Die Groot-Trek in die Bybel

Die Groot-Trek in die Bybel

En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham … Isak en … Jakob (Ex. 2:24); [HK So. 10 V/A 27].

In die geskiedenis van die Afrikanervolk staan 1836 bekend as die begin van die Groot Trek. Dit was ’n massa-uittog van honderde Boe­regesinne uit die Kaapkolonie, want die Britse owerheid het nie meer omgesien na hul veiligheid teen inboorlingaanvalle nie.

Die Boek Exodus (uittog) vertel van die Israeliete wat vir meer as 300 jaar (Ex. 12:40) in Egipte miskenning en later uitwissing beleef het (Ex. 1:13, 14, 16, 22) en deur die Here uitgered is deur ’n soort Groot Trek, ’n volksverhuising. Moses en Aäron lei hulle uit en so red die Here sy volk en woon hulle later in die land Kanaän.

Hierdie Ou Testamentiese reddingsboodskap mag ons nie skeef trek soos wat die bevrydingsteologie doen en sê dat God aan die kant van die onderdrukte is nie (vgl. die Belharbelydenis). God red die Israeliete – volgens Exodus 2:24 – nie omdat hulle onderdruk is nie, maar omdat hulle sy verbondsvolk is; die volk wat die Here uitverkies het om sy volk te wees, want Hy het gedink aan sy verbond met Abraham … Hierdie verbond/verbintenis het God ook sigbaar gemaak met die besnydenis (Ou Testament) en deur die doop (Nuwe Testament) wat Christus ingestel het.

Met blydskap kan ons as verbondsmense leef en weet dat Hy in Christus na ons omsien, want Hy red ons nie oor wat ons is nie, maar oor wat Hy is, nl. die God van genade, verbondsgenade, Gólgota-genade! Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God se voorsienigheid beteken dat “die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg … en al die kwaad … vir my tot heil sal beskik”.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 8:31-39

Gebed: Dankie, Here, dat U tot aan die kruis die troue Verbondsgod is.

Amen.

Ex. 2:23-25

Ps. 46:1

As die dae donker word

Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien (Ex. 1:13); [HK So. 9 V/A 26].

Die afstammelinge van Jakob (net 70) het in Egipte baie meer geword. Met enkele woorde word aangetoon dat daar byna ’n bevolkings­ontploffing plaasgevind het, bv. vrugbaar, baie word, vermeerder, die land was vol van hulle (v. 7). Dit was niks anders as die beloftes van die Here wat besig was om waar te word nie – die belofte van ’n talryke nageslag (Gén. 12:1; 15:5).

Maar hoe vreemd dit ook al mag lyk, dít word die direkte oorsaak van hul ellende. ’n Nuwe farao wat niks van Josef (voorheen was hy on­derkoning van Egipte) geweet het nie, sien in hierdie talryke volk ’n gevaar. Die Here se seën oor gelowiges word as ’n bedreiging deur die ongelowiges beskou.

’n Slim plan word beraam om die bevolkingsaanwas te keer. Harde werk word onder die sweepslae van slawedrywers afgedwing (Ex. 2:11) sodat hul kragte uitgeput en hul getalle verminder kan word. Groot bouwerk is toe met hande-arbeid verrig wat menselewens geëis het. Pitom en Raämses word gebou.

Tog gebeur die teendeel: hoe groter die verdrukking, hoe groter die getalle. Wat hier gebeur, is niks anders nie as die Here wat hul voort­be­staan beveilig. In Suid-Afrika word die Christen-Afrikaner toenemend met argwaan bejeën. Is ons seëninge van hoof en hart vir ander ’n be­drei­ging? Dikwels voel dit of die dae vir ons donker word. Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons dat God se voorsienigheid beteken: “… die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg … en al die kwaad vir my tot heil sal beskik”.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 10:22-28

Gebed: Dankie, Here, in donker dae hou U ons vas.

Amen.

