… God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob … beloof het (Gén. 50:24); [HK So. 9 V/A 27].

Sterfbedwoorde het besondere betekenis. As Josef (toe nog Egiptiese onder-koning) voor sy dood sy Israel-familie met ’n eed verbind om sy stoflike oorskot (gebeente) na die land Kanaän saam te neem, is dit nie ’n soort selfsugtige sterfbed-woord nie, maar ’n toekomshoop wat gebou is op God se verbondswoord soos hy van kindsbeen af geleer is.

Ná 430 jaar in Egipte en bykans 300 jaar in verdrukking, word weinig van dié toekomshoop in Exodus 1 vermeld. Slegs die vroedvroue het nog God gevrees en in die Here geglo (v. 17, 21). Geen godsdienstige ak­ti­witeite word genoem nie. Nie ’n enkele godsdiensleier roep die volk op tot verootmoediging nie en die Ou Testamentiese kerk (Israeliete) beleef ’n geloofskrisis in ’n wanhoopstyd. Daarby word Israel opsigtelik Hebreërs genoem wat reeds in Josef se tyd ’n stilswyende skeldnaam was: … Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit … ’n gruwel is (Gén. 43:32).

Volgens die nuutste navorsing is die woord Hebreër saamgestel uit Egipties en Akkadies en dit beteken indringer/ontwortelde. Tog is dit die wonder dat die Here, in Wie Josef tot op sy sterfbed bly glo het, die Israelitiese indringers deur Moses uit hul ellende verlos. Dit is vir ons as Christen-Afrikaners ’n aansporing om ondanks benadeling en dis­kreditering as Nuwe Testamentiese gelowiges in Christus te bly glo.

Daarom bemoedig die Kategismus ons dat God in sy voorsienigheid … al die skepsele … so regeer … dat alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons te beurt val (Antw. 27).

Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 12:1, 2

Gebed: Here, ons glo Christus hou sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede.

Amen.

Gén. 50:24-26

Ges. 266:1

Vreemde verlossing vir moedeloses

En die vrou het swanger geword … En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek (Ex. 2:2); [HK So. 10 V/A 28].

Vreemde verlossing vir moedeloses. Verrassende uitkoms vir wanhopiges. Dit is waaroor Exodus 1 en 2 handel. Eerstens: Israel – die volk van die Here – moedeloos vir 300 jaar in ’n vyandige land. Twee­dens: die Here wat verras met ’n vreemde, onverwagse uitredding. Nie ’n aarbewing of ’n tweede sondvloed om die Egiptenare te verswelg nie, maar vroue! Inderdaad ’n wonderwerk dat die Here die sosiaal-onmagtige vrou gebruik om die magtige Farao se planne te dwarsboom:

• Twee gewone vroedvroue Sifra en Pua wat die farao uitoorlê;

• ’n ma, Jogébed, wat haar babaseuntjie gelowig wegsteek;

• ’n Hebreeuse dogtertjie, Mirjam, wat die koning se uitwiswet omseil en haar bababoetie oppas;

• en die farao se eie dogter wat sy dekreet skadeloos stel, die seuntjie aan­neem, hom laat opvoed en Moses noem.

Hier sien ons hoe God die geskiedenis beheer, terwyl sy eie volk dit nie raaksien nie. Net so het dit gebeur toe Jesus as die beloofde Messias gebore is en sy eie mense dit nie besef het nie en Hom nie aanvaar het nie (Joh. 1:11). Tog het God die verlossing vir moedeloses in Egipte én die hemelse redding met die koms van Christus laat voortgaan.

Die Kategismus leer ons: “Dat ons in alle teenspoed geduldig, in voorspoed dankbaar kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom, ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antwoord 28).

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 1:1-12

Gebed: Here, help ons om tydens teenspoed geduldig in geloof te leef en tydens voorspoed dankbaar en diensbaar te wees.

Amen.

Ex. 1:17- 20; Ex. 2:1-10

Ges. 84:1