef gesê het. Hy versoek die skinker om ’n goeie woord vir hom te doen, maar tevergeefs.

Soos met Josef kom daar soms slegte dinge oor ons pad. Ons beleef onreg en benadeling, ons word beskinder, selfs besteel en te na gekom. Dan kan jy dink: die Here het my vergeet. Tog sê die Bybel duidelik dat ons in ’n sondige en gebroke wêreld vol versoekings lewe. Josef kon vas staan in die versoeking en onskuldig benadeel word om net een rede: Telkens lees ons: En die Here was met Josef (Gén. 39:2, 21, 23). Later het daar weer goeie tye vir Josef gekom.

Daarom verseker die Kategismus ons nogeens i.v.m. God se voor­sie­nigheid: “Dat ons in alle teenspoed geduldig … kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom, ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antw. 28).

Bykomende Skrifgedeelte: Jak. 1:12-18

Gebed: Roem, Christen, heel my lewe … waar alles my begewe of waar ek ly, is God.

Amen.

Gén. 39:1-9

Ps. 119:1 (Melodie: Ges. 319)

Kerk se geloofskrisis in ’n wanhoopstyd

Kerk se geloofskrisis in ’n wanhoopstyd

… God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob … beloof het (Gén. 50:24); [HK So. 9 V/A 27].

Sterfbedwoorde het besondere betekenis. As Josef (toe nog Egiptiese onder-koning) voor sy dood sy Israel-familie met ’n eed verbind om sy stoflike oorskot (gebeente) na die land Kanaän saam te neem, is dit nie ’n soort selfsugtige sterfbed-woord nie, maar ’n toekomshoop wat gebou is op God se verbondswoord soos hy van kindsbeen af geleer is.

Ná 430 jaar in Egipte en bykans 300 jaar in verdrukking, word weinig van dié toekomshoop in Exodus 1 vermeld. Slegs die vroedvroue het nog God gevrees en in die Here geglo (v. 17, 21). Geen godsdienstige ak­ti­witeite word genoem nie. Nie ’n enkele godsdiensleier roep die volk op tot verootmoediging nie en die Ou Testamentiese kerk (Israeliete) beleef ’n geloofskrisis in ’n wanhoopstyd. Daarby word Israel opsigtelik Hebreërs genoem wat reeds in Josef se tyd ’n stilswyende skeldnaam was: … Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit … ’n gruwel is (Gén. 43:32).

Volgens die nuutste navorsing is die woord Hebreër saamgestel uit Egipties en Akkadies en dit beteken indringer/ontwortelde. Tog is dit die wonder dat die Here, in Wie Josef tot op sy sterfbed bly glo het, die Israelitiese indringers deur Moses uit hul ellende verlos. Dit is vir ons as Christen-Afrikaners ’n aansporing om ondanks benadeling en dis­kreditering as Nuwe Testamentiese gelowiges in Christus te bly glo.

Daarom bemoedig die Kategismus ons dat God in sy voorsienigheid … al die skepsele … so regeer … dat alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons te beurt val (Antw. 27).

Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 12:1, 2

Gebed: Here, ons glo Christus hou sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede.

Amen.

Gén. 50:24-26

Ges. 266:1

Vreemde verlossing vir moedeloses

En die vrou het swanger geword … En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek (Ex. 2:2); [HK So. 10 V/A 28].

Vreemde verlossing vir moedeloses. Verrassende uitkoms vir wanhopiges. Dit is waaroor Exodus 1 en 2 handel. Eerstens: Israel – die volk van die Here – moedeloos vir 300 jaar in ’n vyandige land. Twee­dens: die Here wat verras met ’n vreemde, onverwagse uitredding. Nie ’n aarbewing of ’n tweede sondvloed om die Egiptenare te verswelg nie, maar vroue! Inderdaad ’n wonderwerk dat die Here die sosiaal-onmagtige vrou gebruik om die magtige Farao se planne te dwarsboom:

• Twee gewone vroedvroue Sifra en Pua wat die farao uitoorlê;

• ’n ma, Jogébed, wat haar babaseuntjie gelowig wegsteek;

• ’n Hebreeuse dogtertjie, Mirjam, wat die koning se uitwiswet omseil en haar bababoetie oppas;

• en die farao se eie dogter wat sy dekreet skadeloos stel, die seuntjie aan­neem, hom laat opvoed en Moses noem.

Hier sien ons hoe God die geskiedenis beheer, terwyl sy eie volk dit nie raaksien nie. Net so het dit gebeur toe Jesus as die beloofde Messias gebore is en sy eie mense dit nie besef het nie en Hom nie aanvaar het nie (Joh. 1:11). Tog het God die verlossing vir moedeloses in Egipte én die hemelse redding met die koms van Christus laat voortgaan.