Ex. 1:1-14

Ges. 105:1, 2

Meester, gee U nie om nie?

Meester, gee U nie om nie?

Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap … (Mk. 4:38); [HK So. 9 V/A 26].

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) skryf Frits Roth­mann in sy dagboek: 28 Junie 1901: ‘Vandag by elf plase verby; al die huise afgebrand, vrugtebome en tuine verwoes … vroue en kinders as krygs­ge­vange­nes weggevoer … sonder komberse … moes die arme mense met klein babatjies te voet oor die koue Hoëveld. God slaap. Ja, vas ook”.

In hierdie hoofstuk vertel Petrus aan Markus wat gebeur het tydens ’n storm op die Galiléa-see. Soos dit vandag nog gebeur, het ’n stormwind deur die klowe oor die see opgesteek en die dissipels en die Here Jesus verkeer in lewensgevaar. Miskien kon Petrus later dié gebeure – seker tot sy eie verleentheid – soos volg vertel: Weet jy Markus, terwyl ons in wanhoop die golwe trotseer en die skuit probeer red, lê ons Meester agter in die skuit en slaap … op die kussing! Kan jy glo! Ons in lewensgevaar en Hy gee nie om nie!

Dan skryf Markus verder hoe die Here Jesus se dissipels Hom wakker maak en vra: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? By hulle angs is daar ook ’n verwyt. Die skerp kontras: die dissipels is doodbang en die Here Jesus slaap rustig, want die oortog sou etlike ure duur en Hy wou ’n bietjie rus. Hier sien ons die tipies-menslike: in lewensbedreiging wanhoop jy en betwyfel die Here se omgee en almag soos Rothmann. Maar Christus tree in en die storm bedaar. Opnuut ontdek die dissipels en ons elkeen: Hy is God wat omgee!

Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God “… die almagtige Skepper van hemel en aarde … die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg”.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 55:1-6, 17

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U waarlik omgee.

Amen.

Mk. 4:35-41

Ps. 18:1

Net die vroedvroue het nog geglo!

Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning gesê het nie … (Ex. 1:17); [HK So. 9 V/A 26].

Die Israeliete was vir 430 jaar in Egipte (Ex. 12:40) en het vir meer as 300 jaar miskenning, onderdrukking en uitwissing beleef (Ex. 1:13, 16, 22). Die volksprentjie lyk baie somber as net drie keer vermeld word van vroedvroue (kraamverpleegsters) wat …God vrees (v. 17, 20, 21) terwyl Israel die verbondsvolk is, nl. volk van die Here (Ex. 2:24)! Hoe kan dit wees dat daar in soveel jare nie ’n geestelike of volksleier optree en die wanhopige Israeliete herinner aan Josef se sterfbedwoorde nie: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het (Gén. 50:24)?

’n Mens verstaan dit nie … totdat jy as boer misoeste in opeenvolgende jare beleef; totdat jy onverwags jou werk verloor; totdat jou gesinslewe ná mooi tye verbrokkel en jy jou toekoms verongeluk met ’n dom besluit. Dan onthou jy dat jy nie meer kon/wou bid nie en jou Bybel nouliks nog gelees het! Ja, dat jy nie meer kinderlik kon glo nie! Dít gebeur as jy soos Israel moet leef in somber omstandighede, jou daarteen blindstaar en die God van die Bybel en sy talle beloftes uit die geloofsoog verloor.

Tog was daar te midde van die Israelitiese wanhoopstyd mense wat bly glo het, nl. die vroedvroue, want hulle het God gevrees en nie gedoen soos die koning gesê het nie. Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God “… die almagtige Skepper van hemel en aarde … die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg”.

Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 4:8-20

Gebed: Dankie, Here,dat U my vashou te midde van wanhoop.

Amen.

Ex. 1:13-22

Ges. 282:1, 2

Christus: enigste en lewende Redder

Christus: enigste en lewende Redder

En die saligheid is in niemand anders … (Hand. 4:13); [HK So. 11 V/A 29].

