En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham … Isak en … Jakob (Ex. 2:24); [HK So. 10 V/A 27].
In die geskiedenis van die Afrikanervolk staan 1836 bekend as die begin van die Groot Trek. Dit was ’n massa-uittog van honderde Boeregesinne uit die Kaapkolonie, want die Britse owerheid het nie meer omgesien na hul veiligheid teen inboorlingaanvalle nie.
Die Boek Exodus (uittog) vertel van die Israeliete wat vir meer as 300 jaar (Ex. 12:40) in Egipte miskenning en later uitwissing beleef het (Ex. 1:13, 14, 16, 22) en deur die Here uitgered is deur ’n soort Groot Trek, ’n volksverhuising. Moses en Aäron lei hulle uit en so red die Here sy volk en woon hulle later in die land Kanaän.
Hierdie Ou Testamentiese reddingsboodskap mag ons nie skeef trek soos wat die bevrydingsteologie doen en sê dat God aan die kant van die onderdrukte is nie (vgl. die Belharbelydenis). God red die Israeliete – volgens Exodus 2:24 – nie omdat hulle onderdruk is nie, maar omdat hulle sy verbondsvolk is; die volk wat die Here uitverkies het om sy volk te wees, want Hy het gedink aan sy verbond met Abraham … Hierdie verbond/verbintenis het God ook sigbaar gemaak met die besnydenis (Ou Testament) en deur die doop (Nuwe Testament) wat Christus ingestel het.
Met blydskap kan ons as verbondsmense leef en weet dat Hy in Christus na ons omsien, want Hy red ons nie oor wat ons is nie, maar oor wat Hy is, nl. die God van genade, verbondsgenade, Gólgota-genade! Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God se voorsienigheid beteken dat “die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg … en al die kwaad … vir my tot heil sal beskik”.
Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 8:31-39
Gebed: Dankie, Here, dat U tot aan die kruis die troue Verbondsgod is.
Amen.
Ex. 2:23-25
Ps. 46:1
As die dae donker word
Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien (Ex. 1:13); [HK So. 9 V/A 26].
Die afstammelinge van Jakob (net 70) het in Egipte baie meer geword. Met enkele woorde word aangetoon dat daar byna ’n bevolkingsontploffing plaasgevind het, bv. vrugbaar, baie word, vermeerder, die land was vol van hulle (v. 7). Dit was niks anders as die beloftes van die Here wat besig was om waar te word nie – die belofte van ’n talryke nageslag (Gén. 12:1; 15:5).
Maar hoe vreemd dit ook al mag lyk, dít word die direkte oorsaak van hul ellende. ’n Nuwe farao wat niks van Josef (voorheen was hy onderkoning van Egipte) geweet het nie, sien in hierdie talryke volk ’n gevaar. Die Here se seën oor gelowiges word as ’n bedreiging deur die ongelowiges beskou.
’n Slim plan word beraam om die bevolkingsaanwas te keer. Harde werk word onder die sweepslae van slawedrywers afgedwing (Ex. 2:11) sodat hul kragte uitgeput en hul getalle verminder kan word. Groot bouwerk is toe met hande-arbeid verrig wat menselewens geëis het. Pitom en Raämses word gebou.
Tog gebeur die teendeel: hoe groter die verdrukking, hoe groter die getalle. Wat hier gebeur, is niks anders nie as die Here wat hul voortbestaan beveilig. In Suid-Afrika word die Christen-Afrikaner toenemend met argwaan bejeën. Is ons seëninge van hoof en hart vir ander ’n bedreiging? Dikwels voel dit of die dae vir ons donker word. Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons dat God se voorsienigheid beteken: “… die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg … en al die kwaad vir my tot heil sal beskik”.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 10:22-28
Gebed: Dankie, Here, in donker dae hou U ons vas.
Amen.
Ex. 1:1-14
Ges. 105:1, 2