Toe gee Farao … bevel … Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp … (Ex. 1:22); [HK So. 9 V/A 26].

Die uitwissingsplan teen Israel in Egipte het nie gewerk nie, want hulle getalle het nie verminder nie, maar vermeerder. Toe word die aanslag deur die farao verskerp met verdere maatreëls, nl. dat die vroed­vroue/kraamverpleegsters alle Joodse seuntjies by geboorte moet laat sterf en later nog erger: dat hulle almal in die Nylrivier moet verdrink.

Johannes Calvyn, die bekende kerkhervormer, sê in sy kommentaar dat die farao – as koning ’n swakkeling was en hipotetiese redes vir die wette gefabriseer het, as sou die verslaafde Israeliete ’n bedreiging vir Egipte kon wees. So maak die magtige koning wette om hom en sy mense teen magteloses te beskerm.

In die RSA beleef ons tans ook iets soortgelyks: wette word gemaak om die meerderheid inwoners – wat blykbaar bedreig voel – te beskerm teen ’n minderheid. In Egipte gebeur daar egter die wonderbaarlike: die vroedvroue gehoorsaam nie die opdrag van die farao nie en spaar die seuntjies se lewens. As hy navraag doen, aanvaar die ou bedreigde koning hul verduideliking! Die kraamverpleegsters het op die Here bly vertrou (v. 17) en die farao gefnuik! Die stryd was eintlik nie tussen die vroue en die farao nie, maar tussen die almagtige God (van die Bybel) en die magtelose (af)gode van Egipte.

Wanneer daar dae kom wat vir ons nog donkerder lyk, moet ons onthou waaraan die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 ons herinner: God se voorsienigheid beteken … die almagtige Skepper … (is) die Vader van Jesus Christus … in wie ons glo as ons Verlosser en wat gesê het: … Aan My is gegee alle mag in … hemel en op aarde … (Mt. 28:18).

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 28:16-20

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my almagtige Verlosser is.

Amen.

Ex. 1:15-22

Ges. 102:1, 4

As die nag op sy donkerste is En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek (Ex. 2:10); [HK So. 10 V/A 27].

Die farao van Egipte se verdrukkings- en uitwissingsplan teen die Israeliete het later totaal onredelik en onmenslik geword. Eers word hulle slawe gemaak. Daana moet die vroedvroue die babaseuntjies laat sterf en uiteindelik moet alle Joodse seuntjies by geboorte in die Nyl verdrink word.

Maar wanneer dit lyk asof die Israeliete se toekoms uitgedoof is, is daar ’n ouerpaar wat hul babaseuntjie wegsteek in ’n biesiemandjie in die riete aan die kant van die Nyl (v. 5). Tog was die beangste ouers ook gelowige ouers wat op die Here vertrou het (Hebr. 11:23). Uiteindelik kry die farao se dogter die Hebreër-seuntjie tussen die riete (v. 6), neem hom in haar sorg en laat hom deur ’n Hebreeuse vrou (sy eie ma) opvoed.

Hoe wonderlik is die Here nie! Toe die nag op sy donkerste is en die nood op sy hoogste, is daar uitkoms in die vorm van ’n brose mensie. Later noem die Egiptiese prinses hom Moses. So voorsien die Here vir die uitkoms van sy volk. In die Nuwe Testament lees ons hoe God ’n babaseuntjie stuur terwyl ’n wrede koning aan bewind is (Mt. 2:16). Dié Seun, Jesus Christus, sou húlle en óns ewige Redder wees.

Soms voel dit vir ons of die nag in ons land op sy donkerste is. Moet ons nie soos daardie ouerpaar die Here vertrou dat ’n Goddelik-beskikte “Moses” te midde van soveel onsekerheid en bedreiging sal opstaan nie? Daarom verduidelik Kategismus Antwoord 27 God se voorsienigheid as: “Die almagtige en alomteenwoordige krag van God waardeur Hy … al die skepsele … so regeer … dat alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons te beurt val”.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 2:1-18

Gebed: Here, U weet of voor- of teëspoed die beste is vir ons gemoed.

Amen.

Ex. 2:1-10

Ges. 368:1, 3