’n Klompie jare gelede was daar ’n debat in Pretoria tussen die Moslems, die Boeddhiste en Christene. ’n Moslem-aanhanger vertel hoe Islam sy lewe verander het en daar is ’n doodse stilte in die saal! Daar­na kom ’n Indiër-advokaat aan die woord en vlymskerp prys hy die Boed­dhistiese leerstellings. Ná sy betoog kon jy die spreekwoordelike speld hoor val. Wat gaan húlle spreker sê, wonder die angstige Christene?

As ’n uitstaande akademikus met ’n groot liefde vir Christus, kom wy­le prof. Von Selms aan die woord. Hy wys daarop dat die ander wêreldgodsdienste telkens met die afsterwe van sy stigter ontstaan het.

Toe Boeddha van sy volgelinge afskeid neem, sê hy: Meditasie! Mense, wanneer ek nie meer daar is nie, onthou: mediteer! Dít is die sleutel tot ’n geestelike lewe. Toe Mohammed sy volgelinge groet, sê hy vir hulle: Môre is ek nie meer daar nie. Dan moet julle die Koran lees en dóén wat daar staan. Maar toe Jesus Christus van sy dissipels afskeid neem (ná sy opstanding), het Hy gesê: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mt. 28:20).

Die Christelike godsdiens is uniek omdat die Stigter, Christus, nie net gesterf het nie, maar ook uit die dood opgestaan het. Net Hý kon dit doen. Daarom is Christus die enigste, lewende en ware Saligmaker of Redder. So getuig Petrus … vervul met die Heilige Hees (Hand. 4:8) van Jesus Christus: En die saligheid is in niemand anders nie … (v. 12).

So verseker die Heidelbergse Kategismus Antwoord 29 ons dat daar … by niemand anders enige saligheid te soek of te vinde is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14:1-6

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U die enigste ware Redder is.

Amen.

Hand. 4:8-12

Ges. 75:1

God se wonderlike skepping

Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande (Ps. 19:2); [HK So. 9 V/A 26].

’n Heidense koning het Christene met wetgewing verbied om won­derwerke te doen om die beoefening van alle godsdiens in sy ko­ninkryk te verban. So wou hy aantoon dat hý die groot koning is en nie die God van die Bybel nie. Oral in sy koninkryk is die wet op geboue, bome en kennisgewingborde aangebring.

Ten spyte hiervan, het die son die volgende oggend weer opgekom, die wind het soos altyd gewaai en reënwolke het saamgepak. Hierdie wonderwerke het nie vir ’n enkele sekonde opgehou nie, want die God van die Bybel is die Almagtige en sy werke kan nie gekeer word nie.

Ek hoor donderweer en dit sê God se Naam is Ontsagwekkend.

Ek hoor die sagte reën, alles groei en God se Naam is Versorger/On­der­houer.

Ek sien die sterre en ek dink aan die byna onmeetlike afstande na die naaste ster en sy Naam is Oneindig.

Psalm 19 vertel hoe God Homself in sy skepping openbaar (v. 1-7). Die hele natuur getuig hoe God die magtige Skepper en Regeerder van alles is. Die son gee warmte en blydskap (v. 6, 7), maar hy is nie ’n god nie. Psalm 19 sê in die natuur kan jy God leer ken, maar dit is onvoldoende, want jy kan ’n kunswerk bestudeer en nog nie die kunstenaar ken nie.

In vers 8-15 lees ons dat die Here in die Woord Homself bekend maak. Ten laaste sou die Woord vlees/mens word in Christus (Joh. 1:14) om God waarlik te ken. Die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 verduidelik aan ons dat God die almagtige Skepper die Vader van Jesus Christus is.

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 1:18-22

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ons deur U die God wat die Skepper van die wonderlike skepping is, kan ken.

Amen.

