Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter … (Ex. 1:13, 14); [HK So. 10 V/A 28].
Die gebeure soos beskryf in Exodus 1 verplaas ons na die regeertyd van Raämses II, toe koning in Egipte (1292-1225 v.C. = 67 jaar). Dit was ’n slegte tyd vir Israel wat sweepslae van slawedrywers in steengroewe moes verduur. Vroeër het dit goed gegaan, want Josef was die Egiptiese onderkoning (Gén. 41:41). Tog het hy sy volk se toekoms nie verbind aan die guns van Egipte nie, maar op die beloftewoord van die Here: … God sal gewis op julle ag gee en julle … laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob … beloof het (Gén. 50:24).
Maar toe kom daar ’n tyd dat die farao se houding verander in aggressiewe benadeling d.m.v. slawe-arbeid en kindermoord! Dan kom die vraag:
• As jy 300 jaar lank as ontwortelde/indringer bejeën word …
• as saam-eet met die maghebbers ’n gruwel is (Gén. 43:32) …
• as wette gemaak word om jou voortbestaan te bedreig … sal jy nog die Woordbelofte glo soos jou voorvader Josef? Gee God regtig om? Hoor God as ons roep? As daar by jou ook die vraag opkom: Sal ’n mens nog glo? Weet dan: deur Moses het God vir Israel áárdse redding gebring en vir ons in Christus hoop en éwige redding.
Die Kategismus verseker ons i.v.m. God se voorsienigheid: “Dat ons in alle teenspoed geduldig … kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antwoord 28).
Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 2:4-8
Gebed: Dankie, Here Jesus, dat geloof in U ook ’n gawe van U is.
Amen.
Ex. 1:8-22
Ps. 130:1
Gelowig gehoorsaam in slegte tye … hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? (Gén. 39:9); [HK So. 10 V/A 28].
Josef se lewe bestaan uit twee tydperke – ’n slegte en ’n goeie tyd. Dit was in die sleggaan-tyd wat die Bybel vir ons aantoon hoe die Here hom beskerm het. Vir sy pa, Jakob, was hy die witbroodjie-seun (Gén. 37:3, 4) en so beleef hy die argwaan en jaloesie van sy broers. Eers word hy in ’n put gegooi, toe aan Ismaeliete verkoop en later (as slaaf) deur Pótifar – hoof-lyfwag van die Egiptiese koning – gekoop en in beheer van sy huishouding geplaas. Mev. Pótifar probeer hom verlei, maar hy weerstaan die versoeking, want dit is sonde teen God. Later vlug hy, maar beland uiteindelik in die tronk. Twee van sy tronkvriende is Egiptenaars. Hy lê hulle drome uit: die skinker word herstel in die koningshuis, maar die bakker moet sterf – net soos Josef gesê het. Hy versoek die skinker om ’n goeie woord vir hom te doen, maar tevergeefs.
Soos met Josef kom daar soms slegte dinge oor ons pad. Ons beleef onreg en benadeling, ons word beskinder, selfs besteel en te na gekom. Dan kan jy dink: die Here het my vergeet. Tog sê die Bybel duidelik dat ons in ’n sondige en gebroke wêreld vol versoekings lewe. Josef kon vas staan in die versoeking en onskuldig benadeel word om net een rede: Telkens lees ons: En die Here was met Josef (Gén. 39:2, 21, 23). Later het daar weer goeie tye vir Josef gekom.
Daarom verseker die Kategismus ons nogeens i.v.m. God se voorsienigheid: “Dat ons in alle teenspoed geduldig … kan wees, en in alles wat nog oor ons kan kom, ’n vaste vertroue kan stel op ons getroue God en Vader” (Antw. 28).
Bykomende Skrifgedeelte: Jak. 1:12-18
Gebed: Roem, Christen, heel my lewe … waar alles my begewe of waar ek ly, is God.
Amen.
Gén. 39:1-9
Ps. 119:1 (Melodie: Ges. 319)