Dink aan my, Here

Dink aan my, Here

… Dink aan my, Here … (Lk. 23:42); [HK So. 5 V/A 12].

Wanneer kinders weet hulle optrede verdien straf, is dit opvallend (en soms komies) om te sien wat hulle alles sal doen om die straf te ontglip. Kinders besef baie goed dat hulle optrede dikwels die verhou­ding met hul ouers in gedrang bring. Daarom soek hulle nie net vergewing nie, maar sal hulle alles in hul vermoë doen om die verhou­ding te herstel.

Iets hiervan, skryf ds. Herman Veldkamp, is ook sigbaar in Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus. Die skrywer is nie net eerlik oor sy son­dige toestand nie, hy het ook ’n opregte begeerte na ’n herstelde ver­houding met die Vader. Wanneer die sondaar saam met Christus aan die kruis hang, gaan hy verder as om sy doemwaardigheid te erken en te bely. Hy spreek ook sy begeerte uit om met God herstel te wees: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom (v. 42). Soos Augustinus dit gestel het: Alle dinge wat God mag skenk, is van nul en gener waarde as ek God self nie het nie.

Die besef van sonde en verlorenheid, laat die sondaar sidderend voor die heilige God, maar nie sonder hoop nie. Wie deur die werking van die Gees in die geloof God se verlossing en genade in Jesus Christus aangryp, is daar meer as net die hoop op ’n herstelde verhouding. Daar is die seker wete: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees (v. 43).

Begeer jy ’n herstelde verhouding met God? Moet dan nie dat sy geregtigheid jou in wanhoop laat vergaan nie. Gryp die genade van God in Christus vas, want Hy het reeds namens jou aan God se geregtigheid voldoen sodat jy ook saam met Hom in die Paradys mag wees!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 130:1-8

Gebed: Dankie, Here, dat ek weer met U in die aandwindjie kan wandel! Amen.

Lk. 23:33-49

Ps. 130:1, 2, 4

God se geregtigheid … die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eség. 18:4); [HK So. 5 V/A 12].

Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie (v. 25). Hoe gereeld hoor ’n mens nie hierdie aanklag wanneer die evangelie verduidelik word nie? Die mens is maar net nie tevrede met die weë van die Here nie. In ons grootheidswaan weet ons altyd beter. Tog moet ons duidelik verstaan: In God se raadsplan, ook sy verlossingsplan, het ons geen sê nie. Alle siele behoort aan Hom (v. 4) en daarom besluit Hy self wat die reëls is.

In die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus erken die skrywer juis dit as hy sê: God wil … Wat ons dus in hierdie antwoord kry, is nie uit die duim gesuig nie. Dit is nie die produk van menslike vindingryk­heid of wetenskaplike navorsing nie. Dit is hoe God sy geregtigheid (dit wat nodig is om “reg” te wees met Hom) aan ons in sy Woord geopenbaar het.

Van hierdie geregtigheid lees ons in Eségiël 18. Beïnvloed deur die heidene rondom hulle, het Israel geglo dat die ongeregtigheid van die vaders op hul kinders oorgedra word. Dit het ’n fatalistiese bestaan tot gevolg, aangesien jy in elk geval die slagoffer van jou vader se sondes is. Die Here stel dit egter deur Eségiël duidelik dat hierdie sienswyse nie ooreenstem met sy geregtigheid nie. Sy geregtigheid eis dat die een wat sondig, vir sy eie oortredinge moet betaal. Sedert die skepping eis God gehoorsaamheid van die mens, maar as gevolg van die sondeval het die mens sy vermoë tot hierdie gehoorsaamheid verloor en staan ons as ’t ware magteloos voor die eise van God se geregtigheid. Wat ons nodig het om gered te word, is Iemand wat namens ons aan hierdie geregtigheid kan voldoen.

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 3:1-29

Gebed: O God, help my om in nederigheid u reddingsplan te aanvaar! Amen.

Eség. 18:1-32

Sing: Ps. 51:1, 3, 5

Ek het die Geneesheer nodig

Ek het die Geneesheer nodig

… ons ontvang die verdiende loon vir ons dade … (Lk. 23:41); [HK So. 5 V/A 12].

In die eerste afdeling van die Kategismus word die mens van alle ver­ont­skuldiging vir sy sondige toestand ontneem. Die mens se sondigheid is nie die gevolg van God se skepping nie, maar eerder van sy eie keu­ses. God is ook nie onregverdig om van die mens iets te eis wat hy nie meer in staat is om te gee nie, want hy het uit eie keuse sy Godgegewe vermoëns prysgegee.

Nou verander die toon van die Kategismus egter met die opskrif: Ver­lossing. Die verlore toestand waarin die mens homself bevind, is nie ’n doods­vonnis wat die mens in wanhoop laat rondspartel nie. Daar is hoop, maar daardie hoop loop hand aan hand met die erkenning dat jy ’n son­daar is wat God se oordeel in terme van sy tydelike en ewige straf verdien.