Ps. 19:1-15

Ps. 8:1, 3

Geloofshelde” is geloofsbedelaars

Geloofshelde” is geloofsbedelaars

En dadelik roep die vader … Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! (Mk. 9:24); [HK So. 9 V/A 26].

Volgens HAT is ’n held iemand wat groot dapperheid aan die dag lê en deur ’n grootse daad onthou word byvoorbeeld Wolraad Wol­te­ma­de wat op 1 Junie 1773 herhaaldelik die Kaapse stormsee te perd aan­durf, 14 skipbreukelinge red en self verdrink.

“Ons is bedelaars … 16 Februarie, anno 1546” skryf Martin Luther ’n paar dae voor sy dood. Daarmee wou hy sê: Daar is nie iets soos ge­loofs­helde nie, net geloofsbedelaars. Al is jou geloof belangrik soos He­breërs 11:6 verklaar: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, is Bybelse geloof nooit ’n ónafhanklikheidsverklaring nie, maar ’n áfhanklikheidsbelydenis soos die vader in Markus 9.

Die Here Jesus daag hom uit om te glo: … as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo (Mk. 9:23), antwoord: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp … (v. 24). Dit beteken: “Ek vertrou Here, maar as ek nie altyd vertrou soos ek moet nie, help my asseblief”. Calvyn merk op: “Hy betuig dat hy glo, maar erken ook dat hy maar ongelowig is”. M.H. Bolkenstein sê: “Met sy geloof en sy ongeloof werp hy hom op Jesus en so word hy gehelp”.

Dit beteken dat my geloof in sigself geen krag het nie, daarom moet ’n mens nie eers in jou eie geloof glo nie, want daar sit dalk ’n stuk ongeloof in. Al wat God van ons vra, is om op te hou om geloofshelde te probeer wees en besef ons is maar net geloofsbedelaars wat bakhand staan.

Die Heidelbergse Kategismus lui: “… dat die ewige Vader … ter wille van sy Seun … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg” (Antw. 26).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 6:1-11

Gebed: Dankie, Here, dat U ook my ongeloof te hulp kom.

Amen.

Mk. 9:17-24

Ges. 82:1, 2

Die Here sal voorsien!

Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees … om hulle siel te red … en hulle in die lewe te hou in hongersnood
(Ps. 33:18, 19); [HK So. 9 V/A 26].

In die finale aanslag op die Franse stad Rochelle, het die Hugenote ’n laaste poging aangewend om hulle teen die Roomse gevaar te verweer. Hongersnood in die Hugenotestad was skrikwekkend en later was die sterftesyfer tot 400 per dag. Toe haar bure begin honger ly, het weduwee Prosni na hulle omgesien. ’n Sekere familielid het haar verkwalik en gevra wat sy sal doen as haar geringe voorraad sou opraak. Prosni het geantwoord: Die Here sal voorsien en die woorde van Psalm 33:18, 19 bygevoeg.

Later het madam Prosni en haar 4 kinders ook begin honger ly en haar tot genoemde familielid gewend. Van haar het sy geen hulp gekry nie, net verwyte. Totaal verslae het sy huiswaarts gekeer om geduldig haar dood af te wag. Wat was haar verbasing groot toe sy tuiskom en by die kinders verneem dat daar ruim voorsiening uit ’n onbekende oord gekom het. Daarmee kon hulle aan die lewe bly.

Psalm 33 is ’n blye belydenis van volle vertroue in God. Die gedig bestaan uit 22 verse, presies net soveel letters as waaruit die Hebreeuse alfabet bestaan. ’n Mens sou kan sê dat die digter daarmee die A tot Z van vertroue op God in ’n digterlike vorm wou saamvat. Die dryfkrag agter God se magtige dade in sy skepping (v. 6-9) en in die geskiedenis van volke (v. 10-17) is sy troue liefde. Daarom hoef ons nooit aan God te twyfel nie. Dit het ’n gelowige weduwee met verwondering ontdek.