Die Kategismus leer ons: “Dat ons in alle teenspoed geduldig, in voorspoed dankbaar kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom, ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antwoord 28).

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-12

Gebed: Here, help ons om tydens teenspoed geduldig in geloof te leef en tydens voorspoed dankbaar en diensbaar te wees.

Amen.

Ex. 1:17- 20; Ex. 2:1-10

Ges. 84:1

As die dae nog donkerder word

As die dae nog donkerder word

Toe gee Farao … bevel … Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp … (Ex. 1:22); [HK So. 9 V/A 26].

Die uitwissingsplan teen Israel in Egipte het nie gewerk nie, want hulle getalle het nie verminder nie, maar vermeerder. Toe word die aanslag deur die farao verskerp met verdere maatreëls, nl. dat die vroed­vroue/kraamverpleegsters alle Joodse seuntjies by geboorte moet laat sterf en later nog erger: dat hulle almal in die Nylrivier moet verdrink.

Johannes Calvyn, die bekende kerkhervormer, sê in sy kommentaar dat die farao – as koning ’n swakkeling was en hipotetiese redes vir die wette gefabriseer het, as sou die verslaafde Israeliete ’n bedreiging vir Egipte kon wees. So maak die magtige koning wette om hom en sy mense teen magteloses te beskerm.

In die RSA beleef ons tans ook iets soortgelyks: wette word gemaak om die meerderheid inwoners – wat blykbaar bedreig voel – te beskerm teen ’n minderheid. In Egipte gebeur daar egter die wonderbaarlike: die vroedvroue gehoorsaam nie die opdrag van die farao nie en spaar die seuntjies se lewens. As hy navraag doen, aanvaar die ou bedreigde koning hul verduideliking! Die kraamverpleegsters het op die Here bly vertrou (v. 17) en die farao gefnuik! Die stryd was eintlik nie tussen die vroue en die farao nie, maar tussen die almagtige God (van die Bybel) en die magtelose (af)gode van Egipte.

Wanneer daar dae kom wat vir ons nog donkerder lyk, moet ons onthou waaraan die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons herinner: God se voorsienigheid beteken … die almagtige Skepper … (is) die Vader van Jesus Christus … in wie ons glo as ons Verlosser en wat gesê het: … Aan My is gegee alle mag in … hemel en op aarde … (Mt. 28:18).

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 28:16-20

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my almagtige Verlosser is.

Amen.

Ex. 1:15-22

Ges. 102:1, 4

As die nag op sy donkerste is En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek (Ex. 2:10); [HK So. 10 V/A 27].

Die farao van Egipte se verdrukkings- en uitwissingsplan teen die Israeliete het later totaal onredelik en onmenslik geword. Eers word hulle slawe gemaak. Daana moet die vroedvroue die babaseuntjies laat sterf en uiteindelik moet alle Joodse seuntjies by geboorte in die Nyl verdrink word.

Maar wanneer dit lyk asof die Israeliete se toekoms uitgedoof is, is daar ’n ouerpaar wat hul babaseuntjie wegsteek in ’n biesiemandjie in die riete aan die kant van die Nyl (v. 5). Tog was die beangste ouers ook gelowige ouers wat op die Here vertrou het (Hebr. 11:23). Uiteindelik kry die farao se dogter die Hebreër-seuntjie tussen die riete (v. 6), neem hom in haar sorg en laat hom deur ’n Hebreeuse vrou (sy eie ma) opvoed.

Hoe wonderlik is die Here nie! Toe die nag op sy donkerste is en die nood op sy hoogste, is daar uitkoms in die vorm van ’n brose mensie. Later noem die Egiptiese prinses hom Moses. So voorsien die Here vir die uitkoms van sy volk. In die Nuwe Testament lees ons hoe God ’n babaseuntjie stuur terwyl ’n wrede koning aan bewind is (Mt. 2:16). Dié Seun, Jesus Christus, sou húlle en óns ewige Redder wees.

Soms voel dit vir ons of die nag in ons land op sy donkerste is. Moet ons nie soos daardie ouerpaar die Here vertrou dat ’n Goddelik-beskikte “Moses” te midde van soveel onsekerheid en bedreiging sal opstaan nie? Daarom verduidelik Kategismus Antwoord 27 God se voorsienigheid as: “Die almagtige en alomteenwoordige krag van God waardeur Hy … al die skepsele … so regeer … dat alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons te beurt val”.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 2:1-18

Gebed: Here, U weet of voor- of teëspoed die beste is vir ons gemoed.

Amen.

Ex. 2:1-10

Ges. 368:1, 3