Hierdie eerste treë op die verlossingspad is duidelik sigbaar in die re­ak­sie van die sondaar wat saam met Christus gekruisig is. Waar die eerste misdadiger smalend die Here Jesus uitdaag om Homself en hulle van die kruis te verlos, erken die tweede misdadiger dat sy probleem baie groter en die konsekwensies van sy dade baie meer verreikend is. Hy besef dat hy “na die regverdige oordeel van God, tydelike en ewige straf verdien” (HK V/A 12).

Net soos iemand wat nie wil erken dat hy siek is nooit sal besef hoe nodig hy ’n dokter het nie, net so sal iemand wat nie eers sy eie sondige en verlore toestand erken en bely, weet hoe nodig hy die Verlosser het nie. Deur die werking van die Gees het die sondaar aan die kruis besef hy is leeg, net met sy sondelas. Daarom gryp hy Christus, die Sondelose, se verdienste vas.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 51:1-21

Gebed: Here, wees my, sondaarmens, genadig! Amen.

Lk. 23:33-49

Sing: Ges. 69:3

Waar sal my hulp vandaan kom? … Waar sal my hulp vandaan kom? (Ps. 121:1); [HK So. 5 V/A 12].

Op pad na die pelgrimsfees in Jerusalem slaan die pelgrim van Psalm 121 sy oë op na die berge. Die pad na Jerusalem het oor die berge wat die stad omring, gekronkel. Hier het die onheil dikwels die plattelandse pelgrims ingewag. Wanneer die pelgrim dus na die berge kyk, is dit ’n gespanne kyk – diep bewus van die gevare wat wag.

Daar was egter nog ’n rede waarom na die berge opgekyk is. In die antieke wêreld is die berge as die woonplek van die gode beskou. Die vraag van die pelgrim is dus nie ’n gewone uitroep om hulp nie, maar ’n erkenning dat hulp van ’n bonatuurlike aard nodig is om hom uit sy wanhopige situasie te verlos.

Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus eggo iets van hierdie vraag. Wie die ellende van sy hopelose, sondige toestand besef, se situasie is selfs meer wanhopig as die pelgrim op pad na Jerusalem s’n. So iemand kan nie anders nie as om uit te roep: Waar sal my hulp vandaan kom?

Was jy al ooit eerlik met jouself oor jou eie geestelike toestand? Besef jy dat jou sondes jou lê en inwag en as jy nie hulp van buite jouself kry nie, jy Jerusalem nooit sal sien nie? Maak seker jy soek jou hulp op die regte plek. Kyk hoër as die berge met hul verwaande afgode van aansien, trots, hoogmoed of selfs goeie werke. As jy tussen hulle soek, besef jy nog nie werklik hoe groot jou nood is nie. Uiteindelik is dit net die Here wat die hemel en die aarde gemaak het wat in staat is om jou siel te bewaar van die dood. Dit doen Hy deur die bloed van sy kosbare Seun, Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 124:1-8

Gebed: Here, ek rig my oë verlangend op U! Amen.

Ps. 121:1-8

Sing: Ps. 146:1, 2, 8

Het jy My waarlik lief?

Het jy My waarlik lief?

… het jy My waarlik lief … (Joh. 21:15).

Nuwerjaarsvoornemens spruit gewoonlik voort uit ons nadenke oor die foute en mislukkings van die vorige jaar. Aan die vooraand van ’n nuwe fase in sy lewe konfronteer Christus vir Petrus opnuut met sy foute en mislukkings van die verlede. Drie keer vra die Here Jesus dieselfde vraag vir Petrus: Het jy My waarlik lief? Dit was nie om dowe neute nie. Drie keer het Petrus Hom verloën en die gekraai van die haan was sekerlik nog rou in sy gewete ingebrand.

Petrus antwoord elke keer bevestigend: U weet dat ek U liefhet! Die bravade waarmee hy egter voorheen verklaar het: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie (Mt. 26:33), is daarmee heen en vervang met ’n afhanklike bedeesdheid. Dit is nie jou bravade wat jou ’n toegewyde en bruikbare volgeling van Christus maak nie, maar sý lojale liefde teenoor jou. Die Here Jesus het Petrus só liefgehad dat Hy, ten spyte van Petrus se verloëning, steeds vir sy sonde betaal het. Petrus verstaan nou. Hy besef sy afhanklikheid van Christus se verlossing. Christus se toenadering oortuig hom dat Hy vergifnis ontvang het. Nou eers was hy gereed om uitgestuur te word en kry hy ook opdrag om om te sien na die kudde van die Here.