Daarom help die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons: “… dat God wat in Christus my Vader is … my … sal versorg en ook al die kwaad … vir my tot heil sal beskik”.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 6:25-34

Gebed: Dankie, Here, dat U in alle omstandighede voorsien.

Amen.

Ps. 33:1-22

Ges. 296:1, 2

Ek glo

Ek glo

Ek glo …

die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof … (Hebr. 12:2); [HK So. 9 V/A 26].

Die biskop van Kartago het in die derde eeu ná Christus ’n brief aan sy vriend Donatus geskryf: “Dit is ‘n slegte wêreld, Donatus, ’n ongelooflik slegte wêreld, maar te midde daarvan het ek ’n volk gevind wat ’n groot geheim ontdek het. Hulle het vreugde gevind wat duisend maal beter is as enige plesier van ons sondige lewe. Hulle word verag en vervolg, maar hulle gee nie om nie. Hulle is meesters van hulle siele. Hulle het die wêreld oorwin. Hierdie mense, Donatus, is Christene … en ek is een van hulle”.

Net so bemoedig die Hebreërskrywer die vroeë Christene om te volhard, terwyl hulle vervolging verduur en selfs hul besittings verloor (Hebr. 10:34). Hierdie geheim waarvan die biskop (leraar) en die Hebreër-do­mi­nee praat, is om die geloofsoog op Christus te vestig. Soos ’n “geloofs­at­leet”, maar die oog nie op ’n sigbare wenpaal nie, maar op Jesus Christus.

Nou kan die vraag ontstaan: Wie is Jesus Christus?

Dan kom die Kategismus en verduidelik dat Jesus die Seun van “God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde” is (HK So. 9 Antw. 26). Die ander “geloofsatlete/helde” waarna die dominee in Hebreërs 11 verwys, soos Abraham, Josef, Moses en talle ander Ou Testamentiese gelowiges, het in hierdie God geglo en kon volhard. Dié God is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Hy het alles wat daar is, geskep … uit niks.

As jy in dié God glo, die drie-enige God, nl. Vader, Seun en Heilige Gees, word jy ’n Christen genoem. Kan jy ook sê: “Ek glo in Hom” en “… ek is een van hulle”?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 1:1-6

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek in swaar tye my geloofsoog op U kan vestig.

Amen.

Hebr. 12:1-3

Ges. 82:1

God is die Vader van Christus

Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … want Hy het gespreek en dit was … (Ps. 33:6, 9); [HK So. 9 V/A 26].

Psalm 33 is ’n “Loflied op die almag en genade van God”, soos die Bybelvertalers in die opskrif aandui. Die digter wys daarop dat die Here se almag besonder na vore kom in die skepping. Dink vir ’n oomblik:

  • Lig trek teen die ongelooflike spoed van 297 600 km per sekonde. As ’n koeël teen dié spoed sou beweeg, sal dit sewe keer reg om die aarde trek en jou tref voor jy op die grond val.
  • Jy sou die maan bereik binne een en halwe sekonde.
  • As jy teen dié spoed ons sterrestelsel (Melkweg) wil deurkruis, sal dit 120 000 jaar neem.

Dan beskryf die Psalmdigter dit so: Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak … (v. 6) en in vers 9: Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan. Dit is presies wat ons lees op die eerste bladsye van die Bybel: En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gén. 1:3). So het God telkens (net) gesê, en dan het dit gebeur.

In die Nuwe Testament word God se misterievolle skeppingswerk verder ontvou en met Christus verbind. In Johannes 1:1 staan: In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God … Alle dinge het deur Hom ontstaan … Nog duideliker word dit in vers 14 verklaar: Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.

Daarom help die Kategismus ons reg: God die almagtige Skepper is nie die god van die Moslems of die Hindoes nie, maar die Vader van Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-14

Gebed: Dankie, Here, dat u Vader ook my Vader is.

Amen.

Ps. 33:1-9

Ps. 33:1, 5