Aan die vooraand van die nuwe jaar kom Christus se vraag op­nuut na ons: Het jy my waarlik lief? Hy konfronteer ons met ons foute sodat ons opnuut ons afhanklikheid van Hom kan besef, maar ook weer herinner kan word aan sy liefde vir ons. Wie Christus se liefde vir sondaarmense eerstehands beleef het, sal keer op keer antwoord: U weet dat ek u liefhet! Dit is ’n liefde wat nie eens deur vervolging of dood vernietig sal word nie (v. 18).

Bykomende Skrifgedeelte: Mal. 4

Ek het U hartlik lief, o Heer! Amen.

Joh. 21:1-25

Ps. 18:1, 3

Geestelike afvalligheid

Geestelike afvalligheid

Juda het troueloos gehandel, en ’n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg ... (Mal. 2:11).

Ten spyte van die feit dat die volk die tempel herbou, die erediens in stand gehou en die offerdiens onderhou het, was daar ’n geestelike afvalligheid. Dit het geblyk uit die ligsinnigheid t.o.v. die offerdiens (Mal. 1). In hoofstuk 2 noem Maleági nog voorbeelde van die geestelike afvalligheid wat onder die volk ingetree het.

Die priesters wat veronderstel was om ooreenkomstig die verbond op te tree (v. 4); by wie gelowiges kennis en onderrig moes soek (v. 7) en wat betroubaar en regverdig moes wees, het ontrou geraak. Geestelike verval begin dikwels by kerkleiding wat nie meer die Here vrees nie; onregverdig handel, onreg spreek en self van God se weë afwyk en duidelike Skrifbeginsels verwerp. Afvalligheid op geestelike terrein lei ook tot ontrou in die huwelik en die huis (v. 13-16). Uiteindelik word sonde in so ’n samelewing gerelativeer deur te sê dat elkeen wat kwaad doen, goed [is] in die oë van die Here 

Die ironie van ’n samelewing waarin geestelike afvalligheid die botoon voer, is dat hulle dikwels steeds baie godsdienstig is. Met trane en groot geween word daar tot God gebid (v. 13), maar die Here ignoreer dit vanweë hulle ontrou (v. 14-16). Is God se genade dan voorwaardelik? Luister Hy net na die “getroues”? Nee, maar God stort sy genade uit oor sondaars wat hul sondes erken en bely en nie oor hoogmoediges wat nie besef hoe nodig hulle Hom het nie (vgl. Lk. 18:9-14). Christus begin nie verniet sy aardse bediening met die oproep: Bekeer julle (Mk. 1:15) nie. Hy het immers gekom vir hulle wat weet hoe nodig hulle die geneesheer het (Lk. 5:31). Is jy sensitief vir die geestelike verval wat daar in jou lewe mag wees?

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 19

Hemelse Vader, ontbloot alle geestelike afvalligheid in my lewe deur u Gees. Amen.

Mal. 2:1-17

Ges. 79:1-3

Salig is hulle wat nie sien nie en tog glo maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is … (Joh. 20:31).

In hoofstuk 20 gee Johannes vir ons sy ooggetuieverslag van die opstanding van die Here Jesus soos bevestig deur verskeie verskynings. Die aand van die opstandingsdag verskyn die Here Jesus aan sy dissipels waar hulle byeen was. Wat ’n ongelooflike belewenis moes dit nie gewees het nie – ewe skielik het hulle die Skrifte begin verstaan (v. 9).

Thomas was egter nie teenwoordig tydens hierdie verskyning nie. Toe die ander hom vertel wat hulle gesien het, glo hy hulle nie (v. 25). Hy wil eers die merke van die spykers sien en sy hand in die Here Jesus se sy steek. Hoe dikwels redeneer ons nie soos Thomas oor die Christelike Godsdiens nie? Ons noem dit geloof, maar ons wil ook eers “sien” voordat ons glo. Vir alles wil ons eers bewyse hê voordat ons dit glo: Die skepping moet deur die wetenskap bewys kan word; Christus se maagdelike geboorte moet medies verklaar kan word; die opstanding moet deur eksterne bronne bevestig kan word; ensovoorts. Geloof werk egter andersom, sê Christus: … salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het (v. 29).

Die Here Jesus ken ons swakhede en kom dit tegemoet. Daarom laat Hy Thomas “sien” en nooi hom selfs uit om aan sy wonde te vat sodat Thomas uitroep: My Here en my God! Hy ken ons klein geloof, daarom help Hy ons ook om te “sien” deurdat Hy al hierdie dinge deur oor- en ooggetuies vir ons laat opteken het sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam (v. 31). Herken jy jou Verlosser in die Woord?

Bykomende Skrifgedeelte: Mal. 3

Here, help my om te glo al sien ek nie altyd nie. Amen.

Joh. 20:1-31

Ges. 89:1, 2